“Veerkragtigheid in ‘n neutedop: om op te staan en aan te hou, ten spyte van…” Ilse Salzwedel (Floreer: Styg uit bo terugslae en oorkom teenspoed makliker) #bouncingback
Ek lees ‘n artikel oor diè bekroonde joernalis se nuwe boek, in die Mei/Junie uitgawe van Sarie. (Ai hoe Covid sy lang vingers ook om my gunsteling tydskrifte se nekke gekry en gedruk het tot net 6 uitgawes ‘n jaar!) Dit voel of ek ‘n mede-pelgrim raakgeloop het – nee wag ek voel eerder soos ‘n volgeling van een of ander kultus groep 🤣!
As daar een geskenk is wat ek die wêreld graag sou wou gee – ieder en elk van julle ingesluit, is dit VEERKRAGTIGHEID. Ek ag myself gelukkig dat ek daarvan in oorvloed gekry het, of dit nou te danke is aan my Ma se ewige optimisme(kotsenswaardig gewees by tye) en of dit net ‘n ding is waarmee ek gebore is sal ek nooit weet nie. #bouncingback is my ding
Veerkragtig of geestelike taai?
Ek vermoed wat my ma gehad het en ook in my DNS oorgedra is, is meer van ‘n geestelike taaiheid. What Is Resilience is deel van ‘n gehardheid en mens kan maar sê ‘n geneigdheid tot positiwiteit. En die selfvertroue wat daarmee gepaardgaan, kom uit lesse geleer uit die moeilike dinge in die lewe, in plaas daarvan om die hasepad te kies.
Veerkragtigheid aan die ander kant is die vermoë om soos een van daai goedkoop, klipharde balletjies terug te bons na ‘n slegte ervaring. #bouncingback
Maw tegnies gesproke behoort mense met ‘n geestelike taaiheid in die eerste plek nie eers veerkragtig te wees nie, want hulle kan die slegte ervarings vermy of dit soos water van ‘n eend se rug laat afloop.Maar tegnies gespoke is dit natuurlik ‘n klomp stront. Want tegnies gesproke kan ek vir julle waarborg ek het ‘n moerse taai kop, te selfversekerd meeste van die tyd en altyd, maar altyd besig om ‘n plan te beraam as dinge nie so rooskleurig lyk nie. Maar ek het ook my skoot van teleurstellings, swaarkry en pure hartverskeurende pyn al ervaar.

En soos Ilse Salzwedel ook in die artikel sê(www.sarie.com), ek is ook al baie gepootjie deur hierdie geestelike taaiheid hoor. Dit mag mens dalk deur moeilik situasies dra, maar dit maak ook dat mens soms te trots is om te erken jy het hulp nodig. Tot vandag sukkel ek nog om dinge wat my net effens, effens weerloos laat voel aan my man te erken. Ek kan nie vir julle sê hoeveel keer ek die onbenulligste ding in my kop om-en-om draai voor ek dit by my mond kan laat uitkom nie. Dalk is dit omdat ek die reaksie vrees(maar ek is mos tog taai dan nie?) of dalk is dit omdat ek die weerloosheid vrees.
Die heelal het natuurlik toe ook in sy wysheid besluit om vir my ‘n kind te stuur wat nie aldag die geestelike taaiheid saamdra nie, met die swart hond en angs wat kom lê plek kry so dan en wan. En wat doen Mamma met haar wapenrusting aan, sy sleep hom sommer saam. Sy tree in, sy maak die planne, sy stuur die vermanings per WhatsApp. En hoop iets steek êrens vas! Fout natuurlik, groot fout.
Veerkragtigheid of uithouvermoë
Veerkragtigheid en die vermoë om uit te hou, aan te hou is partykeer ook pasmaats. Maar moet definitief nie met mekaar verwar word nie.
“Grit is a more recent import, much researched by Angela Duckworth, and is defined as the tendency to sustain interest and effort towards long term goals. It is associated with self control and deferring short term gratification” Building Learning Power: Helping Young People Become Better Learners
Die verskil is dat veerkragtigheid meer te doen het met die vermoë om onmiddellik terug te bons, die silwer randjie te sien binne sekondes of dae van iets vreeslik wat gebeur het. Stel jou voor – jy is in die oggend verkeer, en die idioot agter jou ry in jou kar vas. Geen groot skade nie, maar jy kan sommer met die uitklimslag sien die kar se eienaar kan nie versekering bekostig nie. Binne ‘n breuk deel van ‘n sekonde kalmeer jy, jy besef dinge kon erger gewees en al voel jy om iets aardig kwyt te raak, sluk jy jou woorde, kry hulle details en herinner jouself aan die feit dat jy nog gelukkig is om versekering te kan bekostig. Die alternatief kon natuurlik ‘n geskree wees op die ander persoon, ‘n tranedal en ‘n dag afvat by die werk om van die emosionele skok te herstel. # bouncing back is soms om net kalm te bly.
Uithouvermoē aan die ander kant is om jou oog op die langtermyn doelwitte te kan hou. Om te weet dat die ure se gesweet en swaarkry in jou tekkies op daai teerpad, die wedren waarvoor jy ingeskryf het soos ‘n Chariots of Fire oomblik gaan laat voel. Jy weet die sweet en trane gaan jou soos ‘n oorwinnaar laat voel.
En natuurlik moet ons besef daar is baie mense wat uit swaarkry en vasbyt ook aan die ander kant uitkom. Dit maak hulle ongelukkig nie altyd veerkragtig nie. Hulle kan so gefokus bly op die langtermyn doelwitte, die eendag-as-ek-dit-reggekry het, dat hulle vergeet die lewe moet nou geleef word. Dat al die klein oomblikkies waar mens veerkragtig kon wees, jou ‘n hupstoot na die groter doel kon gee.
Dis ons almal beskore
Veerkragtigheid is verseker nie ‘n paspoort na ‘n lewe vry van pyn, teleurstellings of terugslae nie. Dis nie iets wat jou soos ‘n pantser voertuig teen alles beskerm en net deur die lewe laat sweef soos ‘n helium ballon nie.
Veerkragtigheid is die bereidwilligheid om die lewe in al sy glorie te ervaar. Dis om die pyn en die seerkry oop en bloot in die veld van kwesbaarheid tot ‘n twee geveg uit te daag. Dis om al die emosies in te nooi en om lelike snot en trane dae te hê. #bouncingback is nie so mooi altyd nie.
Dis om nie te vlug of weg te kruip agter ons geestelike taaiheid nie. Om nie soos ‘n stootskraper oor ons emosie te gaan of die slaggate van ons verliese toe te lap soos ‘n munisipaliteit in Suid-Afrika nie.
Die feit is, ons het almal die swaarkry in die lewe nodig om wel veerkragtigheid te ontwikkel. Dis soos om by die gimnasium te oefen, as jy daai spiere laat bewe van die swaarkry, sal jy later die vrugte daarvan pluk en die kleinkinders nog kan optel. Veerkragtigheid het ook so ‘n bietjie te doen met What is Positive and Negative Affect in Psychology – wat eintlik die mens se vermoë is om positiewe of negatiewe emosies te ervaar. Sommige van ons is gebore met ‘n meer positiewe uitkyk en as jy dan boonop daagliks positiwiteit gevoer word saam met jou baba pap – sal dit net sterker en sterker word. Ander mense weer ervaar meer negatiewe emosies en vir hulle is dit bietjie meer van ‘n opdraande stryd om die positiewe in als te sien. Of jy is soos iemand in my huishouding, wat tog net nie verstaan hoekom “almal nie net gelukkig kan wees nie.” En as hulle dit nie self kan regkry nie, sal hy dit sommer namens hulle doen 🙈🤪. #bouncingback is a inside job.

So hoe nou gemaak?
Die American Psychological Association het ‘n paar voorstelle van hoe mens meer veerkragtig kan word, of dan ten minste ‘n poging daartoe aan te wend. Jy mag dalk vra hoekom? Ek bly dan so lekker hier in my slagoffer kampie. Wel, die reine waarheid is, die lewe is regtig, werklik ligter as mens bereid is om Pandora se ou boksie oop te maak.
1. Maak realistiese planne
As iets negatiefs gebeur, maar ‘n plan. Ek sê altyd as mens net eers ‘n plan gemaak het, voel alles ligter. Dan is daar ‘n uitkoms van die gemors waarin jy jou bevind. Wees kreatief – daar is ALTYD, MAAR ALTYD ‘n plan te maak. En boonop laat dit ‘n mens voel of jy effens meer beheer het oor jou lewe en die situasie.
2. Skep ‘n positiewe beeld van jouself
Nou ja hierdie is natuurlik ‘n effens moeiliker een om reg te kry. Want ons het soveel sub-tekste waarmee ons rondloop in ons koppe. Ons het identiteite waaraan ons vasklou asof ons lewens daarvan afhang – en menigmaal pooitjie die lot ons goed. Ek dink net gister daaraan hoe ek op skool altyd gedink het ek kan nie hardloop nie, ek was te vet, ek was te stadig, my longe wou heeltemal uitbrand. En nou, nou hardloop ek ‘n 10km gemaklik(nie Zola Budd styl nie, maar ek hardloop.) Want êrens het ek daardie identiteit opgegee en besluit ek kan en wil.
As jy glo jy kan en jy wil graag genoeg, is enige iets op Gods aarde moontlik, glo my! Ek het ophou wyn drink…en dit sê nogal baie!
3. Goeie kommunikasie en probleem oplossing
My man se gesig trek skoon skeef as ek weer met een van my psigo-analises begin. Maar ek weet as ek nie dinge emosioneel analiseer, sin maar daarvan nie, kan ek nie die lig of die uitkoms sien nie. En dan skop daai kreatiewe probleem oplossings brein in, want ek kry ‘n massiewe dopamien skop as ek ‘n emosionele probleem kan oplos. ‘n Mens moet gaan grawe daar waar jy nie noodwendig wil nie. En nie op die oppervlak al ‘n pleister begin plak nie.
Not so much as ek iets prakties by die huis moet oplos – maar dan bel ek maar ‘n kundige op die gebied en voel vreeslik trots op myself😜. ‘n Boer maak mos maar ‘n plan.
4. Humor
Om die humor in dinge te kan sien – maak nie saak hoe swaar of donker nie. Ek herinner my aan my pa se woorde op sy sterfbed. My ma was die een wat jare der jare die “boeke” gedoen het vir hulle plaas. Maar voor sy afsterwe het sy dimensie begin ontwikkel en die “boeke” was effe deurmekaar. Daai aand toe sê hy vir ons: “Ai, julle sal maar vir Trevor Manuel(daai tyd minister van finansies) moet inkry om ons boeke uit te sorteer, want die goed is nou so deurmekaar.” ‘n Man wat vir ons wou hoop gee, iets ligter maak van ‘n situasie wat beteken het ons lewens gaan onherroeplik verander.
Ek dink ek het so ‘n standaard stelling – ek maak altyd ‘n ou grappie oor alles. Maar moet ook nie geflous raak nie, dis ook maar ‘n beskermings meganisme en ek moet maar fyn dopgehou word of ek nie besig is om te vlug van kwesbaarheid nie!

5. Vra vir hulp of wees net nuuskierig
Ek hoor gister op die radio die volgende: “As iemand vir my sê hulle weet nie hoe om iets te doen nie, vra ek altyd..’het jy al van Google gehoor’” Nou ja, dit wil ek ook weet.
As jy voel jy val vas, as dinge nie sin maak nie…wees nuuskierig, gaan soek oplossings, ander mense se perspektief of dalk net raad. En nou moet ek julle darem op die skouer klop – julle is almal hier, julle lees en wil duidelik meer of iets anders weet.
‘n Ander perspektief bring altyd, maar altyd ‘n bietjie lig of verligting. En dis soms al wat mens nodig het om net deur te glip na ‘n beter plek.
Gaan soek die lig
Soos ‘n mot, probeer altyd na die lig toe beweeg. Glo in iets groter as jy, dat daar altyd iets positief aan die anderkant van die molshoop is.
En wees aanpasbaar, gaan soek dinge uit wat jou wêreld verbreed. Want as ons in ons eie klein poeletjie bly rondswem gaan dinge benoud raak en die water baie troebel.
En gaan koop Ilse Salzwedel se boek, FLOREER(www.veerkragtigheid.co.za) Want ek vermoed ons gaan almal ‘n ding of twee leer.
Ter afsluiting – veerkragtigheid is vir almal beskore. Jy moet net glo en DOEN. #bouncingback
En soos gewoonlik, stuur vir my ‘n paar van jou wyshede of vertel jou storie na vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit blad op Facebook.
Baie Lekker gelees en sommer Baie geleer ook! Ek is Baie soos jy! Sister from another mister…. Baie dankie vir jou liefde, humor en kreatiwiteit ❤️
Mooi man! Deel mos maar graag raad uit🤪!
Pingback: #schoolisout | Vol 62: Wat Leer Ons Op Die Skoolbanke