Vol 63: Wat skuil daar in die donker?

Ons sal almal graag aan onsself wil dink as hierdie saggeaarde, vrygewige, slim, liefhebbende en geduldige mense.

Dis net, jy weet? Ander mense verstaan ons nie altyd so lekker nie. Hulle probleem natuurlik – ek is so gemaak en laat staan. #shadowsinthedark

Maar die waarheid is natuurlik dat ons almal ‘n goeie skoot van naarhede ook binne ons saamdra. Ons weet almal, die lewe is nie ‘n pretpark nie, dinge is nooit perfek nie, ons kan nie 100% van die tyd net “goed” wees nie. En as ons met onsself doodeerlik moet wees, is ons deurtrek van onaangename foute en geraamtes wat ons eerder in die kas sal los. 

Nog meer van ‘n aantyging is dat weinig van ons, in der waarheid, die moed het om aan die skadukant van ons lewens te gaan rondkrap. #shadowsinthedark

“Beneath the social mask we wear every day, we have a hidden shadow side: an impulsive, wounded, sad, or isolated part that we generally try to ignore. The Shadow can be a source of emotional richness and vitality, and acknowledging it can be a pathway to healing and an authentic life.”  – C. Zweig & S. Wolf

Gemaskerde bal

Carl Jung skryf in sy boek Psychology of the Unconscious dat die mens hierdie “persona” het. En diè woord Persona beteken in Latyns om ‘n masker te dra. 

#shadowsinthedark

Maw ons dra almal, elke liewe dag verskeie maskers om hierdie “persoon” aan die wêreld voor te hou. Diè persoon wat ons graag wil hê ander moet glo ons vergestalt. En natuurlik verander die masker sommer gereeld,  afhangende van die tipe geselskap waarin ons onsself bevind – amper soos ‘n maskerbal van die lewe. Boonop deel ons graag die uitspraak van “skynheiligheid” oor  ander uit– maar hou jouself maar noukeurig dop.  Tel hoeveel keer jy jou masker op-en-af pluk in verskillende omstandighede. #shadowsinthedark


Die skadukant

Die skadukant van ons almal is deel van ons onderbewussyn. Daardie “stoorkamer” van ons gemoed, waar al die onderdrukte idees, instinkte, impulse, swakhede, begeertes, verdraaings van realiteit en ons verleenthede sorgvuldig toegesluit bly. 

(Jip, nou werk jou brein oortyd om al joune te identifiseer in die donkertes nè 🤪)

Dis so te sê die “wilde kant” van ons almal. En dis in hierdie “wilde” kant waar die bron van ons kreatiwiteit meestal sy oorsprong kry. En is dit nie opwindend om te weet ons kan, soos die Dear Human: It’s Okay to Be Both Sacred AND Wild skryf, beide wild en heilig wees nie!

Dink bietjie daaraan: Die klein pienkvoete wat regoor die wêreld gebore word, is almal presies dieselfde. ‘n Skoon doek (nie die skoon soort wat Pampers maak nie 🤣) – rein en gevul met liefde vir die lewe. Êrens langs die pad word elke liewe een beïnvloed deur die ouerpaar wat hy of sy aan toevertrou is, die omgewing en gemeenskap waarin hulle grootword – hulle word basies geleer wat “reg en verkeerd” is. En so, stadig maar seker word daar ‘n “persona” geskep vir die buite wêreld.  Aan die “skadukant” lê alles wat diep-binne die ware persoon is. Amper soos ‘n siamese tweeling – verbind met ‘n hartklop. 

‘Modern man protects himself against seeing his own split state by a system of compartments. Certain areas of outer life and of his own behavior are kept, as it were, in separate drawers and are never confronted with one another.” Carl Jung

Toegesluit, weggepak in die donkertes

Natuurlik is dit verstaanbaar en selfs noodsaaklik dat ons moet kan onderskei tussen wat goed en kwaad is. Dat ons leer om “ordentlike” mense te wees.  

Maar wie se “reëls” oor wat aanvaarbaar is, en wat die regte en ordentlike ding is om te doen is nou eintlik reg? Byvoorbeeld in sekere Afrikaanse kringe word dit as goeie maniere beskou as die kinders verplig word om elke liewe oom en tannie(bekend of onbekend aan die kind) ‘n drukkie te gee as daar gegroet word. En in die goeie ou dae, was ons verplig gewees om elke moontlike kennis of familielid met ‘n klapsoen op die mond te groet. En gaan Europa toe, die mense sal jou vreeslik vreemd aankyk as jy enige iemand, behalwe jou bedmaat, op die mond moet soen. 

Suid-Afrika is seker een van die beste plekke IN die wêreld om te sien hoe verskillend ons regtig is. Wat in die een kultuur as “goed en ordentlik” beskou word, is in die ander ‘n taboe. En dan Ever Wonder Why You’re So Judgmental ons tog so maklik nè. Een eenvoudige voorbeeld….aan die eenkant het ons mense wat glo dis goeie maniere vir ‘n man om terug te staan sodat ‘n dame eerste deur ‘n opening kan stap. Aan die ander kant word die man eerste deurgestuur om die vrou teen enige moontlike “gevare” te beskerm. Albei eerbaar – maar twee verskillende kante van die munt. 

Maar ek wyk af!

Die geneuk is

Hoe gaan ons ooit heel word, vol lewens kan lei en ons plek ordentlik volstaan in hierdie wêreld as ons met oogklappe rondstap en ook nooit in daardie “donker kamertjie” mag ingaan en die dinge wat ons werklike, regte-egte EK is ontdek en omarm nie? #shadownsinthedark

#shadowsinthedark

En die spirituele kant van ons samelewing beroep ons altyd om in die “Lig” of na die “Lig” te wandel. Mooi en aanvaarbare dinge word gepredik, oor die liefde, medemens aanvaarding, goeie dade….alles eerbare dinge om na te streef. Maar selde word die minder aantreklike menslike eienskappe soos kwaad, beheer, angs, skaamte, jaloesie en begeertes van die vlees openlik en sonder veroordeling bespreek en ondersoek. Dit word bloot as boos afgemaak. En wie van ons het nie al met hierdie makkers te doen gekry nie? #shadowsinthedark

My kind het OKA(OCD vir die Ingelse) en syne word geklassifiseer as SCRUPULOSITY. Maw al die “goeie” goed wat ons hom probeer leer het uit ‘n geestelike agtergrond, het teen hom gedraai. En tot vandag sukkel hy met die gedagtes dat hy ‘n “slegte” mens is. En dit net omdat hy ‘n mens is. En soms wonder ek – wat sou gebeur het as ons nie hierdie dinge op hom af geforseer het nie. 

En soos ons weet – ons skaduwee agtervolg ons. Hoe meer ons van hom probeer wegkom, hoe groter die “lig” raak, hoe groter die skaduwee! #shadowsinthedark

Hou op weghardloop!

Dis amper of ons uiters geskoold geraak het om verby ons “bose ander kante” te leef. Ons vermy dit soos die pes, sit die plekke van aanbidding vol, ons doen goeie dade met ‘n koorsagtigheid. Sodat ons net as goeie mense beskou kan word…ons paadjie effe teer na waar ook al. 

Maar ons eintlike redding lê in die geheim om ons “skadukant” te integreer met ons persona. En om dit te doen moet ons bereid wees om eienaarskap en verantwoordelikheid te vat vir al die kwaliteite wat ons, ons unieke self maak. Daardie veroordelende geaardheid, daardie jaloesie, daardie kompeterende streep, daardie vrees vir uit mis…noem hulle maar op! 

#shadowsinthedark

As ons hulle op die naam kan noem, kan innooi om ook aan die tafel te kom sit. Dan kan ons ‘n openlike “gesprek” hê, ons kan heel raak, meer medelye betoon, ‘n kalmte uitstraal, verstaan en aanvaar. Amper soos ‘n versoenings kommissie van die WARE JY!

Watter duiwels dra jy saam?

En net vir ingeval jy gedink het jou stoorkamer is dolleeg – bly ingeskakel, Vol 64 gaan die skille van jou oë laat afval. 

Noem my sommer die dienende Martha!

Opdrag vir die volgende paar dae …sluit daai stoorkamer oop en gaan kyk wie skuil daar in jou skaduwee. #shadowsinthedark

Stuur vir my jou storie na vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit blad op Facebook.

1 thought on “Vol 63: Wat skuil daar in die donker?”

  1. Pingback: #learntoloveyourinnermonster | Vol 64: 13 Skadukante

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *