Soos beloof in Vol 63 is hierdie deel twee van die ondersoek na ons skadukante.
As julle julle huiswerk gedoen het soos juffrou gevra het🤪, het julle moontlik so met die selfondersoek die afgelope paar dae agtergekom daar skuil heelwat verstekelinge in jou skadukant. #learntoloveyourinnermonster
Ons het almal bose dinge wat in ons skuil – soms kry ons so ‘n vinnige kykie uit die hoek van ons oog na hulle en soms kom hulle in alle glorie na vore. Maar meestal maak ons of die donker deel van ons nie eers bestaan nie. Ons ignoreer dit soos ‘n dronkie ‘n stopstraat ignoreer. Alles uit pure vrees, skuldgevoel of ‘n diepte skaamte.
Vandag is die dag!
Vandag kom ek ‘n lig skyn op van die moontlike verstekelinge in jou skadukant-stoorkamer. Want onthou, almal predik mos dat ons na die “lig” moet beweeg, in die “lig” moet wandel….hierdie is ons kans om die “lig” te skyn op dit wat ons ook moet omarm. Amper soos daardie broerskind aan pa se kant wat so effe aan die kommin(met ‘n K) kant is, maar hy bly nogsteeds bloed. En bloed is mos maar dikker as water.

Hier volg ‘n paar van die “verstekelinge” wat jy dalk in jou “vragskiphouer” wegsteek – en moenie bevrees wees nie, meeste van ons het ‘n paar van die makkers. Maar as ons hulle veilig oor die kanaal kan smokkel, kan ons hulle dalk ‘n beter lewe aan die ander kant waarborg. . #learntoloveyourinnermonster
1. Die Ego-monster
Hierdie is die een wat opdaag omdat ons nie “goed genoeg” voel nie. En die een is ek amper doodseker het elke ieder een van ons.
Ons steek hom weg agter ons arrogansie, self beheptheid, selfsugtigheid, grootheidswaan en as dit tot die uiterste gaan kry hy ‘n narsistiese bakkies opgeplak.

2. Die neurotiese-monster
Die ene daag op omdat ons ‘n groot vrees het vir die lewe en al sy dinge waaroor ons in ‘n paniek kan gaan. Ons is bang vir ander se opinies en meestal voel dit of ons buite beheer tol. En met ons neurotiese opvolgery, planne maak en lysies by die duisende probeer ons desperaat om beheer te kry oor alles.
Die lewe word een mallemeule van paranoia en obsessies, van agterdogtigheid en vol strontgeit en soms, net soms raak die enetjie sommer baie uitputtend en veeleisend rondom ander mense.
3. Die emosioneel onstabiele-monster
Gewoonlik die oorblyfsels van een of ander onopgeloste pyn wat ons langs pad laat glo het ons is net nie die soort mens wat lief gehê kan word nie…. magteloos teen die emosionele aanslae van die wêreld. (Wie het nie al so gevoel na ‘n opgeneukte en geskinkte verhoudings bootjie nie?)
En dan raak hierdie verstekeling buierig, melodramaties, manipulerend en die krane kan oopgedraai raak in ‘n breukdeel van ‘n sekonde. Ondersteun deur impulsiewe gedrag en die “koop” van ander se aandag en liefde.

4. Die beheervraat
Nog een wat voort stam uit die gevoel van iets jaag – want êrens is jy weerloos agtergelaat en was jy (weereens!) nie goed genoeg vir mense om by jou te staan nie. Ongeag.
En nou, nou raak jy baas spelerig, agterdogtig, jaloers en besitlik – en jy moet die kitaar slaan, al maak jy die naaste aan jou se lewe hel. Die einste mense wat jy dink jou moet kies desnieteenstaande – jy stoot hulle weg, keer op keer – sodat jy weer en weer aan jouself kan bewys jy is mos darem goed genoeg om bygestaan te word…ongeag jou gedrag.
5. Die siniese-monster
Moet net nooit, ooit weerloos gelaat word nie. Moet net nooit, ooit gesien word as ‘n swakkeling nie, want dan my maat gaan jy dit nie maak nie. Wie weet wat wag daarbuite vir jou. Dis ‘n saak van lewe en dood.
En nou, hoe kruip mens weg van weerloosheid? Jy raak negatief, die grootste kritikus, neerhalend en wrokkig en moer uitgesproke OOR ALLES.

6. Die woedende tier – monster
Weereens geanker in ‘n diepe wantroue van die lewe en mense daarin. So jou hart slaan toe soos ‘n klei-os se gat. Want as jy dan genadeloos, wraakgierig, bitsig is en met almal en alles anders fout soek…sal niemand jou mos pla nie. Niemand sal jou teleur kan stel nie – want eintlik is jy jou eie grootste teleurstelling.
7. Die rigiede-monster
Ons wend poging na poging aan om so ver as moontlik van die dood weg te bly. Want die onbekende burger so ‘n vrees in, dat ons lam gelê word. En hierdie monster steek sy kop uit as ons begin vrees ons Ego Death: 7 Terrifying and Illuminating Stages gaan ‘n dood êrens moet sterf – en wat word dan van ons? Is ons net ‘n spook?
Dan raak ons maar soos ‘n berg – kan nie geskuif raak nie. Die reëls kan net om vadersnaam nie verander word nie, want dan raak ons mal. Vreemde dinge raak vreesaanjaend, so rassisme, seksisme, en alle sismes tussen in steek kop uit. En tonnelvisie is die enigste moontlike uitkyk. #learntoloveyourinnermonster
8. Die gee-nie-om-nie-monster
Hierdie kalant daag op omdat daar ‘n groot hartseer skuil. En ‘n vrees dat as die wal breek, die stortvloed en stormwaters van verlies of pyn alles gaan meesleur.
So om wal te gooi – word die mens maar net emosioneel afgestomp, afsydig en so ‘n “couldn’t care less” houding. Ek is die ontasbare – niemand en niks kan my vermaak nie!
9. Die perverse-monster
Geskaad waarskynlik deur seksuele trauma toe hulle nog self kindertjies was, is daar onderdrukte seksuele aggressie en ‘n gevoel van magteloosheid. Ons ken almal die statistieke – The influence of childhood trauma on sexual violence and sexual deviance in adulthood en lees gereeld in die tydskrifte en koerante hoe hierdie duiwel kom vatplek kry en sukkel om te laat los.
En dan speel dit uit in ‘n sadistiese, perverse mag spel – wat weer die siklus voortsit.
10. Die ewige-kind-monster
Hierdie een is daai klein kindjie wat maar net nie wil grootword nie…die een wat wens hulle kon altyd by hulle ma en pa aan huis bly, wat wens die wêreld kon stilstaan toe iemand na hulle omgesien het. Toe daar geen grootmens verantwoordelikhede was nie. Iemand anders se taak en skuld as dinge nie lekker uitwerk nie.

En dus in ‘n vrugtelose vasklou aan die rokspante wat ‘n kinderlikheid aanhang, kleinsielig is, kinderagtig en effe leeg en net nie rasioneel nie. Die ewige slagoffer is gewoonlik die persona waaragter hierdie monster skuil.
So wie skuil daar in die donker?
Kon jy ‘n paar van jou eie monsters identifiseer? Ek kon my skadukant sommer in heel party sien – maar ek het hulle nou weereens uitgenooi om in die “lig” te kom staan en met my persona te kom dans.
Mag jy joune ook nooi – hoe meer ons hierdie deel van ons persoonlikheid lig gee, hoe minder gaan dit in lelike ander persoonlikheids trekke ontaard.
En dan hoef ons nie meer so bekommerd te wees dat alles uitmekaar gaan val as die masker afkom nie. Dan is ons sommer ‘n oop boek – en ek vermoed ook een wat mense soos bye op ‘n Canola veld sal aantrek. #learntoloveyourinnermonster

Laat hoor van jou monsters by vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit blad op Facebook.
Pingback: #celebrating100isathing | Vol 100: “Eeufees” Vieringe