Vol 65: Hoekom lyk dinge altyd erger in die aand?

My ma het altyd getroos met: “Toemaar môre skyn die son weer.” Wat natuurlik voorafgegaan is met die wysheid wat net met tyd en ervaring kom, dat alles altyd soveel erger lyk in die aand, of middel van die nag. #everythinglooksworseatnight

Alhoewel hierdie darem ook al op my rype ouderdom ingebed is in my verstaan van die wêreld en self troos – vang ek myself net Dinsdagaand verlede week die sakrekenaar verwoed slaan. Die beleggings deeglik deurwerk en die jare van studente studieskuld heen-en-weer bereken. ‘n Paniek slaan my net daar en dan – “Is daar genoeg, o aarde gaan ek genoeg geld hê, dalk moet ek maar die meenthuis verkoop…” Om en om is dit ek en die aand-bekommernis. Net om die volgende oggend op te staan en alles lyk sommer weer doenbaar.

As die son sak, dan kom die angs uitgepronk. #everythinglooksworseatnight

Waarom lyk alles dan so duister as die son sak?

Ons het al almal daardie gevoel van magteloosheid gehad in die aand – die een waar jy jouself oneindig jammer kry en oortuig daarvan is dat jy die ENIGSTE persoon op hierdie aardbol is wat so moet suffer. 

Die ding is teen die tyd wat die son begin water trek, is ons bron van How Willpower Works: How to Avoid Bad Decisions al heel uitgeput en ons begin eerstens “slegte” besluit te maak. Ons vergryp onsself aan die hele pak Lay’s of ons haas ons na daai glas wyn. En kort op hulle hakke sak die gevoel van  moegheid, moedeloosheid en verwesenheid op ons toe. 

En dan nooi ons allerhande ongeruimde gevoelens en gedagtes in. #everythinglooksworseatnight


Te veel tyd om te dink

Deur die dag het ons tonne dinge wat ons breine besighou. Dis ‘n gejaag vandat ons ons oë oopmaak, om tog net voor te bly in hierdie reis van die rotte. Maar in die aand, wanneer die bord kos in is en die DSTV mens weereens teleurstel met hulle program seleksie, gebeur dit.  Dis dan wat die oomblikke van stilte ons breine verwoed laat gryp na die grootste moontlik probleem wat ons kan uitdink. En navorsing het bewys, Signs and Symptoms of Mild, Moderate, and Severe Depression dat dit ook dan is wat ons begin grawe. 

Dis dan wat ons soos koeie begin herkou aan alles wat deur die dag gebeur het, wat ons begin dink aan al die blapse wat ons die dag gemaak het en ook die “gemors” wat ons sal moet opruim in die toekoms. 

En dan begin dit om-en-om maal in ons koppies. En die oplossings bly ons ontwyk – want al wat ons dan aan kan dink is die negatiewe. Die hoekoms en waaroms ons nie die mas sal opkom of die probleem te bowe kan kom nie. #everythinglooksworseatnight

Slaap het ook ‘n ritme

Vra maar ‘n ma van ‘n pasgebore baba hoe dinge lyk op die huis front.  Behalwe vir die ongelooflike liefde wat sy ervaar(en laat ons nou maar eerlik wees, al voel mens om die kind te gaan weggee, sal jy vir al wat leef en beef vertel hoe ongelooflik geseënd jy is!) Sal haar grootste wens wees om tog net weer te kan slaap. Ononderbroke, salige slaap!

#everythinglooksworseatnight

Relationship between sleep deprivation and anxiety – experimental research perspective noem dan ook so terloops dat die onderbreking van ‘n slaap siklus mens sommer goed kan opneuk. 

Ons What Is Your Circadian Rhythm and Why Is It Important reguleer elke liewe selletjie in ons liggame, dis hoekom ons klokslag sekere dinge sal doen – soos die troon besoek 🤪 Maar dit reguleer nie net ons liggaamlike funksies nie, dit reguleer ook ons gemoed. 

En hier is ‘n oulike brokkie inligting – dit gaan nie so seer oor jou gewoonte om teen ‘n spesifieke tyd in die aand te gaan slaap nie, maar eerder oor jou gereelde oggend roetine. 

Vroeg uit die vere

‘n Studie het bewys dat daar ‘n korrelasie is tussen jou Chronotype en depressie – of sommer vir ons wat nie aan die siekte lei nie, net daai af gevoel. Die einste studie is gedoen met 32 470 vrouens – so blyk ons kan dit glo.

12% van vrouens wat gesê het hulle is “oggend-mense” het ‘n baie skrale kans gehad om depressie te ontwikkel, terwyl die naguile ‘n 6% groter kans gehad het om depressief te voel.  

Dis dus duidelik dat jou uitkyk op die lewe en wat jy vroeg oggend regkry en doen(soos oefen, tyd om buite in die tuin deur te bring, dinge te organiseer) jou uitkyk in die aand ook beïnvloed. 

Dis donker in die nag

Effe voor die hand liggend ja, maar daar is tog ook ‘n waarheid versteek in die feit dat die “son nie skyn nie.” 

Gaan bly net ‘n rukkie in die Noordelike Halfrond, dan begin daai swart hond jou pak – veral vir ons Suidelike Halfrond bewoners wat meer sonlig sien as sneeu. Want natuurlik why is sunlight so important for your mental health veroorsaak goeie sonlig dat ons serotonien vlakke gesond gehou word. Die tenkie bly vol! So dis toe nie net die klapper reuk van die sonbrandmiddel wat ons so gelukkig maak tydens die strand vakansie nie.

En natuurlik sodra die son sak, begin die serotonien vlakke ook afneem en begin ons vermoë om dinge te hanteer ook soos die son te sak. #everythinglooksworseatnight

Nou hoe nou gemaak?

Daar is darem hoop – om die monster onder die bed te hou tot ligdag, wanneer hy soos mis voor die son sal verdwyn.

1. Wees kreatief

Begin ‘n stokperdjie wat die kreatiewe siel in jou wakker maak. En ja ons het almal ‘n kreatiewe kant. Dalk sal jy nou nie Picasso word nie, maar daar is ‘n legio van goed wat jy wel kan doen.  Skilder, lees, maak musiek, skryf of sing sommer net in die stort. Dit sal jou kop vul met positiewe gedagtes en die bekommernisse by die deur weg hou. 

2. Jy is nie die enigste een nie

Mense wat hou van dinge oordink, die koeie uit die slote grawe en sommer net alles herkou ‘n duisend maal, steek dikwels vas by:

  • Dis net ek wat so swaarkry 
  • Hoekom kan ek nie net “cope” nie?

‘n Gevoel van hulpeloosheid begin dan laer trek  – maar onthou net dít – niks onder hierdie son is nuut nie. En jy is verseker nie die enigste persoon in die heelal wat al hierdie ervaring gehad het nie.

#everythinglooksworseatnight

So begin deur net een positiewe stap te identifiseer om die probleem op te los. Al is hierdie stap om jou vriendin te bel en haar raad te vra. Want soos ons weet, ‘n ander perspektief is soms al wat ons nodig het. 

3. Slaap 

Ek hoef seker nie die voordele van goeie slaap aan die groot klok te hang nie. Almal wat kan lees en twee breinselle het, het darem sekerlik die afgelope paar jaar die wonder-van-die- slaap brigade op sosiale media of in die media raak gelees.

So om die angs monster en sy vrinne Depression at Night: How to Cope with Nighttime Depression gedemp te hou, is daar ‘n paar wenke. 

  • Gaan slaap wanneer jy regtig moeg is. Moet nie daar gaan lê en dan probeer jy die skape tel nie. Dit het nie gewerk toe jy ‘n kind was nie, en gaan ook nie nou werk nie. Probeer iets aktief doen as jy kan – vroegaand, sodat jou gô behoorlik uit is. 
  • En as jy dan in die bed klim – lees ‘n boek, enige boek sal na ‘n paar blaaie jou ooglede loodswaar maak.
  • Vermy die ou foontjie se lig in die bed(jy kan môre-oggend weer opvang op Susan se laaste bietjie brêg) en om vadersnaam vermy ‘n TV in die kamer. Ek verpes dit. Dis net steurend. In ieder geval – blou ligte soos die wat by ‘n foon en TV uitstraal moet vermy word – Why it is time to ditch the phone before bed – want dit meng in met jou slaap ritme.
  • Beperk die voggies asook die kafeïne tot die dag. Want laat ons nou maar eerlik wees, beide stimulante en stimulante en slaap is nie soos vinkel en koljander.  
  • En dan natuurlik, ontdek die wonder van mediteer. Of bid as dit jou ding is. Iets waar jy jou uit jou kop en in jou liggaam kan inkry. Sodat elke spier kan ontspan en jy op die wolk kan wegdryf. 

Wat het ek geleer?

Die ding wat ek seker my hoop sal aan vaspen, is die gedagte dat ek nie alleen is in die aand, as ek met hierdie monster baklei nie.

En dat die son altyd môre weer sal skyn. Al is hy donners dof, maar skyn sal hy altyd weer skyn!

#everythinglooksworseatnight

#everythingdoesnothavetolookworseatnight

Hoe laat jy die son weer skyn? Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit blad op Facebook.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *