Vol 66: Hêppie gewig…wat is dit nou eintlik?

Die winter is op ons. Die lekker vetterige skaap bredies prut en die sous word opgeslurp met ‘n lekker vars gebakte sny brood. Die koue vra al vroegoggend vir ‘n vinger-lek-lekker tuisgebak, afgewas met ‘n stomende koppie iets.

En dis bloot noodsaaklik om die aand af te sluit met ‘n lekker dekadente bekertjie warm sjokolade…met malva lekkers al drywende daarop.  En om jouself vroegoggend uit die bed te sleep vir ‘n stukkie oefening is net verregaande…die ryp, die reën…nee wat wilskrag hou ons vir die lente wanneer die somer en die strand weer roep. #goodbyetothescales

Maar kort voor lank begin die denim span, al daai lae begin mens so effe wurg. Jy is skaars by die voordeur in na ‘n lang, uitmergelende dag en daai rekbroek word teen ‘n spoed oor die effe ronder heupe en voller boude gepluk. Maar hier diep binne begin daai stemmetjie jou aan te kla…jy soek naarstigtelik elke dieet onder die son op – want sodra die winter verby is, dan…ja dan gaan jy jou doel gewig bereik. Die skaal kreun en kla jou aan, jy werk daai Body Mass Index  oor-en-oor uit…bly so by die vetsug ronddraai. Jy voel soos ‘n swakkeling, jy beplan, jy droom, jy stel doelwitte…maar môre dan eet jy maar weer. Want dis nog nie lente nie.


Wie is ooit hêppie met hulle gewig?

Al ooit na foto’s van jouself gekyk wat so 10 jaar terug geneem is? Al ooit gedink: sjoe ek was darem lekker maer daar? Ek wed jou, presies op daardie dag en datum was jy ook nie gelukkig met jou gewig nie. Kanse is goed dat jy ook toe ‘n “doel gewig” nagestreef het. 

#goodbyetothescales

Maar deesdae is daar ‘n nuwe terme wat die rondtes doen – doel gewig word net by gimnasiums gebruik waar hulle jou stewige belegging sal terugbetaal as jy omtrent jou hele liggaamsgewig in 6 weke afskud! Die nuwe “in ding” is nou om jou find your happy weight te vind. 

Stel jou voor – om op daai geluksalige plek in jou lewe te arriveer, waar jy nooit ooit weer jouself oor jou gewig hoef te bekommer nie. ‘n Plek en tyd waar jy nie elke sekonde van die dag jouself moeg hoef te dink aan wat om te eet of hoeveel kalorieë jy al verbrand het of hoe om jou gunsteling kos soos die pes te vermy nie? 

En dit mense is waar jou liggaam sy hêppie plekkie sal vind. Geen skaal word benodig nie, jy sal sommer net weet. #goodbyetothescales

Klink te goed om waar te wees nè?

Nou kyk ek is 100% aan boord as dit kom by What Is Body Positivity? Te veel vrouens van my generasie, die vorige een en die een daarna, dink hulle liggame moet anders lyk.  So vind ek byvoorbeeld mos eers in my 40’s uit, daar is mans wat mal is oor boude! En hier verwens ek my stewige paar al lewenslank. 

Mans word ook nie hierdie obsessie met die perfekte liggaam gespaar nie hoor. Volgens What Body Dysmorphia Looks Like In Men het die getal mans wat aan liggaamsdismorfiese versteuring lei verdriedubbel oor die afgelope 25 jaar.

Maar sien ‘n hêppie gewig is nie ‘n ongesonde gewig nie. Dis ‘n kwessie van ‘n gesonde liggaam, huisves ‘n gesonde gees. ‘n Hêppie liggaam is verseker nie een wat uitgehonger word nie, dis verseker nie een wat vetsug in die gesig staar of nooit enige vars lug deur die longe kry of bloed vinniger laat pomp nie.  

‘n Hêppie gewig is een waar jou liggaam op sy beste funksioneer. Waar jy tuis voel in jou vel en die regte grootte klere koop…en jou nie in twee groottes kleiner probeer inprop nie. #goodbyetothescales

Die goud pot aan die einde van die reënboog

Die wetenskap wil voorstel dat ons almal ‘n Is there evidence for a set point that regulates human body weight het waar ons liggame op hulle beste funksioneer. Waar daar nie sprake is van diëte of soortgelyke martelings programme nie. Waar jy ‘n gebalanseerde, gesonde leefstyl kan handhaaf, sonder om deur die badkamer skaal regeer te word nie. #goodbyetothescales

En as jy nie ‘n tyd in jou lewe kan onthou waar jy nie besig was om elke morsel te analiseer, te evalueer of spyt oor te wees nie – is jy enig in jou soort! Die meeste van ons jaag daai doel gewig, wat iemand êrens met ‘n BMI of met een van daai fênsie skale uitgewerk het. 

Die eerste stap na  VRYHEID is om jouself toestemming te gee om jou hêppie gewig te vind. Om die idees van ‘n “ideale“ gewig mooi vêr weg te bêre. 

Wat is die tekens?

Jy sal weet jy het jou hêppie gewig bereik as jy:

1. Gemaklik in jou eie liggaam voel. Nie omdat die skaal ‘n 5g afwaartse neiging getoon het nie. Want laat ons nou maar eerlik wees, almal se liggame is uniek. Die geheim is om ‘n liggaam te hê wat optimaal funksioneer. Een wat ‘n besige vol lewe kan volhou.  Sonder om na jou asem te snak as jy jou skoene probeer vasmaak of om teen 3nm te voel of die wiele goed af kom. 

Want jou liggaam kan natuurlik net dit doen as jy ‘n gesonde leefstyl lei. As jy genoeg voedsame kos inneem en fiks bly. 

Ek het darem al die skaal in sy moer gestuur. Maar weet ek is skuldig daaraan dat ek nie gereeld genoeg, gesond genoeg eet nie en dan wil ek omkap hier teen 5nm. Bloedsuiker bestaan teen daai tyd nie meer nie!

2. As jy meedoënloos kalorieë tel. Elke happie moet afweeg op ‘n skaal, klokslag eet soos die program voorskryf…dan is jy nog vêr van jou “hêppie” gewig af. Ons het heeltemal afgeleer om na ons liggame te luister. Ons kan nie meer die verskil tussen die honger in ons koppe en die van ons mae onderskei nie. As jy nog wonder wat die verskil is, lees gerus hier: Head hunger vs Belly hunger: How can you tell the difference?

Jou hêppie gewig lê daar waar jy na jou intuïsie begin luister. Waar jy eet wanneer jy honger is, jy stop as jy vol is en eet waarna jy voel.  Jy kan daai stemmetjie in jou kop vaarwel toe roep en na jou maag begin luister. 

Ek is al beter hiermee – maar soos ek sê is ek nog oppad na volle genesing. Want sommige dae kry ek dit reg om na die maag te luister, ander kere voel ek nog daai klein oorwinnings dans as ek honger gaan slaap(nie goed nie!!) En dan swig ek ook   vir daai stuk koek ipv die voedsame, heilsame bord kos. En ek dink ek het ‘n koffie verslawing😳 ontwikkel.

#goodbyetothescales

3. Kos nie nog ‘n stres faktor in jou lewe is nie. Ek kan onthou hoe gestres en geïrriteerd ek geraak het as ek vir ‘n naweek moes weggaan en daar was net “vetmaak” kos orals. Ek kon sommer goed mislik raak – want dan was al daai opofferings en kos wat ek myself aan moes ontneem in aanloop tot die naweek, moer toe. En as daai eerste skyfie eers in die mond in was, dan was daar geen keer nie!

 Boonop  was oefening daar om kos te “verdien.” So as dit net gelyk het of ek nie my oefen sessie kon inkry nie,  het die angs my beetgepak. 

Maar die dag wat jy begin ophou om jou etes soos ‘n oorlogsaanval te beplan, elke krummel moet uitwerk, sekermaak die makro’s is reg en wee die een wat daarvan afwyk. Daai dag begin jy so bietjie vreugde en vryheid smaak. 

Want ewe skielik is kos daar om geniet te word. Daar kom glo ‘n  dag wat jy ‘n   onverwagse sosiale geleentheid kan bywoon en ja sê vir ‘n stukkie koek, sonder om in jou kop uit te werk wat jy sal moet opgee of hoe vêr jy sal moet hol om dit weer af te werk – dan is jy vry.

Ps. En jy sal dan ook sommer maklik kan nee dankie sê ook vir daardie stuk koek – want jy weet jy kan enige tyd ‘n hele koek opeet as jy sou wou. Geen meer geheelonthouery nie. 

4. Die skaal is toe onder die stof. Die een is ‘n moeilike een. Hoeveel van julle klim elke oggend op die skaal? En elke oggend het daai stukkie staal die vermoë om jou bui in ‘n oogwink te verander.

As ons realisties daaroor dink, die skaal verteenwoordig net ’n klein deeltjie van ons gesondheid, maar ons heg soveel waarde aan daai apparaat.
Dis natuurlik waar dat as ons ‘n gesonde leefstyl handhaaf, sal ons liggame by ‘n hêppie plek opeindig. Met of sonder die skaal!

 5. Jy het tyd om om jou te verlekker in ander dinge.  Ewe skielik sal jy tyd hê om aan ander goed ook te dink.
Vir ’n goeie 30 plus jare het ek soveel spasie in my kop opgeoffer aan diëte, die skaal, hoeveel oefening ek gekry het(om te mag eet) en hoe gesond my leefstyl nou eintlik is.

Ek poog nou om daardie tyd aan meer produktiewe, energieke goed te spandeer. Dis asof my “wolk” meer berging spasie gekry het.

Waar trek jy?

Ek hoop regtig ons kan almal weer op daai plek kom waar ons eet wanneer ons honger is, uitbundig klim en klouter(of dan stap en kruip) en na twee happe kan sê: “Ek is vol.” En dit bedoel!

Mag jy vol vryheid wees en tonne spasie in jou kop en ‘n vol maag hê. En die skaal met ‘n hamer bydam!

#goodbyetothescales

#goodbyetothescales

Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit blad op Facebook.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *