Wynvlieg | Stap in ander se skoene – ‘n gesukkel

Vol 67: Stap in ander se skoene – ‘n gesukkel!

My man is gister in die rug gesteek deur ‘n vriend. Et tu Brutè! Ons was midde ‘n middagete, wat veronderstel was om ‘n vrolike gedoente te wees, ontspanne op ‘n prag van ‘n Saterdagmiddag.

Die boodskap kom via WhatsApp deur(deesdae het ons nie meer tyd om mekaar persoonlik in die rug te steek nie, ons doen dit eerder soos lafaards per foon.) En ons hele middagete is in sy moer. Ek kon net sowel nie daar gewees het nie. Maar ek kon myself voorstel hoe hy moet voel, in die steek gelaat, in die rug gesteek en was sommer ook op die plek moerig vir die nou-nie-meer-‘n-vriend. #takeawalkinmyshoes

#takeawalkinmyshoes

Daardie gevoel noem ‘n mens, empatie. Ek kon myself in sy skoene plaas. Ek het goeie rede gehad om ‘n vloermoer van astronomiese proporsies te hê. Ek kon sê: “Ek het jou mos gesê.: Maar ek het nie, want op daardie oomblik was my eie wyshede en “fixing” nie belangrik nie, maar my empatie wel. #takeawalkinmyshoes

Het die een onder die knie

Voor julle nou reeds almal uitclutch en dink: “Ag vader hier gaat sy al weer, met haar beuel geblasery.” Ek is definitief ver van perfek – kon myself gister op die skouer klop ja en was selfs verbyster met my diepe gevoel van empatie. 

Maar as ek blatant eerlik moet wees – hier is twee interessante waarnemings omtrent myself:

  1. Ek is nie goed met simpatie nie
  2. Ek kan meermale empatie en medelye betoon met mense wat nie die naaste aan my is nie.

En ek vermoed ek is nie enig in my soort nie. 

My hart krimp ineen as ‘n ‘n honger kind op TV sien of hoor van ‘n arme bejaarde vrou wat op ‘n matras in die hospitaal se gange moes slaap (tekort aan beddens 😡) Ek draai weg as ek die brutaliteit van mens teenoor dier op ‘n sosiale media plasing sien. Ek snik onbeskaamd in tranetrekkers soos Me Before You. En as my vriendin ‘n afdag het, haas ek my na haar met ‘n bos blomme, want ek weet sommer net. 

Maar as dit by die mense naaste aan my kom, raak ek soms koud en ongevoelig. Ek voel die teenoorgestelde van empatie – ek voel verwyderd en soms net geïrriteerd. #takeawalkinmyshoes

Wat is empatie?

Ek is al male sonder tal deur einste Mnr G vertel ek staan ongevoelig teenoor ‘n saak en my binneste loop nou nie juis oor van medelye nie. 

Ek verskil natuurlik met hom en moes bewyse kry vir my standpunt(want wie hou daarvan om as Miranda Priestley van The Devil Wears Prada uitgemaak te word!)

En daar kry ek dit toe – Empathy vs. Sympathy: What’s the Difference? Empatie – kom van die Duitse woord “Einfühlung” – wat beteken om “binne-in” te voel. Maw jy kan jouself die emosies van ander aanvoel – jy kan jouself in hulle skoene plaas. Simpatie aan die ander kant, beteken jy kan jou iemand anders se pyn voorstel – maar simpatie is meer van ‘n kop as ‘n hart ding. Jy behou so ‘n bietjie jou afstand. #takeawalkinmyshoes

Ek voel ek is effe gesnoeker hier – want ek is maar ‘n kop mens. Maar die kop ding kom al ‘n lang pad, want hy is my beskermheer. Hy hou my veilig van die alomteenwoordige kwesbaarheid. So ek is toe eintlik so effe soos ‘n Sweetie Pie, harde dop, maar sag van binne. 

Dit bring my terug na die vraagstuk

Hoekom sukkel ek verdomp so om in die skoene van diè naaste aan my te klim. Moerse verassing natuurlik – die antwoord lê in KWESBAARHEID. Want as iemand so na aan jou iets pynlik met jou deel, dan raak jy kwesbaar

Dan pluk ons daai “emosionele gereedskapkis”  uit en ons grawe loopgrawe so diep dat niemand ons daar sal kry nie. 

‘n Gereedskapkis wat die ou staatmakers woede, beskerming, afstand, vervreemding met entoesiasme omarm – emosioneel afgestomp. #takeawalkinmyshoes

Woede – why empathy dissolves

Hier is ‘n staaltjie – in matriek bel my telg my wat op daardie tydstip “in die middel van ‘n vraestel moet wees,” om te sê hy gooi op(soos in strome.) Ek stuur die assistent om hom te gaan optel. Maar waarsku: “moet hom tog nie iets ingee wat hom lomerig gaan maak nie, want boeta moet nog leer vir die Aardrykskunde toets van môre.”

Hy vertel natuurlik hierdie staaltjie met die grootste genoegdoening aan ieder en elk as ‘n bewys dat sy moeder die mees ongevoelige mens op aarde is. En ja, as ek so daarna luister, klink ek na een aaklige mens. Maar wat in die moederhart aangegaan het, is pure paniek. Paniek en woede omdat ek geweet het hy het nog nie genoeg geleer vir daardie Aardrykskunde eksamen nie(desondanks my vreeslik geteem daaroor.) Ek kon al die teleurstelling van die slegte punt sien, die selfvertroue wat drein af spoel en kon sommer ‘n paar ander nare scenario’s optower in my kop. 

Dus raak ek kwaad, ek beskuldig en sê: “Dis omdat jy moes leer voor die tyd, ek het jou gewaarsku.” Ipv om die groter prentjie te sien en te weet as hy dit afslaap is hy dalk later beter en hy sal wel sy les leer. Maar ek is kwaad, want ek wil nie sy seer en teleurstelling so diep beleef nie. 

Beskerming – 

Stel jou voor jou suster of broer vertel jou van iets aller vreeslik wat met hulle gebeur het. Iets wat jou dag en nag laat wakker lê – wat ‘n siddering teen jou ruggraat laat afgaan. 

Maar in plaas daarvan om tot aksie oor te gaan, om saam met hulle deur die trauma te werk, die snot en trane te sien en selfs ‘n traan of twee te pik….doen jy net eenvoudig niks. Jy stuur ‘n boodskap hier en daar ja, maar jy bly op ‘n afstand. Wil tog nie in ander mense se sake inmeng nie.  

Wel, die slegte nuus is…die dinge laat jou nie eintlik koud nie. Jy is net besig om jouself te beskerm teen die pyn. Jy is bang dis “aansteeklik” – so jy bly eerder weg. Wil nie tè na aan die vuur kom nie, want net-nou brand jy ook!

#takeawalkinmyshoes

Afstand – 

Daai eerste keer wat jou tiener nie gekies word vir ‘n sport span nie – jy probeer dit rasionaliseer en jy probeer hulle verduidelik “ten minste” kan hulle nog pret hê in ‘n laer span. Jy probeer die silwer randjie kry, jy probeer vir hulle perspektief gee. 

Maar wat jy eintlik doen is om afstand tussen jou en daardie gevoel van teleurstelling en waardeloosheid te kry – wat jy as tiener en dalk grootmens – beleef het, toe JY NIE VIR DAAI SPAN GEKIES was nie. 

Die wonde is net tè pynlik om te gaan oopgrawe, die rofies te dun. 

Vervreemding –

As jy nie blootgestel is nie, kan jy nie seerkry nie nè? Veral as dit by ons kinders kom – ons sukkel meer as wat ons bereid is om te erken, om ons kinders se gevoelens, kwesbaarheid en  seerkry van ons eie te onderskei. En dus is dit makliker om soos ‘n vreemdeling op te tree, om te maak of ons nie geraak word daardeur nie, want dan hou ons onsself veilig. 

Hoe nou gemaak?

Ek is amper doodseker dat meeste van ons se hartsbegeerte is om regtig DAAR TE WEES vir die mense naaste aan ons. Om die vangnet te wees, om diè persoon te wees wat jou mense eerste sal bel as hulle kwesbaar daarbuite is. 

Ek weet ek wil daardie persoon wees. Dis die nalatenskap wat ek graag sou wou laat. #takeawalkinmyshoes

Die drie-punt plan:

  • Kognitief – dink jouself regtig in die situasie in. Vra jouself af: “Hoe voel dit om in hierdie situasie te wees.” Geneuk is, as jy by hierdie stap tot stilstand kom, raak jy net simpatiek en verloor jy jou empatie.
  • Emosioneel – en nou moet jy jouself indink hoe dit moet “voel om in die situasie te wees.” Dink aan al die emosies wat oor ‘n persoon kan spoel – en VOEL DIT!
  • Empathy – is eintlik die teenoorgestelde van iets doen. Die een is een groot gesukkel vir my, want ek wil ONMIDDELLIK ‘n oplossing bied, ‘n alternatief – Mev FIXXIT op sy beste! Om empaties iets te doen – beteken om net daar te wees
#takeawalkinmyshoes

Die put waarin ek val

So punt een en twee van bogenoemde plan is MAAAAAAAKLIK  vir my, maar daai 3de een…ai, die is effe uitdagend. 

So nou moet ek die wag voor die deur kry – om my te waarsku teen:

Ten minste – en wie op aarde het al beter gevoel as jy die woorde “ten minste” hoor? 😆 Ek is so skuldig soos Judas aan diè een. En ek laat myself beter voel deur te dink “ten minste” probeer ek help!

‘n Beter antwoord sou dalk wees – “Ek is jammer, ek kan verstaan hoe jy moet voel.” As jy ‘n voorbeeld uit jou eie lewe van ‘n soortegelyke ervaring kan opdis, doen…maar probeer maar vir eers die silwer randjie agter die wolke laat skuil. 

Alles sal “ok” wees – so baie keer, sal mense hulle vrese met ons deel en ons eerste reaksie is, “ag toemaar man, alles sal weer ok wees.” Dis ‘n belofte wat ons NIE KAN hou nie.

Dalk moet ons net gemaklik wees om deur die ongemak met die ander persoon te sit. Dalk moet ons net erkenning gee aan hulle vrees. Iets soos: “Ek kan sien dit maak jou baie bang om xyz te doen. Ek is hier as jy nog wil praat. ” En dan bly jy STIL!

Probeer dit gerus

Ek het onlangs ‘n nuwe empatie vaardigheid aangeleer – want ek is nou maar eenmaal ‘n ou helpertjie! (🤣…nie altyd so altruïsties soos ek wil voorgee nie, maar dis iets vir ‘n ander dag!) 

Stap 1 – 2 kom relatief maklik vir my, maar stap 3 kort nog aandag. So dus bied ek nie nou meer sommer ongevraagd(wel ek probeer ok!?) my hulp en raad aan nie. Ek vra: “Sê as ek jou kan help.”

En dan moet ek asemhaal, sit en wag….(moeilik maar doenbaar!) Ten minste kan ek nog skryf en alles sal mos ok wees?! 🤣

As jy byvoorbeeld wil, skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit blad op Facebook.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *