#likehaminasandwich

Vol 69: Toebroodjies is ongenaakbaar!

Die ‘It’s Pretty Brutal’: The Sandwich Generation Pays a Price beskryf dit so goed – om deel te wees van die toebroodjie generasie, is ongenaakbaar en in eenvoudige taal, brutaal! #likehaminasandwich

Jy ook dalk deel van die kosblik?

Kanse is goed, as jy jouself êrens tussen 35 en 55 op jou lewenspad bevind, jy deel is van die Sandwich Generation. So be noem natuurlik omdat jy soos die spreekwoordelike ham in die toebroodjie voel. Jy is “vasgekeer” tussen die “witbrood-sonder-die-korsie” kroos vir wie jy verantwoordelik is en  jou “rogbrood” ouers wat jou ook nou in die oë kyk vir finansiële of emosioneel hulp. 

En die regtige kakkerige nuus vir diè van julle wat jonger is, dit lyk of sake in die jare wat kom net nog erger gaan raak. Want kinders het nou deesdae die geneigdheid om na hulle studies weer by die ouers in te trek – mens noem hulle die Boomerang Children. Donnertjies kom soos daai wapen van die Australiese inboorlinge heeltyd terug, ongeag hoe ver en hard mens hulle in hulle eie toekoms probeer ingooi! En die wêreld se populasie raak ook net ouer en ouer. Die World Population Ageing 2019 berig dat daar in 2019 703 miljoen mense, ouer as 65,  in die wêreld was. Hulle voorspel dat hierdie syfer gaan verdubbel tot 1.5 biljoen teen die jaar 2040. 

So ons is almal oppad in dieselfde rigting! Hetsy of jy dit nou al aan jou eie bas voel, of teen ‘n spoed van wit lig daarop afpyl! #likehaminasandwich

‘n Dierbare vriendin

#likehaminasandwich
#likehaminasandwich

My “sister-from-another-mister” is een van daai engele, wat haar ma by haar in die huis versorg, sy het twee jong manne wat op die rand van die grootmense wêreld staan en ‘n tiener wat sekere dinge met Elon Musk (Elon Musk reveals he has Asperger’s on Saturday Night Live) in gemeen het. Haar ma is in ‘n rolstoel en dus afhanklik van haar. Die dierbare mens kla selde(en as sy die dag bietjie moet asem skep, is sy half verskonend daaroor.) 

Maar sy is goed ge-toebroodjie. #likehaminasandwich


Sy vertel: 

“Ek kan nie sommer net in die aand iets op die ingewing van die oomblik doen nie, ek moet altyd eers aan my ma dink. Ek kan haar eenvoudig nie alleen by die huis los nie. Sy kan nie alleen uit die bed kom nie, sy kan nie meer die ketel vashou om koffie te maak nie. Sy het iemand tuis nodig”

“Ek moet altyd aan my tienerseun dink, sy welstand en hoe veilig hy voel. Ons moet dink aan sy toekoms en hoe ons dit gaan hanteer. En elke dag is anders en uniek met hom.”

“Danksy COVID en die toekomsplanne van die jong manne, is almal op die oomblik in die huis by ons. Ek love dit om hulle almal hier te hê, maar ons kosrekening is natuurlik hemelhoog en alhoewel hulle baie uithelp, voel ek nogtans verantwoordelik vir die kos en om daar te wees vir hulle.”

Hierdie is nie ‘n unieke storie nie, daar is vele soortgelykes daarbuite.

Hoe het ons hier gekom?

Die wêreld was nog altyd een rowwe plek, maar met Covid is die bordjies nou verewig verhang en hierdie toebroodjie situasie gaan net erger raak. 

In  party gesinne is daar ‘n Club sandwich situasie aan die gang – Why the ‘sandwich generation’ is so stressed out. Waar die oupas en oumas na die kleinkinders moet kyk, sodat ouers op hulle beurt weer kan werk om geld in te bring en die hele pot aan die kook hou. En dit is natuurlik heel moontlik ‘n voordeel – want ten minste word die rondry vir naskoolse aktiwiteite nie nog ‘n uitgawe nie. Daar hoef nie ‘n babawagter ingeroep te word as die ouerpaar ‘n slag die binnekant van ‘n restourant wil gaan sien nie.

Jong mense van lande reg oor die wêreld het eenvoudig nie meer ‘n keuse nie – hulle moet maar weer terug nes toe. En dis nie uniek aan hierdie land van ons nie – A majority of young adults in the U.S. live with their parents for the first time since the Great Depression – 52% van jong Amerikaners tussen 18 en 29 het verlede jaar by hulle ouers gebly. The land of opportunity my g.a.t. 

En dis ‘n gatslag vir jong mense, want dit vertraag hulle vordering op finansiële vlak, hulle pensioen bydraes en net hulle vermoë om op hulle eie bene te kan staan. 

Die momentum word net meer en die impak op generasies wat kom nog groter en groter. Die nuwe normaal. #likehaminasandwich on steriods

Die stres lugspieëling

Hierdie is werklik ‘n situasie waar ‘n mens in die middel van alles vasgevang voel. Jy voel of jy jou eie identiteit verloor. Dis  asof al jou drome eers opsy geskuif moet word. Want die  verantwoordelikheid teenoor jou eie bloed is nou eers belangrik – later kan jy weer na jouself kyk.  

En laat ons nou maar nie doekies omdraai nie, vrouens dra meestal die swaarste aan hierdie las. Hulle sal menige maal maar die halfdag werkie vat, hulle eie luukshede prysgee, die droom van ‘n loopbaan laat vaar en sekermaak die inkopies ruk nie die mat onder die hele gesin uit nie. Dit terwyl sy nog die skedules moet koördineer, seker maak al die huishoudelike admin is gedoen en is die eggenoot se persoonlike PA. Almal druk op haar nommer en sy spring.  En vra baie keer nog hoe hoog ook!😜

En die man wat die inkomste moet inbring, voel of al sy harde werk in die drein afspoel – voor die salaris nog inbetaal is, verdwyn dit soos mis voor die son en al wat oorbly is ‘n oortrokke fasiliteit. 

Om nie eers van die enkel ouer te praat nie – die doen sommer al die bogenoemde en het geen emalje op die tande oor nie, want diè is lankal af gekners.  En sy gebruik die boksie kleur vir die hare en hy kan nie eers meer onthou hoe ‘n  sorgvrye uitstappie met die manne nou eintlik lyk nie. 

Daar moet mos hulp wees!

Soos ek hierdie tik, trek my bors skoon toe en kan ek die hopeloosheid oor my voel spoel. Goeie aarde, dis genoeg rede om nou reeds ‘n laer te gaan trek êrens in die boendoes en van jou eie groente tuintjie te leef, terwyl die kinders kakkerlakke vang vir aandete! #nomorehaminasandwich

#likehaminasandwich
#likehaminasandwich

In meer gevorderde lande – hier bedoel ek lande waar die regering die belasting geld wat hulle met graagte insamel reg aanwend– sal daar in die toekoms gekyk moet word na beter ondersteuning vir ouer wordende populasies. 

Maar vir diè van ons wat hier aan die suidpunt van Afrika wil bly, die son in al sy glorie wil beleef. Die mooi strande met ons uitgebreide familie wil besoek of die mooi Bosveld en die diere uit ons karre wil bewonder…ons het ‘n ander strategie nodig. 

As jy reeds pens en pootjie binne die toebroodjie is, hier is ‘n paar 8 Ways To Manage Sandwich Generation Stress

1. Maak tyd vir jouself

Ons weet almal maar te goed, as jou tenkie leeg is begin jy ook binnekort sluk-sluk soos ‘n ou tjor. En nou lag jy seker lekker uit jou maag uit – en dink fok vrou, waar val jy uit. Ek het skaars tyd om in vrede op die toilet te sit, waar gaan ek nog tyd kry vir MYSELF?  Dog dis die hele probleem!

Ek weet ons skram weg daarvan, want baie keer voel dit na net nog iets om te doen. Vir my is dit om in die oggend gym toe te gaan. Dis om in die buitelug te gaan stap. Dis om ‘n boek te lees. Ja dit beteken ek moet ander dinge opoffer soos om voor die TV te lê, of ek moet al 5 uur in die oggend opstaan om te gaan oefen. 

Maar dit maak ‘n mens se tenk vol en met ‘n vol tenk kan mens soveel ander mense saam karwei. 

2. Sentrale kommunikasie

Verbeel jou, jou familie is in ‘n besigheid. Al die aktiwiteite en reëlings en deel van inligting word soos in ‘n wafferse korporatiewe organisasie gestruktureerd gedoen. 

Daar is ‘n WhatsApp groep waarop inligting gedeel word en sommer net lekker gebabbel kan word. As daar admin uitgedeel word – allokeer ‘n tyd in die oggend waarin admin gedoen word – en geen op die nippertjie snert word aandag aan gegee nie. 

Hou huis vergaderings en maak seker almal se skedules word in ag geneem, en almal moet êrens ook ‘n opoffering maak vir die ander gesinslede. 

3. Deel die werk uit

Soms voel ouers hulle waarde lê daarin om alles vir hulle telge te doen. Want o hel, as hulle nie heeltemal afhanklik van ons is nie, wat is ons doel op hierdie aarde dan nou eintlik?

Wel binne perke glo ek, kan almal maar hulle deel begin doen. Dit help darem as iemand anders die swart dromme kan uitvat, of vir ouma of oupa ‘n tee so af en toe vat. Elkeen moet maar sy deel bydra, want ‘n gedeelde las is ‘n ligter las. 

4. Kry hulp!

Ek weet dis nie vir almal beskore om ‘n huishulp of kinderoppasser te kry nie. Maar as jy kan, daar is reuse werkloosheid in hierdie land van ons. Daar is duisende-der-duisende vroue daarbuite wat ook na hulle gesinne moet omsien en nie ‘n paar sent in die sak eers het nie. So as jy kan, hou die ekonomie aan die gang. Sulke mense is engele! 

Maar as jy nie nog sente uit jou reeds leë kruik kan tap nie, dink dalk daaraan om ‘n saamry geleentheid te skep, of om dalk jou kruideniersware by die huis te laat aflewer of om een van daai wonderlike dienste soos ucook te gebruik. Jy spaar tyd en geld. 

Meer tyd om na jouself te kyk of om ‘n gesprek met jou ouer te hê. Onthou tyd is kosbaar en jy mag jare later dankbaar wees vir daardie ekstra koppie tee saam met hulle. 

5. Werk van die huis af

Dankie Covid. Die virus het ook vir ons buigbare werksure gebring en almal het agtergekom mense is eintlik meer produktief. Working From Home Increases Productivity ‘n hele 1.4 dae meer word glo gewerk. 

As jy meer buigbare ure kan beding, beteken dit ook jy jaag jou nie heeltemal besimpeld nie. En boonop, vroue veral beroep hulleself op hulle ongelooflik vermoë om duisende take op een slag te kan doen. Wetenskap het nou bewys why multitasking doesn’t work. So jy kan maar ophou, dis nie iets om op trots te wees nie – jy mors net jou eie tyd!

En dalk eendag op ‘n reēndag sal daar kindersorg by ons werksplekke wees. Dink net hoe wonderlik.  Dan kan  jy die bloedjies daar gaan los en kan jy sommer direk van die lessenaar hulle gaan optel. Geen gejaag om tog net betyds te wees, voor die oppassers jou met daaaaaaaii uitdrukking aankyk as jy laat opdaag nie.

6. Jy is nie perfek nie

Ons wil tog so graag sekermaak ons kom by alles uit, laat nie ‘n bal êrens val nie en kan baie hard op onsself wees as ons nie by alles uitkom nie. 

Maar weet jy wat, die wêreld gaan nie vergaan as jy nie alles perfek regkry nie. Laat vaar maar daardie droom en verwagting wat ons meestal op onsself plaas. 

Maak ‘n lys van die absolute noodsaaklike dinge – soos om jou kind by die skool op te tel, of om ‘n doek te ruil. Maar die ander minder belangrike dinge kan soms maar oorgeslaan word. 

7. Wat is nie onderhandelbaar nie

Maak ‘n lys van dinge wat jy net eenvoudig nie met enige iemand oor gaan onderhandel nie. Myne is gym toe gaan – not ‘n sausage gaan ek dit opgee, want dit hou my van mallekoppie status af weg. 

As dit vir jou belangrik is om in vrede op die toilet te kan sit of eers jou koppie koffie in stilte te kan drink en ‘n Ouma te dip…dan is dit so. Dan kan telgie maar voor die TV geplak word, of ouboeta kan sy eie kosblik pak en ouma kan maar ‘n bietjie wag.

8. Vra hulp

Daar is orals mense wat wil help. Glo my vry. 

Kry ‘n vriendin by wie jy onbeskaamtelik kan kla, gaan sien ‘n sielkundige of sluit by ‘n groep op sosiale media aan. Die mens het nodig om gehoor en gesien te word. 

En as jy jou storie met ander deel, uitvind jy is toe nie so ‘n aaklige mens nie en dat ander jou sorge deel – dan word die hele wêreld belig!

#likehaminasandwich

9. Dit gaan ook verby

Behou tog maar altyd perspektief – hierdie is net ‘n seisoen van jou lewe en gaan nie vir altyd aanhou nie. 

Die einde van hierdie seisoen beteken ‘n ouer wat afsterf of kinders wat met hulle eie lewens aan beweeg. Dit beteken geen meer gedeelde geskiedenis of stories van die verlede nie, dit beteken ‘n leër huis met minder gesels, lag en redekawel om ‘n tafel. 

So onthou altyd – daar is iets in hierdie oomblik wat kosbaar is. Iets wat jy gaan mis as dit eers nie meer daar is nie. En soos hulle mos sê: Spyt kom altyd te laat. 

As jy ook soos ‘n ham in toebroodje #likehaminasandwich voel, skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit blad op Facebook. En ons publiseer hom of los ‘n vraagstuk op. 

4 thoughts on “Vol 69: Toebroodjies is ongenaakbaar!”

  1. My huis is vol sedert 26 Maart 2020! 2 volwasse seuns/mans terug in die huis. Ouma verloor 22 Mei 202 agv Covid..maar ‘n groot genade na 20jr van Alzheimers…
    ‘N susterskind wat ook in getrek het, maar die Here se genade is wyd en groot en ek weet die liefde en ondersteuning wat ek nou gee berei my voor vir wanneer hierdue season verby is…Mooi geskryf!

    1. Ai Mariana herinner jy my nou weer vanmôre aan ‘n ding – die Here se genade is groot en wyd! Ek moet sê ek is Hom eintlik innig dankbaar dat Hy my my seunskind vir nog “twee jaar” in die huis geskenk het. Moes skoolkoshuis doen, so dankbaar nou het ek hom weer vir ‘n rukkie terug onder die dak. Maak die leë nes makliker. Geseënd sal jy wees!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *