Laat ek nou maar eerlik wees, ek is so ‘n “effense” luisteraar. Nee daar is soos in niks op aarde verkeerd met my gehoor nie, ek luister, maar ek hoor nie aldag lekker nie.
Want sien, ek formuleer eintlik al klaar my antwoord voor ek nog regtig, egtig die storie gehoor het. #canyouhearmemajortom?
Want ou helpertjie wil mos maar altyd intree, beter maak en haar wyshede(gevraagd of ongevraagd uitdeel.) Dink ook dit het so ‘n kleine bietjie te doen met die feit dat ek ongemaklik voel in die aangesig van swaarkry of kwesbaarheid – so ipv sit en luister en HOOR, praat ek daai kwesbaarheid sommer vinnig dood. Plan gemaak, probleem opgelos, voorwaarts mars!
Die lelike, nare waarheid
Nou ja, dit behoort nie as enige groot revolusie hier voor my te kom staan nie. Dis menslik en ek wed, vele, vele van julle wat hier lees, ly aan dieselfde kondisie. Die artikel in die vooraanstaande The Power Of Listening bevestig my vermoede.
Want die mens se brein is bedraad om meer belangstelling te toon in ons eie gedagtes, opinies, gevoelens, rasionalisering en perspektiewe as in enige iemand anders sin. En dit maak ons nie noodwendig slegte, self gesentreerde drolle nie, dit maak ons net mens.
Dus, om regtig te kan LUISTER en HOOR wat ander te sê het, is ‘n vaardigheid wat aangeleer moet word. #canyouhearmemajortom?
As ek net wil hoor
Volgens Will Your Coverage Take Care Of Your Health is die vermoë om ordentlik te luister en te HOOR, om jou totale, onverdeelde aandag op die persoon te vestig. Nie net te probeer verstaan wat letterlik uit hulle monde kom nie, maar wat hulle eintlik meen om te sê.
So nie net moet jy fokus op die woorde nie, maar ook die konteks waarin dit gesê word, wat die omstandighede is wat gelei het daartoe, die stemtoon, die liggaamstaal. Maw as jy luister is jy bewus; jy is teenwoordig en kan jou in die ander persoon se skoene plaas. Want male sonder tal, is die woorde wat mense uiter maar net ‘n fraksie van dit wat hulle eintlik probeer sê.
Nou waar sit jou ore dan?
In die wêreld van the new multi-screen world study, waar 90% van ons inligting van skermpies af kom en ons TV kyk, op ons fone is en nog die skootrekenaar met die een oog kan dophou, raak die vermoë om te kan luister regtig ‘n skaars vaardigheid.
Maar die goeie nuus is natuurlik, dat soos met enige vaardigheid, kan ons ook aanleer hoe om aktief en doelbewus te luister. #canyouhearmemajortom?
Daar is ‘n paar goed wat in ons pad staan – Reasons You Don’t Listen, so gaan maar deur die lys en kyk watter jou pootjie. En maak ‘n plan!
1. Reg of verkeerd
Baie van ons het so ‘n dringende begeerte om REG te wees, dat ons lank voor ons die ander persoon se opinie en perspektief in ag geneem net, reeds ‘n antwoord formuleer en soos ‘n wafferse advokaat die ander ‘n nekslag wil toedien.

Onthou net, jy is nie in ‘n hof nie, jy gaan nie enige iets “wen” om altyd te probeer reg wees nie. Jy mag natuurlik jou perspektief en gevoelens deel, maar los maar die self regverdigende stemtoon en bedoelings by die voordeur, onder die matjie verkieslik. En hoor wat die ander een sê.
2. Blaam verplaas
Ken ons nie diè een goed nie. Iemand vertel ons hoe hulle(in hulle opinie natuurlik) onregverdig behandel is. In ons opinie(reg of verkeerd) begin ons hulle blameer vir die uitkoms, vir die feit dat hulle dalk te papbroekig was, of die ander persoon rede gegee het om hulle in te doen of omdat hulle sommer net nie sterk genoeg gestaan het nie.
Ipv om die persoon te probeer lei na ‘n plek waar hulle self verantwoordelikheid kan neem vir hulle aandeel in die toedrag van sake, blameer ons hulle. En dan wham-bang-thank-you-madame, raak hulle ‘n slagoffer en ons het absoluut NIKS reggekry nie.
3. Slagoffer
Dan natuurlik aan die ander kant van die munt, is daar die ewige slagoffer mentaliteit Vol 58: Wees Bedag. Voor ons nog werklik die ander persoon se perspektief kon aanhoor, dink ons al klaar hulle is daarop uit om ons in te doen, af te maak en trap ons vinnig in daardie slagoffer yster.
Arme ekke, almal is teen my. Ek probeer so goed wees vir ander en net help, en dan is dit hulle reaksie!
Gebeur telke male as mens iets vir iemand anders doen, sonder dat hulle jou eers vir jou hulp gevra het. Dan voel ons misbruik…maar niemand het gevra nie. So slagoffer sal dit wees.
4. Die verdedigings linie tree aan
Jy is so bang vir kritiek, dat jy onmiddellik op die aanval gaan as jy dink iemand deel iets met jou wat dalk negatief of onaanvaarbaar is.
Voor daardie persoon nog ‘n alternatief tot jou situasie kan skep of ‘n ander persepsie op die tafel sit, is jou “geweer” gelaai en is jy reg vir veg.
Maar jy veg teen jou eie demone, want kort voor lank gaan niemand meer iets konstruktief tot jou lewe wil bydra nie, want wat is ieg die punt?
5. Niemand gee my opdragte nie
Opdragte wat nie vir jou sin maak nie, laat ‘n vrees by jou opkom dat jy in iets ingeboelie gaan word waarmee jy nie mee gemaklik voel nie. Jy wil tog net nie ‘n aandeel hê in dinge wat nie vir jou sin maak nie – so ipv luister en vra en verstaan – skop jy soos ‘n twee jarige met ‘n moerse vloermoer vas. Jy sal nie, jy wil nie en jy gaan nie. Dit maak net nie sin nie, en niemand gaan jou van die punt oortuig nie. Doen dit self!

6. Veeleisend
Die nuwe siekte van ons tyd is in my opinie entitlement.
En as dit by luister kom, raak jy sommer net eenvoudig veeleisend. Jy verwag dat mense na jou moet luister en doen wat JY VRA. As hulle nie dit doen nie kan jy op gods aarde nie verstaan wat hulle probleem is nie. Jy kan net eenvoudig nie die ander kant sien nie, want JY VERDIEN om gehoor te word. Nie hulle nie, wie’s hulle?
Jy is behep met jou eie situasie, jou eie belangrikheid in die lewe en verwag natuurlik die aarde moet rondom jou tol. En vir wat kan almal anders dit nie net so insien nie?
7. Selfsug
Selfsug is veeleisend se ouer broer. Jy wil dinge hê en doen soos JY dit gedoen wil hê. Want dis jou lewe, jou bietjie tyd op aarde en dus moet JOU stories en perspektiewe eerste aandag kry. Jy erken sommer jy is selfsugtig, maar dis mos OK, want almal het ‘n sê. Behalwe natuurlik die ander persoon..hulle opinie en woorde is van minder belang.
So jy verdoof hulle deur onmiddellik jou standpunt, so hard as moontlik uit te bulder en alle kanale van kommunikasie summier af te sny.
8. Die ewige helper
O la, hier is ek nou!!! Jy voel almal in die wêreld het ‘n bietjie hulp nodig, en jy is net die persoon vir die taak. Jy het nog nie eers die hele storie en alles rondom dit regtig gehoor nie, daar is nie eers regtig vir hulp gevra nie – maar uitdeel, deel jy dit vinnig uit.
En voor EK MYSELF kom kry is ek ge-irriteerd want ek het dan so goed bedoel en vir wat kan wie ookal aan die ontvang kant is, nie net iets daaromtrent DOEN nie.
Ek het darem al so bietjie gevorder, maar ek trap maar nog gereeld die stel af. Ek kan nou al so 80% van die tyd net luister, kop knik en moet myself gereeld vermaan: As hulle nie vir hulp gevra het nie, soek hulle dit nie!!!
Kom ons luister #canyouhearmemajortom?
Dis regtig nie so maklik soos dit klink nie – kom ons dink hierdie week aan ons interaksies met ander mense as ‘n “begripstoets.” Ons sal mooi moet luister en met volle aandag, sodat ons ‘n begrip kan vorm.
En as stilbly die beste antwoord is, dan is dit nou maar so!
Wil jy gehoor word, maar niemand luister nie? Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit blad op Facebook.