Hoe beny ons nie diés met die hogêre IK nie? Dit moet darem lekker wees om so met die genade van baie verstand geseën te wees.
Jy weet, ek dink ook sommer nou die dag daaraan…as jy een van diès gebaar het, dan beleef jy seker nooit daai beklemming rondom eksamentyd nie. Of as bloedjie aansoek gedoen het by ‘n vooraanstaande universiteit – dan hoef jy seker nie al jou naels af te kou of te voel na opspoeg as daai brief in die in-boks verskyn nie. #iamwhoiam
Maar Is IQ or EQ More Important vra tereg, is daai IK – hoog of laag(wel seker darem ten minste êrens in die middel) die enigste kans op sukses? Of het emosionele intelligensie ook iets daarmee te doen?
Ek staan altyd in pure verwondering oor die genieë. Is nie jaloers nie, nèè. Dis meer soos ‘n oopmond bewondering vir die absolute belangstelling in alles, die weet van nog meer en ook hoe ‘n IK iemand uit die lot van armoede kan red.
Ek is meer van die gemiddelde soort – so ek moet my beroep op ‘n hoër emosionele intelligensie dus🤪? En die goeie nuus is – dit kan natuurlik aangeleer word – soos om “street wise” te wees. Of net blote gesonde verstand aan die dag te kan lê.
Maar hoe lyk emosionele intelligensie van naderby?
Ek het gaan loer by Emotional Intelligence. As jy jou wil evalueer – daar is ‘n paar duidelike eienskappe wat iemand met ‘n hoë emosionele intelligensie besit.
1. Die mens en sy dinge fassineer jou
Jy let die fynste besonderhede in mense se gedrag op. Jy is super sensitief vir hoe hulle reageer op sekere gesprekke, hoe hulle gesigte en stemtone verander na aanleiding van die emosie wat hulle dalk nie op die oppervlak wys nie, maar wat sluimer agter ‘n trek van die mond of die kantel van ‘n kop.
Dit fassineer jou sò, dat jy altyd opsoek is na wat agter die gordyn van ‘n persoon se “masker” skuil en wat hulle motiveer.
Soos my profiel dit duidelik stel –

Om te sê ek “stel belang in die mens en sy dinge,” is seker ‘n effense minderwaardige opmerking! . #iamwhoiam
2. Jy is geïnteresseerd in hoe ander leef
Verskillende kulture en andersoortige mense laat jou naderstaan– om meer te weet, uit te vra met die diepe begeerte om te VERSTAAN hoekom hulle dinge anders as jy doen.
Dalk is jy so bietjie soos my ma was – met als wat leef en beef gesels. As kinders het ons altyd agter die naaste rak ingespring as my ma die “soveelste” vreemdeling nader om ‘n geselsie aan te knoop. Nou betrap ek myself GEREELD dat ek presies dieselfde doen!
Ons het so ‘n gulde geleentheid in hierdie land van ons – daar is soveel wonderlike kulture en tale en ander maniere van doen. South Africa: a treasure trove of diversity stel dit so mooi – daar is ‘n skatkis van kulture en dinge om te leer en te waardeer.
Dalk as ons naderstaan, meer uitvra, meer probeer verstaan…is daar hoop. Ek voel sommer hier aan my waters, dan sal ons ‘n gesonder samelewing hê. #iamwhoiam and you are who you are
3. Jy is bewus van jou eie tekortkominge, maar ook dit waarin jy uitblink
Ek moes altyd lekker lag – want in die korporatiewe wêreld is daar mos ‘n formele prestasie evaluering. Jy word ‘n paar punte gegee en dan is daar die “ontwikkelings” areas…in kort, die areas waarin jy net kêk vaar. 😆
Min van ons het die vermoë of die moed om te erken daar is dinge wat ons nie juis ‘n engel of die ideale mens maak nie. Ek byvoorbeeld, is te krities – dus moet ek meermale ‘n wag voor my mond sit wanneer ek te doen kry met ‘n dom astrante mens(see what i did just there 🤪)Ek het ook die vieslike gewoonte om nie my misnoeë met mense of ‘n situasie te kan wegsteek nie – die gesig sê alles!
Maar ek is bewus daarvan – ek is bewus dat ek soms maar die bitter pil moet sluk, nie te bitsig antwoord of my gesig soos ‘n ou suurpruim moet trek nie.
Dis my ontwikkelings areas sien – ek werk aan hulle! 🤣. #iamwhoiam
Maar ek weet ek is snaaks, ‘n optimis, ek stel regtig in mense belang en wil soos in genuinely mense probeer help waar ek kan. En ek sal nie ophou om dit te doen nie – behalwe natuurlik as ek in jou slaai begin krap. Dan klap my hand weg asb!
4. Jy lewe in die hier en nou
O hemel, hier val my emosionele intelligensie tot teen die vloerplanke. Dit is hoekom Why Mindfulness Is a Superpower: An Animation as ‘n krag uit die boonste gestoeltes beskryf word.
Hel sukkel die meeste van ons nie maar om die verlede in die verlede te los en nie vir ure-der-ure te top oor – “as ek dit net anders gedoen het” of “hoekom het dit nou juis met my gebeur” nie? Of lê nagte wakker oor die dag van môre nie?

Nog ‘n ontwikkelings area vir my = om meer in die hier en nou te lewe. Ek werk al vir geruime tyd hard hieraan – en probeer myself gereeld herinner dat ek net die hier en nou het. En dat ek moet STADIGER, diep moet asemhaal en alles moet beleef…want wie weet wat die groot sekel in gedagte het vir my? Ek word dalk môre ge-oes.
5. Jy is daar vir al jou “gemoedsteurnisse”
Jy herken daai moerigheid as hy opstoot hier in jou bors, jy voel hom kom soos ‘n slegte sooibrand. Jy kan sommer die irritasie ‘n myl vêr sien kom. Of jy weet, vandag sit die trane sommer vlak. Vandag moet niemand jou skeef aankyk of simpatie uitdeel nie, want dan draai die krane oop.
Jy laat dus nie jou emosies sommer net met jou weghol of “voel sommer net so” nie. Jy haal dit nie op ander uit nie – maar jy weet goed dat jy moet wegbly van al wat leef en beef. Dis daai dae wat jy reken, ‘n stille wegbreek of ‘n klooster hoog in die Himalajas is waar jy hoort!
Maar dan is daar diegene wat emosionele ontploffings op ‘n daaglikse basis beleef. What are the causes of being unable to control emotions noem ‘n paar geestes toestande wat dit kan veroorsaak(soos in geestesiektes wat gediagnoseer kan raak,) maar daar lê ook baie ander dinge of gedragspatrone daaragter. Ek kon byvoorbeeld nie my nydigheid agter slot en grendel los as ek eers ‘n dop of twee ingehad het nie. Boeta, dan het die nerwe effe afgekom. Fokolie self regulasie dan!
6. As daar iets te sê is, dan moet dit nou uit
‘n Appeltjie te skil met iemand – wel dan moet dit sommer nou uit. Nie onder die mat ingevee word, of êrens soos ‘n giftige slang ‘n lêplek in jou boesem kry nie.
Hier is ek effe op ‘n wipplank – het in ‘n huis grootgeword waar jy ENIGE IETS kon kwytraak. ‘n Gunsteling sêding was: “ ag man, gaan k..k.” Die woorde is byvoorbeeld geuiter as iemand in die huis jou geïrriteer het of bloot net simpel was. En raai wat – niemand, maar niemand het ooit vir dae aan een met stywe lippe rondgeloop of soos ‘n brandsiek hond êrens gaan wegkruip nie. Niemand was ooit in die gesig gevat nie. Met die gevolg natuurlik, dat ons kan baklei soos ‘n klomp kapok haantjies, maar binne ‘n paar sekondes is ons weer boesem vrinne. . #iamwhoiam
Voor julle begin dink – ag hoogheilig, hier gaat jy alweer. Dis nou net daar waar ek permanent in die wip trap. Want nes ek dink nou is die waters veilig en stil en ek waag met my reguitgeit om iets kwyt te raak, dan trap ek op iemand se tone.
Of ek berei my dae der dae voor om iets gevat kwyt te raak. Vir daai iemand wat my ingedoen het of sommer net ‘n tewerige opmerking gemaak het. En dan, wanneer hulle voor my staan, dan raak ek papbroekig en vermy die onderwerp. Of ek plooi hom so dat ‘n diplomaat sou trots wees op my!
Ek werk daaraan, ek werk daaraan. Diè een moet ek erken was makliker met ‘n dop agter die blad. Makliker, maar morsiger.
7. Jy lewe jou eie waarheid
Dalk makliker vir ons generasie – wat tegnologie eers in latere jare ontdek het. Wat nie daagliks gebombardeer was met sosiale media en die lewens van die invloedrykes nie. Wat nie net ‘n Instagram uitbeelding van mense se lewens sien nie.

Mense met hierdie vlak van emosionele intelligensie lewe hulle lewens soos hulle wil. Volgens hulle waardes en nie volgens diè van andere nie. Hulle weet wie en wat hulle is en sê soos wyle Shaleen Surtie-Richards: Ek is wie ek is. #iamwhoiam ‘Shaleen Surtie-Richards: I Am Who I Am’ documentary to air on DStv platforms
Ek het nog altyd so ‘n effe hardegatgeit op my gehad…van kindsbeen al my ma vertel sy hoef my nie te help met my huiswerk nie. Ek sal doen wat ek wil. Ek was ‘n weerbarstige enetjie mens…maar ek was maar ook nie aldag seker oor hoe ek inpas in die groter prentjie nie. Het BAIE op die rante van die skool samelewing geleef – my voete latere jare meer gevind. Daar is baie wat mens agter ‘n groot bek kan wegsteek.
Dis eers verlede jaar wat ek weer begin voorraad opname maak het. My waardes regtig begin neerpen het. En hulle begin LEEF het. Amper 50 – so ook maar my tyd gevat!
‘n Vervolgverhaal
Eskom het soos gewoonlik, met ‘n presisie wat almal in die land onkant vang, opgedaag. So ek gaan nou die tikkery moet staak. Dinge is nou duister!
Hierdie emosionele intelligensie ding het nog baie aspekte. So hou die vervolgverhaal dop – oor ‘n week vat ons hom weer vas! Herkou jy maar solank. En onthou, emosionele intelligensie kan aangeleer word!
Hoe vaar jy? Watter eienskappe dink jy het ‘n emosionele intelligente wese? Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit blad op Facebook.