Vandag presies ‘n jaar gelede het ek wakker geword met die wete – hierdie is die einde, tot hier toe en nie verder nie. #thisisit
Vandag weet ek dit; ‘n mens hoef nie onder in die put te gaan draai nie. Daar kom ‘n punt in jou lewe wat jy net weet: sekere dinge het net nie meer ‘n doel in jou lewe nie. Dit verryk en verbeter nie meer nie, dit het die teenoorgestelde effek. Dit neem oor en verdoof die werklikheid.
Ek praat natuurlik van my besluit om @wynvlieg en sy trawante onder die gat te skop. #thisisit
In Vol 1: Wynvlieg #Oorit – Die Groot Liefde, Die Een! het ek my verhaal met julle begin deel. Myne is een van liefde en bewondering – tot vandag toe nog. Ek het ‘n liefdesverhouding met wyn, met die wonderwerk van dit alles. Ek kan in vervoering raak oor die geure, die nuanses, grondtipes en die absolute kunswerk in ‘n glas. Maar soos my pa altyd gesê het, wanneer daar ‘n “te” bykom, dis dan wanneer die wiele afkom.
Daar is nog mense soos ek in die wye wêreld
Ek het by die wonderlike groep Tribe Sober aangesluit. Wat ek vandag weet, is dat daar vele daarbuite is wat presies nes ek is. Mense wat nie in die oggende al wakker word en smag na ‘n glas vodka nie, mense wat nie drank agter die graanvlokkies wegsteek om skelm te drink nie. Mense wat wel 100% funksioneer, wat suksesvol is, wat uiters fiks is, wat nie ‘n bierpens het nie. Doodgewone mense, nes ek en jy.
(en vir die wat wel in ‘n donker gat beland het, dis ook ok. Dis ‘n reuse stap in die regte rigting as jy besluit jy wil daaruit. Ons is almal anders, maar ons stories baie eenders!)
In Vol 4: Wynvlieg #Oorit – Ridder Op Die Wit Perd kan jy meer lees oor my liefdesverhouding met wyn. En die lang en gelukkige lewe wat ons saam gelei het en nogsteeds in soveel opsigte doen. #thisisit
Maar iets het verander – ons het deur ons eie “terapie” gegaan. En nou is ons aan die anderkant van die Rubicon. En dis ‘n mooi plek diè!
Terapie, vir wat?
Soms kom ‘n mens op ‘n plek in jou verhoudings – hetsy met ‘m lewensmaat, jou familie of jou kinders, wat jy besef: dinge het nou skeefgeloop. Daar is klippies in die skoen, wat teen die tyd al genoeg blase geskaaf het en die pleisters wil nie meer plak nie. Jy kan net eenvoudig nie meer die pyn en ongemak verduur nie.
Wel dit is waar ek was op die 14de Junie 2020. Ek het besef daar is te veel blase geskaaf agv my TE verhouding met wyn. Wat is TE wonder jy seker nou en tel daai glase wyn of G&T’s waarsonder jy jouself nie ‘n lewe van pret kan voorstel nie.
TE is presies dit! Wanneer jy jou nie ‘n lewe daarsonder kan voorstel nie. #thisisit
Wyn het my lewe begin oorneem, dit was daar in my gedagtes. Teen 12:00 gewonder of ons ‘n glas saam met middagete kan skink, teen 16:00 begin dink dis darem seker nou ‘n skaflike tyd om nog te skink. Etes na spog restaurante is beplan rondom die wynlys, hel ons was voor grendel tyd oppad Sisilië toe – met die hoofdoel om die kos en wyn te gaan geniet. Jolighede saam met vriende het ontaard in ‘n goeie paar bottels wyn en ‘n lekker ou babelas die volgende dag. Die 2vm wakker skrik, sopnat gesweet en met ‘n brein wat naarstigtelik probeer uitwerk wat ek vir wie gisteraand gesê het. Daai naar gevoel wanneer ek besef ek het vir die soveelste keer in ‘n morsige woordewisseling met Mnr G betrokke geraak. Die skaamte, die skande en die spyt het my begin opvreet.
Boonop was my gesondheid nou nie juis in uitmuntende kondisie nie ~ ‘n uitstappie na die noodgevalle so ‘n paar jaar gelede en die vragte pille wat ek vir hipertensie moes sluk, duidelik ‘n teken dat my liggaam nie veel van alkohol en stres hou nie. Boonop was die niere ook besig om te knor.
Luister ‘n bietjie hier na wat ek alles na so ses maande op die pelgrimstog al kon sê ~ Inspiring An Alcohol Free Life Podcast
My grootste begeertes was:
- Om net vry te wees. Vry van al hierdie gepraat in my kop. Die konstante onderhandeling oor hoeveel, wanneer en wat. Net om weer in ‘n ander siklus te veral, van skande, skaamte en spyt.
- Ek wou vir ‘n slag in die hier en nou lewe. Ek wou my lewe ten volle lewe en met ‘n glas of drie wyn agter die blad, was ek verseker nie 100% teenwoordig in my lewe nie.
- Ek wou meer tyd hê vir ander dinge. Ja ek weet dit klink of ek dag en nag gedrink het, maar kyk so ‘n bietjie na jou naweek rituele en presies hoeveel ure gevul raak met ‘n glas in die hand? Daai glas beteken jy gaan slaap vroeër, jy voel moeg die volgende oggend en jy MIS UIT op soveel ander wonderlike dinge in die lewe.
- Ek wou die stryd met die skaal opgee. Vir solank as wat ek kon onthou was ek vet(in my opinie, wat toe ook ‘n klomp stront was.) Maar vir jare, der jare, der jare het ek elke dieet onder die son gevolg. Het ek kalorieë getel, ek het geoefen sodat ek ‘n glas wyn of bottel kon ledig. Maar steeds het daai ekstra 3 – 4 kg my gepla. En die belofte was mos orals, as jy die wyn los gaan die kilo’s wegsmelt!
- Ek wou my gesondheid oppas. Ek het maar alte goed geweet dat wyn en hoë bloeddruk nie pasmaat is nie. Dat Alzheimer se siekte ook aangehelp word met ‘n verhoogde inname van alkohol. Dis alles daar Relationship of Wine Consumption with Alzheimer’s Disease en sluimer in my bloedlyn.
- Ek wou ‘n beter verhouding met my man hê. Ons is maar albei vegters en nie goed met die wag-voor-die-mond nie. Ek is nie goed met konflik hantering nie en wyn het my die moed gegee om alles wat pla uit te spuug! Weliswaar nie op die mees konstruktiewe manier nie en dit was besig om ons bootjie in die verkeerde rigting te laat dobber.
Waar staan ek vandag:
Ek gaan aan die hand van die liedjie Caravan Song verduidelik. #thisisit
The early light is breaking
The morning sun is waiting in the sky
Ek word nie meer met ‘n babelas wakker nie. Elke oggend kan ek die wonderwerk van nog ‘n dag beleef. My kop is helder, ek het ‘n uitstekende nagrus agter die rug.
Ek kan gaan oefen en regtig die voordele daarvan ervaar. En 4 kg het weggesmelt, sonder ‘n dieet.
Ek is nie meer angstig nie (en glo my ek is nie ‘n angstige persoon nie, maar wyn het helaas my angstig gemaak…”antsy” is ‘n goeie beskrywing). Ek is nie alewig besig om iets te jaag nie!
And I think I’m gonna break away
And follow where the birds of freedom fly
I need to give, I need to live
Ek is so ongelooflik vry. Vry van daardie skuldgevoelens, vry van konstante onderhandelinge, vry van enige diëte, vry van wonder wie huis toe gaan bestuur na ‘n lekker ete uit.
Ek is vry om te doen met my tyd wat ek wil. Ek het weer begin skryf, ek kan lank genoeg wakker bly om boeke te verslind, ek kan gesprekke saam met wonderlike vriende onthou ~ elke liewe detail.
Ek is teenwoordig om my volle aandag aan my kind en my man te gee. Nie die wasige weergawe van myself nie, maar die teenwoordige, emosioneel stabiele weergawe van myself.
For the world is slowly turning
And the lights of love are burning in my eyes
Ek kan met meer liefde na myself begin kyk. Wyn het my manier geraak om van die wêreld te ontsnap, dit het my trofee geraak vir dinge om te vier. Maar in die proses het ek myself verloor. Ek het geleer ek kan nogsteeds pittig wees, ek kan nogsteeds die lewe en aande met vriende om lag en dit alles sonder ‘n glas in die hand.
En ek kon met minder kritiek na myself en ander begin kyk. My verhouding met my man het honderdvoudig verbeter. Want nou kan ons openlik en sonder verwyt die moeilike goed met mekaar deel.
Caravans, oh my soul is on the run
Overland, I am flying
Caravans moving out into the sun
Oh I don’t know where I’m going
But I’m going
My lewe het een groot fees geword. Ek het my siel, my ware EK weer ontdek. Ek gun myself ‘n lewe wat vol is. Vol van dinge wat ek as klein dogtertjie wou doen. Ek het geleer om gesonde grense te kan stel, sonder om ‘n teef daaroor te wees.
En ja ek weet nie aldag waarheen hierdie reis my gaan neem nie, maar dis so bevrydende om te weet – I’ve got this!
(Twee sekelmane ge-ets: Die soliede een om my te herinner aan die “courage” wat ek aan die dag gelê het en nog elke dag doen. En die onderbroke C om my te herinner dat ek my lewe met “curiosity “ moet bly leef.)
Wish I had the wisdom
To find some simple words to make you see
The things that mean a lot to you
Don’t always seem to mean a lot to me
Ek wil nie vir enige iemand preek nie. My doel is nie om enige iemand te “bekeer” nie.
Al wat ek wil doen is om vir diegene wat wonder oor hulle verhoudings met “dinge “ in hulle lewens. Die wat worstel, te sê: Jy is nie alleen nie, jy is nie ‘n frats nie. Jy is net mens, en dalk is jy net sò aanmekaargesit dat dinge jou pla. #thisisit
Dankie aan die van julle wat al na my uitgereik het. Wat aanklank gevind het by my storie en die moed gehad het om julle hande op te steek en te sê – ek kort ‘n vriend op die pad.
As daar nog van julle daarbuite is, asb skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit blad op Facebook.
Jy skryf dit soooo mooi! Soooo waar. Het ook die wyn gelos jan 2021. Was net te veel. Voel baie beter en is so trots op myself!
Sandra dis wonderlik. Ja jong, soos ek en ‘n ander wynlose vriendin nou die dag praat – ons het seker ons kwota wyn reeds in! Knap gedaan aan jou kant – want mens se gesondheid is jou beste wapen in die tye.
As jy wil, kan jy altyd vir my ‘n brief oor jou pelgrimstog skryf – dit help so baie mense. Ons hoef nie jou regte naam te gebruik as jy nie wil nie.