Wel nie heeltemal deur die posbus nie, maar ek kry ‘n boodskap van @yvettelaubscher af. Dis een wat soort van sê-vra ~ jy het ook mos ‘n bloutjie geloop met die @wynvlieg? #don’tbesorry
Natuurlik was my antwoord “ja” en ek begin raad uitdeel soos ‘n verpleegster gedurende die tweede wêreldoorlog seker verbande oral ingeprop het. Net om die bloeding te stop.
Yvette wil nog eers ‘n laaste avondmaal hê. Sy raak immers 50 en hoe op aarde gaan sy ‘n verjaarsdag naweek doen sonder haar geliefde wyn. Ek probeer natuurlik alternatiewe voorstel, maar nèè Yvette is vasbeslote om finaal en ordentlik afskeid te neem.
Sondag, na die groot Saterdag makietie stuur ek ‘n boodskap: Hoe gaan dit daar?

En daar trek Yvette weg – en ek weet sommer van dag 1 af. Yvette is gereed. Yvette is op hierdie pelgrimstog en sy gaan hom stap met mening. Ek en Yvette kom tot ‘n ooreenkoms, as sy haar eerste 30 dae onder die belt het, sal sy vir my ‘n brief skryf oor haar tog tot op dag en datum.
Yvette het by haar belofte gehou ~ hier is haar brief aan my.
Beste Wynvlieg
Soms wens ek, ek het geweet waar my storie begin het …
Soos in die fliek Love Story… “Where do I begin to tell the story of how great a love can be …. ?” Dalk moes ek nooit die eerste bottel kiwi esprit in matriek gekoop het nie? Maar hoe het dit gebeur dat dinge so hand uitgeruk het, het ek myself al baie afgevra.
Ek wil soms die maklike uitweg vat en die blame game speel, maar die wrede werklikheid is, ek het gekies …. elke dag (al het ek baie versagtende omstandighede, edelagbare).
Ek het op ‘n plek gekom in my lewe, sommer net ‘n bietjie dag terug, waar ek vir die soveelste keer in die nag wakker geword het, miserabel en niks kon onthou nie. Net Koos Du Plessis se woorde wat gemaal het in my kop ….
Ek drink en ek dink aan soeter wyn teen die groter dors
met ‘n koue hart tot die môre-uur
drink ek teen die vuur in my kop
en ek voel die koue, ek voel die vuur
vreet my stuk-stuk op…
Maar hierdie nag was anders, ek het 2 dinge duidelik geweet: eerstens ek sal moet jammer sê, met geen regverdiging vir my gedrag nie. Verskoning vra aan die 2 mense vir wie ek die heel liefste is, my pragtige dogters en hoop dit is nie diè keer te laat nie.
En tweedens het ek geweet as ek nie nòù halt roep nie, gaan dit vir altyd te laat wees.
Ek het regtig nie geweet waar begin ek nie, dit was nie asof ek gin saam met my shake soggens gedrink het nie …
Ek het 2 hartsvriendinne gekontak en hulp gevra, in die proses sober curious geword en vir jou @Wynvliegoorit raakgeloop . Dankie dat jy onmiddellik tot my hulp was en my op die pad gesit het.
Intussen wou ek net eers verjaar, dit was immers my groot 50! Drie dae later was ek reg vir die volgende 50 jaar. Goed, beter, beste en nugterder as ooit!
My kop was reg … my hoekom was so duidelik soos die oggend ster ~ my girls, my kompas, my ware noord. My home coming team, my grootste ondersteuners, my girls en hartsvriendinne, het dit vir my maklik gemaak!
Jy vra, wat mis ek glad nie?
Verseker nie die wakker word 3:15 in die nag en die kan-nie-onthou-nie en nog erger kan-nie-weer-slaap-nie en dan moeg en misrabel opstaan!
Ek het dit nooit besef nie maar dit was asof iets my altyd gejaag het na my volgende glas wyn, daar was altyd ‘n onrustigheid in my, want skielik is ek net soveel rustiger… content en teenwoordig, in die oomblik wees is priceless.
Ek weet dat my kinders in ‘n veilige motor ry as hulle nou saam met my ry, tot my skaamte!
Ek kan myself voos veg met die gedagtes dat ek my girls soveel onnodige stres, angs, bekommernis en hartseer besorg het. So graag soos wat ek wil kan ek nie tyd terug draai nie en alles wat gebeur het net uitvee nie.
Don’t be sorry be better …. woorde v my oudste, dit is al wat ek nou kan doen.
My eerste mikpunt was die “30 day alcohol experiment” en nou is ek hier. Hoe nou verder wonder ek? So graag soos ek wil glo dat ek oorit is, dat ek net die 1 glas per geleentheid sal kan drink, is daar die stemmetjie wat vir my sê watch your back. Soos my BFF vir my gesê het, dit is nòù tyd “to put on your big girl panties and deal with it” ….
Ek lees en leer elke dag baie, ek is dankbaar vir elke vlag wat gewapper word v my!
My hart is dankbaar.
Nou stap ek die pad vorentoe elke dag… being better…dealing with it!
Groetnis
Yvette
Yvette is ‘n regte trouper – sy het hierdie bul by die horings gepak en ry hom soos ‘n rodeo cowboy sou smag. #don’tbesorry be better
Die ding wat ek nou al keer op keer geleer het en gehoor het is dit: Jy moet regtig jou gewoontes WIL verander. Maak nie saak hoe hoog die berg is nie, voetjie vir voetjie moet jy hom uit.
En ‘n verdere les is, as jy jouself as die slagoffer gaan sien, is jy poer in jou moer.
Kom ons bly deel ons stories The Life Changing Power and Importance of Human Connection. Joune is dalk nie oor depressie nie, joune is dalk nie oor “afhanklikheid” nie. Joune het dalk ‘n heel ander kinkel. Maar solank ons deel, maak ons heel. #don’tbesorry
As daar nog van julle daarbuite is, asb skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit blad op Facebook.