Skaam jou | Wynvlieg

Vol 76: Skaam jou!

Skaam jy jou nie vir jouself nie? Wie het nie al daai woorde gedurende hulle lewens wandel by iemand gehoor nie? Of dalk het jy dit selfs al vír iemand gesê.

Ons het meesters geword om die “lelike” kante van ons stories weg te steek – omdat ons skaam is daaroor, omdat die samelewing ons sal uitwerp of omdat dit bloot net nie aanvaarbaar in ons kringe is nie. #workinprogress

Brenè Brown maak ‘n geldige punt oor die verskil tussen “skuldig voel” en “jou skaam vir jouself” in haar boek, The Gifts of Imperfection.

Skuldig voel = ek het iets slegs gedoen
Om jou te skaam = ek is ‘n slegte persoon

M.a.w. om skuldig te voel gaan meer oor ons “aksies.” Om jouself te skaam, gaan meer oor “wie jy is.” En “skuld” het ‘n gewoonte om ons in ‘n meer positiewe, bevrydende rigting te dwing – meermale leer ons iets daaruit. As jy byvoorbeeld vir iemand verskoning vra vir ‘n wandaad of gedrag, voel mens bevry.  Maar om ons vir onsself te “skaam” laat ons baie keer glo ons kan nie verander of ‘n verbeter nie. #workinprogress


Hoe dan so?

Hierdie “skaamte” wat ons in ons ronddra, het die gewoonte om ‘n wig tussen ons en ander mense in te dwing. Ons raak so desperaat om tog net te behoort en nie soos ‘n uitgeworpene te voel nie. Maar natuurlik is dit wat ons begeer,  ligjare verwyder van wat ons dan doen…in plaas daarvan om in ons oomblik van kwesbaarheid uit te reik, sal ons eerder ons ware self “wegsteek,” of ander begin aanval. 

#workinprogress

Met ons OCD pad en die SCRUPULOSITY sytak waarmee ons te doen gehad het, was kerk toe gaan ‘n ding. En in Pa se wêreld moet mens Sondae in die kerk wees, want dis wat goeie Christene doen en wat “gered” wil word. As daar net moontlik ‘n Sondag oorgeslaan was, was die beskuldigende stemtoon vinnig daar. En nou, nou sit ons met die gebakte pere. ‘n Kind wat jare later nogsteeds sukkel om te glo hy is ‘n goeie mens, want in sy Pa se oë was hy ‘n slegte mens en daai fondament is gelê. (En arme Pa het maar net gevolg wat sy pa en die se pa voor hom ingeprent het.)

Op daai noot – so vra ek die sielkundige destyds: Nou hoe gemaak as seunskind met ‘n rowwe grappie tuiskom of iets kwytraak wat lynreg teen my waarde stelsel indruis? Want my taak as ouer is mos darem om hom in ‘n “nice” genoeg wandelaar van die aarde te omskep. Haar raad was eenvoudig – spreek die onderwerp aan,  moet nie die kind “skaam” laat voel nie. Sê dood eenvoudig hoe jy oor die saak voel, maar jy beskuldig nie!  #workinprogress

Dit bekruip jou soos ‘n dief in die nag

En moet nie dink jy is gevrywaar nie! Hierdie “skaamte” ding steek sommer vinnig kop uit. 

Ek loop hom raak om elke hoek en draai ~ die mompelende twintigjarige se nuutste waarneming is dat sy ma besig is om doof te raak. Ek hoor glo niks meer nie en dis ‘n probleem. Onmiddellik begin ek terugkap – wie is die bogsnuiter om vir my te vertel my gehoor is nie meer wat dit moet wees nie. Want o donner, my ma se gehoor was nie lekker nie en nou is ek oppad in dieselfde rigting. Boonop verkondig ek jare al dat my sintuie van skou gehalte is – geseënd is ek eintlik! So wat doen ek, ek val aan en verdedig soos ‘n soldaat in die voorste linies, want ek is sy ma en ek is perfek! (want as ek nie perfek is nie, wat is ek dan?)

Ek sien die skaamte ook soos ‘n skaduwee ander mense volg.  Iemand vra raad, jy deel dit uit en albei partye stem saam. Die plan is klinkklaar en dis wat uitgevoer gaan raak. So twee weke later hoor jy, nee wat plan was toe nooit gevolg nie en ta het maar weer in sy of haar ou gewoontes verval. En jy dink: “Goeie hemel mens wat is jou probleem?” En voor jy jou kan verhelp, slaan jy die lyn en vra bietjie uit na die mislukte plan. Die ander een staan bont om die gekose posisie te verdedig. Albei sommer boos…die een omdat sy raad duidelik nie waardevol was nie en die ander omdat, toe die oomblik aanbreek om sterk te staan, al hulle goeie voornemens by die deur uit is. ‘n Swakkeling – kop in skaamte laat sak. 

Spieëltjie, spieëltjie aan die wand 

Nog steeds nie oortuig jy dra ook hierdie skaamte in jou rond nie? Dr Linda Hartling se navorsing, Shame and Humiliation: From Isolation to Relational Transformation raai ons aan om net te kyk hoe ons optree wanneer ons, onsself doodskaam vir wie is ons is. 

#workinprogress

Party van ons “beweeg weg” daarvan, deur te onttrek, weg te kruip, deur ons self tot stilswye te sweer of ons bêre daai groot “geheim” diep in die kas. 

Ek sal soms hierdie strategie toepas…as iemand praat oor egskeidings…sal ek eerder die nare goed wat tussen my en my eks gebeur het wegsteek. Ek sal voorgee of alles rooskleurig verloop het. Want ek is skaam vir die hartseer aandeel wat ek daarin gehad het, ek is skaam dat ek toe nie die “goeie” mens is wat ek graag wil voorhou nie. 

Andere sal weer “in daardie skaamte intree.” En hoe doen hulle dit? Deur altyd te probeer om ander se guns te wen en daardie barmhartige samaritaan te wees. Om nie te kan wegstap uit toksiese verhoudings nie, om altyd te probeer raad gee ~ want diep binne is daar hierdie knaende gevoel dat as die maatstok uitgehaal gaan word, hulle tekort sal skiet. En dat mense gaan uitvind, hulle is toe nie so dapper soos hulle voorgee nie.

Dan is daar diegene, wat eerder “vasskop” teen daardie minderwaardige gevoel. Hulle moet ten alle koste mag behou oor ander. En die mag daag op deur aggressief te wees en hulle eie “gevoel van tè minder wees” te vergeld. Al ooit ‘n boodskap van iemand gekry wat jou laat rooi sien het? En voor jy ‘n wag voor jou vingers kon sit of een voor jou mond, val jy daardie persoon aan en gaan vir die sagste plek tussen die ribbes? Ek dink ons doen hierdie nogal gereeld as ons voel of ons in ‘n hoek gedryf is. Ons gebruik veral hierdie metode as ons uit die pekel moet kom of ons het iets gemeen kwytgeraak vir ons geliefdes. Die verskonings kom, met ‘n “MAAR”…”ek is jammer ek was lelik gisteraand met jou, MAAR jy weet dis ‘n emosionele saak vir my.” 

Die waarheid is

Die meeste van ons sal op een of ander tyd een van hierdie strategieë inspan om tog net weg te kom van daardie mens wat hier diep binne ons VREK BANG is ons word uitgevang. Uitgevang dat ons toe tog maar net mens is, nie so perfek soos ons wil voorgee nie, skyt bang en eintlik maar net ’n onseker 6-jarige kind.

Maar die geneuk is dit ~ as ons ‘n lewe wil lei waar ons waardig voel, waar ons tel ~ dan moet ons nader aan ons ware storie beweeg. Ons moet kan erken ons het swakhede, dat ons soos met die brei van ’n trui, soms steke laat val.

In daardie storie sal ons meer bemoedigend wees, ons sal nader aan ander se stories beweeg en sagter met hulle omgaan.

#workinprogress

En die mees belangrike – ons sal nader aan ander beweeg. Die Corona virus het vir ons baie goed geleer – maar die een ding staan soos ‘n paal bo water. The importance of human connections, as told by the coronavirus is diè ding wat ons almal sal bybly. 

Die verbinding met ander mense, skenk vir ons :

  • Die geleentheid om positiewe energie te kan deel ~ dink maar aan ‘n lekker koffie sessie met jou beste vriendin.
  • Om te voel of ons werklik verstaan word ~ daar waar mense jou nie oordeel nie, werklik ‘n hand uitreik en net sê: Ek verstaan.
  • Die gawe om weer te vertrou en selfs verandering mee te bring. Dink maar aan ons geliefde Mandela. Deur uit te reik, het hy ‘n vertroue ingeburger by menige Suid-Afrikaner en verandering teweeg gebring. (Ja sommiges was duidelik nie aan tafel toe daai uitgedeel is nie, maar ons kan maar net hoop agterosse kom ook in die kraal.)

Ek sluit af

Ek sluit af met ‘n aanhaling uit The importance of human connections, as told by the coronavirus:

“A research study by Harvard, conducted over a period of 80 years, proves that human connections and healthy relationships are the number one & two drivers of longevity, respectively.:

Probeer vandag om dalk so ‘n klein bietjie te gaan rondkrap daar in jou hart se kamers en eerlik te wees met jouself oor die dinge waaroor jy jou kop in skaamte wil laat sak. En vra jouself af – waarvoor is ek so bang? #workinprogress

As jy ‘n stuk skaamte in jou ronddra, skryf vir my by  vryheid@wynvlieg.com of los ‘n boodskap op @wynvliegoorit blad op Facebook

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *