Hoe het die oumense nou weer gesê? Van goeie intensies is die tronke vol en die kerke leeg!
Ek was vol bravade oor diè DANKBAARHEID’ s maand idee…wel dis nou toe ek nog vreeslik dankbaar gevoel het.
Maar soos die lewe maar is, kry ek toe ‘n goeie snotklap van die werklikheid af hier vroeg in die week. Lang storie, gaan julle nie daarmee verveel nie. Laat dit maar net by ‘n gevoel van, vassit in die spreekwoordelike modder. My fut is uit, my planne effe op en die gemoed allermins iets wat oorloop van dankbaarheid. #wordsofgratitude

Toe kom hierdie greep, Inspiring Change (alle krediet aan www.patreon.com) , vroegoggend oor my pad. En ek weet net met ‘n sekerheid, die engele het vanoggend my ma “gestuur.” Dink sy het net geweet, ek kort weer ‘n bietjie wysheid. Die wete dat elkeen se vreugde en elkeen se leed gedeel moet word. Dis dankbaarheid. #wordsofgratitude
‘n Brief van dankbaarheid
Dis mos darem KOMPETISIE TYD of hoe? Soos beloof, gaan ons bietjie stof tot dankbaarheid bied hierdie maand. En daarvoor het ek julle nodig. Soos die oupa hier bo gesê het, ons gaan ons lief en leed met die res van die pelgrims deel.
En om dit te doen, gaan ons dankbaarheid’s briewe skryf. #wordsofgratitude
Ps. En jy gaan joune aan my stuur per epos by vryheid@wynvlieg.com. Jy kan ‘n R500 geskenkbewys los slaan…en boonop “gepubliseer” word.
Vir wat so formeel?
Soos julle my al teen die tyd ken, as ‘n onderwerp opduik raak ek soos ‘n besetene. Ai, waar is die jare van die Ensiklopedieë…geseënd was die onder ons wat so ‘n stel aan huis gehad het. Andersins moes mens maar afsit na die dorp se biblioteek. Nou het ek die wonderlike, wye inter-web tot my beskikking.
In Vol 77: Dankbaarheid’s Maand het ek hierdie dankbaarheid ding van nader bekyk. Gaan kers opsteek by diegene wat dit ‘n daaglikse ritueel maak ~ net om seker te maak ons is op die regte pad hier.
Ons weet nou reeds, dat ‘n lewe geleef uit dankbaarheid tonne voordele inhou. Dis goed vir ons geestelike en fisiese gesondheid, dit verbeter ons verhoudings. Maar soms kan dit maar vreeslik Riverside Gospel Group Kumbaya, My Lord ook voel nè…te aangeplak.
Die slim mense by Gratitude Letter beloof egter dat hierdie brief skrywery, ons met meer insig, en diepte sal laat kyk na dankbaar, want nou moet ons doelbewus dit neerpen. #wordsofgratitude
En wie sê dit gaan werk?
Wel hulle hierbo ☝🏼 beweer so! Dus, as ons al die positiewe goed kan neerskryf en daaroor nadink, herinner dit ons dat ons nie so alleen in die wêreld is nie. Dat daar goeie mense daarbuite is, mense wat werklik omgee of ons ok is al dan nie.
En as jy nie aan enige sulkes kan dink nie, fokkit mens dan moet jy dalk kyk of jy uit dankbaarheid leef. Want dankbare mense het ons mos verlede week gehoor is soos heuning, almal wil soos bye om hulle koek.
Of wees net versigtig dat jy nie in ‘n Victim mentality vasgeval het nie. #wordsofgratitude
Neem die pen op!
Gaan sit êrens lekker stil, waar geen kind of kraai jou in die hande kan kry nie. As jy klein kindertjies het, kruip in die bad weg! Dit werk!
Nou dink aan iemand wat iets vir jou gedoen het in jou lewe waarvoor jy diep dankbaar is. Hulle hoef nou nie die grootste klip uit jou pad te gerol het nie, maar dalk was hulle net op die regte plek op die regte tyd daar. Verkieslik iemand wat nog lewe, want dan kan jy die brief vir hulle stuur of sommer in persoon aflewer….kersie op die koek.
En nou trek jy weg….
- Beste/Liefste wie ook al….
- Moet tog asb. nie bekommerd wees oor die taalpuriste daarbuite of jou spelling wat dalk agterweë gebly het nie. Hierdie is nie die tyd of plek om ‘n perfeksionis te wees nie.
- In detail vertel die persoon watter gebeurtenis, op watter dag en datum hy of sy ‘n impak op jou lewe gehad het.
- Vertel die persoon hoe dit jou lewe verander het, en hoe jy nog gereeld aan daardie oomblik, dag of datum dink.
- En dan bedank jy hulle uit die diepte van jou hart, want daardie dag was hulle “jou persoon.”
Skryf so lank of kort soos jy wil – party van ons het effe meer woorde nodig as ander 😀.

Dit lyk iets soos…
Liefste T(ek laat maar eerder name weg, want ek is so effe-effe anoniem😝)
Waar begin ek om jou te bedank? Ek weet met ‘n sekerheid hier diep binne my, dat jou wysheid, jou skerpsinnigheid en jou aanvoeling vir die mens en sy dinge altyd beskikbaar is vir my. Male sonder tal het ek al met ‘n verlatenheid of kwaadgeit by jou aangeklop en jy kon met jou humor en verdomde briljante Ingels vir my dinge net in perspektief sit.
Onthou jy daardie dag na my egskeiding? Toe die ou man my so ingevaar het oor ek skynbaar so ‘n onheilige mens was. Jou raad: ”stay graceful, always stay graceful.” En weet jy wat, dis presies wat ek gedoen het. Ek was die beste, este eks-skoondogter wat jy nie sommer onder enige besembos kon uitskop nie hoor. Dit het gewerk, want twee jaar later het die einste man my gebel om verskoning te vra vir daardie oproep, op daardie dag. (Ek was nie kwaad ooit vir hom nie, hy het seergekry en het probeer beskerm.) Maar tot vandag, probeer ek grasieus wees in die aangesig van ‘n persoonlike aanval.
Dan was daar die koliek episode, ek was vrot moeg, verseker het ek ‘n bietjie postnatale depressie gehad(maar wie de hel sou dit glo van my!) Toe herinner jy my….”this too shall pass.” Jy was wragtig weer reg, alles in die lewe, goed of kwaad beweeg weer aan. Dit het so deel van my lewens uitkyk geraak, dat dit tot my seunskind oorgespoel het. Het sy buffer teen angs en depressie geword.
Net verlede week, toe die kwaad en gatvolgeit in magteloosheid omskep is deur, jy-weet-wie, was jy weereens die een wat my die lig laat sien het. My ewige stryd om dié wat bedreig voel deur my bestaan, deur wie en wat ek is en verteenwoordig, te probeer “bekeer.” So mooi het jy dit gestel…”remember, they will always feel inadequate, so your advice always reminds them of how they will never measure up. Reserve your good intensions for those who are emotionally aware. The rest are living in a dumb void.” Jy het my laat lag, my ok laat voel. Maar wat jy nie weet nie, is dit: ‘n Moerse lig het aangegaan. Vir hoeveel jare sukkel ek, probeer ek gaaf wees, probeer ek intree, probeer ek likeable wees. Wat ‘n vermorsing van tyd en energie was dit nie! The two shall never meet. En wie het my die engel Gabriël gemaak ieg?
So, jy beter nog lank bly lewe. Want ek gaan jou nog langer nodig hê! Dankie, dankie, dankie dat jy my verstaan. Dat jy ie skroom om my tereg te wys nie, maar dat jy altyd ‘n lig in die donkerte is.
Liefde
Jonger jy!
En nou is dit julle beurt!!
So julle hoef nie julle dankbaarheid’ s briewe aan iemand spesifiek te rig nie. Dit kan sommer net ‘n brief van diepe dankbaarheid ook wees. Die tema of ontvanger is irrelevant. Dis die intensie is wat tel.
Maak jou rekenaar oop, begin tik…en stuur aan my by vryheid@wynvlieg.com. En wie weet, dalk gaan daardie bietjie dankbaarheid jou ‘n hupstootjie gee. #wordsofgratitude
Dit is die intensie wat tel.
Dankie Wynvlieg – jy HET my beslis laat glimlag, soos beloof 😜
Ek gaan sommer nou my briefie(s) skryf. Ek dink nou al só lank daaraan om dit te doen… nou het ek R500 se motivering wat my intensies dalk kan lewe gee!
Soos iemand slimmer as ek mos gesê het: “If it isn’t written down, did it even happen?”
Ek wag in spanning suster. Onthou stuur aan vryheid@wynvlieg.com