Wynvlieg Vol 85

Vol 85: Kom spyt regtig altyd te laat?

Male sonder tal hoor mens iemand met ‘n diepe verlange en versugting sê ~ ai hoe wens ek, ek kon weer jonk wees, maar weet wat ek nou alles weet! #letsplaythatmovieagain.

En wys my die man of vrou wat nie ‘n paar geraamtes in die kas het nie, en ek wys jou iemand wat nog nooit gelewe het nie. Die preutse, mees gehoorsame, loop-die-reguit-pad tipe ~ elke liewe een het ‘n geraamte in die kas wat hulle eerder vêr, vêr weg sal wil steek.

Of as hulle die kans gehad het, sou hulle “daai weergawe” van hulleself een taai klap gegee het of goed uitgetrap het. Mooi laat verstaan het, dat wat ookal hulle van plan is om aan te vang, die nagevolge nie werd is nie. 

Spyt kom altyd te laat. Maar spyt is ook ‘n verwoestende “kondisie” om aan te lei. Want dit wis al daai dele van ‘n mens se lewe wat mooi en goed en opbouende was uit. Want Spyt is maar net ‘n vorm van “self haat.”

#letsplaythatmovieagain
#letsplaythatmovieagain

Self haat, nee nie ek nie!

Nee man, ons is mos almal op ons koppe. Goeie, suksesvolle mense en parmantig in ons goeie selfbeelde vas gevang. Sit voor in die kerkbanke en ry die mooiste karre, met die grootste huise…en is totaal en al so hêppie met wie ons is. Almal goed gemasker. Maar as ons vanaand op ons knieë gaan, of soms onkant gevang raak deur ‘n “onthou,” dan pak daai onvoldoendheid en skuld ons by die skouers beet! 

En dis nou net hier, wat, soos die artikel Self-Hatred dit stel, ons heeeeeeeltemal te veel belangrikheid en tyd aan al ons foute en misstappe in die lewe afstaan.

Hoe kom ek uit die put?

So wat is die verskil tussen “’n fout gemaak” en “iets waaroor ek spyt is?” 

Beide is tog maar goed wat ons sogenaamd verkeerd gedoen het, dan nie? Volgens How to Let Go of Your Regrets is ons net spyt oor ‘n fout wat ons begaan het, as ons niks daaruit geleer het nie. Moet wel erken,  party van die foute wat ek in my lewe begaan het, probeer ek hier in my binnekamer soos ‘n wafferse vleuel systap en maar eerder ignoreer ~ want ek voel net soos die mees gewetenlose mens op aarde oor sommige van hulle. 

Aan die positiewe kant, die feit dat dit my wel pla beteken dalk ek is toe inderwaarheid nie so ‘n ou kak mens nie? 

Dalk is joune ‘n diepe spyt oor ‘n verhouding wat skipbreuk gelei het en waar daar nie net een drenkeling was nie. Of ‘n groot fokoppie by die werk, dalk het jy in ‘n oomblik van swakheid ‘n vriend soos Brutus vir César in die rug gesteek. Dalk voel jy nou nog sleg oor daai keer toe jy jou pa se kar gestamp het en die tuinman en die kruiwa blameer het. #letsplaythatmovieagain

Shai Davidai, ‘n sielkunde professor aan The New School, wat ‘n hele stuk navorsing, A new study on the psychology of persistent regrets can teach you how to live now, oor ons “spyt wees” gedoen het, plus sommer ‘n boek daaroor geskryf het…wys een baie belangrike ding uit. Die “spyt wees” goed wat ons die meeste kniehalter is nie noodwendig dié goed wat ons glo ons “verkeerd” gedoen het nie, maar wel die spyt oor daai goed wat ons “nie” gedoen het nie. Laasgenoemde klou glo soos snot aan ‘n wolkombers.

Ok pragtig, wonderlik ~ so wat nou?

Hulle sê mos nie verniet, die eerste stap tot genesing is erkenning nie🤣! Kyk die mense in my huis wil al die strate in hol as ek eers alles begin analiseer. Maar ek sweer, dis van toeplak en ignoreer dat alles so ‘n gemors is. 

Wat as ons met ‘n bietjie meer deernis en bietjie minder selfhaat kyk na die onderliggende kwellinge wat ons hierdie “erge, pynlike” goed laat aanvang het of die vrese wat ons weerhou het van sekere besluite?

Kom ons begin sommer by my: #letsplaythatmovieagain

  • Mislukte eerste huwelik, wat soos met alle egskeidings ‘n kind van bakboord na stuurboord laat ronddobber het. En glo my vry, meer toegewyde geskeide ouers kon jy nie kry. Maar die vraag spook tot vandag nog by my…hoe kon jy so selfsugtig wees? 
  • Of daai pos, wat my meer oorsee as by die huis gehou het? Het ek nie meer ongelooflike skade aan ‘n jong kind gedoen as goed vir ons gesamentlike toekoms nie?
  • Of toe ek oorsee is vir ‘n GAP jaar, eerder oorgevoeter sonder werksondervinding, net om te loop dik raak daar en ander mense se beddens op te maak nie? 
  • Dat my vrese vir my kind en daai vieslike angsaanvalle en die wiele wat goed afkom, hom partykeer tè styf laat vashou het. Dat hy op goed uit gemis het, omdat ek nie wou waag om hom so bietjie by die nes uit te skop nie.
  • O en die dae van die wynvlieg en sy trawante. Laat ek nie uitbrei nie, daar is maar weinige gedugte aanhangers, wat nie ‘n spyt of twee na ‘n gefuif oorgehou het nie.
#letsplaythatmovieagain

Die les wat ek geleer het so deur die grotes en die kleintjies heen is dit:  ek wag nie vir die Here se wil nie, nee ek maak hom sommer gebeur. Want ek is bang, ek weeg nie op teen die res nie, ek gaan nie êrens pas nie, ek is soms net te ongeduldig en wil dinge nou, beter en lekkerder en veiliger hê. Ek vrees kwesbaarheid. Vir my en die naaste aan my. 

Moenie uitgevang raak nie!

Die probleem met hierdie vasklouery aan die dinge waaroor ons spyt is, is dit: Ons begin stories in ons koppe opmaak. En negatiewe stories, nie die mooi positiewe, opbouende soort nie, nee.

Myne gaan partykeer so ‘n bietjie so: “Jy is ‘n selfsugtige, self gesentreerde en eiewys mens. Jy faal net eenvoudig op soveel gebiede.  G’n wonder niemand waardeer jou nie. Jy moet eintlik net op jou eie wees, want jy irriteer in elk geval almal anders net. Watter waarde voeg jy nou eintlik toe?”

Kan jy sien hoe hierdie storie wat in my kop rondmaal, nie eintlik juis van positiwiteit oorloop nie? 

Maar wat al hierdie blapse, slegte besluite en misstappe my dalk wil kom leer, is dat dit dalk nie so ‘n slegte ding is om eers te wag en die kat goed uit die boom te kyk nie. Dat alles nie met spoed en voortvarendheid aangepak hoef te word nie. Dat skilpad toe vir hasie gevang het en nie ‘n poot gebreek het of dood neergeslaan het langs pad nie. 

Die plaat hak vas

Aan die ander kant ~ daai kant van spyt wees wat gaan oor die geleenthede wat nie aangegryp is nie, die vasbyt wat nie gedoen is nie. Die kan weer soos ‘n langspeel plaat wat vashaak, ons net op een plek laat hak-hak-hak. #letsplaythatmovieagain

Ek vind daai “ideale” persoon en die spyt kom klop-klop so hier aan my deur as ek nou al die jong mense sien wat aan die “begin” van hulle loopbane staan. Die potensiaal, die drome, DIE MOONTLIKHEDE. Voel so bietjie of ons hier duskant en anderkant die 50’s nou klaar is. Plaat moet nou afgehaal word van die grammofoon en weggebêre word. Kans gehad. 

Om te kan aanbeweeg van hierdie “ideaal” in jou kop of die meulsteen van skuld, is om nou maar vir eens en vir altyd daai persona met ‘n graaf oor die kop te slaan en in ‘n vlak graf te begrawe. Wat gebeur het, het gebeur en daai kanse is verby en om die hele tyd terug te hunker, vreet net energie. 

Tyd om vrede te maak met wie en wat ons is, die keuses wat ons gemaak het te aanvaar en aan te beweeg. 

So van vandag af

Gaan ek elke keer wat iemand my laat skuldig voel oor ek my lewe vir net my kies, hier bo in my kop laat “ontplof!” Handige tegniek, bloed en binnegoed spat!

En as ek wil-wil voortbeur en dinge net doen of êrens red, gaan ek probeer(ek sê mos, probeer!) om diep asem te haal en te wag tot iemand se wil geskied!

#letsplaythatmovieagain

As jy van jou laste wil ontslae raak, skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of gaan lees nog van my goeters op www.wynvlieg.com

2 thoughts on “Vol 85: Kom spyt regtig altyd te laat?”

  1. Pingback: #ageisaprivilege | Vol 86: Grys hare is ‘n voorreg

  2. Pingback: #celebrating100isathing | Vol 100: “Eeufees” Vieringe

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *