Alle mapstieks, Vol 85 , het sommer julle spul lekker aan die klets gekry!
Tekens van die tye reken ek…ons voel maar die ouderdom so effe aan ons bas, maar ons sal al skoppende en skreeuende tot op die hoogste pieke kom. Weliswaar met ‘n ekstra paar reddings tjoepies om die middellyf, ‘n paar wapperende bo-arms en meer lagplooie as grys hare op ons kop ~ maar ons het dit nog! #ageisactuallyaprivilege
So lees ek op die voorblad van die Junie 2021 uitgawe van Fairlady Magazine: “#ageisactuallyprivilege – I celebrated turning 40!” Nou “my goeie hemel” dink ek sommer dadelik, 40 is g’n oud nie! Die vrou is dan nog in haar prille jeug – gee maar kans dame, die kakkerasies is oppad na die stasie. Sê hulle nie verniet, oudword is nie vir sissies nie?
Maar tog, dit is ‘n voorreg!

Dis Mark Twain wat bostaande kwyt geraak het, maar ek wil net vir hom vra…meneertjie Twain, het jy dalk al middernagtelik sopnat gesweet wakker geskrik? Of dalk so na jou eens gladde bo-bene, maag, arms, nek en selfs kuite gekyk en gewonder waar al die haelskade en ekstra voel vandaan gekom het, sommer so oornag? Het jy dalk begin wonder of jy nog kan hoor, want dinge klink effe dof deesdae. Het jy dalk in die oggend i.p.v. opstaan, omgerol en dan so in stukke uit die bed gerank? Of 4kg oor ‘n naweek opgetel, al kon jy sweer jy het net aan die tjoklates geruik? En natuurlik raak mens se arms te kort as jy die spyskaart in die restaurant moet betrag – tas, tas maar so in die donker rond of die goedkoop Clicks lees brilletjie word van die een-na-die-ander aangegee.
My ma sou sê ~ wel ten minste kan jy nog sien en ruik en voel en opstaan! So ou Twain het ‘n punt beetgehad ja! #ageisaprivilege
Don’t Lament Getting Old, It’s a Privilege Denied to Many maak so ‘n mooi stelling… “Life has the peculiar tendency to slip out of our hands with time, which makes wrinkles appear on our faces and aches and pains develop every so often. But all of this is a reflection of life, something that we can feel very proud of.”
Ek het my plooie verdien
As ek myselwers so in die spieël betrag, dan herinner al die lagplooie om die mond en oë my aan die vele wonderlike tye in my lewe. Van die samesyn en uit die maag uit lag. Dit vat my terug na plekke in verre lande en vakansies by die see. Na ‘n hees gelag by een van Marc Lottering of Nataniel se optredes.
Daai keep tussen die oë, herinner aan die tye op my eie as alleen ouer wat wonder hoe sy die mas gaan opkom. Van die ure en ure in raadsale en stres oor spertye. Maar saam met dit is daar ‘n stortvloed van lesse geleer oor myself, okay met alleen wees en bewyse dat ek wel die hardegat, vasbyter is wat ek voorgee. Die kosbare verhouding wat ek met my kind – net ons twee so saam – kon bou. En ‘n loopbaan wat my oneindige erkenning en genot gebied het. Vriende by die duisende laat maak het en die wêreld ‘n wye, oop plek om te ontdek.
As ek na die haelskade so hier oor die hele lyf streel, dan verlustig ek my maar in al die glase goeie wyn wat ek gedrink het, die roomys en Sondagaand tjips oppie plaas(want Maandag was dit weer hok toe en daar was dit beperk tot drie valerige etes ‘n dag.) Ek verheug my in die feit dat ek nou nie meer kommer oor die stewige gatte en die vol heupe nie – turns out daar is toe wragtag mans wat dit begeerlike vind!
Die heupe wat nie meer so lekker wil saamwerk nie en ‘n nuwe skeet elke week. As die een pyn wyk, dan kom daar ‘n nuwe een in sy plek. Die gees wil oefen, maar die vlees vra nou “aanpassings” en so ‘n bietjie pas makeer. Voel party dae na ‘n strawwe sessie in die gym of ek die uurglas net hier duskant 90 draai. Maar die wonder van my liggaam is nou groter en meer prominent as toe ek net gejaag het om alles klaar te kry, in kompetisie was met myself en vergelyking met ander. Nou is ek dankbaar dat ek nie van die lêerige soort is nie. Dat ek nog dinge kan doen, op ‘n perd kan bly en soms afval, sonder om vir jare-der-jare nie weer te kan op nie.
Maar meer as dit – in my liggaam sien ek nou die mooi peervorm van my ma, die tjoepie om die middellyf onthou ek met deernis – so daar waar sy in die bad gesit het en haarself met mening met daai waslap ingeseep en gewas het. Ek sien my pa in die sakke onder my oë, die kepe om my mond. So in die ouderdom, kom die wat ons verlaat het in ons gesigte en lywe sit. ‘n Klinkklare herinnering aan al die voorsate wie se bloed ons dra. #ageisaprivilege
Hoekom is ons dan so spyt dat ons lewe?
Die mensdom is skytbang vir hierdie oudword ding. En dus inherent eintlik bietjie spyt dat ons lewe. Want as ons kla oor die voorreg om oud te word, dan koggel ons eintlik die nagedagtenis van al die wat al reeds die Rubicon oorgesteek het.
Margaret Manning is ‘n vrou wat gedink het, te hel daarmee, kom ons kyk eerder hoe ons ons lewens kan vier, weer die sin daarin kan vind …toe stig sy Sixty And Me vir die wat “weier” om oud te word.
Want…..sy het gevind vrouens begin al hier rondom 30 hulle doel in die lewe bevraagteken en moontlik ook die padkaart na die ouderdom. Soort van, “hier is ek nou en nou moet ek nie ‘n gemors hiervan maak nie.”
So, Sixty And Me poog dat ouer vrouens met iemand halfpad jonger as hulle ‘n wysheid deel. So bietjie van ‘n “wat ek wens ek geweet het toe ek jou ouderdom was.” Briljante idee!!!
So hier is ‘n seleksie van die 60 stukkies raad wat vroue bo 60 aan hulle 50% jonger susters gegee het. As jy nog raad soek of inspirasie vir jouself, lees hulle almal op 60 Pieces of Advice from Older Women to Younger Women. #ageisaprivilege
Wees net jou self
Raak verlief op wie jy is, want daar is verseker nie iemand presies soos jy daarbuite nie. Ons almal is besig om een of ander binnegeveg te voer. Ons altyd te meet teenoor ander, in die meeste gevalle voel ons, ons skiet te kort.
Maar as jy regtig lief kan raak vir jouself, foute en al. Regtig tyd vat om jouself te omarm en onverskrokke net daardie persoon te wees ~ sal die wêreld en sy mense ‘n minder angswekkende plek wees en die lewe minder van ‘n stryd.
Leef in die oomblik
Steek hand op – wie hierrond sukkel nie met hierdie een nie? Of ons staan met ons een voet in die verlede en top oor alles wat ons anders kon doen óf ons is besig om ons te komkommer oor die toekoms.
Om regtig IN DIE OOMBLIK te leef, sal beteken ons eet net tot ons vol is, ons luister na ons liggame en gee hulle rus as hulle dit nodig het. Of ons sal opstaan van die bank en beweeg om van ‘n goeie skoot terneergedruktheid ontslae te raak.
Ons sal die mooi, die goeie en die slegte ervaar en nie op ons sterfbed spyt wees oor al die tyd wat ons gemors het nie.
Waardeer die kleine
Êrens tussen 20 en 40 jaag ons ons malle moer af om tog net die man of vrou te vang, die huweliksklokke te laat lui, die 2.5 kinders en die wit ringmuur te kry. Die sporte te klim, die geld te maak – want ons moet dit MAAK en gouer as die een langs ons in sy duur 4×4.
Hulle sê as iemand jou ontydig verlaat(óf deur die doodsengel weggeruk of self weggestap,) is dit nie die groot drome wat mens mis nie, maar daai klein irritasies. Die melk drink uit ‘n bottel of die vuil wasgoed op die vloer.
Moenie in jou eie pad staan nie
In die Griekse mitologie is daar ‘n god genaamd Sisyphus. Sisyphus was gestraf omdat hy twee keer van die dood “ontsnap” het. En sy straf, om vir ewigheid ‘n swaar klip bergop te rol, net sodat daai einste klip weer al die pad kon afrol. Dan begin hy môre maar weer. So in hedendaagse kultuur sal ons sê ‘n taak wat nutteloos is en regtig eentonig, maar wat ons nie kan vryspring nie, ‘n Sisyphus oomblik is. #ageisaprivilege

Ek dink daar is soveel keer in ons lewens wat ons een of ander self opgelegde “reël” of “verwagting” het, wat ons daagliks maar weer net “bult op stoot.” Ons raak so verknog aan ons ou “klippie,” en kla steen en been daaroor, maar ons stoot daai klip elke dag weer-en-weer-en-weer berg op.
En al wat ons moet doen is om bloot uit die pad van die klip te tree en hom berg af te laat rol.
So bly ons ons eie vyand en klou ons aan gebruike, gelowe en dinge vas wat ons nie gelukkig maak nie.
Neem foto’s
Die een is ‘n droom van my – ai hel, ek wens ek was die een wat die foto’s neem. Die hele uitstappie is al oor, dan onthou ek – dêmmit ek moes foto’s neem! Want as mense begin wegval of wegtrek, dan is dit al wat jy oor het.
Moet seker maar dan mens se vriende goed kies. Daar is net mense wat oppit is met die foto’s en dan hoop ek maar ek was uitgenooi en Facebook stuur vir my “herinneringe” elke jaar.
Ek gaan nou ‘n punt daarvan maak om meer opdringerig te wees en die flippen duur foon wat ek het ten volle te benut!
As jy in ‘n verhouding is wat nie werk nie, kom daar uit!
Vertel nou die dag vir iemand dat die jaar wat ek besig was om te skei seker die aakligste jaar in my hele lewe was. Hoe mens dit oorleef, is net genade. Nie net is daar finansiële implikasies nie, emosioneel is dit uitmergelend en huis en haard word omver gewerp. Dit alles terwyl jy nog ‘n beroep aan die gang moet hou.
MAAR, as ‘n verhouding nie werk nie en julle besig is om mekaar stelselmatig te verwoes, dan is dit tyd om bestek opname te maak en die dapper ding te doen.
En as dinge erger as dit gaan, dan moet jy uit! Daar is lewe daarna, vergeet wat die samelewing gaan sê ~ want die wat oordeel sit of self in ‘n gemors maar is te bang en boonop is niemand JY nie. Niemand weet wat agter geslote deure gebeur nie. #ageisaprivilege

Laat jou kind jou leermeester raak
Hier op my ou dag en met ‘n jong volwassene in die huis, laat ek julle maar vertel…he calls me out on my crap!
Kinders het ‘n gewoonte om blatant eerlik te wees, om vir jou te leer van geduld; jou vrese by hulle name te noem en om vir jou ‘n ander, nuwe perspektief op jou waardes te gee.
Luister – die dae van kinders moet net gesien en nie gehoor word nie, is nonsies.
Te veel om op te noem
Die lys van raad is natuurlik onuitputbaar en daar is nog wat met my resoneer. Ons sal weldra kyk watter julle wil byvoeg.
Vir nou, kom ons onthou om te LEWE. En elke keer wat jy kla oor die ouderdom, onthou iemand anders sou wat wou gee om nog ‘n asemteug te neem. #ageisaprivilege
As jy ‘n penvriend soek, skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of gaan lees nog blogs op www.wynvlieg.com