Wynvlieg Vol 87 Blog

Vol 87: Alles is gat oor kop

Arbeid adel, of hoe sê hulle nou weer? Ek het grootgeword met die geloof dat harde werk die pad na sukses teer. Luiheid is nie geduld nie – bewaar jou siel as jy op ‘n Saterdagoggend, as tiener, gereken het jy gaan bietjie laat lê!

Daar was ‘n sêding in ons huis – terwyl die gordyne oopgeruk word, die vensters so wyd soos waenhuisdeure oopgemaak word…”die son het  julle gatte al warm gebak!” Dit was “die teken” dat jy jou lui alie uit die bed moes kry, want hoenderhokke moes gevee word, wasgoed gewas en grasperke gesny met daai petrol grassnyer wat oor elke dik pol vrek geruk het. #hardworkpaysoff

Maar die hele beginsel was vasgelê – jy moet hard werk om êrens in die lewe te kom. Hoe meer ure jy spandeer om iets te vervolmaak, hoe groter jou kanse op sukses. 

Die groot ontnugtering

Natuurlik is die beginsel in sekere opsigte waar. Hoe meer ure ek aan toonlere oefen op skool spandeer het, hoe (semi)beter sou ek kwansuis raak. Hoe meer keer ‘n mens skottelgoed was, hoe meer effektief sal mens raak met daardie ou takie.


Maar die groot fokoppie kom as daar dinge is wat jy NIE kan beheer of beter maak deur meer ure daaraan te spandeer, of net harder te probeer nie. Dit het ek met ‘n moerse skok agtergekom toe ek ‘n baba gehad het. Stel jou voor, ‘n vrou wat 16 uur dae in die advertensie wêreld spandeer, gedryf deur spertye. Hoe harder, hoe meer effektief daar gewerk was, hoe groter die sukses en die lof.

En toe kom daar ‘n baba, met koliek die wêreld in en suster se wiele kom goed af. Want nou het geen mate van “harder” probeer ‘n verskil gemaak nie. Die geskree het net erger en erger geword, slaap was ‘n vergete konsep en die gevoel van nutteloosheid het soos ‘n swart, donker kombers toegesak. Want met dié een, het harde werk geen verskil gemaak nie en ek het dus soos ‘n massiewe flop gevoel. #hardworkpaysoff 
Of dalk nie!

Word ‘n Navy Seal

Al ooit gehoor van, “drown proofing?”  As jy al ooit enige versteekte begeerte gehad het om ‘n Navy Seal te word, dan gaan lees hier These are 5 the swim challenges Navy SEAL candidates must pass wat daai bomenslike soldate als moet kan doen gedurende opleiding. 

Nou om verdrink-bestand te kom, word die jong rekrute, met vasgebinde arms en bene in ‘n diepe swembad gegooi en moet hulle vir 5 minute “oorleef.” Nou die geheim om die hele storie te oorleef, SEAL Training 9: Dropwnproofing is om jou instink te ignoreer. M.a.w die wat probeer om water te trap en hulle koppe bo water te hou(onthou sonder arms en voete,) raak so moeg dat hulle begin sink. Sommige sink en verloor hulle bewussyn(dit klink lekker!😏) en ander raak so paniekerig dat hulle onmiddellik om hulp skree.

Die truuk is glo om tot op die bodem te sink, jou liggies van die bodem af na die oppervlak te skop, asemteug te neem en weer te sink. En so hou jy aan tot die 5 minute oor is. Nou ja, ietsie te oefen in die swembad as die weer draai!

Die punt is natuurlik nie om te sien wie die beste long kapasiteit het nie, nee die idee is om te sien hoe iemand reageer in ‘n lewensgevaarlike situasie. En hoe daardie soldate teen hulle instinkte kan optree, om uit gevaar te bly. 


Ek is seker ek sou loshande dop! #hardworkpaysoff of jy verdrink!

Hier is nog iets interessant 

So ons glo(meestal) dat jou insette die eindresultaat sal beïnvloed…jy sal maai wat jy saai.  Maar dis eintlik net waar vir taamlike vervelige, alledaagse take…soos byvoorbeeld om jou kar te bestuur, of al daai admin te doen of ‘n slag jou kaste reg te pak. Natuurlik sal jy in twee ure meer vermag as in een. Of om soos ‘n papegaai te leer en dan ‘n twee ure eksamen te gaan skryf, net om al daai kennis  alles weer te verloor voor die week verby is, Why Students Forget—and What You Can Do About It.)

Maar nie een van hierdie take verg juis enige verbeelding of kreatiwiteit nie. Dit gebeur soort van onder dwang of heeltemal outomaties. #hardworkpaysoff 

Soos ons weet, die meeste dinge in die lewe werk juis nie so nie. Dinge is kompleks, dit vat baie geestelike en veral emosionele energie en boonop vra die lewe dat mens aanpasbaar moet wees. 

Jy al opgelet, die vreugdes wat ons uit goed put, verloor ook so ‘n bietjie hulle kleur en geur hoe meer kere ‘n mens daaraan blootgestel word. Soos byvoorbeeld geld…as jy môre die lotto wen(ek probeer elke week, maar geluk is nie aan my kant nie) en miljarde wen, sal die eerste paar maande hemels wees. Jy sal alles onder die son koop, eersteklas vlieg(as jy nou uit die land kan kom) en net eet en drink soos ‘n koning. Maar kort voor lank…is lekker ook net ‘n vinger lank. So ook drank en kos, as mens permanent en in oorvloed daartoe toegang het – ja jy sal dalk al meer eet en drink, maar die feit dat jy meer tyd daaraan spandeer sal jou waarskynlik meer ongelukkig maak, as wat dit jou oor die maan sal wil laat spring.

Vertel my meer 

Hier is ‘n brokkie goeie nuus en ek is waaragtig ‘n sprekende voorbeeld daarvan. ‘n Studie, How To Be More Productive by Working Less bewys ons is eintlik net produktief vir die eerste 4 – 5 ure van ‘n dag. En as jy kinders op skool het en jy is verantwoordelik om hulle in hulle klere, met pap in die maag en gekamde hare en skoon tande ook nog by die skool te kry – asem in – voor jy die volle werksdag moet aanpak. Dan het jy reeds deur 2 ure van jou produktiwiteit geploeg! 
En hoekom is ek ‘n sprekende voorbeeld? Wel as konsultant kry ek baie meer verrig in 4 ure per dag as wat ek in 8 – 10 uit ‘n korporatiewe dag gekry het. Vergadering op vergadering op vergadering…vreet ure op en eintlik doen jy bokkerol. 

So is daar ‘n vrag goed in die lewe – hoe meer ons daarvan doen, hoe minder geluk bring dit. Soos verlief wees, stomende seks, om 5L roomys ‘n dag te verorber, bottels wyn, om op daai stilstaan-fiets by die gym te ry, op ‘n “gesonde” eet regime te wees…the novelty wears off quite quickly!

#hardworkpaysoff 

Dit kan nog erger raak

Dan is daar die goed in die lewe wat sommer net heeltemal teen my kinderdae lesse indruis…hoe meer jy doen, hoe groter is jou kans om te faal.

Gewoonlik het hierdie te doen met geluk en beheer. Soms hoe meer ons, ons situasie beheer, hoe harder ons probeer om almal en alles gelukkig te hou, hoe meer moet ons, ons eie geluk inboet. 

Dink maar aan verhoudings waar jy altyd gevoel het jy moet sus of so optree om die ander persoon se aandag te behou. Of hoe jy jou naweke vol geprop het met sosiale geleenthede, die hele wêreld en hulle kinders genooi het om as die goeie gasvrou gesien te word. En dit terwyl jy eintlik vir ‘n halfuur moes gaan stap het, of net rustig op ‘n bank êrens gelê en lees het. 

Hoeveel diëte is nie al slaafs nagevolg nie, kalorieë getel dat die biesies bewe…net om twee weke na die selfopgelegde hongersnood te moet uitvind geen gram is verloor nie. Of as jy hom verloor het, is hy en nog 50 ander gramme vinniger terug as wat jy mes kan sê!

O en ‘n ander GROOT een is verandering, hoe meer ons onsself probeer verander, verbeter…hoe groter is die kans dat ons sal dink ons skiet weereens tekort. 

#hardworkpaysoff 
#hardworkpaysoff 

Ok nou wat nou?

Dalk lê die geheim daarin dat ons eerder moet ophou om MEER te soek. Meer beheer, meer geluk, ‘n beter verstaan, meer vryheid om te doen wat ons wil, meer gewildheid.

Dalk is ons net besig om soos die hond die kar te jaag, en as ons die ding vang, wat gaan ons dan daarmee maak? Dalk is hierdie te ‘n groot stuk olifant om af te byt!

Dalk kan ons ‘n les leer by die versuipings-oorlewings tegniek. Dalk moet ons net ingee, dalk moet ons asem uitblaas en afsak tot op die bodem van die lewe. Net liggies skop elke nou en dan om asem vir die lewe in te teug.

Sien jou op die bodem! #hardworkpaysoff 

As jy ‘n penvriend soek, skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of gaan lees nog blogs op www.wynvlieg.com

2 thoughts on “Vol 87: Alles is gat oor kop”

  1. Hallo, Carlen
    jou koliekbaba het my aan myne laat dink. Ek het haar gistermiddag laat weet dat sy op dag en datum 29 jaar gelede ‘n embrio van 7 weke was en haar pappa die aand op pad was Mosambiekgrens toe vir 3 en half maande, en toe ons die middag nog so vir ‘n laaste ou bietjie ons liefde wil verseël, kry ek deurbraakbloeding wat ons in ‘n stupor tot stilstand en moerse spanning ruk. Boonop het hy sy trein se vertrektyd verkeerd gelees, en die trein verpas op Kaapstadstasie. Die ginekoloog sê ‘lê, moenie beweeg nie’ en ek sê ‘nie in hierdie lewe nie, ek sal lê in die kar, maar my man en ons embrio se pa gaan ek nie sommer so na sy moontlike dood stuur nie’. En so moet buurmanvriend ons deurjaag na Stellenbosch se stasie om die trein vandaar in te haal.
    Nou wonder ek so half waarom ek jou dit vertel …? Dalk omdat ek wens ons lewe het so eenvoudig gebly. Dat dit nie later ontaard het in ek wat ‘n beter polisie-man-se-vrou wou wees nie. Ek het letterlik met sykouse aan huisskoon gemaak, want ek is ‘n ma wat tuisbly en kinders versorg, maar sal nooit verslons lyk nie. My doeke sal die witste wees, my kinders die skoonste, my huis die blinkste … Wat het dit my gebaat? My kinders het nooit creche-gastro gekry nie en hulle bottels het nie weggeraak nie, en hulle het nie met ‘n ander een se T-hemp by die huis gekom nie. Kopluise het hulle eers op skool gekry.
    Wat nog?
    A! Ek het nie gelag nie, ek het net ‘ordentlike’ boeke gelees en my kinders se maatjies gekeur … En ek was sielsongelukkig sonder dat ek dit besef het. Ek moet net beter beheer toepas, al crack ek – wat toe wel gebeur het.
    Ja, die lewe is gat oor kop, want ek is nou al langer sonder my polisieman as wat ek met hom getroud was en ‘n duisend jaar te laat om ‘n gewone gelukkige mens te wees in die tyd toe dit eintlik die belangrikste was.
    But it is what it is and what will be will be.
    Terloops, ek is op dag 56 en dit gaan goed. Ek mis nie die wyn nie (het meer as ‘n week gedrink aan ‘n bottel Leopard’s Leap 0% Red en dit smaak soos druiwesap sonder suiker) en die wyn jaag my nie eers wanneer ek voor die rakke staan of loop nie. Ek ervaar regtig ‘n gedagte van: Hmmm, nee, ek is nie regtig lus vir daai een nie, huh-huh, ook nie daardie een nie …
    Ek sê sommer nog ‘n keer dankie.
    Soetwees – Ronél

    1. Hi Ronel, ja jong toe ek my blog skryf van gister oor nostalgie, toe dink ek ook aan al die goed wat ek aangevang het. Was eintlik sad toe ek terugdink aan die desperate gespartel in my jonger dae(en nie so jonger dae) na aanvaarding, genoeg wees…en eintlik was ek net besig om myself te sabotage. So self destructive gewees. Vader hoe mens tyd kan mors nè!

      Knap gedaan op die 55 dae! Dalk was dit een van ons beter besluite in die lewe. Dalk was dit nou ons kans om vir ‘n slag te doen wat goed is vir ons en nie om weg te hol van die lewe nie.

      Mooi loop!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *