Dalk het dit begin toe ek die boekrak begin deurwerk – opsoek na iets maar eintlik ook niets. Of dalk is dit sommer net my pa se verjaarsdag(nou reeds in die hemel vir meer as 12 jaar, en die herinneringe wat so vlak kom lê.) #livinginthepast
Maar nee, dis die vind van daardie gedigte boek oor die liefde – die een wat ek deur my worstelende jongvrou dae – nog ‘n vurige skrywer en aanhanger van poësie – en met ‘n naïewe, dog dringende soeke na die liefde wou vul met my eie skeppings. Ek lees daardeur en die herinneringe kom lê vlak. Ek herken my eie seunskind se huidige reise deur die liefde daarin – die gesoek na myself en daardie plek om te behoort.
Wat ek daar tussen die bladsye vind, is nostalgie. Wat ek in my Facebook herinneringe vind, ‘n ode aan my pa. Dis nostalgie. #livinginthepast
Onthou
sou herinneringe ook
so in jou ore fluister
agter jou ooglede kom vasslaan
in jou bloedstroom kom woon
jy kom in my neusvleuels
rondflenter
jou hand, soekend, maak
hom hard tuis op my vel
die vreugde onherkenbaar
sterk binne my
liefde kweek is onbeskryflik
vurige en uitbundig
weer, weer, kom, gaan
en as jy soms klein dinge
onthou
weet ek ons onthou
sal my altyd binne-in
die lewe hou
Gepen êrens in die 90’s
Wat is dit met nostalgie
As ek so na elkeen van die klassieke tale se eiesoortige betekenisse van die woord Nostalgia kyk, is dit duidelik die kalant kom vou mens of in ‘n kombers van goeie onthou, veilig voel…sal ons sê die “goeie ou dae” toe. Of dit herroep weer die pyn van dinge wat maar eerder onder die mat moes bly. Of soos die Germane dit wou hê en die geval was met my ode aan my pa, dit bring ‘n akute verlange na huis. #livinginthepast
Die wêreld is op sy kop gedraai
Ek reken ons is almal nou al gatvol van “die nuwe normaal.” Want normaal is dit vir bleddie seker nie. Die week het Covid (of soos my regterhand hier by die huis sê: “When Corona came.” 🤪) sy opwagting hier by ons gemaak. Die bliksem het ongeag al die skoonmaak, masker dra, versigtig wees – tog wel so via die universiteit toe by die voordeur ingewaai.
Navorsing, Nostalgia: A Psychological Perspective, het bewys dat periodes van nostalgie veral opdaag in periodes van onsekerheid of oorgang…hetsy oorgang in lewens fases, of ‘n getrekkery of verandering by die werk dalk. G’n wonder ek is so van die nostalgie gepak nie.
Mens verlang na die tyd toe dinge “makliker” was…toe dinge nog rooskleurig uitgesien het, of “toe ons nog jonk was.”
“Vandag vier ek my dierbare, saggeaarde pa se verjaarsdag, sy 5de in die hemel. N man wat sy koffie deur die ‘vlak’ kon jaag, nie geglo het aan ‘te’ nie….behalwe as hy ʼn bak roomys kon opeet of daar om die kombuistafel ʼn tjoklatekoek snytjie vir snytjie kon opeet. Hy was die beste eier bakker en so lief vir ʼn glasie coke en daai twak en pyp. So goed vir mense en nooit n slegte woord oor iemand te se gehad nie. Jou sin vir humor was so amazing en jou liefde vir die aarde, diere en sterreruim bly ons by. Dankie vir jou liefde en voorbeeld….hoop mense sien dit ook in my. Vandag eet ek daai tjoklate koek namens jou en hoop daar ini hemel gee hulle ʼn brandy en coke. LIEF JOU ALTYD .” @Facebook 2015
Al raak ons soms ‘n bietjie aan die siniese kant – oor die liefde, oor die lewe en die toekoms, bly ons tog nog ons pa se kind, ‘n jong verliefde meisiekind of iemand se suster. A Retrospective Survey of Childhood Experiences herinner my daaraan dat ek ‘n hele “spaarvarkie” vol herinnering het, aan ‘n tyd toe ek onvoorwaardelik liefgehad was, toe ek besig was om my wortels in die wêreld te anker.
Dié slim vrou, met baie navorsing agter die blad, reken hierdie tipe nostalgie help ‘n mens om makliker deur die lewe te kom. Nostalgia: retreat or support in difficult times is ‘n studie wat sy gedoen het en wat bevind het, dat mense wat na hierdie “goeie” of “oorgang” tydperk terugverlang(soms), meer geneig is om in moeilike tye hulp te soek, emosionele ondersteuning by ander te kry en vorentoe te beweeg. Hulle gebruik nie nostalgie om bloot van hulle huidige omstandighede te ontsnap nie. Nee, diesulkes sal eerder die moed van hulle oortuiging en ‘n spaarvarkie vol goeie onthou hê, om hulle daaraan te herinner dat die lewe tog silwer randjies ook het. #livinginthepast has a silver lining.
Tog is daar ‘n fyn lyn
Maar daardie is die rooskleurige kant van nostalgie. Nostalgie kan ook ‘n mens verlei om te verlang na ‘n meer romantiese idee van die verlede. Toe alles nog goed en reg was. Of soms vind ek, sommer net ‘n versuikerde weergawe van die verlede(of wat kon wees.)
End of an era is tog ‘n ding waaraan so baie van ons landgenote lei. Toe dinge nog sus of so was…en dit maar alles net omdat dinge nie nou so waffers vir hulle selwers daarna uitsien nie.
En vreemd genoeg wil navorsing dit hê dat mense met Historical Nostalgia ‘n meer siniese uitkyk op die lewe het. Een wat ingekleur is met ‘n verlede van pyn, trauma en spyt, of moontlik kinderdae wat nie ‘n spaarvarkie vol liefde en aanvaarding meegebring het nie.
Maar die groot gevaar van hierdie tipe nostalgie is natuurlik dat ons nie in die hede lewe nie. Want as ons nie kan laat gaan van slegte ondervindings in ons verlede soos ‘n verhouding wat op die rotse geloop het, of ‘n “oortreding” wat ons begaan het, of iemand wat ons te nagekom het nie. Wel dan is ons gesnoeker, die swart bal is gesink. Want dit lei net tot een plek. En daai plek is gevul met ‘n onvermoë om ander te vertrou, vernietigende gedrag en om tog net in die hier en nou te lewe. (Jy weet die enigste plek waar mens actually asemhaal en lewe🤪)
Die waarskuwings ligte behoort te begin flikker as:
- Jou verwysings keer op keer terugspring na spesifieke mense(vele wat jy eeue laas mee kontak gehad het) of tye(soos in 20 of 30 jaar terug toe ons nog sus of so gelewe het.)
- Jy keer-op-keer in dieselfde verhoudings slaggate trap. Elke keer die af vlerk een nader hark of die bombastiese vark probeer tem.
- Jy jou eie vooruitgang – soos om ‘n gesonde liggaam te hê, met ‘n pakkie drie-dubbele-tjoklate koekies saboteer. Of liters drank in jou keelgat afgooi ter herinnerig aan jou goeie ou studentedae.
- Altyd die slegste verwag van mense, of die lewe.
Die goue reël is, as jy besig is om self vernietigend op te tree, mense altyd te blameer vir jou situasie of die regering skuld te gee vir jou lewenskwaliteit…dan is jy besig om in die verlede te lewe en is die hede verseker nie ‘n paradys vir jou nie.
Sit hom af by die muur
As jy in my era grootgeword het, met my “natuurlike” aanvoeling vir die tegnologie ~ dan is jou “default” setting om alles net weer te “re-boot.” Control, alt, delete.
Wel, as nostalgie jou oorval en jy haak vas daar in die verlede…control, alt, delete net. En mag jou kop rekenaar net die mooi in jou “onlangse nageslaande” items bewaar. #livinginthepast
As jy iets nostalgies wil deel, skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of gaan lees nog blogs opwww.wynvlieg.com