Deel twee van die paradokse van die lewe! Julle lotjie maar traag met die aanbied van julle eie weergawes nè? Maar dalk is dit ook ‘n paradoks van die lewe…die wat gee, sal ontvang? Dalk hoe meer mens van jouself gee, hoe beter raak ander met ontvang en terugsit ipv deelneem en die guns terug bewys?
Maar nou haak ek vas!
Ek word nie sommer ondergekry nie! Voorwaarts sal ek mars en julle met nog ‘n paar bombardeer, want onbaatsugtig is ek in my strewe om julle met net die beste inligting die wêreld in te stuur🤭!
Aanhouer wen ~ oeps nog ‘n paradoks! #paradoxesaretheonlytruths
Paradoks nommer 7
Hoe meer kennis jy bymekaarmaak, hoe meer besef jy, jy weet eintlik net mooi niks!
O dié is een van my gunstelinge!!! Die artikel, circles of knowledge and boundaries of ignorance, stel dit so mooi. Hoe meer nuuskierig en weetgierig ons raak, hoe meer mag ons kennis dalk raak, maar hoe groter dalk ook ons onkunde.
Want sien as jou sirkel van kennis oor ‘n sekere onderwerp relatief beperk is ~ sê maar byvoorbeeld oor ‘n sekere geloofsoortuiging of dalk ‘n wetenskaplike kwessie soos die ontwikkeling van entstowwe ~ hoe minder dink jy, hoef jy te weet. Hoe kleiner is jou begeerte om meer en meer uit te vind. Want jy weet te min om jou werklike onkunde te bevraagteken. So jy vat daai paar feite wat jy kon kry, maak sin uit hulle in jou eie klein wêreld en verkondig dit dan as die alfa en omega. So bietjie vir my soos wanneer party mense graag verse uit die hogerige boeke wil aanhaal – heel buite konteks, maar dit werk vir hulle!
Maar hoe groter jou sirkel van kennis ~ byvoorbeeld oor ‘n sportsoort soos rugby is ~ hoe meer besef jy, jy verstaan nie die binnewerking van alles nie en hoe meer en meer en meer wil jy uitvind. Mens raak skoon manies en slaan Google se soekenjin met mening. Net om keer op keer uit te vind, dis ‘n onuitputbare bron.
#paradoxesaretheonlytruths
Paradoks nommer 8
Hoe meer jy dink jy is reg, hoe groter is die kans jy is heeltemal op die verkeerde koers.
Ook beter bekend as die Dunning-Kruger effek. As jy ‘n mooie video(ook net mense van my ouderdom wat van video praat!) daaroor wil kyk, look no further… THE DUNNING-KRUGER EFFECT EXPLAINED. Maar vir die wat te lui is….
“The Dunning-Kruger Effect is a cognitive effect whereby people who are less-capable or incompetent are seemingly blind to their own incompetence. People suffering from the Dunning-Kruger Effect may put themselves forward as being competent and able to perform certain tasks and/or roles, believing that they are in fact competent in these domains. In reality, however, they are unable to fulfil the requirements of these roles and/or tasks. “
O hemele help my, dis die soort mens wat ek probeer vermy soos die pes. Want het jy al agtergekom, hoe minder ervaring mense in ‘n sekere veld het, hoe meer van ‘n kenner raak hulle?! Dis nou die tipe mense wat hulle navorsing oor enige onderwerp op die toilet op sosiale media doen! Maar o hemel, is hulle 100% oortuig van “al” hulle feite!
Ons hoef nie ver te gaan soek om voorbeelde hiervan te kry nie, die politiek is besaai daarmee. Daar is wêreldoorloë daaroor begin, opstande en mense wat hulle hele toekoms moes prysgee.
Maar ons moet natuurlik altyd voor ons eie deur ook vee, sekermaak ons is nie besig om iets as die absolute waarheid te verkondig, sonder die nodige navorsing nie…of dan ten minste dit met ‘n vrywaring vooraf gaan.
Paradoks nommer 9
Hoe meer bereidwillig jy is om jou foute te erken, hoe meer van ‘n perfekte wese is jy in ander se oë.
Dis die vreemde ding van kwesbaarheid – al maak dit ‘n mens skytbang(en kyk en is op die skyt-skyt-skyt bang spektrum van kwesbaarheid), laat dit almal anders dink jy is dapper en magtig. Dis eintlik ironies genoeg iets wat ons almal in ander bewonder.
Hoekom anders sal ons na motiveringsprekers gaan kyk, hulle boeke lees? Want ons dink dis ongelooflik dapper om jou grootste, diepste geheime en swakhede met mense te deel.
Probeer dit – ek het my vuil wasgoed, asook my kwesbaarheid op die draad uitgehang. Ek verwys nou nog mense na my blogs oor die @wynvlieg en sy trawante wat ek vaarwel geroep het. Hel ek het selfs ‘n tatoeëermerk gekry om my daagliks te herinner dat ek dapper en nuuskierig oor die lewe moet bly.
En vir dié wat sukkel met die kwessie – gaan doen gerus ‘n bietjie werk met Brené Brown – The Gifts Of Imperfection. Sy die G.O.A.T. as dit by kwesbaarheid kom! (En nee ons praat nie hier van ‘n boerbok nie…dis omgangstaal vir Greatest of all Time…beter bekend in Afrikaans as BLITSWARM!)
Dis die ongelooflike mooi paradoks van kwesbaarheid – hoe meer ons ons foute, ons swakhede met mense deel – hoe meer wil hulle met ons uithang! Hoe meer bewonder hulle ons.
Waarvoor wag ons almal dan? #paradoxesaretheonlytruths
Paradoks nommer 10
Hoe meer keuses ons in die lewe het, hoe minder vreugde put ons daaruit.
Al ooit gehoor ‘n jong tiener dogter staan voor haar kas, wat kreun van die nuwe uitrustings, maar nogsteeds sanik oor sy ‘NIKS HET OM AAN TE TREK NIE?’ Of die tienerseun maak die oorval yskas oop en kla dat ‘DAAR NIKS IS OM TE EET NIE?’
Wel dis die paradox of choice – hoe meer keuses ons het, hoe groter is die kanse dat ons besluiteloos, angstig of sommer net onvergenoegd sal wees. Ek byvoorbeeld kan steen en been kla oor die baie huise van ons wat ons elke maand moet besoek = Marie Antoinette se moer, ek vat hom sommer nog ‘n stappie verder.
Nou die rede hieragter is natuurlik, hoe minder keuses jy het, hoe minder moet jy prysgee. En hoe meer opsies daar is/was, hoe meer ander kanse of geleenthede het jy opgeoffer. Ons wil ook maar meestal ons brood aan alle kante gebotter hê! #paradoxesaretheonlytruths
Paradoks nommer 11
Hoe harder jy probeer om ‘n verhouding ryp te druk, hoe groter is die kans dat dit gaan vrot.
Ai tog, is hierdie nie ‘n dure les wat ons almal geleer het doer ver terug in ons prulle jeug nie? Die ou holrug geryde storie: “jy kan nie iemand verander nie?”
Geen mens kan ‘n ander mens van hulle maak hou nie. Ek gee nie om hoeveel tyd en aandag en geld jy op iemand spandeer nie, lief kan jy hulle nie vir jou maak nie. Maak ook nie saak wat Disney en Hollywood ons laat glo nie, dis eenvoudig bokdrolle en hulle is nie rosyntjies nie!
Dit geld natuurlik ook vir ander dinge in die lewe – hoe meer jy dit probeer forseer, hoe groter is die kans dat jy net mooi die teenoorgestelde gaan regkry. Wie het al minder angstig gevoel deur jou self te forseer om NIE angstig te voel nie, of minder gestres bloot omdat jy jouself forseer om NIE te stres nie. Dit werk net nie so nie! Die geheim lê in die laat gaan!
Paradoks nommer 12
Hierdie is ‘n goue oue, wat ek dink ons partykeer die pot so klein bietjie mis laat sit.
Hoe meer jy jouself aanvaar, hoe groter is die kans dat jy ander mense sal aanvaar(vir wie en wat hulle is.)
Dis nou maar wors, jou verhouding met jouself, reflekteer in jou verhouding met andere. As jy jouself kan vergewe vir foute, deernisvol teenoor jouself kan optree en net dankbaar vir die suksesse in jou lewe is ~ dan gaan jou verhoudings met ander dalk ook so daarna uitsien.
Want sien, as jy gedurig jouself afbreek, super krities is teenoor jouself en geen ruimte vir foute en deernis los nie ~ dan my vriend of vriendin, gaan jou verhoudings met ander ook hiermee gepeper wees.
Vra my, ek weet! En ons kan maar almal so bietjie huisskoonmaak in die afdeling. Bekyk maar jou verhoudings. As jy konstant jou verhoudings met anders wil beheer, of jy is angstig oor alles en is boonop super krities, dan is dit waarskynlik die verhouding wat jy met jouself het. #paradoxesaretheonlytruths
Oor en uit
Ai dis so ‘n lekker tema – ek hou sommer die hele maand aan!🤣. En as julle klompie nou ook net ‘n paar van julle eie paradokse met ons sal deel – wie weet, dalk kan ons nog ‘n lekker ou kletsgroepie aan die gang kry ook! #paradoxesaretheonlytruths
Laat hoor van julle by vryheid@wynvlieg.com, los ‘n boodskap hieronder of gaan krap rond by www.wynvlieg.com