Ek lees die volgende aanhaling die week…👇🏼
Wel laat ek net vra – hoe de donner doen mens nou eintlik dit? As ons na ons kinders kyk en na onsself ook, dan staan een ding soos ‘n paal bo water. Êrens gaan ons dinge goed opmors. Met al ons beste intensies, al die goed wat ons koop, die klippe wat ons uit die pad probeer rol, die ure wat ons dink ons ons eie ek opoffer ~ niks van daai gaan saak maak nie, want ons gaan êrens al die wonde van ons verlede(en dalk die wat ons voorgegaan het) aan ons kinders oordra.
Watter wonde?
Ek praat hier van die “wonde van ons voorvaders” ~ dalk so bietjie soos “die sondes van jou voorvaders sal jou tot in die duisendste geslag volg!” #thesinsofourfathers
Ja, dis so bietjie aan die hoola-hoop kant, maar in die artikel Healing the Wounds of Your Ancestors het die skrywer ‘n stukkie waarheid beet. Wel dalk nie net ‘n stukkie nie, sommer ‘n moerse groot stuk beet.
“This is the gift you bring them, for as they departed, they left behind the residue of their unfinished business, passed down through the ages, held in place by the unspoken family agreement to perpetuate it — that is, up until now.”
Nou voor jy begin dink ek is besig om voorvadergeeste en diesulkes op te roep en om ‘n vuurtjie te dans in ‘n klein stukkie lap ~ byt net vas.
Daar steek tog waarheid daarin dat ons almal met een of ander wond van ons kinderdae rondloop. En as ons aan trauma dink, dink ons altyd aan die ergste vorm daarvan. Maar baie van ons het as kind êrens ‘n ervaring gehad, wat so stresvol of emosioneel pynlik was dat dit ‘n indruk op ons gelaat het en ‘n massiewe impak het op ons as grootmense.
As ek vir jou myne wys, sal jy joune wys?
In hierdie artikel What is childhood trauma praat hulle oor al die verskillende vorme van trauma wat kinders kan ervaar.
Nou hier is my stukkie waarheid en hoekom ek vandag myself hier kom ontbloot.
Die seunskind van my, besoek al vir so bietjie meer as ‘n halwe jaar ‘n sielkundige. Daar is redes en ons is ondersteunend. So stel die man voor daar moet ‘n paar toetse gedoen word, onder andere die Inkblot Personality Test En ek weet hier kom groot kak.
Die toets, vir die wat nie weet nie, gaan delf daar in jou onderbewussyn rond en verduidelik mooi wat alles onbewustelik jou persoonlikheid, vrese en so beïnvloed het. En ek weet, HIER KOM DIE SONDES VAN JOU VOORVADERS(MOEDERS in die geval!) nou op die lappe. Hier gaan daar nou ‘n mooi groot, helder lig geskyn word op alles wat ek aan die kind gedoen het!!
En NETSO, geen meer wegkruipplek vir my nie! Die egskeiding, my ambisieuse gejaag na mag en ‘n doel, my gesoek na behoort en aanvaarding, my weghol van myself…alles, maar alles het ‘n impak gehad!! Ek het ‘n massiewe aandeel aan hoe my kind die lewe en verhoudings nou ervaar.
Ek, net ek…want hoekom? Ek het ‘n wond van my verlede saam met my gedra in al my verhoudings, maar meer belangrik….die verhouding met myself. Daardie wond van “ek is verlaat,” soos ‘n weeskind by ‘n koshuis afgelaai en niemand het my genoeg lief gehad om my te kom haal nie.(NATUURLIK was dit nie die waarheid nie, ek is VER VAN ‘N WEESKIND af. Ek het wonderlike ouers gehad, wat my uiters lief gehad het, ek het dit geweet…hulle het nie ‘n keuse gehad nie.) Maar desondanks het dit ‘n indruk op my gehad, en ek het daai mooi oorgedra(onwetend.)
Ek is ewig dankbaar
So ons dra definitief die wonde van ons ouers, van ons kinderdae met ons saam. En ons hoef nie so ver te grawe nie, dis orals.
Die wonde wat ek oorgehou het van ‘n kritiese(maar mag ek byvoeg wonderlike optimis en dryfveer) ma, is dat ek ‘n baie duidelike stem van selfkritiek hierbinne my ronddra. En wat het ek gedoen, presies dieselfde aan my kind. Ander het weer ‘n moeder figuur gehad wat nie ruimte in haarself gehad het vir aanmoediging nie, en nou dra hulle ‘n reuse vrees vir oordeel rond. Ander sin was weer gevaarlik afhanklik van goedkeuring en laat ‘n kind agter met swak emosionele grense.
Jy mag dalk ‘n pa gehad het met baie hoë standaarde, wat jou tot vandag laat wonder of jy goed genoeg is, of jy ander se goedkeuring “verdien.” Of as jou pa net die afwesige soort was, mag jy in en uit verhoudings gaan, want jy grawe altyd daardie mense uit wat jy voor jou siel weet, nie emosioneel beskikbaar is nie.
Meer nog, as ons groot gemaak word met die wete dat sekere mense minderwaardig is, dat ons ‘n vrees moet hê vir mense wat anders as ons is, dink en doen…dis dan wanneer lelike goed soos diskriminasie kop uitsteek. Want van een generasie tot die volgende, dra ons hierdie waardes en standpunte oor.
#thesinsofourfathers
Die kalf is in die put
Nie heeltemal nie, ons kan ook van hierdie wonde genees. Ons kan ook voorkom dat hierdie wonde van ons verlede nie ‘n impak op ons kinders het nie. Dat ons nie soos met ons DNS, allerhande “swak” selle aan hulle oordra nie. Ons kan êrens begin om hierdie wonde skoon te maak, die seer te laat uitkom en ‘n gesonder generasie te laat voortleef. #the sins of our fathers
Daar is hoop, 8 Steps to Heal Toxic Ancestral Patterns soos met alles in die lewe moet mens net bereidwillig wees om die ongemak in die oë te staar en om werklik ‘n verskil te WIL MAAK.
So as jy vandag in ‘n ander rigting wil in, ‘n nuwe paadjie wil oopkap ~ hier is ‘n paar voorstelle.
- Net jy kan verander
Soveel mense klou naarstigtelik vas aan die verlede. Aan al die onreg wat hulle aangedoen is, aan die skuld wat hulle op iemand anders kan pak. En die hartseer ding om dop te hou is hoe daardie einste mense, soos iemand in dryfsand, net verder en verder ingesluk raak in hulle mismoedigheid.
Die eerste ding om te besef is dít – as jy van jou eie kinderdae se wonde wil genees, is dit NET JY WAT kan verander. Dit begin nou en hier en met jou.
- Identifiseer die patroon
Ons het almal hierdie mooi uitgelegde gedragspatrone wat ons oor-en-oor doen. Om joune te identifiseer…begin die sin met…
Ek doen hierdie omdat ek ‘n begeerte het…
- Om dinge te beheer
- Omdat ek skuldig voel
- Omdat ek soos ‘n slagoffer voel
- Omdat ek bang is
- Omdat ek vir myself wil bewys ek is nie goed genoeg nie
- Vang jouself uit
As jy eers bewus is van die patrone, maak seker jy kyk mooi na jou gedrag. Raak bewus van wanneer jy hierdie patrone herhaal – wanneer jy jou ma of pa in jou kop kan hoor praat. Wanneer jy gedrag toon omdat jy van iets probeer weghardloop of dit tot die uiterste toe wil vermy.
- Wanneer word die sneller getrek?
Dan natuurlik, hierdie gedragspatrone gaan net kop uitsteek as iets ‘n sneller daarvoor is. Is dit ander mense se gedrag?
Tree jy op uit frustrasie, woede of is jy bloot net ‘n slagoffer van jou omstandighede. Jy mag dalk moet kyk na jou reaksies of selfs begin om grense te stel…vir jouself op te staan.
- Jy speel nie tweede viool nie!
Dis nie selfsugtig om jou eie emosionele geluk eerste te stel nie. As daar mense(familie of te not) is wat giftig is, wat nooit as te nimmer gaan verander nie en jou keer-op-keer in dieselfde gedrag laat verval….vermy hulle, moet nie jou energie mors op hulle nie.
- Vergifnis, nie wraak nie
Nelson Mandela het dit goed besef toe hy by die tronkdeure uitgestap het. Want as hy nie die haat, woede en bitterheid agter gelaat het nie, sou hy altyd ‘n gevangene gebly het.
Vergewe jou ouers vir dit wat hulle dalk aan jou gedoen het, wetend en onwetend. Vergewe jouself vir dit wat jy dalk aan jou mense gedoen het. Gaan skree dit op die bergtoppe uit, of skryf dit êrens neer.
Raak ontslae van die gemors in jou “drein pype” en begin lewe.
Daar is lewe
En as jy alles neergeskryf het, en alles is gedaan…weet net dit, jy is jy en alles wat tot hede in jou lewe gebeur het, het jou gemaak wie jy is. Maar jy kan ‘n nuwe draaiboek begin skryf.
Jy kan jou eie Meet cute van jou eie lewensverhaal skep. Myne gaan so…
“Ek is onverskrokke in my eerlikheid oor wie en wat ek is. Humor is my medisyne en mag ek sag met jou omgaan.”
Hopelik val iemand vir my 😛 en los ek mense ligter agter.
En skielik was ek vry!
#thesinsofourfathers Laat hoor van julle by vryheid@wynvlieg.com, los ‘n boodskap hieronder of gaan krap rond by www.wynvlieg.com