Wanneer was die laaste keer wat jy ‘n brief geskryf het. Een met ‘n pen, ‘n mooie stukkie papier en dit in ‘n koevert gesit en gepos het.
Ai raak ek nou skoon nostalgies oor die jare toe ons die mooi skryfbehoeftes bymekaargemaak het! En toe die posdiens nog gewerk het.

My ma het sulke briewe van haar pa gekry – laaaaaaanges met klomp stories in wat glad nie vir ons sin gemaak het nie. Een keer ‘n week het ek en Ma dorp toe gery, en ek kon daai klein vaal sleuteltjie in die posbus se gaatjie druk, dit was altyd so soel daar op daai stoep, en die wonderwerk van die posbus oopsluit! En daarbinne was daar dalk ‘n brief.
Ek het ook ‘n penvriend(in) gehad in Amerika. Jong dit was ‘n belangrike ding gewees. ‘n Penvriend op ‘n kontinent wat ek net van in die tydskrifte gelees het(TV het effe later in die platteland opgedaag en dan het daai haasore fokkol gedoen vir ontvangs.) Dit was ‘n plek op ‘n kaart, wat anders en hoopvol was.
‘n Geskrywery, vir wat?
Soos met alles, pak ek nie dinge om dowe neute aan nie. Nee, nee daar is altyd ‘n rede agter my malligheid. Soms kom ek so skeef-skeef en met ‘n moewies ompad daaruit, maar êrens raak dit duidelik. #youhavemail
Ene professor, James W Pennebaker, ‘n sielkundige in sosiale gedrag het ‘n boek geskryf oor die helende wonderwerke van skryf. Hoe dit ‘n mens heel kan maak, jou wêreld verbreed en meer konteks en perspektief kan gee. Nancy Davis Kho het hierdie wonderlike projek, The Happy Project begin…dit bewys net hoe een brief op ‘n slag, ‘n mens se uitkyk op die lewe kan verander. Want hier is die geheim, om ‘n brief te skryf laat ‘n mens dink, dis nie net ‘n afgerammel van ‘n paar woorde op sosiale media of ‘n “Share” knoppie wat haastig gedruk word nie, nee dit vat tyd en laat mens bietjie dink.

Ek vind League Of Extraordinary Penpals op die web – ‘n nuwe weergawe van die outydse penvriend. Hier word mense die kans gegun om te skryf – sommer net alles op papier te kry en met mense, wat soos hulle dink, kontak te maak,
EN DIS PRESIES wat ek wil doen! My hartsbegeerte is dat julle iets in my blogs sal raaklees en dink: “Die vrou is my tipe mens, ek dink ons kan goeie stories uitruil!” En dan, dan raak ons penvriende(verbeel jou klein vet engeltjies op wolke, met mooi klassieke musiek in agtergrond!)
En iemand het gebyt!
Ek nooi op my webblad almal uit om my penvriend te raak. En so waar as wrinties, iemand het dit raak gelees en geskryf! Al klaar sommer my tipe mens!
Ps. ons het goed gekrap en uitgehaal en weggesteek ~ so wees nie bevrees dat ek al jou donkerste geheime hier gaan uitlap sonder jou medewete nie! #youhavemail
Hi daar, Wynvlieg!
Ek sien jy gee jouself op ‘n silwer skinkbord uit as ‘n penmaat, ek wil jou opneem daaroor. Ons kan praat oor wyn en croissants en nuwe resepte en boeke en sielkunde en inspirasie. En mense, ek’s so lief vir mense. Sien jou aan die ander kant!
Ek geniet jou voorstellings op jou blog terdeë. Jou pad klink besonders, op alle vlakke! Ek sien uit om meer te hoor.
Laat ek jou meer vertel.
Ek kom van Rustenburg af, dis ‘n plek wat mens blykbaar nie hardop noem nie. Jy kan ons uit Rustenburg haal, maar nie die Rustenburg uit ons uit nie. Ek’s ‘n daddy’s girl, maar groot en sterk gemaak deur my Ma. Dít het natuurlik sy eie uitdagings gehad. Ek sê nou nog jammer in my gebede. My ouers is geskei toe ek 8 was, my boetiebeer 4. Op 6 het my pa ‘gaan geld maak’ in ‘n buurland, waarvan my ouma later in die koerant gelees het. Groot storie. My en my pa se harte praat in grappies en liedjies, dis die diepste én vlakste verhouding in my lewe. Ek dra maar sy seer vir hom, huil sy trane vir hom, want anders weet ek nie hoe om elke nuwe teleurstelling te verwerk nie. Dalk maak my jammers sy oordeelsdag ligter; ek wil hom graag in die hemel sien.
My ma is weer getroud met ‘n regte heer, ek’t ‘n stief boetie so oud soos ek en ‘n half-sussie van 16 jaar jonger.. Sy’s die liefde vanself.
My laerskool loopbaan was vervelig. Ek het baie terug gepraat met onderwysers en ek’t ontsettend alleen gevoel. Ek’t drade gehad, was vreeslik vriendelik, het aan kultuur deelgeneem en kon nie ‘n netbal bal vang nie.
My hoërskool loopbaan was iets om oor huis toe te skryf, maar nie aan my ouers nie! Na dit het ek my identiteit tydelik tussen koue, Vrystaat-stof en die regsfakulteit in Bloemfontein gevind, weg van al my afskuwelike besluite (of gebrek aan besluite, ek besluit nog). Ek het ‘n mediese student meer lief gekry as wat my ouderdom toegelaat het; ons het in mekaar se arms gesit en huil voor ons 2de jaar mid-jaar eksamens en besef ons is nie goed vir mekaar nie. Depressief en met min punte is ek deur die jaar en ontmoet my toekomstige man in Rustenburg op Oujaarsaand. Ons ma’s ken mekaar té goed, het saam skool gehou, so familie kuiers op Rustenburg is ‘n jolige affêre.
Daarna het ek my identiteit verder in die hof in Pretoria gaan soek, maar al wat ek gekry het was antieke, nat sigaret stompies, mans wat aan jou boude vat in die straat, bergies wat hulle broeke aftrek vir klerke en die gatkant van selfsug en armoede. “Ek sit iewers in Muckleneuk, dis Vrydag middag ek’s weer beneuk.” Melktertkommissie-lirieke het my deur klerkskap gedra en my aartappel-en-rooiworsie aandetes by my ouma.
Na 3 jaar in ‘n lang-afstand verhouding verhuis my man ook Petoors toe. Ons koop ‘n huis en bly saam (daar is natuurlik vir ons gepreek), raak verloof op ‘n wynplaas op ‘n krediet-vakansie en trou in ‘n Rooftop Skybar wat oor Pretoria uitkyk. Ek’s nie die prinses-tipe nie, maar hel, ek’t mooi gevoel vir die eerste keer in my lewe, want ek was aanváár. My man is die resultaat van my ma se deurgebid-knieë. My man laat my mooi lyk en brandewyn drink en sonder skoene loop, alles in een aand.
I feel to much to ever unfold gracefully – Cindy Cherie
Wittebrood was seks-loos in Switserland (ek’s nie goed met roetine nie) by familie-vriende van ons ouers. Hulle het ons vir ‘n paar dae Italië toe geneem en dáár smelt die laaste hardheid in my hart. In Italië maak ek vrede dat ek ‘n ongeneeslike romantikus is, en ek belowe om getrou daaraan te bly.
Na wittebrood kry my man ‘n aanbod om in die Kaap te kom werk en ons dink nie twee keer nie. Ons het ‘n worshond en ‘n Weimaraner met tennis name, my man studeer nog aan sy eerste graad en bestuur ‘n petrolstasie. Ek het my regsadviseur pos gelos en gee nou Engels. Ons het geen idee waarheen ons lewens gaan nie, maar vir nou is ons ‘n petroljoggie en ‘n onderwyseres en ons is sielsgelukkig tussen tydlose wynplase, platter lande, platter mense en sonsondergange langs Tafelberg se vuurvliegie-voete.
Sien jou aan die ander kant!
Groetnis xx
Soos die skrywer Marianne Kirby, The allure of an old-fashioned pen pal wil ek ook ‘n belofte maak: Skryf vir my ‘n brief en ek skryf terug.

Jy kan sommer joune stuur aan vryheid@wynvlieg.com of op my webblad los by www.wynvlieg.com. Laat weet as jy wil pos! #youhavemail
Pingback: #lifeislife | Vol 106: Hoe Lyk Jou Uitkyk?
Pingback: #lifeislife | Vol 107: Wees net mens