As almal maar net soos ek gedink het, sou die lewe darem ‘n lekker plek gewees het! Wel so glo ek menige maal as ek met sotte en dwase in aanraking kom.
Want genade kan so ‘n spul ‘n mens se energievlakke tap ~ net onlangs het ek so ‘n tyd beleef. Het soos een met ‘n moerse babbelas gevoel. Net ‘n dag in die geselskap van self gesentreerde melodrama en oppervlakkige, sotlike geselskap en my kop en lyf wou net halt roep.
Maar dan dink ek weer – hoe vervelig sou die lewe wees as ons almal dieselfde was. Waaroor sou ek dan kon skryf? Waarmee sou ek dan my eie “konsert” kon hou?#wisdomistheprinciplething
Ons is nou maar eenmaal ‘n trop
Ek is doodseker ek is nie as ‘n trop gedierte gebore nie. Ek laaik ‘n kudde situasie net mooi fokkol, as almal so saam gejaag raak in dieselfde rigting wil ek net soos ‘n forel stroomop swem so vinnig ek kan. Het jy geweet ‘n reënboog forel swem stroomop om sy eiers te gaan lê, so na aan sy eie geboorte plek as moontlik, aldus The beauty, cruelty of trout migration? Dit op sigself klink vir my na ‘n insig in my psige ~ terug na wat so diep ingeprent is in my DNS. Maar ek dwaal af!
Al ooit gehoor van “stabiele evolusionêre strategie?” (Hel ek hoop ek het die ding reg vertaal!) If natural selection is survival of the fittest, why isn’t everything a competition werp ‘n bietjie lig daarop.
Dit is die natuur se manier om die kudde te laat saamwerk om te kan oorleef. Daar is baie kopstampery, daar is samewerking in sommige situasies, maar dis basies die diversiteit van hierdie gedrag wat maak dat die kudde(of die meeste darem) oorleef.
So in kort – Survival of the fittest. As jy kan aanpas, sal jy oorleef! ?#wisdomistheprinciplething
Dankie vir die wetenskap les, so wat nou?
Wel dieselfde geld natuurlik vir ons. Stel jou voor die hele wêreld was vol ekstroverte! Niemand sou ooit ‘n spreekbeurt gekry het nie en dit sou soos ‘n klomp bye in ‘n korf geklink het. Almal sou waarskynlik soos die battery hasie op en af gespring het, totale chaos en oorbelaai sou ons uitgebrand langs pad gevind gewees het!

Of stel jou voor die wêreld was gevul met introverte. Dan sou ons seker almal op ‘n berg êrens gesit het en sou die monnik bevolking ontplof het! Oorbelading van so ‘n magiese roeping.
Dink ons sal heelhartig saamstem ~ die samelewing is ‘n baie aangenamer plek as ons ‘n mooi balans van die twee het. So ook verhoudings, daar moet die wees wat “gee” en die wat “neem.” 🤪 En het ek nie al dure lesse geleer oor laasgenoemde nie hoor, help nie as al twee ekstroverte is nie, want dan luister g’n niemand nie…lankal besig om jou antwoord te formuleer in jou kop!
In die samelewing of enige kleine samelewing, soos byvoorbeeld jou werksomgewing of jou vriendekring kan dinge slegs soos ‘n goed geoliede masjien werk as daar diversiteit is. Ons het die effe styf besnaardes nodig, net so veel as wat ons die “couldn’t care less” brigade nodig het. Ons het die logiese lot, sowel as die kreatiewe geeste nodig. Die wat vir elke ding “ag shame” en die wat meer logies en rasioneel na emosies kan kyk.
Die hele Smartieboksie is nodig om dinge te laat vlot en ons nie van verveling te laat omkom of moord laat pleeg nie. #wisdomistheprinciplething
Ek laat nie los nie
Gedog ek gaan nou net daar stop nè? O nee, daar lê my ‘n ding op die hart. En dit is nog steeds oor die sotte en dwase, of sommer net die wat wegkruip vir hulleself.
Op hierdie pelgrimstog van my het ek agtergekom ~ vermoedelik het dit al jare by my gespook, dat ons ook persoonlik ‘n diversiteit van waardes, perspektiewe asook geneigdhede moet huisves hier diep binne ons. Maak soms vir ‘n ongemaklike spul, maar dis noodsaaklik om ‘n gebalanseerde lewe te lei en om te groei. Want as ons nie soos Jan se Boontjie rank aanhou groei nie, kom ons dalk nooit by daai goue eier uit nie!? #wisdomistheprinciplething
Kom ek verduidelik – wie van ons het nie al die werklose met ‘n hartroerende plakkaat en droewige gesig by die verkeerslig gesien nie? Aan die een kant voel jy jammer vir hierdie arme mens wat honger moet lei, terwyl jy in oorvloed lewe en in jou kar sit. Aan die ander kant voel jy, magtag man die man kan darem seker êrens ook iets doen vir sy geld. Gelyktydig wil jy ook nie sommer jou ruit afrol om vir hom ‘n geldjie in die hand te stop – net om jou gewete te sus nie, want ons weet te veel van skakings in die land. En dan is jy sommer moerig vir die regering wat al die geld gesteel het.
Wat hier gebeur is dat jou waardes met mekaar begin kabinetsrede hou. Aan die een kant is jy medemenslik, maar jy heg ook waarde aan jou persoonlike veiligheid. Terselfdertyd reken jy ook mense moet vir hulle eie geluk verantwoordelik gehou word en dan tree die verwyt in dat jy darem ‘n selfsugtige bliksem in.
Maar hier is die geneuk – maak nie saak watter een van hierdie waardes wen op die ou einde nie, jy ry daar weg en voel of jy net nie heeltemal die regte ding gedoen het nie.
Wat om te kies?
Daar is twee verskillende maniere uit die dilemma ~ hier volg die nuus Haas Das en Nuuskas!
Opsie nommer een is om soort van fanaties oor jou waardes te raak. Jy kies een en klou daaraan vas asof jou lewe daarvan afhou.
Opsie nommer twee is om vrede te maak met al hierdie teenstrydige waardes wat in jou kop rondmaal ~ heel dag en aldag deur. Om krities te kyk na die wêreld en waar jou waardes vandaan kom, i.p.v. om met oogklappe blindelings te glo wat aan jou opgedis was êrens langs die pad.
Wyse ou uil
Dis waar wysheid die kamer betree. #wisdomistheprinciplething
What Is Wisdom wys daarop dat die woord “wysheid” 222 keer in die Ou Testament van die Bybel gebruik word. En dis nie net in die Bybel waar dit so ‘n prominente plek het nie, dis ook in Islam, in die Hindoe geloof. As julle iets interessant wil gaan lees, hierdie opstel oor wysheid binne die kultuur van inheemse bevolkingsgroepe van Noord-Amerika is fassinerend…. Conceptualizations of Wisdom in the Native
American Community

Die wyse persoon se brein en interne diskoers werk soos ‘n demokrasie. Aan die een kant van die debat het jy dié wat almal wil help, maar dan is daar weer die spul aan die anderkant wat waarsku dat dit nie jou probleem is nie. Dat jy jou neus moet uithou waar dit nie hoort nie, en die ewige debat oor veiligheid. Die regte ding versus die veilige ding vs die moet jou self nie laat gebruik nie ding.
En dis goed dat ons hierdie diskoers binne ons het, want dit maak dat ons gebalanseerd aan die ander kant uitkom. Die alternatief is om soos ‘n fanatikus net in een rigting te donner, want eintlik is jy bang vir al die ander alternatiewe en kruip jy net weg. En soos ons weet is dit nie juis die manier om mense na jou aan te trek of na jou te laat luister nie.
Wysheid is om met al hierdie alternatiewe te lewe, om hulle plek te gee om te praat en dan in die gegewe situasie die beste besluit te maak. Dis om gemaklik te raak met ongemak, om altyd ander perspektiewe na te jaag en om oop te wees vir ander idees of menings. Want slegs as jy dit doen, sal jy wysheid bekom? #wisdomistheprinciplething
Ter afsluiting
In Plato se boek, Lysis, or Friendship sê Sokrates die volgende aan die jonge Lysis:
“If you are wise, all men will be your friends and kindred, for you will be useful and good; but if you are not wise, neither father, nor mother, nor kindred, nor anyone else, will be your friends.”
Hoe wys is jy? Skryf vir my as jy dalk met ‘n grote debat in jou kop rondloop. Die plek om jou skrywe te rig is vryheid@wynvlieg.com. Jy kan ook van my ander wyshede lees op www.wynvlieg.com.
Wynvlieg, dis asof jy in my kop ingeklim het en met my verstand redeneer. Me to a T, soos die Ingelse sou sê. Ek is n Weegskaal, ewig besig om te álles te laat balanseer. Vertel bietjie vir my van aanvaarding van daai “trait”. Ek het gehoor ek is ‘n “enabler”, ek moet “boundaries” stel, snip-snip…sny mense uit jou lewe want jy help fokkol. Maar hoe gemaak met daai ding in my wat sê ek móét help? Ek doen dit nou al skelm!
Ek vermoed daai “ding” in jou kop wat sê jy moet help bly daar want jy is êrens wysgemaak dis wat “goeie mense” doen. En al is jy uitgesproke en grootbek, wil jy tog aanvaar word en hê mense moet jou sien as ‘n goeie mens. So nou elke keer as jy nie help nie, nie altyd beskikbaar is nie, is jy besig om teen daardie wanpersepsie in te baklei.
Die goeie nuus is, mense laaik nogal van mense met grense. Jy hoef nou ook nie ‘n selfsugtige doos te raak nie. Maar wees wys met jou raad, jou hulp en bied dit aan omdat jy regtig wil help en nie jou eie ego probeer streel nie. Jou eie waarde daarin probeer vind nie!