Wynvlieg Vol 94 Cover

Vol 94: Want perfek is nie ‘n ding nie

Verlede Sondag verloor ek toe my varkies heeltemal. My kind, op wie ek so ongelooflik trots is vir sy dapperheid, sy gewilligheid om te baklei met die swart hond en sy trawante en hulle aan die groot klok te hang.

Wat bereid is om met die wêreld te deel, PRESIES hoe hy voel en al deur diep waters vir ‘n 20 jarige jong man is.

Maar kyk toe hy  na ‘n hokkiewedstryd tuis kom en in trane uitbars oor hy ALWEER NIE GOED GENOEG WAS NIE. Toe verloor ek dit heeltemal. Rol die kamera terug ~ ek was daar, ek het die wedstryd gekyk en was nogal ingenome met sy spel. En ek is ‘n mens van hoë standaarde. Ek streef daarna om altyd te verbeter en sommer ook namens my geliefdes. So as daar nou een mens was wat bietjie raad sou wou gee na die tyd, sou dit ek wees. Maar die keer dog ek: “nee wat, vandag was nou regtig goed.”

Maar toe boeta by daai kar uitklim, toe is dit “hoekom kan ek in niks goed wees nie…” En hoekom??? Want hy het EEN KEER die bal te vêr voor ‘n speler aangegee. EEN KEER!

Ek was kwaad. Ek was kwaad dat iemand wat soveel berge al oor is, wat soveel ander dinge kon regkry, toelaat dat perfeksionisme sy waardigheid kom steel. Sy liefde vir die sport en hom as die verloorder agterlaat. #perfectionismisourarmour


 Perfeksionisme is ‘n dief

#perfectionismisourarmour

Brenè Brown stel dit so mooi….

#perfectionismisnotourarmour
#perfectionismisnotourarmour

Want sien perfeksionisme is daai ding wat ons laat glo dat as ons ‘n perfekte lewe het, perfek lyk en perfek optree in alle omstandighede is ons op die wenpad. Dan en alleenlik dan, sal ons alle pyn wat blaam, veroordeling en ons waardigheid aantas, kan vermy. 

Ons dink dit sal ons beskerm, maar wat dit eintlik doen is om ons voete van lood te gee. Dit steel ons genot.

En hier is die ding – perfeksionisme is nie ‘n strewe om te verbeter nie? Dis nie om die beste weergawe van onsself te wees nie. Nee dis ‘n massiewe poging om erkenning en aanvaarding te kry…VAN ANDER MENSE. 

Ons word in ‘n wêreld groot waar mense heel dag en aldag geloof raak vir goeie prestasie ~ of dit nou vir goeie maniere is, omdat hulle sulke ‘n perfekte Christene is, goed is met reëls volg of oor hoe mooi hulle lyk of in sport presteer. 

So wat leer ons….EK IS dit wat ek bereik in die lewe en hoe goed ek daarin is. 

Daarteenoor vra gesonde vooruitgang: “Hoe kan ek verbeter.” 

Perfeksionisme vra eerder: “ Wat sal die mense dink?”

Hierdie onkruid het water gekry

‘n Studie wat in 2019 gedoen is, Perfectionism Is Increasing Over Time: A Meta-Analysis of Birth Cohort Differences From 1989 to 2016 het bewys dat hierdie ding besig is om heeltemal hand uit te ruk. Die wêreld het so gefokus geraak op hoe jy gesien word en êrens het ‘n gesonde strewe na beter, beste in een groot kompetisie ontaard. 

Ek sal graag wil glo ek het ‘n gesonde begeerte om te verbeter. Om vorentoe te gaan. En dis so belangrik dat ons die verskil verstaan. Sodat ons hierdie wapenrusting van perfeksionisme kan afgooi en ons lewens met vreugde en oorgawe kan lei. 

“A “growth mindset”, sees failure not as evidence of unintelligence but as a heartening springboard for growth and for stretching our existing abilities.” 

-Carol Dweck, Mindset: The New Psychology of Success

Dit bring my weer terug na Sondag en daai hokkie wedstryd. Hoekom sou ek so vuriglik kwaad geword het vir perfeksionisme wat ingesluip het daar op daai veld en daarna? Want, Why Being a Perfectionist Can Make You Depressed dit! 

Perfeksionisme meer male sonder tal, lei tot depressie. Dit lei tot ‘n ongesonde vergelyking met ander, dit lei tot angstigheid en LÊ ‘N MENS LAM. 

En ek wil nie my kind lamgelê sien deur ‘n onrealistiese verwagting van homself nie. #perfectionismisourarmour

Mis uit op die lewe

Daar is derduisende mooi boodskappies op sosiale media oor hoe ons elke dag die lewe met oorgawe moet aangryp, hoe die lewe so kort is! 

Almal met goeie bedoeling, maar as ons by daai voordeur uitstap…is ons besig om te lewe of word ons lamgelê? Life Paralysis: What Holds Us Back – wat hou ons terug?

Perfeksionisme saai net verwoesting so ver ons deur ‘n dag gaan. Want natuurlik is daar nie ‘n ding soos PERFEK nie. Dis onbereikbaar.  Bloot omdat niks en niemand ooit 100% perfek is nie. Kyk maar na Simone Bales…’n super atleet. Veronderstel om hierdie ongeëwenaarde atleet te wees in ‘n sportsoort wat oor die perfekte telling gaan. Maar Simone Bales het gewys watter tipe mens sy regtig is en wat haar dryf, Simon Bales’ retirement is perhaps the greatest achievement of her career – Walla! health ~ haar grootste en beste optrede van haar lewe was om teen hierdie gejaag na perfeksionisme op te staan en te sê, ek kan myself nie meer meet hieraan nie. Dit verwoes my lewe.

Perfeksionisme het ook mos die gewoonte om soos ‘n dwelm te raak. Want as ons êrens langs die lewenspad dan nou wel te doen kry met minder wees, met veroordeling of die blaam vir iets moet dra ~ dan jip, net daar is ou perfeksionisme op die voorstoep om ons tog net te herinner dat ons GEFAAL het. Nie goed genoeg was nie, NIE PERFEK WAS NIE. En ons te herinner daaraan dat dit juis die probleem is. #perfectionismisourarmour

Hoe spring ons hierdie ding vry?

Ek sal graag wil voorgee ek is nie ‘n perfeksionis nie. Dat ek hierdie interne strewe het om beter te wees vir myself en niemand anders nie. Nou ja, soos die jare aangestap het, het ek dit wel begin regkry. Het ek wel minder begin omgee wat ander mense dink, ek is minder bekommerd dat ek geweeg en te lig bevind sal word. 

Ek het begin om bietjie meer deernis vir myself te ontwikkel. Ek het bietjie meer veerkragtig geraak. Begin wegbeweeg van minderwaardig voel, van vergelykings tref met ander mense, myself blameer vir ander se reaksies. Begin om so stadig maar seker my onvolmaakthede te begin omarm. 

Ek het begin skoonvee, begin oplet waar perfeksionisme wegkruip in die hoekies van my lewe. 

  • Spelfoute. Sjoe die een bly groot. Uit die aard van die saak, soos ek hier skryf en soos ek dit uitstuur sluip daar hier en daar ‘n spel of taalfout in. Ek moet hulle nou soms net laat gaan. Ek het ‘n ding daaroor mos, want sien êrens is ons geleer dat mense wat nie kan spel nie, dom is. En ek kan nou maar hand opsteek….ek veroordeel mense wat swak spel. So nou moet ek soms net dink…dis ok, niks gaan gebeur nie. Los dit net daar op daai bladsy.
  • Beskikbaarheid. Ek moet 100%, altyd beskikbaar wees vir my kliënte. Ek moet onmiddellik daardie epos of WhatsApp boodskap beantwoord. Ek moet seker maak hulle weet ek is betroubaar, ek is beskikbaar en onmisbaar. Lekker nè ~ want perfeksionisme sê vir my as ek nie daardie dinge is nie, dan gaan ek nie goed genoeg wees nie. Ek gaan nie genoeg waarde hê nie. Maar eintlik kan ek al hierdie dinge wees, sonder om 24/7 beskikbaar te wees.
  • ‘n Skoon huis. Nou nie dat ek heeltemal in hierdie strik trap nie. Maar tog sal ek doodseker maak die badkamers is perfek skoon, of die blomme staan nie in vrot water nie of dat die tafel perfek gedek is. Want wat sal mense van my dink? Dat ek nie omgee vir hulle nie, dat ek nie al duisend balle in die lug kon hou nie?
  • Uit my pad gaan. Breek al my bene, wees beskikbaar, sê ja vir goed wat ek glad nie wou doen of voor kans sien nie. Want ek wil tog nie die ongeskikte een wees nie. Ek wil bekend staan as die gawe een, die een wat altyd sal regstaan. 
  • Gewig. Ek is nou reeds besig met ‘n lang Covid verpesting. En ek vang myself verskeie kere deur die dag dat ‘n paniek my pak oor die kos wat ek nou eet, sonder dat dit deur ‘n ernstige oefen program verbrand kan word nie. Dog ek het daai een al lankal uitgevee, maar nee, hy’s terug. 

#perfectionismisnotourarmour
#perfectionismisnotourarmour

So hoe lyk gesonde strewe na verbetering

Die antwoord is beslis nie om te Kumbaya nie. Om te lewe, beteken om vooruit te gaan. Om vordering te maak, elke dag iets nuuts te leer en voluit vir die wêreld te wys wie en wat jy is. Jou plek vol te staan.

Gesonde vooruitgang beteken jy DOEN DIT VIR JOUSELF. 

  • Jy oefen want dit laat jou gesonder voel. Jy stop jouself nie vol suiker en drank om net weg te kom, verveling teen te werk of te ontsnap nie. Jy doen dit omdat jy waardig voel. Waardig genoeg om ‘n goeie, gesonde lewe te lei. Want perfeksionisme het my nog nooit na sukses gelei in die afdeling nie, dit lei my eerder na nog roomys toe!
  • Gee voor jy gee nie ‘n dooie duit om nie. Ek moet myself soms herinner dat die mense kom kuier omdat hulle ‘n goeie tyd en geselskap soek. Wie gee om as hulle moet help dek aan ‘n tafel?
  • Ek probeer hard om dieselfde energie vir mense terug te gee as wat ek ontvang. As iemand regtig, egtig nooit vir ‘n boodskap stuur om uit te vind hoe dit met my gaan nie, maar my bloot ken as ek iets vir hulle kan doen. Wel dan as ek nie lus is nie, of nie beskikbaar is nie….dan sal ek eenvoudig net sê ek kan nie. Of dood, dood seker maak en buig nie soos ‘n wilgerlat agteroor vir hulle nie. 
  • En ek moet mooi kyk en luister wanneer ek besig is om ander mense te beskuldig, verkleineer en aan die naaste kruis op te hang, bloot omdat hulle nie perfek is nie.

Ons moet eenvoudig ons onvolmaakthede omarm

Kristin Neff het baie goeie werk gedoen oor deernis vir onsself. Volgens haar is daar drie dele tot hierdie deernis. #perfectionismisnotourarmour

Ons moet eerstens sagmoedig met onsself wees. Liefdevol en met deernis omgaan met al ons pyn. Elke keer wat ons onvolmaak, onwaardig voel moet ons dit erken en onsself met deernis behandel. Nie onsself martel en vertel hoe pateties ons is nie.

Ons moet besef ALMAL kry swaar. Daar is nog duisende, as dit nie miljoene mense is wat presies net soos ons voel nie. Om minderwaardig, skuldig of soos ‘n flop te voel is deel van menswees. Elke liewe mens op aarde ervaar dit. 

Ons moet bewus word van al die negatiewe gedagtes. Maar ons hoef nie so verknog te raak aan hulle dat hulle ons hele lewe oorneem nie. Hulle hoef nie ons identiteit te raak nie.

Pak die bul by die horings!

Ek is bereid om al die geld wat ek in die toekoms nog by Lottoland gaan weg stap mee, op die spel plaas. Hoekom sal ek so gewaagd wees?

Wel ek is bereid om ‘n weddenskap aan te gaan, dat elke liewe persoon op hierdie aarde net graag ‘n lewe wil lei waar hulle kan wees PRESIES WIE HULLE IS. Sonder om voor te gee, sonder om so hard te moet probeer….net wees. En net genoeg is.

Is jy dalk ‘n perfeksionis? Wat kniehalter jou nog?  Laat hoor van jou, skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. Jy kan ook van my ander wyshede lees op www.wynvlieg.com

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *