#willpowerisinfinite

Vol 95: Vir wat is ek so slapgat?

Ek het al derduisende male in my lewe gewonder hoekom ek so lamsakkig is. Hoekom my self dissipline so vinnig by die deur kan uitvlieg as dit by sekere dinge kom, maar vir ander dinge kan ek soos ‘n neet vasklou. #willpowerisinfinite.

Kom ons dink nou maar aan die immer gewilde dieet uitdagings. Enige gym wat sy sout werd is bied so ‘n uitdaging aan sy kliënte. Verskeie het al ‘n goeie besigheidsmodel hierin raakgesien en belowe sy kliënte ‘n fantastiese resultaat as hulle net elke dag sou opdaag en verder by ‘n dieet hou wat of vir ‘n haas of ‘n groeiende kleuter bedoel is. 30 dae se vasbyt, jou tande deur kners en daardie wonderlike resultaat is wel tot jou beskikking, net om teen Kersfees weer al daardie gewig op te tel en nog so ‘n paar gramme meer.

Dan vervloek jy jouself vir jou gebrek aan selfdissipline. Jy wonder hoekom jy die enigste mens op aarde is wat nie genoeg selfdissipline het om daardie bakkie skyfies te laat verbygaan of die lekker roomys langs die see te laat vaar nie. Kortliks voel jy soos een groot, reuse flop.

 #willpowerisinfinite

Ek kom daagliks nog hiermee in aanraking deur Tribe Sober en mense wat probeer om die voggies vaarwel toe te roep. Mense wat letterlik in hulle glase Sauvignon Blanc huil omdat hulle ALWEER gefaal het. Hulle probeer met die grootste mag ter wêreld net om nie daai glas wyn te skink, wat so ‘n magtige gewoonte geraak het, dat hulle net eenvoudig nie hulle lewe sonder die “genot” daarvan kan voorstel nie. Keer op keer begin hulle die dag met al die beste intensies in die wêreld, net om teen 5 uur voor die @wynvlieg en sy trawante te swig. Wilskrag moer toe! #willpowerisinfinite


Wat is dit dan met ons?

Ek lees dat Barack Obama gedurende sy presidensie altyd maar in ‘n taamlik voorspelbare uitrusting, naamlik dieselfde kleur pak, gewaar is. Die rede hiervoor was eenvoudig. Hy was van mening sy kosbare brein energie kon op beter dinge spandeer word as om elke oggend ‘n krisis voor die klerekas te beleef. Mensig kan ek nie met daardie een vereenselwig nie – toe my kind so ‘n 5 jarige tjokker was, kon daai mannetjie darem in die oggend voor skool ‘n goeie vloermoer gooi oor die klere wat daai dag aangetrek moes word. Teen die einde van die klerekas oorlog, en dan het die hele kamer reeds gelyk of ‘n bom daar ontplof het, was ek doodmoeg en die snot en trane het gespat. Almal rooi gestoei…en dan het die HELE DAG BY DIE WERK NOG VOORGELÊ!

In hierdie artikel, Here’s How to Have Infinite Willpower, According to Science kom ek ‘n interessante idee tee. Ego depletion is wanneer jou innerlike kragbronne net heeltemal uitgeput is! #willpowerisinfinite

So wilskrag het ‘n gewoonte om net eenvoudig uit te loop. En dan is ons net op die walmpies.  

Is daar ‘n ander kant van die munt?

Een van my gunsteling neurologiese wetenskaplikes, Dr Judson Brewer, werp dalk meer lig hierop ~

(Doen jouself ‘n groot guns en luister na die 12 minute, dit mag dalk net jou lewe verander.)

Wat vir my uitstaan in sy navorsing, is dat ons van kindsbeen af al reageer op positiewe en negatiewe aanmoediging. (Dis nou as mens die negatiewe soort as aanmoediging kan sien ~ net in ‘n ander rigting in.) Ongelukkig het ons samelewing dit in sommige gevalle so ver gevat dat alles nou aangeprys moet word ~ maar hier is waar die kruks van die saak lê. Ons is maar wesens wat van positiewe goed hou en dis bloot omdat ons breine lekker ou stoffies afskei om ons te herinner dat ons die lekker dinge oor en oor en oor moet doen.

Want sien ons brein se hoofdoel is om dinge so maklik as moontlik te maak. Dit moet soveel van die besluite wat ons elke liewe dag moet neem, so effektief as moontlik probeer bestuur. SODAT ons nog wilskrag oor het om net basies besluite te kan maak. Maw…hoe meer besluite outomaties kan gebeur, hoe beter. 

Maar wat ons nou loop staan en aanvang het is om hierdie positiewe bekragtiging effe ver te vat. Ons het byvoorbeeld ons breine, soos klein baba hondjies, geleer om te eet of voggies in ons keelgate af te gooi, as ons angstig is, verveeld is, gelukkig is, hartseer is en NIE bloot wanneer ons honger is nie. En die uiteinde….verslawing, oorgewig en ‘n dieet industrie wat uit sy nate bars. Alles om vir ons net weer te laat gryp na WILSKRAG! #willpowerisinfinite

Fassinerend sê ek vir jou!

Genoeg van ‘n wetenskap les ~ hoop nie ek het julle êrens langs die pad verloor met my professoraat nie!🤪 Dis nou goed en wel om al hierdie te weet, maar dit los nog nie ons probleem op nie nè. Dit laat darem die lig so ‘n bietjie in, maar ek is seker almal sit nou daar en dink….”Ja poplap, maar as daai drang my pak, dan is dit tickets met my!” 

Wat Dr Brewer en soveel ander vir ons probeer inprent, is dat ons meestal logika inspan om ons gedrag te verander. 

Maar gedrag verander net wanneer ons dit met ons emosies doen! 

Ja ons kan al die kennis in die wêreld hê, ons kan al die boeke onder die son lees, ons kan met ons sigblaaie en grafieke soveel sin maak, maar as ons harte nie inkoop nie, kan ons dit maar laat staan. 

En om natuurlik olie op die vuur te gooi, het ons so deur die eeue ook geleer dat dit vreeslik bewonderenswaardig is om te lei en aan die kortste end te trek.  Onthou vir ou Joppie nè? So om ‘n goeie mens te wees, moet jy jou eie ek opoffer, verkieslik êrens jouself op ‘n brandstapel gaan plant en wys hoe jy suffer for the greater good. 

Onthou nog die dae toe dans tot allerhande onheiligheid kon lei en mens die plate in reverse kon speel, dan was daar glo allerhande demoniese boodskappe darin versteek? 

Pret was uit soos koekies in ‘n weeshuis! En tot vandag toe hou ons as samelewing hierdie snert voor as die pad wat gewandel moet word tot ‘n goeie lewe. 

En hoekom is dit snert? Want ons het self dissipline en wilskrag begin vermeng met ons morele standaarde. 

As jy nie jouself kan weerhou of “straf” nie = jy is nie ‘n goeie mens nie.

Lees weer en laat dit goed insink!

Nou is dit net Sodom en Gamorra

Natuurlik kan ons nie net op ons emosies staatmaak nie. Dan het ons een groot gemors op ons hande…ons ken mos darem nou ook die mens. Dit sal een groot orgie wees, mense sal mekaar links en regs oor die kop slaan en die hele samelewing sal uitmekaar val. Ons het dus “waardes” nodig. 

En dit werk soort van, want in meeste plekke in die wêreld gee dit vir ons ‘n stabiele samelewing. 

Maar wat dit ons ook leer is dat alles wat vir ons op ‘n primitiewe vlak goed laat voel, van ons slegte mense maak. In ruil daarvoor laat dit ons skuldig voel, ons skaam ons is vir wie en wat ons is en voel minderwaardig en loop met ‘n skuldlas rond.

Dis juis dan wat die  Sodom en Gamorra kringloop begin – want ons wilskrag begin uitloop en dan dink ons: “fok dit! Ek gaan net eenvoudig nou myself oorgee, is i.e.g so ‘n slegte mens om mee te begin. Klaar gefaal so nou kan ek maar netsowel dit tot in die uiterstes toe vat.”

Of ons plak selfbejammering daar op – arme ek, enigste mens in die wêreld wat so moet suffer….verdien ook mos maar ‘n genotjie so af en toe! 

Slagoffer o lekker ou slagoffer

So siek soos dit klink, geniet ons dit soms om onsself so te martel. Al sal ons dit nie sommer erken nie, laaik ons darem ook daarvan om ‘n slagoffer te wees hoor. Want dan hoef ons nie verantwoordelikheid vir ons keuses te vat nie. 

#willpowerisinfinite
#willpowerisinfinite

As ons so bietjie laat skietgee, as ons afstand doen van die gewoonte om ons moraliteit met ons keuses te vermeng ~ dat net omdat iets ons laat sleg voel of is vir ons, dit nie noodwendig van ons ‘n slegte mens maak nie. Dan moet ons verantwoordelikheid vat. Dan kan ons soos Mark Manson skryf, Fuck Your Feelings, ons emosies ook begin beheer. 

As ons dit nie agter ‘n verskoning van slegte wilskrag of dissipline wegsteek nie, maar vierkantig in die oë kyk. Dan kan ons dalk by die waarheid uitkom. Die waarheid wat agter die emosie sit en wat ons in sommige vernietigende gewoontes laat bly vasval. #willpowerisinfinite

Vind dit, grawe dit oop en los wilskrag

Gaan grawe goed, vind uit wat die duiwels is wat jou jaag. Die duiwels wat maak dat jou wilskrag al sy fut verloor. 

Die punt is jou wilskrag of selfdissipline staan nie ‘n kat se kans teen daardie diepliggende emosies nie. Dis gewoontes wat jou magtige brein nou op soveel vlakke oortuig is van herhaal moet word ~ te josie met of dit goed is vir jou al dan nie.

En hier is waar die wonderwerke begin ~ want as jy nie meer soos ‘n groot, vet fout voel nie, dan sal jy geen rede onder die son meer hê om van weg te hol nie. Dan gaan daai dromme roomys of bottels wyn nie meer nodig wees om alles toe te smeer nie. Want daar gaan niks meer wees om toe te smeer nie.

En tweedens gaan daar geen rede meer wees om jouself te straf deur iets af te forseer nie. Geen meer diëte waar jy vyf blare met vier tamaties en tien amandels hoef te sluk nie (enigste vol maaltyd van die dag!) Of jy gaan nooit weer jouself by een of ander martelkamp hoef in te skryf om jou liggaam te begin beweeg nie. 

Jy gaan goed doen omdat dit jou goed laat voel. 

Voel! 

Begin net goed doen.  Nie goed wat gevul is met suiker en etanol nie. Nie ‘n maniese geoefen, of iets waar jy al die emalje van jou tande moet afbyt nie. 

Maar hoe meer goed voel dinge jy jou lewe mee vul, soos jou liggaam beweeg op enige manier wat goed voel, ‘n kraakvars appel eet,  ʼn wortel uit die tuin pluk of vroeg opstaan om die voëltjies te hoor kwetter…hoe makliker sal jou brein weer daardie gewoontes aan leer.

So maklik soos 

~ vind die mees natuurlike(en gewoonlik goedkoopste) dinge wat vir jou genot bring x herhaling omdat dit jou goed laat voel(sonder inspanning) = wilskrag is soos sonkrag…dit herlaai op die natuurlike manier.

Maak hierdie enigsins sin?  Laat hoor van jou, skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. Jy kan ook van my ander wyshede lees op www.wynvlieg.com

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *