Vol 96: Hoop kry mos kleintjies

As ek een wens kon kry, een iets wat ek soos ‘n towerfee met ‘n staffie aan die mensdom kon uitdeel – wat sou dit wees? Wat sou daai een ding wees wat ek dink die wêreld mee kan doen.

Vandat ek www.wynvlieg.com begin skryf het ~ meer vir myself natuurlik as enige iemand anders. Grotendeels om my eie dinge op papier neer te kry, om dinge te laat sin maak. Vandat ek pen op papier gesit het, het ek darem so êrens ‘n bietjie hoop gekoester dat iemand dalk sal uitreik, dat iemand dalk net so bietjie kan dink: “Ek het my mens gevind!” 

En dit het gebeur! Stadig maar seker het iemand, iets raak gelees en begin uitreik. Van julle het begin skryf om dankie te sê, ander sê weer hulle herken hulle eie stories in myne. En ek besef….wat ek die mensdom sal wil toewens is HOOP. #courageandcuriosity

#courageandcuriosity

Kom ek stel julle aan HOOP voor

Maar voor ek verder babbel – laat ek julle voorstel aan ‘n mede-pelgrim. Haar naam is @YvetteLaubscher en sy was die heel eerste persoon wat kontak gemaak het. Die heel eerste persoon wat hoop kom vind het by @wynvliegoorit. En ook haar hoop met my gedeel het. 


Yvette was sommer my tipe mens van dag een af! Yvette kon saampraat, Yvette het ook ‘n pelgrimstog eie aan myne begin stap. Ons kon dus stories van blase en geskaafde ego’s deel. Ons praat sommer padlangs…soos ou vrinne wat lekker kan lag oor die oppe en affe. 

Sy was natuurlik ook geïnteresseerd in my tatoeëermerk. Vir die wat nie die simboliek daaragter al raak gelees het nie, hier is hy weer.. Vol 44: 2020, Deel II. En as jy deel I wil lees, jy is mos dan op die webblad, so blaai net terug🤪. #courageandcuriosity

Maar vir die wat van opsommings hou ~ ek het hierdie tatoeëermerk laat aanbring, omdat ek myself daaraan wou herinner dat ek EG wil wees en om NOOIT WEER my ware self te verloor of van weg te hol nie.  So toe laat ek vir my ‘n permanente herinnering aanbring. 

(Ek het hierdie ook geskryf Vol 25: Plak ‘N Plakker, Hang ‘N Etiket Om Die Nek ~ was maar vir die wat dink dis erg kômmin om jou lyf met ‘n koerantpapier te laat slaan.)

Ek wou egter nie hierdie “merk” net vir myself skep nie, ek wou ‘n hele bondgenoodskap van pelgrims skep wat presies dieselfde begeerte koester vir hulle lewenspad. Ons moet mekaar kan herken en sê – daar gaan my mense. Ons behoort!

Toe was daar ‘n uitdaging

Nou ja Yvette was ook besig om ‘n paar keuses in haar lewe te bevraagteken en het nes ek gereken @wynvlieg is besig om ‘n hoofrol te speel, wat hy nie verdien nie. Sy wou ook kyk of sy stof in sy oë kon skop en dalk, net dalk ‘n pelgrimstog stap na haar ware ek. En ek gee vir haar ‘n bietjie van ‘n uitdaging – as sy dit tot ‘n 100dae maak, dan sal ek vir haar ‘n tatoeëermerk skenk. Dan mag sy maar een van my pelgrims raak. 😉 

En Yvette daag op in al haar glorie. Yvette byt vas en stap hierdie nuwe pelgrimstog met mening!

En op 18 September 2021 raak Yvette deel van my pelgrimstog. #courageandcuriosity

Yvette aan die woord

Yvette stuur hierdie boodskap na sy haar ink gekry het.

Vandag aan die hang van Tafelberg het ek my sirkel onvoltooid voltooi. Hoe gee mens woorde aan ‘n dag soos vandag. Ek het op die ouderdom van 50 jaar en 127 dae my eerste tattoo gekry! ‘n Sienbare herinnering elke dag aan my lewensreis, dié een van bewustelik/weetgierig/nuuskierig en braaf leef…. Courageous and Curious, die simboliek van die 2 sekelmane op my linker pols.

#courageandcuriosity
#courageandcuriosity

Ek het hierdie dag gevier saam met 2 mense wat my so baie, baie na aan my hart lê en as ek nou beroemd was sou ek die dag en skrywe aan Anelle en Renate wou opdra💞 Die voorreg om ‘n vriendskapsband te hê wat so diep, heg en opreg is, die diep lag en onvoorwaardelik liefde, my grootste cheerleaders. My beker loop oor, uit my sokkies is ek geseën met baie diep spesiale besonderse vriendskappe, niè net die 2 golden girls nie😉 how lucky can one get 🤔

Dankbaarheid was die emosie wat vandag oorheers het. Dankbaar vir 2de (3de, 4de, 10de) kanse, vir nuwe geleenthede, vir mense wat in my glo, vir mense wat my onvoorwaardelik lief het, die voorreg om na die see te kon kyk oor koek en vonkelwyn en in die sagte oë v mense  wat jy weet altyd aan jou sy sal wees, wat vir jou onder in die straat wag …

Mag jy wat hierdie lees vandag weet en onthou daar is altyd weer en weer nog ‘n kans, die HOOP beskaam NOOIT. Dit maak nie saak hoeveel keer jy val nie, solank jy onthou jy moet altyd weer opstaan (al voel dit of jy nie sal kan nie, glo my as ek kon, kan jy ook.)  Wees asseblief eerste en altyd jòù eie mens onder in die straat wat vir jou wag, wat na jou kyk met sagte oë vol deernis, maak jouself jou grootste prioriteit. Mag jy leef vanuit jou eie courage, want jy kan! Maar mag jy ook elke dag leef met ‘n verwagting en onversadigde drang na meer leer en weet …. curious.  Is dit maklik? Nee nooit! Is dit die moeite werd? Ja altyd!!

Vandag weet ek niks is ooit die einde nie, ons kan altyd oor en nuut begin. It’s never over until it’s over love… 

Glo my as ek sê ek WAS daar, daar was meer as een so ‘n dag in my lewe, waar ek geglo het daar bly niks verder  vir my oor hier nie, ek skryf hierdie vanuit ‘n plek van wèèt en ek deel dit omdat ek wil HOOP gee vir ander.

Dit juis #wynvlieg se storie wat my diè HOOP gegee het en hoe sy op persoonlike vlak vir my so groot motiveerder en inspireerder en ja uitdager (moet ek byvoeg 😉) is. Mag ons aanhou om ons stories te deel en so ‘n tribe word van HOOP wat mekaar inspireer om curious en courage leef💫
Wat is volgende wil Wynvlieg vroeg oggend weet …die girl het ook nie einde nie😂

Ek lê met ‘n glimlag en wonder of dit nie dalk nou tyd is om die wynvatjie rondom my middel in ‘n six pack te probeer omskep nie, wat dink jy …. 😁🤔

Daar is altyd hoop

#courageandcuriosity

Ek weet vandag, daar is altyd, maar altyd hoop. Mag nog vele van julle my tribe join. Mag nog vele van julle vir julle self aan die einde van die straat wag.

Dankie @Yvette, jy is ‘n inspirasie. Dankie dat jy kom saamstap het. My beker loop oor.

As daar enige van julle is wat ook hierdie pelgrimstog met ons wil deel, skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. Jy kan ook van my ander wyshede lees op www.wynvlieg.com

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *