Vol 97: Die gawe van tyd

Ek lees hierdie aangrypende stuk, deur Chris Chameleon oor die naweek. Buiten dat dit net eenvoudig ‘n pragtige stukkie skryfwerk is, staan hierdie een sin vir my uit.

“Ons het wel die luukse van ‘n ander gawe, toevallig vir ons beide die groter gawe: Tyd.” #timeisaluxury

Hy raak ‘n ding aan wat ek al jare predik – my huis was een van ‘n gewone middelklas, ons is koshuis toe gestuur op die jonge ouderdom van 6 jaar oud, want dit moes, was te luuks om elke dag dorp toe te ry. Ons het definitief nie in die geld gerol nie en elke liewe sent is omgedraai. Badwater moes in emmers gras toe gedra word, komposhope was nie hierdie byderwetse idee nie, dit was ons leefwyse. Spaar was aan die orde van die dag.

Wat ek probeer sê is dit: ons het dit nie breed gehad nie, ons kon nie links en regs net koop nie, maar die een ding wat in oorvloed daar wás, was TYD vir ons. Opofferings is gemaak om dinge by te woon, om na ons te luister so om die kombuistafel, om ons te leer. Ons het TYD saam spandeer(want daar was sekerlik ook niks anders om te doen wat gratis en verniet was nie) en boonop het ons ver van ‘n dorp gebly. Maar TYD was aan ons kant.

Ek moet ook sê ek het nooit ‘n skerp skaarste van enige aard beleef nie, so ek kan nie uit daardie oord my oordele fel nie. Ek het nog nie in daardie skoene gestaan nie en daarvoor dank ek my sterre. 

Maar ek kyk so rond en besef ons het nie net ouers geword wat graag tyd vir geld verruil nie, TYD het iets geword waarmee ons handel dryf op alle vlakke van ons lewens. #timeisaluxury


Tyd as teevoeter

In al daardie ure der ure wat ek op ‘n plaas alleen moes spandeer het TYD my grootse vyand geraak. Stel jou voor, naweek na naweek sit jy op ‘n plaas gestrand, met geen geselskap behalwe jou ouers sin nie. Daar is geen TV, wel radio en boeke om te lees. Geen diere waarop mens kan ry nie, net ure en ure wat voor jou uitstrek.

Moeder se teenvoeter vir verveling was natuurlik om te werk, so ek is goed in die werk gesteek oor naweke, maar teen namiddag het daardie nuttelose ure so voor my begin uitgestrek. Lank en leeg. Wat ek toe nie geweet het nie, maar wel nou, is dat verveling ‘n soort van angs by ons ontlok.

En daardie angs van nutteloos wees, doelloos ronddobber en gestrand wees het my soos ‘n gees uit die onderwêreld agtervolg – vir al die dae van my lewe. 

Dit het kom lêplek kry as ek daai “wegbreek” naweke in die natuur of op ‘n kampterrein moes gaan spandeer. Almal anders sluk ‘n slaag van verligting en salige genoegdoening – net lê, heeldag lê en eet en drink. Die angs pak my al toe hier teen aand een ~ want hoeveel kan ‘n mens eet en drink en net so doelloos rondsit? Reken ek het teen 19 gevoel ek het reeds my kwota van rondsit gehad en moes opmaak daarvoor.

En wat doen ek toe om die verveling teen te werk, om tog net nie met TYD opgeskeep te moet sit nie. Ek werk soos ‘n besetene, ek oefen asof ek voorberei vir een of ander spele. Maar die grootste teevoeter was sommer net spyse en drank. Bored to death is ‘n studie wat bewys het dat verveling een van die groot redes tot verslawing is.  Hetsy dwelms of drank, en kan ons nou maar fone, sosiale media en suiker hier by voeg?

Sielkundige John Eastwood, van York Universiteit in Toronto beskryf dit so, Never a dull moment: “In a nutshell, it boiled down to boredom being the unfulfilled desire for satisfying activity.”

So dis daai onaangename gevoel waar jou brein voel of hy gaan krimp en jy gryp na die naaste ding wat so bietjie dopamien kan spuit, al is dit kortstondig van aard. 

Maar al kan verveling en effektiewelik TE VEEL TYD op hande die duiwel se oorkussing raak, is daar natuurlik ook ‘n skatkis van wondere wat opgesluit lê in daardie TYD tot ons beskikking. #timeisaluxury

5 Benefits of Boredom spel vir ons uit hoe ons al hierdie ledige ure meer produktief kan gebruik, i.p.v. om na iets te gryp soos ‘n stuk koek, ‘n glas wyn of die foon en vervaard deur die sosiale blaaie te vee. 

#timeisaluxury

Verveling of té veel tyd is ook: 

  •  ‘n Geleentheid om net stil te wees en weg te stap van die gejaag. Dit beteken ons breine kry ‘n blaaskans van die alewige “konneksie” en “besig wees” siekte. Sodat ons ‘n slag ‘n goeie kykie kan gee na die tipe lewe wat ons lei. Sit af die foon, gaan lê daar êrens onder ‘n boom!
  • Dagdroom vir ‘n slag. Jou eie, oorspronklike drome  ~ nie iets wat jy op iemand anders se Facebook of Pinterest sien nie. Net jou eie drome. Genadiglik het my ure onder ‘n pruimboom, met net die lugruim as geselskap(en ‘n lastige vlieg of twee) my verbeelding so goed opgelei, dat hy tot vandag nog vir my uitkoms bied. Probeer dit gerus self!
  • Mense ‘n paar mal dinge te laat doen. Want te veel TYD op hande en die eentonigheid wat daarmee saamgaan, laat mens na iets nuuts of anders verlang. En dit motiveer jou om daai reis tassies te pak, of sommer net op ‘n Saterdag die berge en dale in te vaar. Nuwe dinge, nuwe herinneringe.
  • Wat ek so duidelik soos daglig geweet het gedurende daai jare is dat ek vorentoe wou beweeg. Dat om vasgevang te wees NIE MY DING is nie en dat ek alles in my vermoë sou doen om ‘n vervulde lewe te lei. En tot dusver het ek heel goed gevaar. 

So verveling of soort van TE VEEL TYD is nie ‘n ding om van weg te hardloop of dood te drink en eet nie. Dis ‘n TYD vir nuwe dinge.

Wat jy insit kry jy uit

Uit die aard van die saak is geen verhouding gewaarborg nie en menige ouer het al gewonder hoekom twee spruite uit presies dieselfde huishouding so vreeslik van mekaar kan verskil in gedrag. 

Ons leef sulke gejaagde lewens. Ouers moet hulle malle moere afwerk om tog net die skoolgelde en al die ekstras te kan bekostig. Ma skel soos ‘n viswyf in die oggende om die kinders in die kar en by die skool te kry, jaag soos mal mens werk toe, doen haar ding daar en dan weer terug huis toe vir kosmaak. Pa moet die pot aan die kook hou en so ook die braaivleis vure as ma besig is om op die kroos te skree oor hulle huiswerk nie gedoen is nie. En dan moet ouers darem ook êrens ontspan dan nie – om daai einste braaivleis vuur met ‘n tjoppie en ‘n doppie ini hand. 

En voor ons ons oë uitvee is hulle uit die huis en wonder ons hoekom hulle nie huis toe kom nie, en of hulle vergeet het hoe ‘n telefoon werk. 

Nou hoef ek seker nie vir enige een van julle wat reeds met ‘n skuldlas so groot soos Tafelberg rondloop, te vertel dat verskeie navorsing stukke waarsku teen hierdie TYD skaarste wat ons kinders mee grootword nie.  

Wat ons nie met so 10 minute WHAT ARE THE BENEFITS OF SPENDING QUALITY TIME WITH YOUR KIDS van kwaliteit tyd met ons kinders als kan regkry nie. Chris sê dit so mooi, ons verval so maklik in die strik om net nog te koop, nog te gee…solank ons net nie ons kosbare tyd op ‘n gholfbaan, of ‘n koffiewinkel of die uiters belangrike werk moet opoffer om net OP TE DAAG nie. #timeisaluxury

Daai ekstra tien minute  van kwaliteit tyd of die opdaag by ‘n wedstryd of konsert,  gaan jou kind leer hulle is geliefd, veilig en die MOEITE WERD! As daai berugte tienerjare opdaag gaan daar heel moontlik minder waaghalsige, rebelse gedrag kop uitsteek. Hulle gaan weet hoe om op te tree in die groot, gevaarlike wêreld daarbuite – sal goeie, gesonde verhoudings kan handhaaf, want monkey see monkey do. En wat het van die familie om ‘n tafel konsep geword? Daar waar mens soos beskaafde mense saam eet en gesels oor die dag – sonder die foon en definitief NIE VOOR ‘N TV vasgeplak nie. G’n wonder die vetsug loop letterlike oor nie – wanneer leer ons ons kinders om kos te proe i.p.v. doelloos dit in te stop?

Om besig te wees is ‘n status simbool 

Vra jy iemand deesdae hoe dit gaan, is die antwoord seker 90% van die tyd: Goed, maar so besig. #timeisaluxury

Om “besig te wees” het die nuwe status simbool van die Weste geraak. Ons het ‘n hele Battling the Culture of Busyness kultuur daarom geskep. 

Mense kyk mos darem op na jou as jy besig is. Ten minste is jy oppad êrens heen en as hulle nie byhou nie, skop jy stof in hulle oë!

Maar hoeveel van hierdie “besigwees” maak jou regtig gelukkig? Hoeveel tyd laat dit vir jou om daardie kwaliteit tyd met jou kinders te spandeer, om jou vriende te sien, om in die natuur te wandel, om ‘n siesta te vat, of net ‘n boek onder ‘n boom te lees. 

Want die ding wat mense op hulle sterfbed na verlang of spyt is oor sluit definitief nie in dat hulle tog net nog besiger was nie. Nee, die spyt gaan eerder oor, The 5 Things People Regret Most On Their Deathbed.

Jy gaan wens dat jy ‘n lewe gelei het wat:

  • Net joune was, met vratte en kinkels en al. Jy sal wens jy het nie ‘n lewe probeer lei om ander te beïndruk nie. En dit sluit verseker in om net “besig” te gewees het met werk om tog ander te beïndruk of uit te stof nie. 
  • Dat jy nie so hard gewerk het nie, maar meer tyd met jou familie spandeer het. En veral jou kinders, dit gaan so gou verby!
  • Jy sou graag meer tyd wou hê om te praat. En om jou diepste gevoelens met mense te deel moet jy regtig tyd hê. Want met tyd, kom aandag en fokus en ‘n rustigheid wat mens oop maak vir al daardie emosies wat in jou rigting kom. 
  • Meer tyd met vriende, meer tyd om verhoudings te versterk 
  • Meer tyd om die mooiste herinneringe te skep. Niemand gaan ‘n herinnering aan ‘n betaaldag soveel koester as die herinnering wat gebou is om ‘n tafel nie.

Ons tyd raak min

As mens ‘n sekere fase in jou lewe begin bereik, besef jy TYD wag vir niemand nie. Dit staan nie stil nie en dit is kosbaar.

Gebruik jou TYD soos die wyse Salomo. #timeisaluxury

#timeisaluxury
#timeisaluxury

Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. Jy kan ook van my ander wyshede lees op www.wynvlieg.com

2 thoughts on “Vol 97: Die gawe van tyd”

  1. Wynvlieg, ek skuld jou nog daai brief, maar ek is tans bietjie dwalende… Daai rusteloosheid waarvan jy praat, het my nou. Groot liefde in my lewe is dood, en ek kry nie my kop stil nie. Ek sal jou antwoord op papier, op hierdie een… Sodra ek tot rus te kom. Jy praat met my, vandag, hier… 😢

  2. Hallo Susan, ai man my hart bloei sommer vir jou. Ek is so jammer vir jou verlies. Ek moet tog sê dis so mooi om te lees as iemand van die “liefde van hulle lewe” praat en mens besef daar is tog mense daarbuite wat dit ervaar. So baie mense dwaal maar net deur die lewe sonder om dit ooit te ervaar. Asb skryf vir my…dit hoef nie op papier te wees nie, jy kan sommer net hier skryf as jy wil.

    Soos jy weet is ek ‘n groot voorstander van gevoelens uit-SKRYF. Ek het ‘n gewillige oor!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *