#wherethereisawillthereisaway
Gewig MOET verloor word, want diabetes is op die voorstoep of ons knieë gee in. Dalk is dit sommer net daai allermooiste broek, wat te styf span vir die openbaar. Maar dit sukkel, want dis makliker gesê as gedaan. Al tel die wetenskap en die skaal teen jou opstand, skop jy vas soos ‘n stout kind by die lekkergoed rak. Hoekom MOET jy dan ook so suffer!?
Geoefen MOET daar word, want dis glo goed vir jou hart en hou die vetrolletjie in toom. Jy is ingeskryf by die gym wat die grootste beloftes maak. As jy jou weer kom kry het iets anders voorgeval en kanselleer jy in ‘n oogwink. Jy weet jy MOET maar ai die wil ontbreek.
Geld MOET daar gespaar word anders gaan jou oudag maar bra mistroostig daarna uitsien. Elke maand probeer jy gedienstig en gedwee spaar en jy weet daai bonus moet reguit skuld toe, maar ai jy voel jy verdien darem ook so ‘n spesiale ietsie.
Skool en werk toe MOET daar gegaan word, anders gaan jy nooit die hoogste sport in die lewe bereik nie. In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood en botter verdien. Jy haat elke oomblik, maar daai salarisstrokie aan die einde van die maand hou jou op jou plek.
Jy weet jy MOET minder drink, want die nodelose gesuipery is net onnodig. Jou bloeddruk is deur die dak, jy slaap soos ‘n hond en boonop het jy permanent ‘n kopseer. Maar, sodra daai braaivleisvuur brand, dan roep daai bier…laat hy val waar hy wil!
Die uiteinde – jy FAAL. Jy is duidelik nutteloos en sal ook nooit daai gewig verloor, die voggies vaarwel roep of êrens op ‘n strandoord of in die bosveld kan gaan lê na die aftrede nie.
Jy weet jy MOET, maar jou kop en hart praat nie dieselfde taal nie. En net daar begin die How Self-Sabotage Holds You Back.
Op berge en in dale
Ek reken MOET is soos ‘n Kilimanjaro wat jy moet uit. Wil aan die ander kant is soos ‘n kronkelpaadjie van hoop en moontlikheid. #where there is a will there is a way
Elke keer wat ons dink ons MOET iets doen, is dit gewoonlik omdat ander mense dink dis ‘n goeie idee, omdat dit in die tydskrifte staan en die bewyse daarvan hoog opgestapel is. Maar die geneuk is as jou hart nie inkoop nie, kan jy maar laat staan.
Die enigste pad uit is dat jy ‘n weergawe 2.0 van jouself kan voorstel. Een wat nie soos jou weergawe 1.0 lyk of optree of is nie. As jy dinge WIL verander, is dit heelwat makliker as jy begin dink soos daardie kraakvars, nuwe weergawe van jouself. Dit is wat mens die mag van voorstelling noem. Want as jy wil, neem jy die groot stap om GELOOF in jouself te hê!
Why You Should Make It A Habit To Visualise Your Ideal Future slaan die spyker so op die kop. Die skrywer lig uit dat ons soveel tyd en energie spandeer om die vrees van mislukking te vermy, dat ons soos ‘n soutpilaar in die hede vasgevang bly.
Ons voorliefde vir ondermyning
Ek het dit al voorheen gesê en ek sê dit weer ~ op die pad na ‘n beter, gelukkiger weergawe van onsself, is ons 9 uit 10 keer ons eie grootste vyand. Al ons vrese van die verlede sleep ons saam, al ons vorige ervaringe, al ons mislukkings. Ons vou ons toe in daardie kombersie en raak Jannie-Jammerkak.
Ons grawe ons eie gat, sodat ons ons ego daaroor kan laat struikel en ons begin met ‘n reuse veldtog om ons beste pogings te ondermyn.
En hoe weet jy jy is besig met jou ondermynings poging? Hy daag op met vrae soos:
Hoekom hou ek aan met hierdie gedrag? Hoekom gebeur dit altyd net met my? Ek is ook die enigste een wat so sukkel. Dit sou makliker gewees het as….
Klink dit dalk bekend?
Indien wel, is ek hier vandag met ‘n tyding ~ jy my vriend of vriendin, is vasgevang in jou weergawe 1.0. Soos hulle sê, WAAR DAAR N WIL IS, IS DAAR ‘N WEG!#wherethereisawillthereisaway
Ek sit vas!
Partykeer is dit maklik om al hierdie ondermynings pogings raak te sien, maar ander is meester manipuleerders. Hier volg ‘n paar leidrade.
Die blaam lê êrens anders
As jy geneig is om alles wat in jou lewe fout gaan op ander mense te blameer, sal jy nooit die genot smaak van bevryding nie.
Ja natuurlik is daar drolle daarbuite wat jou lewe hel maak, wat 100% verantwoordelik is vir jou ongelukkig situasie, maar die goeie nuus is, mens het nog altyd ‘n keuse oor wat jou eie optrede of hantering van die situasie is.
Dr Maury Joseph is dit eens, as jy nie die tyd gaan spandeer om na jou aandeel in die situasie te kyk nie, is jy besig om jou eie kanse om te leer en groei te saboteur.
‘n Goeie voorbeeld is die “dienende Martha” kompleks waaraan so baie van ons lei. Ons dien graag, ons help waar ons kan, maar dan voel ons ook onvergenoegd dat mense ons so misbruik en niemand ooit genoegsame dankbaarheid betoon vir ons onbaatsugtige hulpvaardigheid nie. Die les natuurlik is dat ons ook moet leer om goeie grense te stel. Dis ok en merkwaardig om te wil help, maar dan moet ons ook die bewaarders van ons eie grense wees.
Kies die hase pad
Tel jy ‘n patroon in jou lewe op van die hase pad kies, eerder as om vas te byt? Elke keer wanneer daar ‘n bietjie weerstand of opdraande pad in jou lewe kom dan slaan jy eerder op die vlug as om vas te byt? Soos wanneer jy uitvind dis harde werk om ‘n blokkies maag te kry, of wanneer jou baas toe nie jou beste vriend is nie of die ure lank raak by die nuwe werk?
En ja, daar is baie goeie redes om aan te beweeg van giftige situasies, maar hol jy te vinnig weg? Of staan jy terug en maak doodseker jy het genoeg moeite van jou kant af gedoen?
Van uitstel kom afstel
Vermoedelik is hierdie ‘n toestand wat meer as een van ons al beleef het. Jy WEET daai taak moet klaar kom, die sperdatum is om die draai….maar ai, jy kry honderde en duisende ander dinge om te doen.
Ek leer toe ook mos, dat die uitstel siekte ‘n reaksie op ‘n angstigheid is wat ons ronddra. Volgens hierdie artikel, Why You Procrastinate (It Has Nothing to Do With Self-Control) in die New York Times, het dit nie te doen met jou swak self beheer en slegte tydbestuur nie.
Dis meer ons manier om weg te hol van “slegte” emosies om ‘n spesifieke taak. Dit laat ons oorweldig voel. Ons glo dalk ons nie opgewasse vir die taak nie of ons is voel onder druk, of helaas ons twyfel in ons eie vermoëns.
En die maklikste manier uit of weg van daardie aardige beklemming, is uitstel.
Aanval is die beste verdediging
O la, ek ken hierdie alte goed! Daar is iemand in my huis(wel meer as een iemand…die uwe ingesluit🤪) wat soms vasgekeer voel in situasies en dan val ons aan! Die woorde is soos sweepslae en die doel om die “opponent” se ego te krimp tot niks. Een baie effektiewe aanval tegniek is om al harder te praat!
Ons motivering spruit uit verskillende oorde, maar dit het min of meer te doen met ….party van ons is maar net altyd gereed vir die “geveg,” daar is altyd ‘n rede tot ‘n rusie. Ander is weer oorsensitief en neem alles persoonlik op. Maar meestal spruit dit maar uit ons onvermoë om ons eie emosies te ondersoek ….so sarkasme raak ons wapen.
En beweeg ons regtig vorentoe? Of is ons maar net in ons eie loopgraaf aan die wegkruip?
Ek’s ‘n dapper muis
Sommige van ons sukkel ons malle moer af om ook ons behoeftes bekend te maak. Êrens het ons geleer dis beter om maar stil te bly, die minste te wees….maar ons verwar dit so ‘n bietjie met “moenie ‘n drol wees nie.” Want ons het almal behoeftes en dis regtig nie bewonderenswaardig om altyd maar die minste te wees nie. Hê ‘n ruggraat en laat ook hoor van jou.
Stel jou voor jou eggenoot het ‘n groot geleentheid by die werk gereël…sy idee, sy werk. En eintlik het jy vir daardie spesifieke dag of datum ‘n jaarlikse uitstappie met jou vriendinne. Die datums is vas, julle het beide iets aan wat vir julle belangrik is. Jy offer maar joune op, want die regte ding is om jou eggenoot te ondersteun. Reg nè? Sê wie?
Ek’s ‘n dapper muis, kyk hoe stap ek deur die huis…daar is niks waarvoor ek skrik nie. Wat van ‘n man met ‘n plan wat belangriker is joune? Wel, jaaaaaaa…buiten vir ‘n man met ‘n plan. Is daar niks waarvoor ek skrik nie! 🐭
Ek is net nie goed daarmee nie
Nog ‘n geneigdheid wat ons het is om vir onsself BAIE HOËR standaarde te stel as vir ander. Ons glo ons is nie regtig goed in sekere take nie, i.e.g nie so briljant soos ander nie.
Ons begin al met die Negative Self-Talk: What It Is and How to Deal nog laaaaank voor ons onsself ‘n kans gegee het om te probeer. Ons praat onsself reg uit ‘n ding uit…..
“Ek kan ook niks reg doen nie.”
“Ek sal dit in elk geval nie regkry nie, so hoekom sal ek eers probeer?”
“Alweer ‘n gemors van alles gemaak, ek sal ook nooit iets regkry nie?”
Alles het ‘n oorsprong
Nou ja, die ou patroontjie het nie vandag opgedaag in ons lewens nie…ons bou aan al hierdie tegnieke oor jare.
Maar as ons as oorwinnaars uit die stryd wil tree, moet ons WIL. Ons moet vertroud raak met hierdie nuwe weergawe van onsself. Ons moet haar of hom in detail kan voorstel…hoe dit voel om daardie nuwe, bemagtigde weergawe van onsself te wees.#wherethereisawillthereisaway
Skep die detail rondom daardie NUWE JY. Begin om die keuses te maak wat daardie persoon sal maak, wees soos die NUWE JY, trek so aan, begin dinge doen wat net ‘n NUWE JY sal doen. Leef die NUWE JY …want waar daar is wil is, is daar ‘n weg.
En die weg is JY. #wherethereisawillthereisaway
Laat weet my hoe jou NUWE JY lyk by vryheid@wynvlieg.com. Jy kan ook van my ander wyshede lees op ww w.wynvlieg.com.
Baie interessant. En heerlike links om meer te lees. Dankie
So bly jy het dit geniet!!