Ek weet nou hoe Thomas Edison, Alexander Graham Bell , Leonardo da Vinci en dalk meer Friedrich Nietzsche en John Locke moes voel. Daardie groot Eureka effect wanneer iets net begin sin maak ~ dan voel mens om dit met die hele mensdom te deel. So te sê van die dakke af te skree!
Of soos Thomas Edison gesê het:
“We are striking it big in the electric light, better than my vivid imagination first conceived.”
Die groot ontdekkers en filosowe het die wêreld verander, vir die hele mensdom. So ek hoop darem ook om met my kleine bydrae in hierdie blog iemand se wêreld vandag so ‘n bietjie te skuif…ligter te maak.
En wat is hierdie groot eureka oomblik van my…wel dis ‘n lang(erige) storie, maar dis myne en dis ‘n ontdekking oor myself wat ek dink my nog baie leed en wroeging in die dae en hopelik jare wat kom, gaan spaar.
Skuldlas
Soos met alle ontdekkings, is daar natuurlik ‘n gewaarwording eers. Iets wat nie pluis is nie.
My probleemstelling was:
Hoekom voel ek so maklik skuldig oor goed en dan blyk dit of andere weer geen skuldlas met hulle saamdra nie? #lettinggoofguilt
‘n Goeie voorbeeld kom uit my drinker dae…ek sou na ‘n aand se gefuif(waar daar ‘n hele vriendekring met ‘n babelas die volgende oggend was,) met hierdie ongelooflik skuldgevoel wakker word. Skuldig oor ek nie beheer het nie, oor ek dalk nie so lekker alle details kon onthou nie…en omdat ek my liggaam so deur my gat trek. Bekommerd oor my gedrag en skaam vir my self. Maar toe in my nugter dae kom ek agter weinig van my vriende voel skuldig die volgende dag. Alles word afgemaak as ‘n vreeslike lekker kuier…selfs mnr G, wat dalk skoorsoekerig was in sy aangeklamde toestand, sal dit afmaak as niks die volgende dag. Dus, geen skuldlas wat hulle saamdra nie, net ‘n lekker aand. Een vir die boeke. En almal beweeg aan…wel nie ek nie! (of te wel, nie toe ek nog gedrink het nie.)
#lettinggoofguilt
Hierdie skuldgevoel is nie iets wat net beperk is tot daardie episodes in my lewe nie. Nee dit het baie meer verreikende tentakels wat dit om my daaglikse lewe kom slaan.
Dus moes daar navorsing gedoen word, want om met hierdie skuldlas rond te loop, wat om elke hoek en draai sy kop uitsteek, besef ek nou, lê my lam. Dit perk my vryheid in en maak dat ek nie met nuuskierigheid en dapperheid kan groei na die mens wat eintlik ek is nie. Dis swaar om te dra!
Laat die navorsing begin
Waar daar ‘n probleem is, is daar natuurlik ‘n oplossing! Dus begin die soeke na die antwoord en ‘n oplossing. Ek is gereed om die juk van my skouers af te gooi en ligter te wandel deur hierdie wêreld. #lettinggoofguilt
My eerste antwoord kry ek in dié artikel, Guilt.
“Guilt is a feeling people typically have after doing something wrong, intentionally or accidentally. A person’s sense of guilt usually relates to their moral code.”
M.a.w as ek hierdie so ‘n stappie verder vat, die waardes wat by my ingeprent is, was veronderstel om ‘n kompas te wees om my op die “regte” pad te hou, maar ook om my “aanvaarbaar” vir die samelewing te maak. En toe loop draai dit in kroniese skuldgevoelens om.
So wat presies is skuldgevoelens en waar kom dit vandaan?
“Guilt describes a sense of regret or responsibility that relates to actions taken.”
Nou ja, as mens dit so stel, dan klink dit heel rasioneel en eintlik reg. Mens moet mos darem verantwoordelikheid vat vir jou wandade. Want soos die artikel dit tereg stel, Guilt Makes a Heavy Burden. Don’t Let It Drag You Down gee daardie skuldgevoelens jou die geleentheid om jou optredes te evalueer, aan te pas en dinge anders in die toekoms aan te pak. So daar is baie positiewe groei wat uit ‘n skuldgevoel kan voortspruit.
Skuldgevoelens kan jou dryf om vir mense verskoning te vra as jy jouself soos ‘n absolute vark of teef gedra het. Dit kan jou laat stop net voor jy jou had in die kasregister steek om jou maandelikse inkomste so ‘n bietjie aan te vul. Dit sal jou by die werk hou(waarvoor jy betaal word) i.p.v om vroeër te loop om jou naels te laat doen. Dit sal jou ‘n geldjie aan die armsalige by die verkeerslig laat uitdeel en dit sal jou terugdryf en verhoudings herstel.
Maar my geneuk kom, dat ek skuldgevoelens kan ronddra, soos ‘n albatros om die nek. Guilt and How It Affects Us slaan die spyker so op die kop. Ou SKULDGEVOEL is nie ‘n emosie wat op sy eie stap nie, nee, nee, nee…hy maak seker hy bring skande, angs, frustrasie en vernedering saam met hom op die trippie. #lettinggoofguilt
En hulle lyk so….
- Daai ekstra koekie wat in die mond geprop is, raak ‘n skuldgevoel omdat ek geen selfbeheersing het nie. (Teleurstelling is sy maat, ‘n gevoel van frustrasie)
- Daai gymsessie wat ek nie bygewoon het nie, raak ‘n skuldgevoel omdat ek nie genoeg dissipline het nie. (Angs dat ek dalk ‘n paar ekstra gramme gaan optel)
- Daardie epos wat ek nie beantwoord het nie, raak ‘n skuldgevoel omdat ek nie die diens lewer wat ek dink van my verwag word nie…nie betroubaar genoeg nie sien. (Angs dat ek nie goed genoeg gaan wees nie, vervangbaar)
- Daai keer wat ek my behoeftes voor my geliefdes sin stel, raak ‘n skuldgevoel omdat ek nie ‘n goeie ma of vrou is nie. (Skande dat ek nie my verpligtinge na kom nie en so selfsugtig kan wees)
- Daardie “nee” sê vir ‘n uitnodiging, raak ‘n skuldgevoel omdat ek nie ‘n goeie vriendin is nie. (Skandelik!)
- Wanneer ek vir myself opstaan, raak dit ‘n nare skuldgevoel omdat ek dit op ‘n beter manier wou doen. (Vernedering omdat ek nie soos ‘n beskaafde mens kon oorkom nie)
My waarde word dus gemeet aan my onvoldoendheid. EUREKA! My angs vir nie pas nie, nie aanvaar word nie. Van nie ‘n goeie mens wees nie.
So waar het my skuldgevoelens so ‘n negatiewe rigting ingeslaan?
Soos gewoonlik gee Brenè Brown die woorde wat my ontbreek… shame v. guilt
“I define shame as the intensely painful feeling or experience of believing that we are flawed and therefore unworthy of love and belonging.”
Wil my voorkom dit lê alweer in dit waarmee ek assosieer ~ dit wat ek ronddra as deel van my identiteit. Ek dra hierdie skuldlas van skande rond, ek meet myself aan wat ander gaan sê, hoe ek in ander se wêreld inpas en of hulle dink ek is goed al dan nie.
Nou hoe nou gemaak?
Al is ek deeglik bewus van die feit dat ander nie my waarde bepaal nie; dat ek my eie mens is en dit graag uitbasuin, wil dit voorkom of ek maar net besig is met oë verblindery.
So op aanbeveling van Name your guilt gaan ek nou ‘n nuwe paar strategieë probeer. #letting go of guilt
As ek weer ‘n skuldgevoel oor my kry, een wat bly rondmaal…dan gaan ek:
- Dit ‘n naam gee. Ek gaan die deur na al die emosies oopmaak…kyk wat daaragter skuil.
- Mooi bekyk waar dit vandaan kom. Want menige maal wil dit blyk, spruit my skuldgevoelens uit ‘n plek van skande. Een waar ek voel ek het nie aan die verwagtinge van ander voldoen nie. (jammer vir julle dus!)
- Maak vrede en vra vergifnis. Nog ‘n ou frustrasietjie van my ….partykeer is dit maar makliker om eerder wal te gooi en te verdedig as om net jammer te sê. En dalk moet ek myself soms vergewe vir dinge wat ek gedoen of gesê het, want wie is perfek?
- Help ook nie ek herkou aan dinge nie. Dis soos ‘n plaat wat vashaak…die musiek speel i.e.g nie. So ek gaan moet kyk wat ek daaruit kan leer, oor myself, oor ander.
- Om nie skuldig te voel as ek hulp nodig het nie. As my swakhede wys. Dalk sal uitreik help en dan ook ‘n diepe, gereelde dankbaarheid.
- Stop daardie kritikus in my kop in haar skoene. Ja dalk het ek nodig om hard mee gepraat te raak, maar my grootste straf kan ook maar wees hoe ek met myself praat.
Wat ek nou weet
In my strewe om ‘n lewe van uitmuntendheid te leef…om vorentoe te beweeg, te groei, teenwoordig te wees vir alles daarvan en iemand om op pyl te trek…het ek dalk skande my maatstaf gemaak.
Dalk is my verwagtinge ‘n titsel onbereikbaar. Soos ‘n hoogspringer, is die lat nèt te hoog en kap ek dit elke keer met ‘n skuldgevoel af.
Laat my weet of jy ook swaar onder ‘n skuldlas lei by vryheid@wynvlieg.com. Jy kan ook van my ander wyshede lees op www.wynvlieg.com.
Ai, ja. Ek hoor wat jy se, liewe Wynvlieg. Ek het n klein ekstra ratjie in my kop wat ‘gewete’ genoem word, en is hy fyn ingestel? erg!! Groot goeters kan ek verstaan, het eenmaal iemand agter haar rug ‘n b.t.h genoem, ek was baie kwaad. Nouja, by die volgende more het ek begin huil uit skaamte vir myself… heel dag en die volgende dag ook. Want, sien, wat was in my hart as ek dit kon uiter met my lippe. Ten einde raad het ek die dominee gebel, gese ek wil nie n Bybelversie hoor nie, maar kan hy my se wat om te doen.. Hy was jammer vir my en ek kon hoor hy was beindruk met hierdie lidmaat wat haar ‘guts so kon spill’. Hy het toe inderdaad my herinner aan Petrus se verloeening van ons Verlosser… Toe voel ek bietjie beter, maar tot vandag toe wonder ek of ek by haar moet bieg en om verskoning moet vra. Ek besef egter dat dit van een duiwel tien sal maak en besluit daarteen. Vandag, omtrent 23 jaar later, kan jy glo, pla dit my nog soms. Ek dink die geweteratjie word van erens af voorsien met olie.. 🤔.
Daar is nog storietjies waar die een vandaan kom, maar ek gaan hul liefs wegbere.
Wees geseend! 🌹
Oh hemel Marie, dit klink PRESIES nes ek!! Die week het ek wragtag weet my uiterse best probeer om tog nie so ‘n ge-oliede gewete te hê nie. En jy weet dis vir my ‘n vreemde ding, ek kan rasioneel uitwerk dis ok om nie altyd gaaf en goed te wees nie, maar ai as ek net die verdomde gewete kan oortuig!!
Vertel gerus meer!!!
ps en jy is so reg, partykeer met ons gesus van ons eie gewete, is ons besig om meer stront aan te jaag as wat nodig is!