“Gee vir haar ‘n vyftig Randjie,” hoor ek Johan Stemmet vir my sê!
100 blogs – wie sou dit kon raai!? Daar is nogal heelwat betekenis daar. In die numerologie(daai geloof aan nommers met betekenis), verteenwoordig die getal 100 ~ vasberadenheid, onafhanklikheid en ook onskatbare potensiaal. #celebrating100isathing
Dis presies hoe ek voel, vasberade om nog meer te skryf…onafhanklik was ek nog altyd, maar ek vat hom! Maar die meeste van alles glo ek in ONEINDIGE POTENSIAAL!
Vir die van julle wat maar eers onlangs hierlangs kom stap het om by ons lotte pelgrims aan te sluit ~ hierdie is vandag jou kans om so saam-saam bietjie terug te kyk. Nostalgies te raak, oor hoe ver ons gekom het, of dalk net weer daaraan herinner te word dat ons almal saam is op hierdie tog van die lewe. . #celebrating100isathing
Waar dit alles begin het
#celebrating100isathing
Ek stel my sò voor aan die gehoor…. “Ek is 47 jaar oud – op die oog af heel gebalanseerd, suksesvol, wonderlike beroepslewe, ‘n familie om voor dankbaar te wees, fiks en gesond genoeg en darem nie te onaardig op die oog nie. Maar hier is die ding, dis alles oë verblindery en hulle sê mos hier na 40 en so nader aan die 50 begin mens so bietjie vrae vra, rondkrap in jou binneste en begin die naderende “goue jare” so bietjie aan mens vreet !”
Stadig maar seker begin ek my vuil wasgoed uit hang vir julle almal om te sien. En daar ontmoet julle my Vol 1: Wynvlieg#Oorit – Die Groot Liefde, Die Een ‘n Eerlikheid wat ek toe hoor eggo deur die klowe, en ‘n erkenning dat ek Vol 6: Moeggedinkaandrink! #Tiredofthinkingaboutdrinking is.
Nog ‘n bult om te oor
#celebrating100isathing
Wel letterlike en figuurlik, begin ek toe met die ander worsteling. Die bulte jy sien, daai ewige bulte en haelskade en goed wat dril!! Vol 27: The Shape That I’m In Ek besef ekke is ‘n peer – wel dalk meer van ‘n lepel…laasgenoemde dalk meer gepas, want ek kan ‘n lepel handig hanteer as dit by die kospotte of die roomysbak kom. Met die pelgrimstog het ek toe my lyf ook raak gestap en besluit: basta met dit…’n peer gebore, ‘n peer gelaat staan. (Wel tot daai dag, toe ek besef ek kan ‘n lepel ook wees as ek wou🤣)
En natuurlik is daar baie ander van julle wat julle eie bulte moet oor. So baie keer is daar net verwyte, skande en skaamte en oordeel van ‘n samelewing. Ek wou ook net sê Vol 28: Ek Sien Jou, Jy Tel Ook Ek wil vandag en elke dag graag deur hierdie blog vir soveel vroue met harte wat seer is en wat swaar dra sê: “Ek sien jou. Jy is waardig.”
Hoe lyk jou vriendekring?
Jim Rohn, ‘n bekende Amerikaanse entrepreneur, besigheidsman en later motiveringspreker is wel bekend vir die volgende uitlating: “We Are The Average Of The Five People We Spend The Most Time With.”
Ek sit toe ‘n bietjie met hierdie gedagte en dog so by myself – shit suster, hierdie is nogal ‘n diep ding dié. En dis nogal effe, so ‘n bietjie en dan sommer ‘n baie vreesaanjaende gedagte. En een ding is seker… Vol 34: Meng Jou Met Die Semels En Die Varke Vreet Jou Op
Maar aitsa, die belangrikste vriend in jou vriendekring is toe altyd JY! Vol 22: My Beste Vriend Is Genaamd, Die UWE EK! Op die pelgrimstog besef ek oor en oor, die belangrikste verhouding wat ek in my hele lewe gaan hê is met myself. En is dit nie verbysterend hoe ons almal hierdie verhouding afskeep nie? In die meeste gevalle sou ons mense wat in sulke toksiese verhoudings is, aanbeveel om na die naaste sielkundige te hol of te gaan aangee vir mishandeling!
Maar die pad het ook sy duwweltjies gehad!
#celebrating100isathing
Ook darem nie gereken ek gaan skotvry daarvan afkom nie! Nes Rooikappie, met haar oulike mandjie en vrolike gehuppel…het die ou wolf van “kwesbaarheid” toe agter die boom gewag! Daar kry ek my eerste stukke HAATPOS, Vol 31: Hou Op Skryf, Dis Net Swak. ‘n Ene Meneer A, was van mening my skrywe is blote snert. Hy het ook aanbeveel ek moet maar eerder die platform verlaat.
Daar steek toe ‘n lelike kwesbaarheid sy kop uit. Is die woord KWESBAAR nie net só ‘n mooi beskrywende woord nie? Maak sommer daardie nare gevoel van weerloos wees, soos ‘n bokkie in ‘n jagveld, tasbaar.
Maar ek weet toe reeds dat Haruki Murakami die bekende Japanese skrywer reg was met sy waarneming: “What happens when people open their hearts? They get better.”
Ek weet ook dit: ieder en ‘n elk van ons het ‘n skeut pyn agter die rug. ‘n Mens kom nie deur hierdie lewe sonder dat jy êrens jouself bitter jammer gekry het nie. Ons het ‘n keuse of ons soos ‘n slagoffer of ‘n oorwinnaar wil optree. Vol 58: Wees Bedag, ons het almal keuses in die lewe. Ons kan kies om òf dit wat ons verloor het, of dit wat ons nog het raak te sien.
Vol 64: 13 Skadukante die het ons almal! Ek wou graag ‘n lig skyn op van die moontlike verstekelinge in ons skadukant-stoorkamers. Ons almal het bose dinge wat in ons skuil – soms kry ons so ‘n vinnige kykie uit die hoek van ons oog na hulle en soms kom hulle in alle glorie na vore. Meestal maak ons of die donker deel van ons nie eers bestaan nie. Ons ignoreer dit soos ‘n dronkie ‘n stopstraat ignoreer. Alles uit pure vrees, skuldgevoel of ‘n diepte skaamte. Ek kon my skadukante sommer oral eien – maar ek nooi hulle daagliks uit om in die “lig” te kom staan en met my persona te kom dans.
Wat ek hoop ons al raakgeloop het
Die een dag is jy nog op die wieke van die wind. Jy is jonk, suksesvol, jy bestuur die kinders en huishouding soos ‘n top uitvoerende beampte. Net om ‘n paar dae later wakker te skrik en met ‘n loodswaar gemoed te wonder – wie is ek, en waarheen is ek oppad? Vol 51: Die Krisis Van Die Middeljare het toe geslaan! Dit weet ek nou ~ hierdie is nie die einde van die pad nie. Die son sal altyd weer skyn en as ons die wetenskaplikes kan glo, dan is ons oppad boontoe! So net ‘n re-branding is nodig!
Boonop is dankbaarheid die nuwe wonderkuur. Daar word nou wyd gereken dit hét nog altyd en kan ook ‘n groot invloed op ons geestesgesondheid hê. Dus het ek ‘n Vol 77: Dankbaarheid’s Maand van stapel gestuur. En julle het nie teleurgestel nie!! Was so goed om almal se stories van dankbaarheid te lees. En ek kry Vol 74: ‘N Brief In Die Pos – wel eintlik ‘n paar🤪.
En wie het nie al gewens hulle kon die klok terugdraai en ‘n jonger weergawe van hulleself wees, maar met die wysheid van die grysheid nie? Die vraag bly, Vol 85: Kom Spyt Regtig Altyd Te Laat? Ek besef dat ons heeeeeeeltemal te veel belangrikheid en tyd aan al ons foute en misstappe in die lewe afstaan. Maar o wee, ek is maar nog besig met kleine baba treetjies in die rigting van “skuldloos” lewe.
Hoop, hope vol hoop!
As ek net een ding in die hele wye wêreld voor kon wens. Net een ding wat definitief sal wáár word, dan sal ek die mensdom HOOP wil toewens.
Want Vol 96: Hoop Kry Mos Kleintjies
My wens bly en sal wees, dat ek deur hierdie blog vir julle almal ‘n bietjie lig in die duisternis kan skep. ‘n Beter verstaan van wie en wat ons is. Deernis vir mekaar, ‘n oop kop en natuurlik ‘n plek om jou moeë siel te kom rus.
Dankie, dankie, dankie vir elke liewe mens wat tyd afstaan om my skrywe te lees. Cheers op die volgende 100! #celebrating100isathing
Dit raak maar alleen so aan die kant, skryf asb. gerus na vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.
Baie dankie vir die blog, dit laat n mens elke keer met n kougoedjie, met meer positiwiteit, veral as jy jou self so kasty.
Vriendelike groete
Adele
Ah Adèle baie baie dankie! Beste plek om gewoonlik te begin is by die self! 🤣Hulle sê mos hoeka…vee eers voor jou eie deur!