Vol 101: Opsoek na Geluk

Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar. Die een ding waarna ons almal, sonder skroom bly soek, is GELUK.

Dit is selfs doer in 1776 reeds in die Verklaring van Onafhanklikheid van Noord-Amerika, Life, Liberty and the pursuit of Happiness as een van die basies regte van die mens opgeteken. Iets wat ons almal(wel ten minste dan in Amerika 🤪 , geregtig is op.)

#inthezone

Al agtergekom hoe harder ‘n mens daarna soek, hoe meer blyk dit jou te ontwyk? 

Ek is seker julle het al hardlopers(daai marathon soort) hoor sê, hulle was “#inthezone?” En as mens eers daar is, raak jy skynbaar nie moeg nie. (Wel ek was al “#inthezone,” teen ‘n afdraad af ja!)  Mihaly Csikszentmihalyi, ‘n sielkundige, wat spesialiseer in The Psychology of Flow ~ wil voorstel dat as ons weliswaar in die sone is, as ons regtig gelukkig is IN DIE OOMBLIK, weet ons dit nie.  Dis eers na die tyd wat ons besef, dit was ‘n goeie, gelukkige oomblik. 

Dink maar so bietjie daaraan.  Jy  verorber ‘n hele reeks op Netflix, jy kuier rondom ‘n vuurtjie met vriende en die tyd vlieg.  Of jyword wakker en hoor die voëltjies fluit…in daardie oomblik is jy gelukkig. Jy is as’t ware “#inthezone!” 


Te gefokus

Nou as ons heeldag en aldag opsoek is daarna, hoekom sukkel ons so om dit te vind? Om in daai sone te kom?

Sielkundige, Iris Mauss waarsku dat as ons te gefokus bly op geluk, en ons dryfveer in die lewe die ewige soeke na geluk bly, ons hoogswaarskynlik ons gatte gaan sien! Want sien die geneuk is, ons loop soek dit gewoonlik op die verkeerde plekke. AS DIT OF DAT GEBEUR, DAN SAL EK GELUKKIG IS!  Ons jaag al die “groot” goed na, maar al wat ons regkry is om ons eie sterte te jaag! Want as ons elke vyf minute, of paar maande byvoorbeeld van werk verander, of weer trek of geluk oor die ander bult gaan soek, gaan ons net al meer geïsoleer en alleen voel. Want geluk lê nie oor die bult nie. 

Ons vergeet soms dat geluk in die alledaagse lê. Dan Gilbert skryf in sy boek,  Stumbling on Happiness, dat ons breine op gereelde basis die pot heeltemal missit. Dit het eintlik geen idee wat ons regtig gelukkig gaan maak nie. Ons oorreed onsself dat daardie nuwe werk, daardie nuwe huis, daardie nuwe land ons gelukkiger gaan maak. En ja, gedurende die “wittebrood fase” gaan dit voor die wind. Dis net roosblare en geluk oral oor….maar so ‘n paar maande in, dan besef ons die gras is toe nie groener aan die ander kant nie. 

Dis nou alles goed en gaaf ja

Pragtig, nou voel selfs ek sommer af. My ma het altyd gesê jy moet gelukkig wees in die hier en nou, jy moet geluk vind in die klomp huis takies wat sy vir jou uitgedink het. Dit het my net opstandig gemaak ~ ek het groener, beter, met meer liggies opwinding gesoek. Ek dink altyd aan die fliek, As Good As It Gets. Daar is ‘n oomblik in die wagkamer van die sielkundige, wat die hoofkarakter vir die redelik depressiewe lot in spreekkamer vra: “What if this is as good as it gets? “

#inthezone
#inthezone

Moer snaaks ja, maar soms ook iets wat mens lamlê ~ want wat as hierdie lewe, hierdie werk, hierdie droë alledaagse lewe jou lot is. Wat if THIS IS AS GOOD AS IT GETS??

Soos met alles, of wel die meeste dinge dan, lê geluk natuurlik binne jouself. It’s an inside job!

En boonop het ons een magtige wapen wat ons tot ons voordeel kan inspan. En raai wat, ons noem dit ONS BREIN!  Stel jou nou voor nè…wie sou nou kon raai dis so eenvoudig??

Is julle gereed?

Vandag is die dag, wat ons by Staci Danford van, re wire your brain re invent your future ‘n paar truuks gaan leer. 

Dié vrou is een van daai wat so oorloop van die geluk en dankbaarheid, dit maak mens so effe naar. Nee ek dink daai is jaloesie of sommer net gewoonweg suur! 

So dalk, net dalk as ons haar raad volg, kan ons ook in tutu’s ronddans en reënboë orals sien. #inthezone

Laat ek julle gerusstel, sy is nie ‘n Dowwe Dolla nie. Nee, nee sy het ‘n groot graad en werk met die brein. M.a.w, hier is wetenskap t.er sprake.(Maar nou het ons al met die hele inentings debakel agtergekom, daar is verskeie mense wat nie juis veel erg het aan die wetenskap nie🙈) Sy stel voor ons werk met die chemikalieë in ons brein – hulle is reeds daar, ons moet hulle net so ‘n bietjie oemf gee!

Ek deel haar raad graag….kyk of jy krag het om dit aan te pak en rapporteer terug!

Truuk nommer een: Word wakker met ‘n lied in die hart

In plaas van jou wekker op daai skrikwekkende blê-blê-blê geluid te stel, vind eerder ‘n deuntjie. ‘n Lied wat jou hart laat sing, of jou met ‘n glimlag laat wakker word. Sy waarborg om met ‘n deuntjie wakker te word, wat jou gelukkig en vredig die dag instuur, sal jou brein sy deel laat doen. Daardie chemikalieë sal jou vir 6 ure daarna nog dra.

Truuk nommer twee: Lag ‘n slag

Maak ‘n punt daarvan om na simpel grappies te kyk, of jou gunsteling komediant se YouTube kanaal te volg. En aan oppervlakkige memes is daar nie juis ‘n tekort nie. Gelukkig is ons ook ‘n nasie wat teer op humor.

Want as jy effe af voel, of voel die dag druk jou in ‘n hoek vas, gaan delf daar waar die lag lê. Daai endorfiene gaan vir jou skop tot in die geluk in!

Truuk nommer drie: Vitamien D

Iets waarvan ons in oorvloed het in hierdie land is sonskyn. Climate of South Africa wil beweer ons het 124 dae van sonskyn(gemiddeld) per jaar. En soos ons almal weet, die son gee vir ons Vit D! THE IMPORTANCE OF VITAMIN D TO YOUR HAPPINESS AND HEALTH kan nie onderskat word nie, en dis gratis en verniet vir ons.  Het jy geweet, 90% van ons Vitamien D voorrade kom van die son af??

Gaan bak in die son of vind daai kolletjie in die park. Maak seker jy slurp dit op! 

Net ‘n voetnota: Die winter (wat nou nog nie verby is nie!!) in die Kaap kan mens regtig besteel van Vitamin D hoor!!

Truuk nommer vier: Daar is ‘n reukie in die lug

My aarde leer ek nou ‘n ding! Volgens Staci is reuk die sintuig wat jou brein chemikalieë die vinnigste aktiveer! Direkte stroombaan soontoe.

Dink maar net hoe die reuk van iets jou binne sekondes kan terugvat na ‘n plek in jou vêrre verlede. ‘n Eerste groot liefde, die brood wat jou ma gebak het, lente blomme om ‘n “heerlike lente” te kan sing, jou eerste koffie in die buiteland. 

My kind het byvoorbeeld ‘n liefde vir die reuk van Lemon grass. Dit kom van ‘n vakansie oorslaap in Bangkok. Hy het soveel goeie herinneringe aan die stad, dat hy nou om elke hoek en draai ‘n kers of ‘n hande was seep soek met die geur…net om daardie serotonien weer vry te stel…kunsmatig ja, maar dit laat die brein goed voel.

Wat is jou gunsteling geur? Kry ‘n kers, koop ‘n parfuum…myne is Viktor&Rolf se Flowerbomb. Dit laat my aan New York en goeie tye dink.

Truuk nommer vyf: Wat stel die plate joggie voor?

Dans asof niemand vir jou kyk nie! Dis mos nou waarna ons almal strewe. Maak vir jou ‘n oudtydse “play list,” met hêppie musiek op. Die soort wat jou voete laat jeuk, wat jou hart laat sing. En speel dit in die oggend, oppad of sommer net as jy bietjie angstig voel. 

Toe ek vroeër die jaar begin perdry het, na so bietjie van ‘n twee jaar hiatus, was ek maar effe skrikkerig vir die storie. Want dis ‘n perd van ‘n ander kleur op my ouderdom. Vir die wat iets weet van perdry – die probleem is hoe meer nerveus die ruiter, hoe wilder die perd. Dus het ek geweet, ek sal myself moet kalmeer en al die hêppie hormone laat werk voor ek daar aankom. My luistergenot het gekom in die vorm van 2 tema-liedjies….Funkytown- Lipps Inc (original) en Solomon Burke ~ Cry To Me. Teen die tyd wat ek die perd moes opsaal, was ek hêppie klêppie!

Truuk nommer ses: Spieëltjie, spieëltjie aan die wand

Verlede jaar werk ek deur die boek, Rewire Your Mind: Discover the Science and Practice of Mindfulness Dr Shauna Shapiro. Een van die oefeninge verg dat ‘n mens voor die spieël moet gaan staan, met jou hand op jou hart en vir jouself die volgende sê: Ek is lief vir jou. 

Laat ek nou maar vir jou vertel – probeer dit gerus. En as jy nie na huil voel nie, dan weet ek nie so lekker nie. Want sien ons dink aan duisende goed per dag…en die hartseer daarvan is, die meeste is negatiewe gedagtes. 80% of Our Thoughts Are Negative – Control Them! , meld dat ons ongeveer 12,000 – 50,000 gedagtes per dag het, waarvan 80% negatief is. Goeie hemel!!!!

So daardie een boodskap van liefde en omgee elke dag, mag dalk net die persentasies in ‘n ander rigting dwing. 

As jy dit verder wil vat – skryf verskeie positiewe, gelukkige boodskappe op notas en plak dit vas op die spieël…die truuk bly die spieël ~ want jy moet jouself vierkantig in die oë kyk, sodat jy die konneksie kan maak. 

Dis binne bereik

As mens eers hierdie gelees het, dan voel jy so effe in die steek gelaat. Mens verwag darem iets meer aardskuddend, iets wat dinge gaan skuif! 

Maar helaas, geluk lê in die alledaagse. Dit lê in die klein veranderinge. 

En soos met alles in die lewe, moet mens maar konsekwent bly. Elke dag, bietjie vir bietjie en voor jy jou kom kry is jy dalk “#inthezone!”

Waar vind jy jou geluk? Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *