Ek gee nie ‘n dooie duit om wie of wat jy is nie, ek wed jy hou maar van jou roetinetjies en gewoontetjies.
Let maar goed op hoe sien jou vroeë oggend ure daarna uit. Vandat jy jou oë oopmaak is daar ‘n goed ingemesselde roetine. Myne lyk so…tel foon van die vloer op, porselein troon se kant toe…sit daar met sulke wasige oë, soek na die gym se toep en wonder watter wroeging voorlê. Eis reeds my alkoholvrye dag en dan gou ‘n vinnige kykie na Facebook en Instagram…5 minute later is ek reg om die gymklere aan te trek…die Vitamien B tablette te kou en my water te kry …in die kar, oppad om my dag te begin. Klokslag dieselfde storie!
Dan is daar die naweek roetine wat ‘n koffie in die bed insluit. Vader alleen weet, ek voel of ek uit my vel gaan klim as ek nie daardie spesifieke roetine volg nie. Wie begin ‘n naweek sonder ‘n koppie boeretroos!?

Ons vat dit ‘n stappie verder
Om die waarheid te sê ons laaik ‘n gewoonte so baie, dat die hele bemarking wêreld ‘n hele party gooi om vir ons die lewe net makliker en gemakliker te maak. En so vang hulle ons in die wip. Onder die dekmantel van Convenience is daar koffie op ‘n galop, almal in die woonbuurt slaak ‘n sug van verligting as daar ‘n nuwe Woolies in die omgewing oopmaak. Dank vader vir die aanlyn winkels waar ons na hartelus kan koop, vir die bank se toep – mens kan sommer so in die ry jou skuld vereffen.
Annie Grace is heeltemal, 100% reg as sy opmerk ons roetines kan van groot waarde wees, totdat
Routines are Helpful—until they Start Hurting Us. Want sien ons vat al die roetines so ‘n stappie verder, ons wil nie meer moeite doen nie. Ons vermy alles wat net te moeilik is…wie wil dan nou enige moeite doen om resultate te kry?
Ons lewens het een groot sinneloos gejaag na niks geraak nie. Van my oggend roetine daar op die porselein troon, tot die sinnelose geëet as ek nie honger is nie, of die reik na ‘n foon sodra daar ‘n breukdeel van ‘n sekonde sonder aksie is.
Vinnige oplossings
Die hele dieet bedryf sou seker lankal gesink het, as daar nie belaglike beloftes van “#quickfixes” was nie. Sluk ‘n pil hier, of verhonger jouself net vir 4 weke voor daai groot dag…gaan lê op jou rug en hoop daai masjien by die spa dril alle haelskade weg.
What Happens when we try to Heal with Quick Fixes is natuurlik reg, met hierdie #quickfixes, los ons eintlik nooit die regte probleem op nie. Ons gooi net nog ‘n glas wyn in ons keelgate af, want ons verdien dit na ‘n lang, uitputtende dag…moet net afskakel. Ons oortuig onsself daar is geen pret in die lewe as daar nie ‘n sigaret by ons lippe uithang, of as ons nie soveel suiker en ander lekkernye in ons keel kan afgooi nie. Ons raak snert soos: “Aan iets moet ek tog doodgaan” of die “Die lewe is te kort om myself nie hierdie ou genotjie te gun nie,” kwyt.
Ek kon darem al van een kleefband in my lewe ontslae raak. Vir jare het ek wyn oor alles geplak, outomaties na daardie glas gereik as daar ‘n goeie restaurant ete voor my neergesit is…verveeld, skink ‘n glas…iets om te vier…waar is die vonkel? Moeg en uitgeput…verdien ‘n glas. En glo my vry, ek is nie alleen nie. Niemand het mos ‘n probleem nie…maar wanneer begin jou roetines en gewoontes jou meer skade berokken as wat dit jou goed doen is dit tyd om dinge te bevraagteken.

Waar is die goeie gewoontes dan heen?
Laat ek nou maar eerlik wees, om ‘n gewoonte te vorm gebeur in ‘n oogwink. Volgens hierdie artikel, How Long Does It Take for a New Behavior to Become Automatic vat dit ons enige iets tussen 18 – 254 dae om ‘n nuwe gewoonte aan te leer. En jy raai reg, dit vat langer om die gewoontes wat meer “moeite” verg te vorm as die wat bitter min inspanning vat. En dit vat ‘n volle 66 dae om ‘n gewoonte af te leer. Dié dat dit so maklik is om daardie oggend koffie ‘n ritueel te maak, maar om op te staan vir ‘n gymsessie vat laaaaaaaank voor dit outomaties gebeur.
Niks nuuts wat ek julle nou vertel nie nè? As jy elke Maandag oggend opstaan met ‘n maag wat soos Wolf van Rooikappie sin voel…swaar gepak van die “rivierklippe” na ‘n naweek van oordadigheid. Of ‘n babelas elke oggend voor werk met ‘n pil of twee moet verdoof…dan neem jy jouself voor…VANDAG is die DAG. Hier moet ‘n plan gemaak word….maar as die klok 4 uur slaan en die honger wolwe ronddraai, dan skink jy ‘n glas sodra jy jou voete oor die drumpel sit. Jy gryp ‘n pak tjips en gaan plak jouself voor die TV neer. Môre probeer ons weer. Want dis net TE MOEILIK!
Dalk is ons te ambisieus
Hoe eet mens nou weer ‘n olifant? Stukkie vir stukkie mos.
Ek reken ek struikel gewoonlik oor my slegte gewoontes, en sukkel om die bult van nuwe, goeie, beter gewoontes te oor omdat ek te ambisieus is. Die droom is altyd groot. Ek sien myself al 5kg ligter, of met ‘n blokkies maag of reken as ek al my wilskrag inspan gaan dit sommer “easy peazy, lemon squeezy” wees. #quickfix toe nie!
En daar leer ek van The Most Important Habit To Quickly Change Your Life – James Clear. Dis nou ‘n hoeksteen gewoonte wat ‘n impak op die res van jou lewe het. M.a.w een gewoonte wat ‘n rimpel effek op die res van jou lewe het. Myne is oefen in die oggend…as ek oefen in die oggend is my hele dag sommer beter. Ek fokus beter, ek slaap beter, ek eet beter en ek is oor die algemeen net ‘n aangenamer mens om mee uit te hang. Nêrens in daardie hele dag streef ek na beter fokus by die werk, of ‘n beter nagrus of beter eetgewoontes nie ~ nee, daardie een hoeksteen gewoonte is soos die eerste domino wat val. Dit het ‘n impak op alles anders.
Net so kan ‘n minder goeie gewoonte die teenoorgestelde effek hê ~ roep maar weer die #wynvlieg nader, die #quickfix van destyds. As ek eers een glas gehad het na werk, dan wou ek nog een skink. So 3 glase later, het ek soos ‘n hond geslaap, met ‘n moegheid en wasigheid die volgende oggend wakker geword. Oefen was ‘n straf en verder het die etanol ietsie vetterig of meer substansieel gesoek vir ontbyt. En laat middag moes ek ‘n suiker ietsie inneem om die energie weer op die been te kry.
Dalk moet ons klein begin
Ek lees toe mos hierdie boek, Tiny Habits: The Small Changes That Change Everything.
En waaragtig dit maak sin…dalk moet ons net met kleiner gewoontes begin. Dalk moet ons domino’s wees om eerstens net gawer met onsself te wees. Meer verdraagsaam en dan pak ons een klein ou dingetjie aan wat op die ou end deur ons lewens sal spoel en wie weet, dalk ‘n hoeksteen raak vir ‘n beter, sterker huis.
Een so ‘n begin kan wees om te kyk na The Morning Routine that might Change your Life Want ‘n goeie begin is mos halfpad gewin?
Die geheim is natuurlik om baie geduld met jouself te hê, om kleine treetjies in die regte rigting te bly neem, om gewillig te wees en om dit nie as ‘n straf te sien nie. So in plaas van die oggend met sosiale media te begin, wat van ‘n vroegoggend stappie? Wat van ‘n meditasie of as dit jou ding is ‘n Bybelstudie? Hoekom nie luister na goeie musiek nie, of sommer net elke oggend die sonsopkoms met ‘n koppie koffie of tee verwelkom?
Die idee is nie om groot te gaan nie. En as jy voel jy faal elke liewe keer en dinge ruk nou weer hand uit…maak daardie gewoonte of verandering NOG kleiner. So i.p.v. om die tjoklates op te gee…hoekom nie net ‘n klein plak tjokolate koop nie? Eet die heel ding, maar ten minste is hy kleiner. Of in plaas daarvan om die nuwe drafskoene te koop met ‘n ambisie om van leunstoel atleet in marathon atleet te verander, begin dalk elke oggend met ‘n stappie…of hardloop van lamppaal tot lamppaal(ou truuk daai!)
Hier is ‘n oulike een…as tandevlos op jou gewoonte lys is…maar dit ontglip jou elke keer. Begin deur elke oggend net die tandevlos uit te haal en een tand te vlos. As jy agterkom dit is selfs te veel moeite, maak die gewoonte weer kleiner…haal slegs die tandevlos uit en los dit daar. Binnekort kan jy weer die een tand op ‘n slag probeer – en kort voor lank is tandevlos ‘n gewoonte. #noquickfixeshere
Bly vorentoe beweeg
Ek weet dit is moerse moeilik om gewoontes te verander. Ek swoeg daagliks, want ek wil groei, ek wil my lewe verbeter…ek wil sommer net lekker lewe, sonder om so donners hard te moet probeer.
Maar wie het gesê dit gaan maklik wees? So ek gaan van nou af…voetjie vir voetjie probeer beweeg. Al is dit soms agteruit, of soos ‘n krap skeef-skeef, maar aan die beweeg gaan ek bly! #quickfixes gaan nie meer hier gebeur nie!
Laat weet hoe jy met jou gewoontes omgaan. Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.