#oversensitivemuch

Vol 103: Ook maar liggeraak

Gister gebeur daar ‘n ding….sal ons maar sê op ‘n uitstappie in die natuur. Daar is ‘n groep van ons, heel onskuldig word een persoon “agtergelaat” deur die groep.

Almal besig om so twee-twee te stap en gesels en die laaste persoon word paar treë agtergelaat. Niemand let dit op nie, almal salig onbewus dat sy uitgesluit en onseker daar agter op haar eie aandrentel. #oversensitivemuch

Soos dit maar met die dinge gaan, kom sy ewe stommerik later ook by die bestemming aan. Stilstuipe soos dit betaam. Huis toe gegaan en kort voor lank is daar ‘n boodskap op ons WhatsApp groep wat haar misnoeë met ons gedrag uitspreek. Haar vrees vir gevaar. Almal tot orde geroep.

Nou ja, toe gons die agteraf boodskappe natuurlik. Almal nou hulle sê gesê ~ maak nie saak in watter kamp jy jou bevind nie. Die hoofstuk is afgesluit ~ of so sal ons hoop. #oversensitivemuch

#oversensitivemuch

Waarom bly dinge maal?

Dié tipe ding bly by my ronddraai, soos ‘n brommer teen ‘n sifdeur. Ek probeer die hele ding ontrafel, antwoorde vind om haar gerus te stel, om aan haar te verduidelik niemand is teen haar of dat ons nie sulke hardvogtige, onverantwoordelike mense is nie. Dit maal van gister oggend af al;  vanoggend op die draf beset die hele storie nóg steeds my gedagtes. “VIR WAT?? Laat dit nou net gaan vroumens,” praat ek hard met myself. 

Maar nou ja, al probeer ek ook my bes om van die gedagtes weg te kom, haal dit my in. Nog een van my ingebore persoonlikheid eienskappe is dat ek hoogs sensitief is. Mnr G lag hom seker ‘n papie as hy dit hoor. Volgens hom is my vel so dik soos ‘n krokodil sin…harteloos is al ‘n beskrywing wat ek toegedig is. Maar die ding is, “i don’t suffer fools easily,” dis iets HEELTEMAL anders, glo my vry!

Oudergewoonte, gaan slaan ek die sleutelbord en probeer sin maak van hierdie geneigdheid,  want om die minste te sê, dis in sommige gevalle net eenvoudig irriterend. Mors my tyd op snert – maar hoe harder ek probeer om daarvan weg te kom, hoe meer slaan die gedagtes soos ‘n seekat sy kloue om brein en hart! . #oversensitivemuch

Wat sê die geleerde mense?

Eerste bron te vinde What Is A Highly Sensitive Person, gee ‘n goeie definisie van die saak. 

“A highly sensitive person (HSP) is a term for those who are thought to have an increased or deeper central nervous system sensitivity to physical, emotional, or social stimuli. It is a personality trait that involves increased responsiveness to both positive and negative influences. 

Klink darem of ek myself in uitgesoekte geselskap bevind, want volgens dieselfde artikel is daar net ongeveer 20% van die populasie wat so effe meer sensitief as die res is. G’n wonder ons sensitiewe siele dra so swaar aan almal anders se stront nie🤣!

Daar is ‘n duisend verskillende dinge waarvoor mense super sensitief kan wees. Van groot groepe, tot te veel geraas, of sommer net die tekstuur van materiaal, die oor analisering van anders se woorde of optredes.  Tot die fynste details in die omgewing wat in ‘n oogwink waargeneem word.

My ouers moes vroegdag al weet ek is so effe anders bedraad.  Kleintyd al sou ek ‘n ligte aanval kry as my ma vir my twee verskillende skakerings van ‘n seker kleur uit my klerekas wou aantrek. Was nog nooit regtig ‘n kudde dier nie. My kos moet ook asb almal op hulle eie plekke in die bord lê(my pa het altyd gewonder of ek weet in my maag is hulle in elk geval gemeng😜?) ‘n Vriendin let eenmaal op, hoe ek altyd die kleinste detail op ‘n sport veld oplet. Dit terwyl almal anders besig is om net op die wedstryd te fokus(ek sal byvoorbeeld so uit die bloute opmerk hoe ‘n speler se skoene hom soos ‘n by laat lyk🐝..) #oversensitivemuch

Lig geraak? 

Lig geraak is ek definitief nie – glad nie van die touchy soort nie. As ek, myself in die spervuur is, pla dit my min. Water van eend se rug af, MAAR as iemand anders se gevoelens by die saak betrokke raak…dis dan wanneer dit kom kooigoed haal. 

Dr Jenn Anders, the.anxiety.doc, is darem meer gekwalifiseerd as ek op die gebied. Sy bied so ‘n paar insigte…kyk of jy jouself hier êrens raak lees.

Om ‘n hoogs sensitiewe mens te wees, beteken dalk:

  • Jou sintuie raak vinnig oorweldig…harde klanke is steurend, jy laaik ‘n moordstorie op TV net mooi niks en ‘n gevat laat jou vreeslik ongemaklik voel.
  • Jy voel om kamer te verlaat as daar net te veel gewoel rondom jou is. Goed soos ‘n pop konsert met duisende, drukkende mense laat jou koud. Of as jou te doen lysie te lank raak, of mense te veel en hard en oor mekaar praat, wil jy weghol.
  • Verandering is nou nie juis jou gunsteling ding nie. As jy jou skedule moet aanpas om ‘n ander tegemoet te kom, voel jy gefrustreerd en sommer net mislik. Al weet jy dis nie die einde van die wêreld nie. 
  • Ander mense se emosies het ‘n massiewe inpak op jou. Jy voel sommer die energie aan is jy by ‘n vertrek instap, jy lees tussen die lyne. Jy kan ‘n tweegesig op ‘n afstand raaksien en jy weet sommer net as iets “af” is. 
  • Jy vertrou nie jou eie intuïsie nie. Jy het so ‘n bietjie van ‘n steunpilaar nodig wat  jou gerus sal stel dat alles ok sal wees. 

Nou ja, dis seker maar ook ‘n saak van die spektrum. En dalk het party van ons hierdie sensitiwiteit van ons so ‘n rapsie té ver gevat. Dit begin verwar met ons eie ruggraat hê en onsself vertrou…maar dit nou daar gelaat. Soos ek sê ~ dalk is ons maar almal op die spektrum. #oversensitivemuch

Hoe het die paadjie tot hier gelyk?

Ek kyk so na my 20 jarige kind ~ hy het natuurlik hierdie geen in oormaat geërf. Dit is asof iemand ‘n spieël voor my hou, waarin die eie 20 jarige ek reflekteer. Oud voor sy tyd die kind…en ek besef wat nou so ‘n wroeging is, gaan so ‘n paar jaar van nou een van sy grootste bates word. 

Maar die paadjie gaan besaai wees met ~ 

  • ‘n Lewe wat “diep” gevoel gaan word. Dit gaan nie so ‘n briesie wees nie. Nee daar gaan stormwinde en glorieryke oggende wees. 
  • Die lewe sal ‘n paar taai klappe uitdeel. Maar daardie pyn bring altyd weer nuwe insigte en verander ‘n mens se uitkyk vir altyd.
  • Elke liewe detail van die lewe sal uitstaan. Niks gaan net sommer verby nie. Wat ‘n voorreg.
  • Daar gaan soveel geleenthede wees om die wonder van empatie te ervaar. Om dit net aan te voel en deernisvol te lewe.
  • Om ‘n waardevolle wese hier op aarde te wees. Nie ‘n suurstof dief nie! 
  • Meeste van alles, om oop te wees vir “andersheid.” Die andersheid van mense, hulle kulture, hulle eiesoortigheid en dit te vier.

Ja, ‘n mens voel blootgelê, so asof die nerwe effe af is en partymaal wil mens net die “klank” so bietjie afdraai. Net so lig en sonder al hierdie emosionele bagasie van ander die pad aan pak. 

#oversensitivemuch

Waartoe nou?

Dalk is hierdie super sensitiwiteit ‘n bo-natuurlik krag wat ons kan inspan, sodat dit nie ons Kryptonite raak nie. Nie daardie Achilles’ heel wat ons laat struikel nie, of wat al ons energie opvreet soos Pac-Man nie!

#oversensitivemuch
  • As jy so diep voel, so ingestel is op mense se emosies, beteken dit mos ook jy kan makliker en op ‘n dieper vlak met mense ‘n konneksie maak?
  • Jy is hoogs empaties. Dis baie makliker vir jou om jouself in ander se skoene te plaas, as om net te oordeel of weg te draai as dit ongemaklik raak.
  • Jy is hoogswaarskynlik ongelooflik bewus van jou eie geestesgesondheid. Hel ja, spandeer mos ure, der ure om dinge uit te werk. Al daai emosies te analiseer en tot op die been oop te kloof.
  • Waarskynlik is jy kreatief op een of ander vlak en waardeer die fyner details. Wat natuurlik beteken jy beleef die wêreld in al sy glorie…meer van ‘n kleurryke plek. 
  • Jy let dinge net op – of dit nou in jou eie omgewing is, of details oor mense. Dit maak jou meer van ‘n mense mens. Mense voel gemaklik in jou teenwoordigheid. 

Nee wat, nou laaik ek sommer weer my samestelling. Vreugdevure brand hoog en anders wil ek definitief nie wees nie.

As jy ook een van ons is, gaan uit, leef hom broer en suster, leef hom!!!

Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.

2 thoughts on “Vol 103: Ook maar liggeraak”

  1. Oor sensitief vir ander se gevoelens, ja, soms tot my honde se gevoelens verbeel, en ekstra aandag gee sodat hulle nie verwaarloos of verwerp moet voel nie… en wens iemand wil dit vir my ook doen!

  2. Ah liefste ML, dis maar die blessing en curse wat ons sensitiewe siele moet dra. Dis n massiewe seën, want jy het empatie en moet n baie goeie vriendin wees! ‘ Straf omdat ons altyd sukkel met grense bewaar en ons eie waarde eerste te stel en nie aan ander te meet nie. Ek glo, vier die goeie met uitbundigheid en leer om jou energie te bewaar vir die wat wil belê x

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *