Wynvlieg Vol 104

Vol 104: Noodtoestand

Voel jy soms of die hele wêreld besig is om vorentoe te beweeg?

Orals lees jy van mense wat op een of ander “retreat” was. Hulle kom terug en lyk of hulle in hierdie borrel leef, so rustig en gefokus…heel in ‘n ander wêreld in gemediteer. 

Hulle het hierdie NUWE BETEKENIS vir die lewe ontdek, hulle is oppit. En jy voel of jy skaars uit die bed kan uit of by al jou dagtake kan uitkom…jy voel of jy in dryfsand stap! Eerder kombers oor die kop trek en net slaap! #emotionalcrisesaverted 

Wonder ook soms, seker nes ek…wat de donner is fout met my? Hoekom kan ek nie al my varke op hok kry en soos ‘n monnik sielsaliglik in die oomblik leef nie?

#emotionalcrisesaverted 


Noodtoestand afgekondig!

Effe aweregs, maar ja…soms as ons so besig is om vorentoe te beweeg in hierdie dolle gejaag, as ons probeer sin maak van dinge en vorentoe probeer beweeg, wel dan.  Dan verval ons baie keer in ‘n 15 Signs You’re Experiencing a Spiritual Emergency.

Nee, dit is nou nie as jy ‘n geloofskrisis beleef nie. Dis sommer net ‘n krisis van allerhande emosionele proporsies. Niks werk nie, jy voel vir niks lus nie en jy wil sommer tou opgooi en êrens op ‘n eiland gaan bly en van kokosneute leef!

#emotionalcrisesaverted 

Sonder twyfel weet ek daar is nou reeds een elle lange ry van mense wat agter my aantou. Almal in dieselfde bootjie en almal in een of ander mate in so bietjie van ‘n krisis. Goeie nuus is dus, julle is nie alleen nie!! #emotionalcrisesaverted 

Die tekens is daar

Mens weet mos sommer wanneer dinge net “af” is. En laat ek sommer prontuit hier sê – dit sien nie dieselfde daarna uit vir almal nie. Om hierdie lewe te bemeester, is soos om ‘n perd op te saal…jy mag dalk ‘n uitstekende ruiter wees, maar jy weet nooit wanneer jy gegooi gaan word nie. Net wanneer jy dink jy kan ontspan, bokspring die lewe met jou en daar trek jy!

Signs you may be struggling to cope gee so ‘n paar riglyne. Sodoende sal jy weet die lewe is nou besig om jou gat te skop…

Jy mag dalk sommer net….
Sonder fut voel
Of net hierdie sielsmoegheid met jou saamdra
Soms voel jou brein of daar ‘n Weskus mis oor hom trek
Of die breinkrag is afgeskakel, ligte aan, maar niemand tuis
Hierdie rusteloosheid pak jou beet en iemand moet jou net nie verkeerd opvryf nie, dan wil jy ontplof
Die sluise gaan oop as iemand net in jou rigting kyk
Die idee aan ‘n klomp mense of net nog iemand wat iets van jou verwag, laat jou voel om die vlaktes in te hol
Jy dink jou enjin is uitgebrand…kapoet en gedaan!
Niks voel lekker nie, nie eers daai reuse stuk tjoklate koek troos meer nie, die glas wyn maak jou net meer moerig en alles is net onderstebo.

Moet nie vir my voorgee die lewe is net een fees nie, want dan lieg jy mos nou sommer oop en bloot vir my. En om Vadersnaam moet net nie voorstel dat al oplossing sou wees, om die blinkkant bo te hou nie.   Ons almal het ons “af” tye, ons almal voel soms net gedaan. 

Nou is die tyd vir ‘n bietjie pamperlang

Dae lank by ‘n spa, met mense wat jou vryf en poets, sagte musiek en vrugteslaai en vars uitgedrukte sappies by die liters…ja dit klink nou na ‘n goeie pamperlang. Net die ding om ‘n moeë liggaam en siel te voed. #emotionalcrisesaverted 

Maar helaas is hierdie pamperlang-van-die-spa, of die-glas-wyn, of die niksdoen-by-die-see altyd van korte duur en dan kom die lewe in sy volle glorie weer op jou afgestorm. So ‘n meer langdurige pamperlang is nodig…die soort wat oorloop van self liefde op ‘n daaglikse basis. 

Nou ja, so gemaak dan….of dalk is dit toe nou nie heeltemal so maklik nie?

Die ghoeroe, Kristin Neff vermoed die lewe raak soms vir ons te veel, soms te moeilik om te bemeester…omdat daar ‘n paradoks in ons self liefde lê. En die paradoks is dit:

“We give ourselves compassion not to feel better, but because we feel bad.” 

John Amodeo, Ph.D. MFT stem heelhartig met haar saam in sy artikel, Why Is It So Darn Hard to Love Ourselves? Let maar so ‘n bietjie op, dis vir ons baie makliker om deernisvol teenoor ander te wees, as teenoor ons self. 

Die paradoks is dus dit ~ as ons super gaaf is met onsself en probeer om die kakkerige gevoel in die oomblik toe te plak met ‘n stuk koek of ‘n glas wyn of een of ander “aardse” lekkerte, is die kanse bitter goed dat daai einste stukkie “pleister” die wond net verder gaan laat sweer. #emotional crises averted 

Nou vir wat is dit so dêm moeilik?

Soos met soveel dinge in die lewe, het party van ons êrens langs die pad geleer dat die lewe een groot gesukkel moet wees. Dat ons nie verdien om sommer net gelukkig te wees nie. So ons aanskou die wêreld deur ‘n lens van negatiwiteit. Ons sien al die haelskade voor die donderwolke nog saamgepak het. 

Ons moet besef ons is geregtig op geluk. Nie die soort geluk wat aanspraakmakerig is nie. Nie die soort geluk wat net aards is nie, maar die soort geluk wat ons verbind aan ander mense. Wat ons innerlike geluk en vrede bring. 

En vreemd genoeg(NIE!!) , bring hierdie innerlike vrede en geluk, deernisvolheid na die tafel. Dit help dat ons met ‘n sagter stem met onsself praat, met ‘n sagter oog na ons onvolmaaktheid kyk. Dit help dat ons ligter aan hierdie las van perfeksionisme sal dra en ophou om onsself so te veroordeel. En onrealistiese verwagtinge skep, om dan net van die teleurstelling te probeer vlug of ‘n pleister oor dit te plak. 

En diè een is vir my ‘n groot uitdaging ~ as daardie ongemaklike emosies so oor my kom spoel, wanneer ek voel na weghol…dan is die uitdaging om hulle in te nooi, die spreekwoordelik koppie tee aan te bied en met hulle in ongemak te sit. Om NIE die probleem te probeer regdokter nie, om nie gou iets bo-oor te plak dat ek tog net aan kan beweeg nie. 

O die saligheid wat dit kan bring! #emotionalcrisesaverted 

So wat nou dokter?

Dr Neff  stel voor ons hanteer ons emosionele pyn of krisisse soos ‘n “siekte”….

Soos ‘n ma, wat vir ‘n siek kind alles sal doen om hulle beter te laat voel…afspons teen die koors, roosterbrood met Marmite aandra, of dalk net ‘n lekker warm bad gee. Die ma kan nie die kind gesond maak nie, al wil sy met haar hele wese alles net beter maak. Sy kan wel daar wees om dit makliker, ligter te maak. En DIT, DIT is wat ons met onsself moet doen in oomblikke van swaarkry…sodat ons weer heel aan die anderkant kan uit. 

#emotionalcrisesaverted 

Sterker en brawer en gawer. #emotionalcrisesaverted 
Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com oor jou struggles.  Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.

2 thoughts on “Vol 104: Noodtoestand”

  1. Moeg, moeg, ja die lewe skop my gat so bietjie, ek en my man Covid gehad vir amper 8 weke! En nog altyd was ek die een met die oplossings!
    Saam in besigheid, geen inkomste vir die tydperk en die bank en krediteure en, en almal is bem@erd vir ons! Want hoekom het ons dan nou na ‘n pandemie en swak ekonomie van amper 18 maande nie miljoene in die spaarbussie nie? En ons werk nou ons gatte af, maar dit is nie genoeg nie…dankie vir jou platform! Xx

    1. Ai Mariana ek is so oneindig jammer dat julle letterlik die gat kant van dié pandemie gesien het. Dit moet eenvoudig vreesaanjaend wees, want dis alles so buite n mens se beheer. Al wat ek kan sê is julle is dapper! En mag die gety binnekort vir julle draai!! Jy kan enige tyd vir my skryf by vryheid@wynvlieg.com. Ek het n paar penvriend en ons deel sommer net ons lief en leed.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *