#attitudeiseverything

Vol 106: Hoe lyk jou uitkyk?

Taamlik voor die handliggend, maar ook taamlik vreesaanjaend as mens regtig gaan stil sit en daaroor dink.

Van die dag wat jy gebore word, tot jy eendag jou koppie neerlê, is die een konstante geselskap waarmee jy opgeskeep gaan sit, jouself!  Geen manier om van jouself te ontsnap of weg te kom nie, daai houdingtjies sal altyd teenwoordig wees. #attitudeiseverything

Dit is dus JY en JY alleenlik wat jou koers kan bepaal.

#attitudeiseverything

Jou houding sê dit alles

#attitudeiseverything

Laat ons nou maar met ‘n waarheid begin. Volgens Attitudes and Behavior bevestig die neurowetenskap, dat ons uitkyk op ‘n spesifieke situasie, nie net bepaal hoe ons daaroor voel nie, maar ook die uitkoms beïnvloed. 

En ons houdings my mense, is wat daardie stemmetjie in die kop laat praat. Dit beïnvloed net mooi alles. Hoe suksesvol of gelukkig ons is, hoe ons verhoudings daarna uitsien, hoe ons die swaarkry en die triomfe in die lewe hanteer. Of ons ‘n waardevolle bydrae in hierdie wêreld maak. Elke liewe dag het dit ‘n impak. 


Nou in die sielkunde ~ vir die wat belangstel, word ‘n “houding” jeens iets, iemand of ‘n gebeurtenis bepaal deur ‘n bondel van emosies, oortuigings asook spesifieke gedrag. En raai-raai-riepa, Attitudes and Behavior in Psychology, bevestig dit wat ons moontlik reeds weet. Hierdie houdings word grootliks gevestig in ons grootword jare en dan plak ons ervaring bo-op dit. 

En in hierdie land van ons, is ons dêm uitgesproke oor baie kwessies. Vat nou maar die de Kock vs. SA Krieket debakel die week. Die koerante het ‘n sug van verligting geslaak oor ‘n stuk sensasie vir die voorblad, en die publiek het met mening van hulle laat hoor op elke liewe sosiale platform en radio program. Dan hoef ons ook nie verder terug te gaan as die inenting kwessie, of Eskom se bestuur of sommer die verkiesing van vandag nie. Jy wat daar sit met of sonder tande – jy het waarskynlik ‘n baie sterk opinie oor baie goed.  En nou het jy ‘n houding daaroor! #attitudeiseverything

Hoe lyk die ABC?

Lyk my ons houdings was skool toe – want daar is jou wrintie waar ‘n ABC vir hulle. 

How do attitudes influence our behaviour lê vir ons die ABC mooi uit. Daar is ‘n kognitiewe kant daaraan, dis nou ons denke en ons oortuiging oor ‘n sekere iets. Die ander deel van die driehoek word opgemaak deur die effek wat hierdie persoon, iets of situasie op ons gevoelens het. Laastens is daar die gedrag kant, so m.a.w. hoe jou houding jou gedrag beïnvloed. 

#attitudeiseverything
#attitudeiseverything

Vat nou maar ‘n eenvoudige voorbeeld….die tradisionele aartappelslaai. Sit hom op ‘n Afrikaner tafel, met gekookte eier en goed verdrink in die winkel mayonnaise en die meeste mense se monde water. Ek ~ nee, nope, glad nie, nada. My kognitiewe uitkyk op die saak is, dat winkel mayonnaise seker dié aakligste sous in die wêreld is(waarskynlik die oortuiging met moedersmelk ingekry.) Die effek wat dit op my het, is ‘n lelike rukking van die maag. En my gedrag…wel ek sal eerder doodgaan van die honger as om dit te eet! Soveel wrewel het ek daarin, dat ek die honger eerder sal trotseer as wat ek ‘n lekseltjie daarvan op my kos het. Vol stront sê Mnr G…wel hy het ook maar sy dinge nè.

Dis natuurlik ‘n belaglike voorbeeld, maar dit wys jou net hoe ons vooroordele optel langs die pad, wat dan in hierdie houdings verander. #attitudeiseverything

Maar wag, daar kom nog!

Al van Daniel Katz gehoor? Toemaar, voor vandag, ek ook nog nie🤣. Maar as gerekende sielkundige werp hy nog meer lig vir ons op hierdie houdings kwessie van ons. 

Ons het sommer ‘n paar tipes houdings hoor ~ en dis nie die soort wat ‘n bekkige peuter of ‘n hardegat tiener het nie. Wel ja, dalk werp hulle ‘n groot flitslig op paar van die houdings. 

Maar hier gaat ons….

Daar is die instrumentele houding – dis nou die soort waar daar ‘n wortel voor jou neus gehou word. Sommer met die intrapslag ontwikkel jy ‘n positiewe inslag. Jou houding is reg, want daar is iets daarin vir jou. En kyk maar rond, die wêreld wemel van hierdie tipe situasies. Ons pers ons kleuters af, swaai ‘n soetigheid voor hulle neuse. Tieners kan jy bykans nie beweeg kry sonder die spreekwoordelike wortel nie. En as jy manlief wil oortuig om iets teen sy wil te doen, beloof dalk maar‘n drankie of gunsie hier en daar. 

Dan kry mens die soort houding wat geïnspireer word deur kennis. Die mensdom hou van sekerheid. Ons wil genoegsame inligting inwin om presies te weet hoeveel moeite dit gaan verg en presies wat die uitkoms gaan wees. Dis nou min of meer hoe die meeste ma’s hulle kinders se skooltake aanpak. Die navorsing is verstommend deeglik, want hulle weet as hulle die bloedjie nie help nie, gaan die punte…en sommer hulle hele toekoms ook op die ashoop eindig!

En dan my gunsteling, draf die stadion in die derde plek in! Die ego op verdediging. Hierdie houding, hét ‘n houding! En gaan gewoonlik op verdediging as ons met die harde werklikheid te doen kry. Jy weet, wanneer jy nie die waarheid wil aanhoor nie. Kom gewoonlik voor in ‘n argument met ‘n geliefde…daai kryt waar niemand wil erken hulle is eintlik verkeerd nie. Want anders gaan jou ego sneuwel en jy jou kwesbaarheid moet blootlê. Hulle sê mos nie verniet, aanval is die beste verdediging nie.

Laaste maar definitief nie die minste nie, bepaal jou waardes ook jou houding. Die waardes wat jy as kind geleer is, die waardes wat die samelewing, godsdiens, skool en dies meer by jou ingeprent het. Vele kere het hierdie waardes ook die geneigdheid om jou te pootjie, want dit kan ‘n kognitiewe vooroordeel veroorsaak. Pasop vir te onbuigsaam wees, ondersoek jou waardes gereeld en maak seker jy is op koers. Want waardes is magtige wapens. 

Nou wat nou?

Aandag, aandag almal. As jy dit nie geweet het nie, of nog nie kon uitwerk vir jouself nie. JOU HOUDING bepaal die trajek wat jou lewe gaan vat

Let mooi op wat sosiale media en die advertensie wêreld so goed regkry. As ‘n handelsmerk suksesvol wil wees, is die geheim om soveel as moontlik mense se houding teenoor hulle produk positief te beïnvloed. Dit moet of tot hulle ego praat, of hulle waardes aanspreek..net die regte hoeveelheid kennis verskaf en viola. Iemand oortuig om iets te koop, wat hulle dalk glad nie nodig het!

Maar jou lewe is nie ‘n advertensie nie. Jou lewe is belangrik. En jy is die enigste permanente passasier wat jy op hierdie lewensreis het. #attitudeiseverything

A Positive Attitude Leads to Success and Happiness is waar. As jy suksesvol wil wees ~ hoe dit ook al mag lyk, sal jy jou houding mooi moet bepaal. 

Want ‘n positiewe houding gaan dit vir jou moontlik maak om makliker deur hierdie koekerasies-op-die-stasie te kom.  Jy gaan meer kreatief na oplossings soek, jy gaan meer energie hê om dinge aan te pak. En jy gaan sommer sukses verwag op alle vlakke. En die goeie nuus is, dis aansteeklik. Party mense straal net hierdie “can-do” houding uit. As mens in hulle geselskap is voel alles moontlik. 

Die son en die maan

Beloof aan jouself die son en die maan. Wees buigsaam genoeg om jou waardes te bly ondersoek. Verwag altyd die goeie van mense. En hou jou ego onder bedwang. Jy is nie in gevaar van uitwissing nie…jy kan maar erken wanneer jy moet terugstaan en jou misstappe moet erken. 

#attitudeiseverything
#attitudeiseverything

Die lewe gaan ook nie oor ‘n wortel nie. Maak jou eie bossie wortels, skep vir jou ‘n gesonde beloning. Achieving Your Goals: Why You Need to Reward Yourself het ‘n elle lange lys van gesonde belonings. 

Wees die een met die houding, waarop almal jaloers is! 

Ons sê so maklik jy kan jou vriende kies, maar nie jou familie nie. Wel, wel, wel…..aangesien jy jou eerste en langslewende familielid is, beter jy sekermaak jy is jou beste geselskap ooit. Anders kan hierdie ‘n lang en moeisame pad wees. 

Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com as jy enige voorstelle vir ‘n positiewe houding het.  Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *