#lifeislife

Vol 107: Wees net mens

Ek lees die allermooiste gedig, gepen deur @lididewaal die ander dag. Ek hoop nie sy gee om dat ek dit leen nie, maar dit beskryf die loop van die lewe so aller mooi.

En ek reken dalk is dit tyd om my lewe na aanleiding van haar gedig, rou en eerlik soos dit is, was en hopelik sal wees, hier met julle te kom deel. Want wie weet, dalk is daar nog sielsgenote daarbuite!

#lifeislife

#lifeislife

@lididewaal skryf hom so…

ń mens word gebore
dan’s jy ń kind
as jy lucky is dan’s jou kindwees
soos kindwees moet wees
ongebonde ongeskonde spontane helder kloklag
onskuldig onbewus

Ek is gebore

Ek is gebore as die laatlammetjie van ‘n stringetjie dogters. Laaste hoop op ‘n seun, maar heimlik dink ek my pa was dankbaar dit was nie ‘n mannetjieskind nie. Ma, naby aan die veertig het seker ‘n krisis van ‘n aard beleef ~ dalk die leë nes, wat vroeg al op ‘n plaas gekom het. Want sien almal is hok toe gestuur op ses. Dit was ‘n noodsaaklikheid, want die mense van toet was prakties en die petrol te duur!(Wonder wat hulle nou sou sê!) 

Maar soos @lididewaal hier sê, was my kindwees van die goeie soort. Dit was ongebonde, ongeskonde en ek was in liefde gebaai. Moer alleen ja, so doer vêr op ‘n plaas. Met net my ma en my verbeelding as my geselskap. 

Daar was plase bou in die modder, onder die bome lê en kyk na die blare wat so ritsel. Daar was koekies bak en storietyd voor die radio. Ek het al die langspeel plate, van die Springbok Top 10, tot die klassieke meesters geluister en op gedans. 

Onskuldig en onbewus van wat op my wag. Op ses koshuis toe. Dit was erg. Hoe erg sou ek jare later eers uitvind. Nee, daar was geen boosaardigheid daar nie, dit was net die begin van “nie goed genoeg” voel nie, van altyd wens jy kon eerder huis toe gaan. Van soos ‘n weeskind voel. En die begin van my verhouding met die liefde…my Abandonment Issues: Symptoms and Signs is vasgemessel. 

#lifeislife


Kartels van die 80’s

dan raak jy ń tiener
as jy lucky is die wêreld aan jou voete
soveel om te ontdek
soveel om te oorwin
soveel puisies soveel hormone

Tiener wees was onomwonde NIÈ die beste tyd van my lewe nie. Ek was nie van die gewilde tipe poplappies nie. Verseker het die seuns nie oor hulle voete geval om my êrens heen te vra of langs ‘n netbalbaan aanmoedigend vir my te kom skree nie. Daardie gevoel van “net nooit regtig goed genoeg nie.” Daai lekker ou verwerping kom maak toe weer-en-weer ‘n draai.  En dit het sommer gestrek tot by die coolste goed soos trompoppies, sportspanne, dirigent en so…was nie vir my beskore nie. Die wêreld het nie juis aan my voete aanbid nie. #lifeislife. En boonop het ek nou ook nie juis met my peer lyfie en koshuiskos boude gekwalifiseer as Mej. Tiener nie.

Laat ons nou maar eerlik wees, ek was effe van ‘n meer aweregse kind. Altyd uitgesproke, seker effe voor my tyd. Ek het met die bleeksiele uitgehang, want hulle kon klawerbord speel en toneelstukke opvoer. Ek was darem trots op my akademie ~ nee, nee nie top 10 gehalte nie, maar darem ook nou nie ‘n klip nie. Leiersposisies was daar oorgenoeg, want dalk het die ou mense toe raakgesien wat die res nie van waarde ge-ag het nie. Selfs matriekafskeid was een van daai waar ek ‘n vriendin se neef(wat ek van geen Adamskant af geken het nie) moes saamsleep, want niemand van die skool wou my vat nie! Maar toe vry ek my beste vriendin se staan-in-vir-die-boyfriend-ini-army se date by die afterparty. Sy was nie eers kwaad nie, want sy het true love gespeel.

My verbeelding moes my dra. Naweek na naweek was ek stoksielalleen op ‘n plaas. Onthou dit was die tyd voor die TV(op ons plaas in elk geval!) en die foon het so aan ‘n draad gehang. Die geneuk was, my ouers hoef nie eers met my te geraas het oor ek te lank op die foon lê nie. Want NIEMAND het my gebel nie!

Ek het gedroom oor ‘n wêreld aan my voete, plekke om te ontdek en was verseker van plan om die wêreld te oorwin. #lifeislife

Groot opwinding

Daar was groot opwinding om jonk te wees en skool te verlaat. Groter wêreld daarbuite en hoop op beter! Ek moes net weg en uit!

dan is jy jonk 
dan trou jy
en jy maak jou kinders groot
ens ens

Ja ek het die gewone, veilige pad gevolg. Ek het die goeie man getrou, die wonderlike(wilde) werk gekry, en toe die kind. Alles moes volgens ‘n plan verloop. Maar o wee, die verwerpings vrese het goed hulle kloue ingeslaan. Die man was veilig en liefde is ongelukkig verwar met pasmaat. Die tekens was alles daar, 20 Signs Someone Has Abandonment Issues (+ How To Overcome Them) Ek het te vinnig die eerste, beste persoon as my enigste verlosser gesien.(En hy was ‘n goeie een hoor!)  Ek het begin om fout met alles in die verhouding te vind. Ek was soos ‘n koue vis, ek was te bang om my skanse te laat sak…om kwesbaar te wees. En ek het hierdie onderdrukte woede in my rondgedra. In latere verhoudings het ek weer alles in my mag probeer en teen my beterwete die vuurtjie te bly stook, al was dit net as. Werk was my redding en my geluk. Alles is daarin gevind ~ aanvaarding, erkenning, waarde…soms het dit die oorhand gekry. 

Die kind, die groot huis, die veilige man het toe nie die storms oorleef nie. Ek het ‘n statistiek geword, toe ek jonk was ja. Die kind is darem nog hier, die eks is nogsteeds goed en ek is dankbaar vir sy DNS en bydrae tot die kind se lewe. Daardie ensovoorts het relatief goed uitgedraai.

Intussen gebeur die lewe toe

en intussen gebeur die lewe big time met jou
I mean big time
as jy lucky is dan maak die lewe heelpad fair met jou
maar andersins……ag nou ja
ons word nie gevra sien jy kans vir dit of vir dat nie
nee as die lewe die shit wil lat strike dan lat strike hy die shit
of jy nou sê hokaai ho nou stop dit 
of nie
Anyway die lewe gebeur met jou
en in die proses is dit asof jy deur ń brander omgeslaan word en gerol en gerol word
jy leer ken jou heiland
en op die ou end word jy…I mean pretty much opgefok

Beter kan ek nie die jare tussen 30 en 40 opsom nie. Die lewe het seker in sy volle glorie in daardie jare gebeur. Skielik was ek ‘n enkel ma, met ‘n huis wat op spekulasie gebou is en alles is ‘n fokkop. Die water stroom gereeld teen die mure af, die huis brand amper af. Dis ‘n gejaag en dinge bymekaar probeer hou. Dis naweke van stoksielalleen wees, of naweke waar ek net ‘n kleuter as geselskap het. Maar ek leer myself ken. Ons het van die beste tye in ons kleine huisie gehad. Arm, maar gelukkig(met ons boks TV, toe almal al ge-flat screen het) en geld in koevertjies om die begroting te maak werk.

Die lewe het behoorlik met my gebeur. Die ridder op die wit perd kon toe nie soos Wolraad Woltemade die see in om ons verhouding te red nie. Maar een van daai afspraak toeps bring toe ‘n ander soort ridder. Die tipe wat by jou staan. Maar donner was daar storms en drange in hierdie tweede probeerslag(reken, vir ons beide.) Geleer wat mense bedoel as hulle sê, sewe sakke sout saam opeet. Maar ons is daardeur en daar was goeie tye, mallemeule tye, tye van gesinne bymekaar gooi. Sjoe, dit vat lank om met so ‘n tweede probeerslag die ritmes van jou eens afsonderlike lewens in pas te kry. 

Daar was korporatiewe leer klim en flippen ongelooflike tye. Mensig, die wêreld vol gereis, die beste wyne en kos in die wêreld deur die keelgat gejaag. Plekke ontdek en selfwaarde geskep. #lifeislife

Daar was Obsessive-compulsive disorder (OCD) wat sy kop kom uitsteek het by die kind. As ek sê dit was hel op aarde vir ons almal teenwoordig, dan maak ek nie ‘n grap nie. Die bekommernis vreet jou op, die aanhoudende “checking in,” die rondomtalie waarin almal ingesleep raak…dit maak jou moeg. Want as ouer kan jy dit nie wegvat nie. Maar hier was Mnr G soos ‘n engel wat gestuur is. Hy het ons gedra, ons verdedig, ons beskerm. En was altyd daar vir die huil. 

Maar ons is daardeur! #lifeislife

Uiteindelik is daar lig

En dan begin die proses uiteindelik……..
om jouself weer halfpad onopgefok te try kry
sodat jy weer kan try wees soos jy was
voor al hierdie goeters jou shine so gesteel
en laat verdof het
En tog op die ou end kry jy vir al jou binneliggies
en jou spotlightjies nuwe bulbs ingedraai
en jy kry als mooi skoongevee
en dis dan dat jy hier en daar ook vir ander 
kan help ligmaak

Ernest Hemmingway het mos hoeka gesê: 

#lifeislife

En so begin my pelgrimstog, Oor My. Ek begin my stadig maar seker vind. Ek begin meer deernis hê vir my menslikheid. Tree vir tree begin ek my goeters byloop. Ek gaan maak kennis met, vergewe, sit minder druk op en begin besef dis heeltemal ok om myself toestemming te gee om ook maar net mens te wees. 

Ek begin skoonmaak ~ ek raak ontslae van al(dalk nie als nie😬) die goed in my lewe wat my nie meer goed doen nie. Ek begin grense stel, ek bewaar my energie vir dit wat my behaag. Ek maak hierdie donnerse kritikus in my kop gereeld nog stil…die fokker het ‘n manier om met my kop te smokkel hoor! 

Dis wragtag nie aldag maklik nie, maar dan kry ek eposse van wonderlike mense. Of sommer net opmerkings op my blog en Facebook skrywe. Ai en dan juig my hart. 

Ek gee myself nou baie meer vryheid om net ek te wees. Four Ways to Give Yourself Permission to Be Human eggo wat ek nou poog met my lewe.  

  • Ek weet nou ek moet alle emosies voel, goed of sleg. Geen doel om hulle te versuip of weg te baklei nie.
  • Ek probeer my bes om te rus. Rus vir my siel te vind, maar ook om nie altyd op gereedheid grondslag vir almal anders te staan nie. Ek probeer dêm hard om myself daaraan te herinner dat die wêreld nie sal vergaan as ek dalk verveeld is nie. 
  • Ek is weer terug natuur toe. Nou ja, ek is regtig nie die soort wat na die plaaslewe of kamp smag nie. Maar ek maak oefen in die buitelug ‘n prioriteit. Ek maak seker ek hoor die natuur, sien dit en kom net weer terug aarde toe. 
  • Ek is ook sommer asemrowend verbollie in baie goed. Ek probeer nie meer perfek wees nie. Want snaaks genoeg was ek ook nog nooit. 🤪
  • En ek ag myself waardig. Waardig om af te voel, waardig om myself te bederf, waardig om nie geboelie te word nie. Waardig om nee te kan sê en nie vyandige gesindhede in my binnekring te duld nie. 

Die einde

Die einde is nog nie in sig nie. Daar is nog soveel om te leer en te ontdek. 

Boonop het meer van julle nou die moed om vir my te skryf. My penvriende te raak ~ Vol 92: Lekker Oudtydse Penvriend! En dit maak my baie, baie opgewonde oor die toekoms! #lifeislife

Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.

4 thoughts on “Vol 107: Wees net mens”

  1. Bitter oulik, eerlik en opreg geskryf – pas my soos n handskoen. As ek dit moes skryf, sou ek dit net so copy & paste met een of 2 persoonlike kosmetiese veranderinge.
    Dankie vir jou deel, ek geniet jou stukkies bitter baie! 🙂
    Mooi loop
    Paul

    1. Hi hierdie was so eerlik en tog so amper deel van elke mens se pad ,as ons maar net eerlik genoeg sal wil wees om dit aan onsself te wil erken. Lekker gelees . Dankie dit help om te besef dit is oukei

      1. Hi Sune, ek is so bly dit het gehelp. Want so baie keer dink ons, ons is so alleen in hierdie plek of op hierdie pad vasgevang. Maar ons is nie, ons is mede pelgrims!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *