Die verlede bly soos ‘n reuse skaduwee oor soveel van ons hang. Dieselfde vraag bly om en om in ons koppe maal ~ hoe kom ons weg van die foute, verkeerde besluite en die afdraai paaie wat ons in ons lewens gevat het?
En ons maak onsself wys, dat ons is waar ons nou vasgevang is, omdat ons slagoffers van ons eie kak besluite is. En dat die toekoms geruïneer is en die hede net ‘n nuttelose geskarrel na niks. #lifeismeanttobelived
Wel hier is ‘n waarheid vir jou ~ die lewe gebeur, seisoene kom en gaan, die dag breek en dit word nag ~ niks wat ons daaraan kan doen nie. Dis net dat ons almal deur verskillende lense na die lewe kyk. Soos hierdie artikel, Eight Ways Your Perception of Reality Is Skewed dit so raak opsom ~ ons wil almal glo die lewe gebeur as iets objektief, maar die bril waardeur ons na die lewe kyk, skep ons werklikheid. Verander dus die bril en die lewe verander ook, of hoe sê ek?
Ek kon byvoorbeeld myself vir ure kasty oor die “verkeerde” kosse wat ek in my mond geprop het, of ‘n oefensessie wat ek gemis het. Want dit sou beteken net nog gewig, nog ‘n slegte besluit, nog ‘n keer wat ek té sleg was om genoeg dissipline aan die dag te lê. Daar het so ‘n veragting by my opgekom en ook ‘n kleine bietjie vrees. Vrees vir wat sou jy vra? Dat ek nog ‘n kg gaan optel en dan weet ek nie eintlik wat nie. Tot ek myself afgevra het, het ek al ooit selfs ‘n dag of twee later OOIT weer gedink aan die kos wat ek geëet het of die oefensessie wat ek gemis het? En die antwoord was ‘n klinkklare “nee,” want die lewe kom en gaan en al wat ek het is die nou. Die vrees was ‘n vrees vir nie perfek wees nie. #lifeismeanttobelived.
Gebrokenheid is nie gebreek nie
Daar is vele mense in die geskiedenis, 10 INDIVIDUALS IN HISTORY WHO SUCCEEDED AGAINST ALL ODDS wie se lewensverhale en suksesse nie getuig van ‘n pad geteer met talent, goeie guns en ondersteunende ouers nie.
Een so ‘n man is die einste, Colonel Sanders, oftewel Kolonel Sanders..beter op elke straathoek bekend as KFC. Hy was vyf jaar oud toe sy pa oorlede is, op 10 moes hy huis uit om te gaan werk op ‘n plaas as handlanger. Teen die ouderdom van 13 het hy sy eerste werk as ‘n wa-verwer gehad. In 1906 vervals hy sy geboorte sertifikaat om by die weermag te kan aansluit, net om teen 1907 uitgeskop te word. Hy trou, maar nadat hy vir die soveelste keer sy werk verloor en hulle boonop ‘n seun aan die dood afstaan, eindig die huwelik op die rotse. Op 40 open hy ‘n petrol stasie, verkoop diep gebraaide hoender vir ‘n ekstra inkomste. Teen die ouderdom van 65 het hy weer als verloor, weens ‘n paar krom besluite. Maar hy gee nie op nie, hy leen bietjie geld en verkoop sy diep gebraaide hoender van huis tot huis. In 1959 maak hy sy eerste KFC oop. En verkoop hierdie groep in 1962 vir $2mil.
So nie net het die lewe vir onse Harland ‘n paar taai klappe toegedien nie, hy het ook ‘n paar verkeerde besluite in sy lewe geneem. Maar die verskil is, hy het uit sy verlede, sy foute, sy verkeerde besluite, die opdraandes geleer. Hy het nie al daai slaggate en struikelblokke so staan en betrag en moed verloor nie. Nee, hy het uit hulle geleer en die verlede net daar gelos waar dit hoort.
Die ding is ons raak vasgevang in die verlede en dit bly ons hede beïnvloed omdat ons so graag vasklou aan selfverwyt of selfbejammering. Ons wil graag ‘n The Scarlet Letter op ons voorkoppe tatoeëer dat almal ons kan verag, bespoeg en uitwerp. Of die ander alternatief is natuurlik om in ‘n hopie van selfbejammering te gaan sit. Want niemand anders het die lewe so kak soos ons nie. Niemand is so sleg soos ons nie. Almal anders verdien geluk, vrede en hoop. Net tog nie ons nie.
Spyker my vas aan die kruis van my eie hopeloosheid.
Lewenslesse van die kronkelpaaie
Die filosoof Nietzsche bring vir ons hierdie insig…
“On the mountain of truth, you can never climb in vain. Either you will reach a higher point today or you will be training so that you will be able to climb higher tomorrow.”
Al struikel jy, al val jy jou nerwe heeltemal af. Leer iets daaruit, gaan in ‘n ander rigting. En soos altyd, is ek nie net hier om ‘n preek af te steek nie. Ek glo vas aan die mag van The True Meaning of Self-Awareness (& How to Tell If You’re Actually Self-Aware). Om braaf genoeg te wees om daar in jou eie Pandora se ou boksie te gaan rond grawe en te kyk wat daar skuil. Tot my skok het ek al agtergekom, bitter min mense is bereid om hulleself in die spieël te bekyk en werklik “naak” voor hulle eie besluite, waardes en vooroordele te gaan staan. Nee wat, makliker om dit voor iemand anders se deur te gaan aflaai, soos weggooikinders. Of dit eerder onder die mat in te vee.
A Theory of Objective Self Awareness spel dit uit, vir die wat nie so seker is wat hulle nou te doen staan nie.
“When we focus our attention on ourselves, we evaluate and compare our current behavior to our internal standards and values. We become self-conscious as objective evaluators of ourselves.”
Selfondersoek het ek weliswaar gedoen na al die verkeerde afdraaie wat ek in my verlede gevat het. Ek het party goed soos verhoudings probeer ryp druk…want ek wou so graag glo ek verdien daardie huis met die gesin daarbinne. Ek het nageboortelike depressie vermy ~ dalk nie geweet wat dit was nie. Ek het my verwerpings vrese in verhoudings ingebring en my kind van ‘n lewe met ‘n pa en ma onder een dak beroof. Ek het dalk hier en daar mense gebruik om die gate in my eie gemoed toe te stop. Ek het verseker vreeslike goed kwytgeraak onder die invloed van ‘n paar glase te veel wyn. Ek het sonder twyfel hier en daar ‘n wit leuen vertel om myself vry te skel van enige skuld aan ‘n situasie. En so kan ek aangaan en aangaan. Duidelik nie ‘n verlede om altyd op trots te wees nie.
Maar ek moes dit met deernis aanskou in die spieël van self bewustheid. Ek moes besef ek kan myself maar ‘n kans gun in die lewe. Gaan kyk gerus hierdie YouTube greep, Kristin Neff: The Three Components of Self-Compassion. Kristin Neff is ‘n kenner op hierdie gebied. Sy herinner ons daaraan, dat deernis vir en met jouself, van drie dinge afhang:
- Wees deernisvol met jouself versus om jouself te verwyt. Selfverwyt het geen doel nie, niks goed het nog daarvan gekom nie.
- Besef jy is ook net ‘n mens. Jy is nie die enigste persoon op aarde wat iets spesifieks oorgekom of aan iemand gedoen het nie.
- Wees bewus daarvan, erken jou foute. Jy het nie nodig om jou foute te vergestalt nie. Jy het nie nodig om jou identiteit daaraan te koppel nie. Dit was ‘n fout, misstap, verkeerde besluit. Maar leer daaruit en BEWEEG AAN!
En onthou altyd…
Alewig in die rooi
Of dit nou ons Calvinistiese grootword jare is of net die samelewing se predikings, een ding staan soos ‘n paal bo water: Ons laaik darem vreeslik om van vergifnis te predik, vinnig om die ander wang te draai…maar ons sukkel ons malle moer af om onsself te vergewe.
Peg O’Connor, Ph.D, slaan die spyker so op die kop in hierdie artikel, Why Is It So Hard to Forgive Yourself? Ons sukkel om onsself te vergewe, want om een of ander rede oortuig ons onsself, van ons waardeloosheid en beroof ons onsself van waardigheid.
Hoekom is dit dan soveel makliker vir ons om ander te vergewe as onsself? Die antwoord lê daarin dat ons graag onsself mislei. Deception is bloot ons gewoonte om onsself wys te maak dat iets wat fundamenteel nie regtig waar is nie, in die absolute waarheid te omskep.
- Ons het ‘n ander stel reëls vir onsself. Ons het hierdie ongelooflike hoë standaarde wat ons aan onsself stel. Vra jouself af – wat sou jou raad of reaksie teenoor jou beste vriend of vriendin gewees het? Sou hy of sy hulle in dieselfde bootjie as jy bevind, sou jy hulle met ‘n spreekwoordelike sweep bygekom het? Of sou jy deernisvol en met liefde hulle vrygeskeld het?
- Ons neem graag al die verantwoordelikheid op onsself. So asof net ons die “reg” het om al die skuld te dra. Menigmaal word die skuld vir byvoorbeeld ‘n buite egtelike verhouding net op een persoon se skouers gepak…but it takes two to tango soos hulle sê!
- Daardie groot selfverwyt waarmee ons groot geword het. Altyd besig om onsself te kasty. Dis glo nodig om ‘n goeie lewe te lei. Ek sê stront daarmee! Vir wat moet ons altyd hierdie marteling deurgaan.
Vermoedelik is dit hoekom Jesus so baie klem gelê het op vergifnis. Want Hy het dalk geweet hierdie gawe om te leef is net in die hier en nou. Die res is in jou kop. Ons bid: “Laat U Ryk kom, soos in die hemel so ook op die aarde.” So as ons al hierdie “dinge” van die verlede saamsleep, is ons besig om ‘n koninkryk te skep, of besig om in die hel van die verlede te leef?
#lifeismeanttobelived
Leer jou lesse
As jy van vandag af ‘n ligter lewe wil lei, die een wat vir jou beskore is ~ bevry jouself van die illusie dat jy altyd ‘n skuldlas met jouself moet saamdra.
Want onthou….
So laat dit gaan vandag. Leer jou les, kyk met deernis na jou foute en beweeg aan.
Mag jou dag lig en jou toekoms vol vrede en geluk wees. Want jy is net mens.
Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.
Besig met die trein prentjie😊
Laat ek bietjie hoor!