#letitgoletitgo

Vol 109: Laat los of los laat?

Die lewe het mos ‘n manier om alles op eenslag op jou voorstoep te kom stort. Al die stront word so opgehoop en dan eendag is eendag, dan besluit die lewe…nee wat nou het jy dit sekerlik nodig. So kom ons laai sommer die hele mishoop af en dan kyk ons of jy dit as bemesting kan gebruik!

Daarso, net so my ding. Kry vir jou!!

Die week se stront het ‘n pragtige tema gehad – reken julle dit word êrens geliasseer, tot die lewe seker is daar is genoeg, sodat dit baie ekonomies alles saam kan opdaag? 

Terug by die week se tema…alles het die week gewentel om die vraag…HOEKOM IS DIT SO MOEILIK VIR ONS OM TE LAAT LOS? Om net goed te laat gaan. Hoekom klou ons tog so verbete vas, al weet ons êrens diep daar onder, dalk sal die laat los, of loslaat van sekere goed, die lewe soveel ligter maak? #letitgoletitgo

Kom ons begin by die begin…

Die mens is maar basies

Ons word almal gedryf deur ses basiese emosionele behoeftes. WHY WE DO WHAT WE DO vermaan ons, as ons ‘n lewe gevul met betekenis wil lewe, dan moet ons bereid wees om dieper te grawe. Meer te verstaan van hierdie emosies en hoekom dit ons soos ‘n stoomlokomotief voortdryf. Of dalk soms net laat ontspoor.

Eerste deur die deur, is sekerheid. Want as ons daai versekering het, dan kan ons enige pyn en enige onsekerheid vermy. Laat ons nou maar eerlik wees, die mens doen nie goed met onsekerheid nie ~ fisieke pyn, dié kan ons nog op ons tande kners voor, maar emosionele pyn en onsekerheid fok ons goed op. Sekerheid is seker een van my grootste buffers teen my eie kwesbaarheid. Ek doen soos in glad nie goed met ‘n alewige rigting verandering nie. Dit maak my skoon bedonnerd en dan vaar ek sommer uit(nog ‘n verdedigings meganisme.) Skuif die doelpale(@myfokmarelise🤪) ja, maar ‘n op-en-af en heen-en-weer maak my gedaan. Ek moet weet waar ons heen oppad is en dan is daar geen keer aan my nie. 


Kort op sekerheid se hakke, is die soeke na opwinding. Paradoks van die lewe…eers wil ons sekerheid hê, maar kort voor lank is ons verveeld. Dan moet dit weer nuut, anders, meer! Want netnou loop die lewens uurglas uit en dan het ons hierdie saai, vervelige lewe gelei. Een van die groot redes waarop ek seker Never a dull moment vermy soos die pes. En ek ken ‘n paar ander mense wat ook alewig opsoek is na nuwe horisonne. En as hulle dit nie kan kry nie, dan gaan soek hulle die fout êrens anders. So ‘n vrees vir stagneer, vir ‘n doellose lewe, sonder fut, is ‘n groot emosionele dryfveer agter die basies behoefte vir opwinding. 

Ook maar mens ~ wil ons derdens ‘n lewe van waarde lei. Ons wil as waardevol geag word. Of ons nou enige iets waardevol tot die samelewing bydra, of ‘n suurstofdief is…mense moet ons darem kan waardeer, dan nie? Effe ego gedrewe as jy my vra, maar wie het ooit gesê die mens is hierdie massiewe altruïs?  Ons wil veral hê die naaste aan ons moet dink ons loop op water en dat die hele wêreld uit mekaar sal val as ons nie meer daar is nie. Vra maar enige ouer, die dag as daai kuiken die nes verlaat, staan jy daar met hierdie pyn in jou hart en buik ~ want nou het hulle jou nie meer nodig nie. Tot vandag toe is dit nog vir my die lekkerste ding om ‘n toebroodjie te kan maak, of ‘n tjoklate te koop…want dan het ek ‘n doel..al is dit in my eie kop opgemaak. 

Die geneuk is natuurlik dat daar maar min mense die aarde bewandel wat so uitsonderlik is, dat hulle geskiedenis sal maak. Want dit beteken natuurlik dat hulle ‘n paar spesiale gawes het. En die meeste van ons is taamlik gemiddeld om die minste te sê. So, dan soek ons maar liefde en daardie spesiale band. Want sien die liefde oorwin mos alles, kyk alles wat krom is mis…en ag ons waardevol vir ander dinge as ons spesiale talente. 

Kom ons pak dit sommer alles uit

Op een of ander manier sal ons altyd, maar altyd seker maak ons voldoen aan daardie eerste 4 basiese emosionele behoeftes. Al kom dit krom of skeef uit – plan sal ons maak om sekerheid te hê(al beteken dit ons begrawe en bêre alles wat ongemaklik is.) Ons sal wel iets vind om onsself mee besig te hou – kyk maar na ons How to Tell If You Could Be Addicted to Your Phone Tog net nie verveeld wees nie, o wee!

Ons sal liefde en konneksies met mense op die vreemdste plekke gaan soek, al is dit toksies. Want Hollywood sê mos so.

Maar as ons regtig, egtig in al ons emosionele behoeftes wil voorsien…dan sal ons die harde werk moet aanpak. Die behoefte om te groei. Om ‘n bydrae te maak, wat verder en wyer as jou eie geluk strek. En jy hoef nie Elon Musk of Moeder Theresa te wees nie. 

Want dit gee jou ‘n doel in hierdie lewe, dit maak dat jy jou eie verhaal met jou hele wese kan omarm. What Does It Mean to Own Your Own Story? Nie net het jy ‘n verantwoordelikheid teenoor jou eie lewe nie, maar jy is ook die enigste een wat dit kan lewe. 

Nou ja, laat ons voortgaan

Die week het ek uit verskillende oorde die vraag bly kry…hoekom is dit so moeilik om te laat los? Vra ek myself toe mos ook af. Wel die goed hierbo maak natuurlik sin, want o hemel as jy laat los kan jy of sweef of jouself moer toe val. #letitgoletitgo

Hoe meer ek hierdie wêreld bewandel, hoe meer siele, hoe meer dinge. Het ook nou al agtergekom, meeste van die tyd gee mense voor hulle is so voortvarend en selfversekerd, maar as hulle goeters groot genoeg was, sou hulle erken vrees is die ding wat hulle voortdryf. 

As mens laat los, dan moet jy ‘n keuse maak om dit wat bekend is, agter te laat. #letitgoletitgo

En dit is baie makliker gesê as gedoen. To Anyone Who Struggles With “Letting Go” stel dit so mooi. As jy fisiese net laat gaan…soos daardie eerste keer wat jy dalk sonder hande fietsry, of wanneer jy ‘n warm stuk aartappel uitspoeg…die verligting of die ongekende gevoel van vryheid en vreugde. Dit bring ‘n ligtheid of soms verligting, wat woorde nie kan beskryf nie. Dis die gevoel waarna ons moet strewe en vasklou! Hy hoort ook tot die emosionele #letitgoletitgo

Bevryding is om die draai

Ons kom nou nader aan die geheim voel dit my!! The Psychology of Letting Go ~ die bevryding van dinge wat in jou verlede gebeur het, wat jou die mens gemaak het wie jy vandag is. So kon ek die @wynvlieg en sy trawante laat gaan – die ewige teenwoordigheid het my net nie meer goed gedoen nie. Maar soveel ongelooflik herinneringe, goeie tye, kakker as kak tye(steek-jou-kop-onder-die-naaste-bos-tye) was daar ook. Maar ek het hulle laat wegvlieg en nou kan ek ligter lewe. Ek het ‘n keuse gemaak. 

Die ander diep ingeburgerde vrees is natuurlik daardie een van sukses vrees. Ja dis ‘n ding, glo my! Ons praat so lelik met onsself, ons glo menigmaal vas ons verdien nie beter nie. Amper in trane uitgebars toe ek hierdie artikel lees… Feeling Unworthy or Undeserving? Let’s Undo That. Hierdie een sin, reg aan die begin het my tot stilstand geruk. 

“Being deserving means having an expectation of goodness in your life.” 

Ai mense, hoeveel van ons glo vas ons verdien nie die goed in die lewe nie? Hoeveel van ons dra nie ‘n veragting hier binne ons rond nie? Oor hoe ons lyk, wie is ons, hoeveel liefde en aanvaarding ons verdien. Ons glo ons is nie verdienstig genoeg nie. En dus vrees ons verandering en moontlike sukses. Wat as ons gesond en gespierd raak, wat as ons nie meer misbruik wil word nie, wat as ons verdien om goed behandel te word? #letitgoletitgo

Ter opsomming

Kom ons probeer die week, so vingertjie vir vingertjie die houvas laat gaan. 

Ons probeer om

~  alle onsekerheid te laat gaan.  Die ewige kommer oor môre of oor die uitkoms van ons besluite.

~ Fokus op die hier en nou. Dit wat ons kan beheer en kom ons glo ons verdien die goeie, die beste en die sukses.

~ Onthou daai gedagtes wat so insluip(veral die negatiewes,) is net dit: GEDAGTES. Dis nie die werklikheid nie. Dis ‘n storie wat jou brein jou vertel. 

~ Spoeg dit uit, bring dit op die lappe. As mens ‘n gesonde manier kan vind om van jou emosies, jou vrese en jou skuldlas ontslae te raak. Dan is dit minder vreesaanjaend om net te laat gaan.

~ Aanvaar dat wat was, was, wat is, is..en dit is goed. Dit hoort so. Niks wat jy daaraan kan doen, behalwe om vorentoe te beweeg nie.

~ En my gunsteling…vergifnis! Of jy nou ‘n ander moet vergewe of die uwe ek…vergifnis is soos die duif met die veertjie daar op Noag se ark. As vergifnis eers intree, is daar hoop.

#letitgoletitgo

Baie huiswerk, baie huiswerk! Mag julle vandag sommer loslit deur die dag gaan. #letitgoletitgo
Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.

3 thoughts on “Vol 109: Laat los of los laat?”

  1. Pingback: #uncertaintyundercontrol | Vol 114: Die Wiele Kom Af

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *