Vol 110: Skop vas

In my vorige skrywe het ek mooi raad uitgedeel oor hoe ons moet laat los in die lewe…hoe die verlede nie saamgesleep kan word met die hoop dat ons pad net met die goeie besaai sal wees nie.

Maar soos alle ding in die lewe, as jy hom eers oopgegrawe het, dan kom die klein verpesting natuurlik by jou spook. Goed om raad uit te deel, om dinge te gaan bestudeer…maar as dit by die praktiese toepassing kom, dan sukkel ons almal maar so ‘n bietjiegoed nè?

Carl Jung het so ‘n waar ding kwytgeraak…What you resist, persists.

#giveitupalready
#giveitupalready

Lees weer, mooi aandagtig en laat ek hom vertaal. Dit waarteen ons vasskop, het ‘n gewoonte om vas te klou. #giveitupalready

Spieëltjie, spieëltjie aan die wand

Staan ek ook verstom(dalk net figuurlik, want letterlik is dit nie moontlik vir my nie😁) oor die mens se onvermoë, of hoogswaarskynlik onwilligheid om goed na hulleself in ‘n spieël te kyk. En ek praat DUIDELIK  nie hier van die soort waar jy eerder die spieëls in jou woning almal dik met die Vaseline wil beplak om nie die haelskade te hoef betrag nie! Nee ek praat van die spieëls van ons siele. 

Die naam van hierdie besondere verskynsel:  Self-awareness. Dalk in die volksmond vasgevang as….”vee eers voor jou eie deur”, of dalk “haal die balk eers uit jou eie oog.” Tipies ook ons goeie Calviniste…loop haal hom altyd daar in die negatiewe. Maar ek dwaal af! 


Hemel mense, ons hol darem goed weg van ons selwers! Baie makliker om ander te blameer, om die verantwoordelikheid te verplaas en nog beter sommer net te maak of ons emosies nie bestaan nie. As jy selfbewus is(en nee, weereens DIS NIE OM skaam te wees vir jou skewe neus of vreemde moesie nie,) maar eerder om met ‘n bewustheid te lewe. Bewus van al jou emosies, jou manier van lewe en wonder waar dit vandaan kom. Regtig gereeld Pandora se boksie af te stof, hom uitpak en alles goed te bedrag. Rommelhoop toe met sommige, party kort bietjie laswerk en ander kan maar uitgestal raak. Kortom, om jouself te aanvaar. Met alles wat met die pakket saamkom.

Want sien die ding met die alewige weghollery is dit: Ons stres ons malle moer af. Die angs pak ons beet, die verwyte stroom in en die lewe raak een maalkolk van stront. 

Want ons dink, stres is iets wat mèt ons gebeur, en nie iets wat onsself skep nie.

Natuurlik het ons nie altyd noodwendig beheer oor WAT met ons gebeur nie, maar het ons nie al tot vervelens gehoor dat dit eerder gaan oor hoe ons dit hanteer nie? 

Gereed vir die eerste branderry les?

Daar is mos darem nou net iets sexy aan branderplankryers dan nie😉🏄🏻‍♀️? So met die blonde hare, die songebrande lywe(Faktor 50 se moer!) en daai loslit houding! 

Dalk gaan ek nie juis ooit daar uitkom nie, want ek swem te verstront! Maar, dalk kan ek darem ‘n paar lesse leer oor hoe om die branders van die lewe beter te ry. Is jy in? #giveitupalready

Aanvaar wat jy nie kan verander nie.

‘n Storie ter illustrasie…dit gaan so:

Die leermeester wys na ‘n groot rots en vra sy leerlinge: Leeders, sien julle daardie rots? 
Leerlinge: “Ja leermeester ons sien daardie groot rots.”
Leermeester: “Reken julle daardie rots is swaar?”
Leerlinge: “Ja leermeester, dis verseker ‘n baie swaar rots!”
Leermeester: “Nie as julle dit nie optel nie, nee.” 

Aha netso! Die lewe is vol groot rotse wat in ons pad gerol gaan word. Of hulle ewe skielik voor ons opduik, óf soos ‘n groot rotsstorting gewag het om te gebeur..ons het net twee opsies: Ons probeer of die situasies teëgaan, of ons aanvaar dit. 

Laat ek dood duidelik wees, aanvaarding is nie om terug te sit en Jannie-Jammerkak te speel nie. Dis nie ‘n goedkeuring van ‘n situasie en die ewige Victim mentality nie. 

Dis bloot die aanvaarding dat die stront in alle rigtings gespat het, maar dat ons die keuse het om te begin skoonmaak en aan te beweeg, of ons kan daar in die stank bly sit.

Want, liewe mens….

#giveitupalready

Die groot grap is dit, die oomblik wanneer ons aanvaar SHIT HAPPENS, ongeag hoe hard ons daarteen baklei. Ongeag hoe baie ons dinge in ‘n rigting probeer indwing, of hoe goed ons met voorgee is nie….hoe meer ons teen die lewe baklei, hoe groter is ons pyn. 

Om ‘n Martie-Martelgat te wees of permanent moerig oor die lewe se verloop, is net ons eie manier om nog meer en meer pyn na ‘n situasie te bring. 

Want as ons aanvaar en ophou vasskop, dan mag ons dalk net onsself oopmaak vir ander moontlikhede. #giveitupalready

Aanvaarding kom nie sommer net so vanself nie

Soos met alles wat so bietjie moeite verg – jy weet soos fiks word, gewig afskud of om te leer vir ‘n eksamen…moet dinge ingeoefen word. So ook aanvaarding. Dit kom nie sommer net van self nie.

Die samelewing as ‘n geheel het so ~  The Real Reason We’re So Critical of Others ~ teenoor mekaar geraak. Dit het ons weer ongelooflik selfkrities gemaak. Vra jouself af, sien ons nie dalk self aanvaarding as ‘n swakheid nie?

Maar aanvaar is nie opgee nie, dis nie handdoek ingooi nie. Dis ‘n aktiewe ding om te doen. En dis een uitdagende oefening…glo my vry!

Gun jouself elke dag die nodige tyd…of dit met jou oggendkoffie is, ‘n meditasie of ‘n Bybelstudie(wat ook al jou tone kielie!) Gaan sit daar met die doelwit om in die oomblik te bly sit – hoe ongemaklik dit ook al mag raak, en om met deernis en ‘n nuuskierigheid na jou emosies te kyk. Roep al die pynlike goed waarmee jy op daardie dag en datum te doen het op..nooi hulle in….moet hulle nie in ‘n hoekie instoot of so vinnig as moontlik weer die kamer laat verlaat nie. Sit daar in stilte met hulle…ry daai brander. #giveitupalready

En nou kyk jy mooi hoe jou weghol lyk…voel jy kwaad, voel jy verlore, probeer jy oogkontak vermy…of voel jy lus eerder net jou kop op ‘n kussing te kry en te rus? Lus jy gou iets in jou mond in te stop, of ‘n glas jenewer af te sluk? 

Vra  jouself af – wat as ek dit net aanvaar vir wat dit is? Wat as ek nie so teen die prikkels skop nie? Wat as ek net hiermee sit en dit laat gaan. Soos ‘n groot helium ballon…op-op-en-weg. Sal dit nie dalk minder pynlik wees nie?

Al van die Amigdala gehoor?

Amig wie? Dis so ‘n klein amandelvormige deeltjie in jou brein, met ‘n groot verpligting! So bietjie soos die klein pakkies dinamiet, wat die grootste skop het! Facing the role of the amygdala in emotional information processing gee die goeie wetenskaplike verduideliking. Die kleine amandeltjie is veronderstel om soos die Tsunami warning system te werk. Dis jou brein se ingeboude alarmstelsel ~ hy moet begin bôgom skree as gevaar kom en dan moet die Hypothalamus inskop. Wat jou óf op die vlug laat slaan, òf jou aan die baklei sal laat gaan. (dis nou ek daai, vinnig in die kryt in@)

Maar partykeer raak dit soos in Suid-Afrika, op ‘n donker pad, by ‘n kruising, slaan die Daniel Goleman’s explanation of “amygdala hijacks” toe. En dit gebeur as jy probeer om die waarskuwingstekens te ignoreer. As jy al jou emosies en pyn, onder die mat invee. Jou hele liewe liggaam en alle gesonde verstand word gekaap. Van die buitekant af lyk dinge dalk 100%, maar die vensters van jou lewe is heeltemal versplinter. Dis soos Eskom se loadshedding…die kragstasie konk in, die steenkool raak nat en die ligte gaan af.

So as weghol nie help nie, wat dan?

Iets om te herkou aan ~ ons het eintlik geen, nada, niks beheer oor ons brein nie. Die klein donner sal doen net wat hy wil en ons kan dit nie beheer nie. Mark Manson het ‘n goeie artikel in die rigting geskryf, Your Two Minds

Maar hier is die ding, as jy jou emosies kan herken en erkenning gee dat hulle wel bestaan, dan gee ons die brein en ons denke ‘n ruskans. Neural correlates of dispositional mindfulness during affect labeling se navorsing het bewys, die amigdala kalmeer heeltemal. En i.p.v. om heeltemal uit te tol of in ‘n maalkolk van emosies vasgevang te word, kan ons rustig raak…en die beste plan van aksie en reaksie uitwerk. #giveitupalready

En onthou dit

Ons emosies het ‘n doel – dis soos ‘n brand alarm. Waar daar ‘n rokie trek, is daar ‘n vuurtjie. So moet hulle nie ignoreer nie. Want die vlamme mag jou verswelg.

Emosies het ‘n beperkte leeftyd – gewoonlik hang hulle net vir so 30 tot 90 sekondes rond. Behalwe natuurlik as jy die vuurtjie bly stook. Soos die eb en vloei van die see, kom en gaan dit die hele liewe tyd.

Wees deernis vol en nuuskierig oor elke liewe emosie wat sy opwagting maak. Wees bewus waar dit kom lêplek kry in jou liggaam. 

Staan aan die buitekant, neem waar en sien dit vir wat dit is. Jou emosies is nie hier om jou te vernietig nie.

#giveitupalready
#giveitupalready

Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.

5 thoughts on “Vol 110: Skop vas”

    1. Mal oor die padlangs praat
      Die oplossing vir ons pyn is in die pyn. My grootste uitdaging is ‘n kritiese self wat die vure aanhou stook dat ek nie lief gehe kan word nie. Groot verwerpings issues.

      1. Liefste Susan, ek sien nou eers jou skrywe. Jammer man, treurig van my!

        Ek wil net vir jou vandag sê – jy is geliefd, jy is genoeg. As ons dalk net onsself is, ons ware, kwesbare self kan ons geliefd genoeg voel. Daai kritikus se groot moer ook.

        So wees JY vandag en elke liewe dag, want daar is iemand soos jy daarbuite. Daar is mense wat vir jou en net vir jou nodig het in hulle lewens. Maar mens gaan hulle slegs vind as jy jy is nè?

    2. Hallo Charmaine! Alla mapstieks en hier het jy al in November vir my ‘n mooi lyntjie of twee gelos en ek so treurig ek antwoord nie eers terug nie. Baie dankie en ek hoop regtig jy bly lees. Stuur sommer vir my ‘n epos ook asb..vryheid@wynvlieg.co.za. Wat ookal op die hart is, ek hou van skryf!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *