Vol 111: Wie is ek?

Die afgelope week is my fondasies goed vir my geskud. Een oggend toe ek opstaan, het iemand die hele huis van my bestaan se mure afgekap, met die groot aankondiging dat dit tyd is vir oordoen of bôgger off. #iamwhoiam

Met jare in ‘n koshuis agter die blad, het ek nog altyd heimlik gehoop, en myself wysgemaak ek is aanpasbaar. Binne perke natuurlik, want ek is nie ‘n groot kamper nie, ek is nie ‘n groot kudde dier nie en so aan…🤪.

Ek  is eintlik ‘n What Is an Extroverted Introvert ~ en hoe weet ek dit? Wel ek is ‘n babbelbek van formaat, ek kry mense aan die praat, maar ek is ook baie kieskeurig met wie en wat ek my tyd deel. Skryf is ook een van my ambivert kwaliteite, want om dinge op papier neer te sit, kom vir my baie makliker as om dit in ‘n gesprek te moet uiter.

En mense moenie in my spasie wees nie, dis net nie vir my so heeltemal lekker nie. Selfs my kos mag nie aanmekaar raak in my bord nie ~ vol stront en fief, ja ek weet! Ons almal het maar ons dinge dan nie? #iamwhoiam

Terug by die fondasies

Dit was dus vir my nogal ‘n groot(nee moerse eerder) skok toe ek besef, ek is nie goed met hierdie fondasie-geskud nie.  Ek moes hard praat met myself, om die silwer randjie te probeer raaksien. 

My verdedigings linies het aangetree binne sekondes, ek het die aanvalsplan uitgewerk en daar was geen kans op onderhandeling nie. En hoekom sou dit wees? Wel, wel my vriende ~ my Self-identity was onder skoot. 

Ek is iemand wat weet PRESIES wat ek wil hê. Was nog altyd klinkklaar daaroor en meer voorwaarts, reguit en op die man af sal jy ver moet loop soek. Partykeer bloot sommer net ongeskik en hoe ouer, hoe erger (ek is besig om in my ma te ontaard!) My identiteit kan ‘n mens maar sê, is klinkklaar en helder en ek stal hom onverskrokke voor aan almal wat ek mee in aanraking kom.

So toe moet ek myself afvra – skop ek vas soos ‘n tweejarige midde ‘n vloermoer, of laat ek my lei soos ‘n lam ter slagting? Dalk is daar iets êrens daar tussen-in? Want ek kon voel hoe die wêreld van sy aks af gaan spin en ek my flenters gaan val. #iamwhoiam


Jy is meer as jou ID boek

Onthou jy nog die dag toe jy jou eerste ID boekie gekry het? Dit was lank voor die groentjie vir my…daar sit die 16-jarige oopgesiggie, met die stywe bokstert en glimlag. Jy is nou deel van ‘n land, buiten jou geboorte sertifikaat wat jou verbind aan mense, het jy nou ook ‘n offisiële identiteit en ‘n nommer. Jy is nou ’n  volwaardige burger van ‘n land. So ‘n formaliteit, maar dog ook so veelseggend nè? 

Want of ons dit nou wil glo of nie, daai kleine boekie destyds het al klaar vir ons ‘n identiteit geskep. Ons geslag, ons ras, ons ouderdom(generasie) het reeds ons identiteit en ons optredes begin vorm en beïnvloed. My nommer eindig byvoorbeeld op ‘n 085 en meneer G sin op 088…verskillende mense, ingedeel in verskillende ouderdomsgroepe en geslagte. En daar lê die ding reeds my ding, daar lê die ding. Sonder dat ons bewus is daarvan, begin hierdie spesifieke elemente ons identiteit binne ‘n samelewing vorm. En ongelukkig ook ons Is Cognitive Bias Affecting Your Decisions?

So as ons meer as net daardie ID boekie en nommer-om-uit-jou-kop-te-leer is, wat beïnvloed dit en kan mens dit verander? #iamwhoiam

Jou vektor

‘n Mens se identiteit het skaal en dit gee jou rigting – dis soos jou kompas, maar dit neem ook plek in jou hart, jou kop en in ander mense se oë op. Jy staan jou plek dus goed vol. #iamwhoiam

Vra jouself gerus af….

Waarvoor staan jy? 

Vir gelowiges, of jy nou vir Allah of Jesus aanbid, of glo in die praktyke van die Boeddhisme…jou waardes word vir jou uitgelê en jy volg hulle na. Jy hoort by ‘n groep mense wat vir jou voorskryf wat jou waarde stelsel sal wees. Hoe om, sal ons sê ‘n “goeie mens” te wees. 

Ek is byvoorbeeld in ‘n goeie, algemene Christelike huis groot gemaak. Daar is ‘n waardestelsel wat daarmee saamkom. En deur die jare moes ek natuurlik worstel met die feit dat daardie waardes ook lynreg in gedreun het teen ‘n apartheidstelsel en politiek wat van die preekstoel af verkondig is.  Die goed het net nie so lekker met mekaar gejel nie. So toe moet ek my waardestelsel begin bevraagteken en hoe ek dit met my oortuigings, wat hier diep binne my hart lê en net reg vóél, kan vereenselwig. 

So vra ek myself die week af, waarvoor staan ek? Ek staan vir verdraagsaamheid ~ meer as enige iets anders glo ek in “leef en laat leef.” Ek glo werklik elkeen het die reg om te wees wie en wat hulle wil wees. Ek verdedig menseregte nogal met ietwat van ‘n drif. Ek weet nie hoekom nie, ek weet nie waarom nie ~ maar ek kan onreg en vooroordeel nie verdra nie. 

En ja, soos alle mense is ek ook seker skynheilig en maak myself wys ek is hierdie groot kampvegter, maar my vooroordele het ek beslis ook. IETS OM AAN TE WERK…kan nie goed predik of vir myself lieg nie! Soos julle weet…

#iamwhoiam

Wie omring jy jou mee?

So word ek dié week tot orde geroep – ek is glo ‘n “elegante snobis.” Hel sê jy nou ‘n ding vir my nè! Ek dink die kompliment wat daar êrens weggesteek was, is dat ek dalk effe meer gekompliseerd is, dat ek eintlik ‘n intellektuele snob is. 

Ek dink dit hang saam met die feit dat ek nog altyd my troos in boeke gevind het, dat ek hierdie onlesbare dors na kennis(veral oor mense) het. Dat ek wil bly ontdek, en interessante, aweregse mense wat dinge bevraagteken, as my energiebron eien.

Maar genoeg van my, hulle sê mos nie verniet “meng jou met die semels en die varke vreet jou op” nie. Of dalk is Jim Rohn meer in die kol. 

Kyk dus mooi na die mense met wie jy jou omring, waar jy gemaklik voel en wie jou voed. Maar die week moes ek ook hierdie begin bevraagteken, want wat gebeur as daardie netwerk waaraan jy vir jare gebou het, ewe skielik net weggeneem gaan word van jou? Wat as jy gedwing word om te ontwortel en weer ‘n nuwe netwerk te begin bou? Wat as jou tipe mense nie wortel skiet daar waar jy moet oorgeplant word nie? 

Ek moet erken, dit laat my broek bewe en my sommer my onderlip ook. Want meer as enige iets anders, dink ek my identiteit word grootliks beïnvloed deur my tribe. 

Hoe vergestalt jy jou beeld?

Hoe gee jy uitdrukking aan hierdie persoon wat jy is? Hoe stof jy hom af, hoe gedra jy jou? 

Ek het ‘n effe vreemde streep op my. Ek is meestal ‘n diep siel, lag nie sommer vir enige ou grappie nie(bietjie van ‘n droë drol dan🙈) , maar het darem ‘n ordentlike sin vir humor. Ek laaik dit om my beeld, persoonlikheid en kreatiewe kant aan die wêreld te wys deur my mode keuses. En my klerekas is GROOOOOT. Timmer net aan my identiteit, dan koop ek nog ‘n vreemde broek gedoente om vir die wêreld te wys, onderkry sal jy my nie onderkry nie. 

Hierdie blog was ‘n reuse stap in my begeerte om aan die wêreld te wys wie en wat ek is. Dis ‘n baie publieke verbintenis aan myself. Ontbloot en oop vir kwesbaarheid. 

Dalk dra jy jou identiteit uit deur altyd die dienende Martha te wees, of dalk is jy die voorwaarts mars tipe. Dalk skilder jy of is jy die stille ondersteuner. Maar wys jou kleure, hang uit! #iamwhoiam

Waar in die wêreld bevind jy jou?

Hierdie is seker nie ‘n verrassing nie, maar waar jy bly in hierdie grote wêreld van ons beïnvloed verseker hoe jy jouself sien en jou identiteit. Maklik om dit te sien tussen verskillende kulture wêreldwyd…Amerikaners is grootbek maar selfversekerd. Ordentlike Britte is gereserveerd en stort nooit ‘n traan. Die Duitsers is stug en gedissiplineerd en in Jamaika is almal super ontspanne en traak-my-nie-agtig. (Dalk die lekker groen grassies!)

En sien dis net hier waar my lewe nou ‘n draai begin maak ~ want die verskuiwing van my geografies grense is nie 100% wat ek seker in my geestesoog gesien het nie. ‘n Deel daarvan bring reuse angs vir kleinsielig raak, vir stagnasie en sommer net opgee. En boonop moet ek my tribe prysgee en ‘n nuwe een se gewoontes aanneem en daarin probeer pas. 

Maar is dit dan nie goed om mens se grense so effe te verskuif nie? Jouself te herontwerp nie?

#iamwhoiam

Hoekom glo ek so vas?

Die een ding wat ‘n mens nie kan vermy met so ‘n “aardskudding” nie, is dit: Dit laat mens ‘n goeie, diep kyk gee na die hoekom agter alles. Hoekom glo ek so vas aan dit wat ek glo? Is dit net goed wat ek myself wysgemaak het? Wat sal gebeur as ek ‘n alternatief ‘n kans gee?

Daar is natuurlik ‘n paar morele dinge wat ek nie gaan opgee nie ~ ek is gekant teen enige vorm van geweld. Ek geen nie ‘n donner om of jy dink ‘n pak slae is goed vir ‘n kind nie, as jy nie aan ‘n grootmens sal slaan nie, hoekom ‘n kind. Het jy nie ander maniere om grense te stel nie.(En ja, ja…ek het verseker ook op my dag een of twee houe uitgedeel en is glad nie trots daarop nie.) Ek het hierdie dringende begeerte in my dat almal in die wêreld hulle volle potensiaal moet kan ontgin en geleenthede gegun moet word. Ek wil graag glo dat ons meer verdraagsaam sal kan wees en altyd probeer om mense te oortuig om ook die ander kant te sien. Ek is mal oor ‘n goeie debat, maar wens ons kon meer na ons eie kognitiewe vooroordele kyk en eerlik wees met onsself. 

Wanneer skop ek vas?

Uit die aard van die saak is daar altyd ‘n tyd en plek om jou standpunt in te neem. Om jou identiteit te verdedig. Sonder om natuurlik emosioneel te word daaroor of te begin aanval. 

Ek sukkel hiermee. #iamwhoiam

Dalk is dit omdat ek maar van die vas skopperige soort is. Dalk is dit omdat ek so hard baklei het om hier te kom. Dalk is dit omdat my identiteit vir soveel jare gevoed was deur die samelewing se idees…wat maak mens ‘n goeie mens, wat maak jou ‘n aanvaarbare maat, wat maak jou sexy of mooi of sterk of slim. 

Ek sluit af

Ek sluit af met ‘n aanhaling van Brenè Brown. As die vrou ‘n plek van aanbidding begin het, was ek daar! 

Dis vir my so mooi….mag ons identiteit nie ander mense oorskadu nie, nie so onbuigsaam wees dat ons nêrens heen vorder nie. Maar mag ons onthou, ons hoef nie in te pas of aan te pas vir ander mense nie. Dat ons eerstens en laastens en vir ewig en altyd net aan onsself behoort. 

Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.

6 thoughts on “Vol 111: Wie is ek?”

  1. Sjoe, wat het jou fondasie so geskud? Ek het Desember nie plek om te bly nie. Laatlammetjie het gesê: Net nie by ons nie. Oudste se skoonfamilie van Turkye kom kuier. Diplomaties gesê dit sal moelik wees met 2 kulture in een huis. Januarie is ek terug in die huis waarin ek grootgeword het (nou my broer s’n).

    1. Jong dis een laaaaaang storie – maar joune klink self na ‘n riller om die minste te sê! My ma het altyd gesê: Hond aan die riem!

      En dis nou presies waar ons twee is. My man het vroeg afgetree – laat ek maar sê, hy is ook 13 jaar ouer as ek. So het hy sy nuwe weg probeer vind en in die hele ding, sy doel in die Klein Karoo in die middel van nerens gaan vind. Dus sit ons nou soos Marie Antoinette met drie huise…en alles vreet geld.

      So nou is die man met die beursie(wel groter as myne) se versoek dat ek my hele lewe hier moet opgee en grotendeels daar gaan bly. Weg van alles wat bekend is en sodoende ook my hele identiteit en my doel in die lewe. Kompromie is bereik, met net een week ‘n maand daar en dan die ander drie by ons ander huis, op ‘n ander dorp.

      En as jy my ken, sal jy weet ek het nog nooit ‘n aartsbegeerte gehad om op die platteland te bly nie. En wat is my doel daar?

      Maar soos ek sê – dit voel maar net of die mat onder my uitgeruk is en ek myself moet herdefinieer. Sou seker makliker gewees het as dit my eie besluit was.

      Maar so verloop die lewe en ons pas aan en wie weet watter avonture my nog alles inwag. Die tydsberekening sou seker nooit perfek gewees het nie ne!

      Lyk my ons is in dieselfde bootjie -haardloos!

  2. Pingback: #uncertaintyundercontrol | Vol 114: Die Wiele Kom Af

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *