Jy is die redder in die familie of vriendekring ~ red mense van die gevolge van hulle eie aksies.
Jy spring sommer gou in om te help, al kon die telg sekerlik self regkom. Jy rol in die nagte rond oor wat sus of so aanvang. Jy wroeg vir dae en nagte oor wat ander van jou gaan sê. Jy raak sommer goed moerig vir mense(veral die na aan jou) wat hulle eie koppe volg ~ en daai kop staan nie in dieselfde rigting as joune nie. Jy is krities oor die besluite wat sommiges maak. Want hoe kan hulle so dom, of onnosel of eiewys wees? #whatsaycodependency?
Het ek nie al gesê, I don’t suffer fools easily, nie? Aitsa, byt jou aan die gat poplap! Toe ek myself die week vreeslik jammer kry, wonder hoekom ek dan so emosioneel uitgeput en sat is en nie kan verstaan dat al my goeie bedoelings so vertrap of geïgnoreer word nie…toe sit ek daar so by myself en dink. Ek dink…”ja jong, bring jy nie dalk hierdie oor jouself nie?” En wat presies kry jy nou eintlik hieruit? Want so onbaatsugtig is jy wragtag nie.
Die ding bly krap, want aan die een kant voel ek onvergenoegd en aan die ander kant soos ‘n slagoffer van my omstandighede. En Victim mentality is mos eintlik iets wat my dwars in die krop steek. So toe moet ek my sorge mooi uitpak, die spul so betrag en besluit hoe ek die hand wat ek gedeel is, gaan herrangskik en ‘n hernude poging aanwend.

Is ek dalk interafhanklik?
O hêrre nee! Me. onafhanklik, nooit as te nimmer is ek Codependency nie. Wel, wel, wel…die interafhanklikheid storie het twee kante nè! #whatsaycodependency?
Doer in die 1950’s het hierdie storie van interafhanklikheid binne verhoudings sy naam gekry. Die AA (An Overview of Alcoholics Anonymous) groep het besef daar is ‘n groot korrelasie tussen mense wat met verslawing worstel en die naaste aan hulle, wat ingetrek word in die toksiese siklus. As’t ware het die een die ander onwetend versterk is sy swakheid.
Sedertdien besef allerhande geleerdes en sielkundiges, dat hierdie interafhanklikheid en die siklus van mense wat of probeer beheer, of daarby ingetrek raak…nie net tot verslawing beperk is nie. Dis orals…dit maak mense emosioneel siek. Dit laat verhoudings skipbreuk lei en lê menigmaal reg daar by die kern van alle verhoudings probleme.
Maar die woord “afhanklik” is soos ‘n vloekwoord vir my! Ek kom mos darem uit daai generasie waar die vrou alles moes kon doen. Characteristics of Generation X Professionals is die generasie van vrouens wat vir onafhanklikheid staan, wat die ewige balans tussen werk en die huishouding ten alle koste moes regkry. G’n by die huis bly en kinders grootmaak nie! Daar moet met ewe hoeveelheid bekwaamheid ‘n top posisie in die raadsaal vol gestaan kan word, ‘n siek kind gedokter word, die huishouding bestuur, die skoolkonsert en die manlief ook ingepas word. En dan boonop ‘n fietse lyf aan werk, terwyl jy rotskoekies aan die skool se snoepie verskaf! #whatsaycodependency much!
Klink dit dalk bekend? Ek is so effe baie jaloers op die jonger geslag – die dames sien ek gereeld op sosiale media op een of ander “wegbreeknaweek!” En hier sit ek en my generasie en dink die wêreld gaan vergaan as ons die familie vir ‘n naweek alleen agter laat, om skaamteloos in luuksheid êrens te ontspan!
Die behoeftiges
Ek is tog net asb nie “behoeftig” nie. Nee, nee, nee!!! Herinner myself aan ‘n sessie doerie jare, tydens die verbrokkeling van die eerste huwelik. Sit daar by die sielkundige, wat hard probeer om my te laat verstaan ek mag ook “behoeftes” hê. Met groot aversie laat ek die man verstaan, ek wil nie behoeftig wees nie. 🤪 Waarna hy my gerusstel, dat ‘n “behoeftige,” diè sal ek maar skyt om te wees! #whatsaycodependency ain’t neediness
Maar, so met die ouderdom kom daar mos darem bietjie wysheid en ook dalk wrewel.
Ek besef nou ek is grootgemaak, saam die susters van my generasie, met ‘n klomp wanopvattings oor wat ons met ons behoeftes moes maak. Ons is geleer die behoeftes van grootmense kom eerste. Dat om behoeftes te hê, bloot ‘n teken van selfsug is. Stel ander se behoeftes voor joune, want dit maak jou ‘n goeie vrou. En om “behoeftig en klouerig” te wees, was ‘n teken van swakheid. Here help jou as jy daar op eindig, want dan is jy net ‘n stereotipe dom blond(en wat is jou doel op aarde dan?) Toe versuip ek haar, met lekker klomp wyn vir die pyn en dan het die poplap ‘n gewoonte gehad om al haar diep geborge “behoeftes” op die aller lelikste manier van die bergtoppe af te skree!
So nou ja, dit bring my terug na hierdie interafhanklikheid storie, wat dit blyk, lewenslank al deel is van my verhoudings…hetsy met my eie gesin, eggenoot(e), kind en kraai. #whatsaycodependency?
Afhanklik hoe?
Laat ons begin by die definisie…wat is hierdie interafhanklikheid binne verhoudings nou eintlik?
“Codependency is a circular relationship in which one person needs the other person, who in turn, needs to be needed. The codependent person, known as ‘the giver,’ feels worthless unless they are needed by — and making sacrifices for — the enabler, otherwise known as ‘the taker.’
Ek lees so deur my skrywes van die afgelope jaar en hier en daar kom hierdie tema mooi na vore. Ek is gatvol, siek en sat vir mense wat net vat. Dat daar mag spel betrokke is in sommige gevalle, dat ek voel ek word nie geken of gereken as belangrik genoeg nie. Dat ek sit en wag vir ander om op te daag en te sê: Mooi so jou goeie en getroue slaaf! #whatsaycodependency?
Wel, turns out, ek het myself vir slaaf diens aangemeld. Hoe gaan die sêding, as jy jouself as ‘n toffie wil uitgee, moet jy maar gekou word!
Nou hoe weet jy, jy het ook bogenoemde probleempie? Hier is ‘n paar goeters om op die uitkyk te wees voor:
- Jy voel jy moet maar lig trap rondom iemand. Jy moet mooi let op hoe jy iets sê, wat jy sê en tog om vadersnaam jou stemtoon reg hou.
- Om die vrede te bewaar, maak jy doodseker dat dit wat jy vir jou dag beplan het, goedkeuring wegdra by die ander. Indien dit nie doen nie, sal jy jou skedule onmiddellik aanpas om tog almal in ag te neem.
- Maar die minste te wees en verskoning te vra, al weet jy voor jou siel “it takes two to tango.”
- Altyd verskoning te probeer uitdink vir die ander persoon se gedrag, te wonder hoe jy dinge anders kon doen, wat hulle motivering is. Al kry jy swaar, al is jy die een wat emosioneel sukkel…bekommer jy jou nogsteeds oor die impak wat dit op jou maat of kind het.
- Jy is die lewensredder. Jy tree aan vir diens om almal se emosionele probleme te verlig. Om te help, te bel, in te tree. Die las net te verlig.
- Jy sal enige iets vir die ander persoon doen. Al laat dit jou ongemaklik voel. Jou vel kriewel en ‘n wrewel in jou opstoot.
- Jy hou die hoed op die ander persoon se kop, al verdien hulle geensins ‘n podium nie!
- Die blote feit dat iemand jou “nodig” het, laat jou goed voel oor jouself. Dis soos ‘n verslawing – dit maak jou waardevol in jou eie oë
- Jy sukkel om beslag te lê op jou “eie tyd.” Jy sal herwaarts en derwaarts jaag agter almal ander se behoeftes aan. Jy sal eerder jou belange op die agtergrond skuif..net sodat niemand in jou huis, by die werk of vriendekring tog moet ingedoen voel nie.
- Voel of jy jouself heeltemal verloor het. Binne verhoudings, by die werk. Die ware jy is net weg, weg, weg. Doer vêr agter in die kas weggesteek.
Nou ja, natuurlik hoef jy nie in ‘n opperste doos te verander binnekort en net selfsugtig te raak nie. Daar is darem regtig perke…maar as jy alles lees en jy besef dat hierdie jou gedrag op ‘n haar na beskryf. Wel, dan is die balans uit. En soos ons weet, as die balans uit is, gaan iets mee gee. Die hele storie gaan inmekaar tuimel, dis net ‘n kwessie van tyd.
Baba treetjies in die regte rigting
So ek besef nou, dat om as ‘n “aangename”(dog vreeslik uitgesproke mens) gesien te word, het ek so bietjie vergeet dat ek moet ag slaan op wat ek regtig nodig het. Ek besef ek moet waardevol wees en nie net beskikbaar nie.
As jy van vandag af, dalk meer waardevol wil wees. Waardevol vir jouself, vir ander…kan mens dalkies begin kyk na…
- Raak jou eie grootste ondersteuner. Let bitter mooi op hoe jy met jouself praat. Maak jouself die “ontvanger” van jou beskikbaarheid. Dink hoe jy altyd ander eerste sit, en doen dit vir jouself.
- Begin dinge vir jouself doen. 5 Self-Care Practices for Every Area of Your Life. Begin by jou liggaam, die mense met wie jy jouself omring, waarmee jy jou brein besig hou, hoe jy jou siel voed en gee jou emosies genoeg ruimte om uit te speel.
- Maak ‘n lys van jou “ononderhandelbares” – daardie kompas vir jou lewe. 11 Non-Negotiables To Set For Yourself This Year het sommer ‘n goeie klomp om 2022 mee af te skop!
- Leer om NEE te sê.
- Leer om vir jouself op te staan. Sonder om ‘n teef te wees…oefen hoe die woorde by jou mond uitkom. Wees selfversekerd daaroor…want het jy al agtergekom hoeveel respek ons vir mense het wat hulle lewe onverskrokke en op hulle eie terme leef?
Kwaliteit wen altyd
Van ‘n goeie croissant gestop met die botter en oor drie dae aanmekaar gesit, tot ‘n goeie stuk sjokolade of ‘n biefstuk wat verouderd is. Ons weet almal kwaliteit is altyd beter as kwantiteit.
So hoekom gun ons nie onsself ook daardie kwaliteit van ‘n lewe nie.

#whatsaycodependency, it’s a fluke
Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com as jy voel jy worstel met die ding. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.
Baie mooi gesê, dis hoe ek voel partykeer
Ek het vir jou ‘n epos teruggestuur! Laat ons lekker verder praat. Ek sien uit!