Vol 113: ‘n Dag in die lewe van

Al gehoor van Leonardo da Vinci, Frida Kahlo, Marie Curie, Anne Frank en @wynvliegoorit?😜

Hulle almal het een ding in gemeen ~ sommige van hulle is reeds lankal op ‘n ander plek(een waar Covid19, oftewel Corona..Omicron nie bestaan nie), terwyl laasgenoemde nog sin van diè plek probeer maak. Die ding wat hulle almal in gemeen het is….dagboekinskrywings. @wynvliegoorit nogsteeds, anders kon julle nie so lekker lees nie nè! #journalingisfoodforthesoul

#journalingisfoodforthesoul

Die twee bladsye is uit da Vinci se Codex Leicester. Dié 72 bladsy lange joernaal is in 1994 deur Bill Gates gekoop. 

Hoekom alles neerskryf?

Onthou jy nog daardie geliefde dagboek van jou tienerjare. Daai mooiste mooi, met die klein slotjie. Daar binne het al die wroeginge van ‘n tiener hart geskuil. Dit is veilig bewaar, weg van allerhande nuuskierige oë. Dit was jou beste vriend. #journalingisfoodforthesoul

Journaling for Mental Health is dit eens, dat daardie einste dagboek inskrywings jou tiener gemoed kon streel. Dit het jou ‘n kans gegun om jou emosies te verwerk en deur dit bloot net op papier te sien, het die las ligter geword…die alleen minder.#journalingisfoodforthesoul


Nou ja, my mede-dagboekskrywers het natuurlik groot roem verwerf. Leonardo da Vinci was ‘n absolute genie. Frida Kahlo was  weer ‘n bekende kunstenaar uit Mexico. Die een met die wilde wenkbroue, wat menige vrou, sodra daar net ‘n sweempie van ‘n Meksikaanse kostuumpartydjie in die lug is, nageboots het. En Who was Anne Frank se dagboek is wêreld beroemd. 

En @wynvliegoorit sin? Wel myne is daar om vir my ‘n pad oop te skryf. As dit pla, dan ondersoek ek, ek tik dit hier en ek verpes julle daarmee. Is al so bietjie meer as ‘n jaar op die pelgrimstog en so baie van julle het my al raakgeloop of hulleself raak gelees. En dit, net daar, dít is wat my staande hou. Want dit is my dagboekinskrywing. 

Ek wil ook so maak

Noem dit nostalgie, noem dit ‘n smag na verstaan…maar dalk lees jy nou hierbo en reken dis weer tyd om die pen op te neem. Ek is hier om jou met ‘n groot gejuig en as ‘n skare van een aan te moedig.#journalingisfoodforthesoul

Maar soos met meeste goed in die lewe, moet mens darem ‘n plan hê. Dit help nie jy skryf net oor koeitjies en kalfies nie ~ wie wil dit dan in elk geval skelmpies lees😜? Dagboeke moet vol van jou diepste geheime, begeertes en lekkertes oorloop.
Bietjie struktuur het niemand nog skade gedoen nie! Daar is so ‘n ding soos die Learning cycle. Hierdie slimmigheid is in 1984 deur David Kolb uitgewys. Dit handel bloot oor die vermoë van die brein om ‘n klomp abstrakte konsepte in te neem en dit dan prakties te kan toepas op die lewe. Soos in die rou, eerlike en geen-pretpark lewe waarin ons almal onsself huidiglik bevind.

#journalingisfoodforthesoul

Theodore Roosevelt se dagboek inskrywing in 1884. Die dag waarop sy vrou en ma sterf. 

So as dit struktuur is waarna jy soek, soek nie verder as die  The Stoic Art of Journaling nie. Hierdie klompie het ‘n mooi reseppie uitgewerk om die warboel in jou kop te orden. En daar waar daar orde en struktuur is, daar floreer die mens.#journalingisfoodforthesoul

Merke, gereed, weg!

Gaan soek gerus The Daily Stoic Journal: 366 Days of Writing and Reflection on the Art of Living of koop sommer jou eie lekker skoonblad boek en begin! 

So as jy nou daar voor die leë blaaie sit, dan begin jy met…

Berei jou goed voor vir die dag wat voorlê

Marcus Aurelius het nie verniet gesê nie: 

“When you wake up in the morning, tell yourself: The people I deal with today will be meddling, ungrateful, arrogant, dishonest, jealous, and surly. They are like this because they can’t tell good from evil.”

Kyk daar is baie idiote en dom astrante mense daarbuite. Mense wat net opdaag om jou dag te versuur, of jou geduld te toets🤪. Die week het ek hoeka elke dag so effe met die verkeerde voet uit die bed opgestaan. Sien toe daai slim Britte besluit om hulle onverwerkte wrok(nog steeds suur oor ons nie nog diamante het wat hulle kan steel nie,) weer hulle grense sluit vir ons en ons geliefdes. Toe is alles waarna ek uitgesien het aan die einde van hierdie walglike jaar, poer in sy moer! So totdat ek daaroor gekom het, moet almal maar bietjie ligvoets om my trap.

My geïrriteerdgeit op ‘n stokkie – die idee is om elke oggend met ‘n plan, oortuiging en ingesteldheid te begin. Ek praat nie hier van wat jy daardie dag wil bereik nie, maar eerder hoe jy gaan reageer – ongeag wat in jou rigting geslinger word! So of die drol voor jou nie weet hoe om sy flikkerlig te gebruik nie, of jou eggenoot jou tot in die afgrond toe irriteer – as jy daardie oggend besluit het, vandag gaan jy die Sagmoedige Sannie wees, dan is jy net sy.

Wat het regtig my volgehoue aandag vandag nodig?

Ons, wel lees ék, hol soos ‘n afkop hoender die meeste van die tyd rond. Herwaarts en derwaarts, hou verskeie balle in die lug, kliënte se behoeftes(die mense betaal my mos darem!) doen die perdry ding, boonop nog vriende kry vir koffie of sommer net huisgoed wat moet klaarkom. Dan moet mens êrens nog ander goed soos blogs inpas🤪. 

Maar weet jy wat, elke dag het dalk iets bepaald nodig. Jou liggaam is dalk moeg – so rus is wat jy nodig het, of dalk het jy ‘n vriend in nood – dan is daardie jou prioriteit. Elon Musk is hoeka van mening ons vermoë om duisend dinge op een slag te probeer doen, is wat ons onproduktief maak. 

Dan kom die aandwind op

Skink ‘n glasie of vind ‘n stil plekkie met ‘n  ander tipe drink ding. En dan oordink jy jou dag!#journalingisfoodforthesoul

Waar het jy daardie spesifieke dag net ‘n klomp stront aangejaag? Wanneer kon jy meer geduldig wees? Watter situasie het meer grense geverg? Waar kon jy dalk vir jou eie behoeftes opstaan en waar kon jy intree vir iemand swakker as jy? Of watter deel kan jy feesvier oor en moet die dag van môre dalkies herhaal word?

En dan skryf jy hulle almal mooi neer – en so begin die intensie vir die volgende dag!

Want ons almal wil graag ‘n lekker lewe lei. Ons wil die potensiaal van elke liewe dag ontgin. Die draadjie van die lewe is kort en die oorvloed eintlik baie! Solank jy net kan skep met die regte houding, is dit joune my ding!

#journalingisfoodforthesoul

As jy bitter graag jou dinge met my wil deel – ek luister ook bitter graag! #journalingisfoodforthesoul

Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.

2 thoughts on “Vol 113: ‘n Dag in die lewe van”

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *