Wynvlieg Vol 114

Vol 114: Die wiele kom af

So ‘n rukkie gelede wonder ek sommer hardop, Vol 111: Wie Is Ek? My fondasies was geskud en ek het daar soos ‘n verlore skaap op die landskap van die lewe gestaan. Met ‘n geblêr en ‘n hoop dat ‘n skaapwagter – enige skaapwagter eintlik, my sal kom haal en weer na veiligheid neem. #uncertaintyundercontrol

En midde van dit alles, wil ek net hê Mr G moet vir my sê, alles gaan ok wees. Psychologs is iets wat ons te midde van ‘n krisis of oomblik van onsekerheid, van kindsbeen af smag om te hoor. Al word ons so oud soos die berge en kom wysheid met die grysheid, het ons hierdie diepe hunkering, dat iemand net in beheer moet wees. Dat ons nie alleen in hierdie donker oomblik staan nie, dat daar iemand is wat die voortou sal neem as ons bene effe wankel.

Jy is mos darem mooi groot?

Nou wonder mens so by jouself, het jy nie al genoeg van die lewe gesien en genoeg bewyse opgebou dat alles tog op die ou einde ok is nie? Dat ongeag wat die lewe in jou rigting slinger, jy altyd maar weer in een of ander mate op jou voete sal land nie? 

Daar is hierdie mooi oomblik in die film, Marigold Hotel ~ waar Sonny Kapoor, die hotel bestuurder vir die gas sê: 

#uncertaintyundercontrol 
#uncertaintyundercontrol

Natuurlik ‘n tikkie humor, maar tog ook so ‘n groot waarheid. Meeste van my lewe was ek nog oortuig daarvan dat alles ok sal wees – ongeag. Maar so met die grysheid, kom mos die wysheid nè. Ek moes nou al erken, dat ongeag my groot bravade, ek eintlik glad nie goed doen met onsekerheid nie. #uncertaintyundercontrol 

Maar en hier is die groot MAAR, die mens verkies nou maar eenmaal sekerheid bo onsekerheid. People Prefer Electric Shocks to Being Alone With Their Thoughts is maar een van die eksperimente wat bewys dat ons fokkolie daarvan hou om met ongemak of onsekerheid te sit. 

Ek is allergies!

Dit blyk, ‘n klompie Kanadese navorsers het verdere ondersoek ingestel na die mens se geneigdheid om voorspelbaarheid te soek en dubbelsinnigheid te vermy. 

Hulle bevindinge het die eindresultaat van ‘n  “Intolerence of Uncertainty” skaal (Why do people worry?) te weeg gebring. #uncertaintyundercontrol 

Die nié weet nie, wonder wat ander mense gaan dink, die onvoorspelbaarheid van ‘n situasie of die toekoms, is besaai met rede tot vrees. Een van die navorsers, Dr. Michel Dugas beskryf dit so mooi: 

“Intolerance of uncertainty is like a psychological allergy.” 

Maw, as jy ‘n erge allergies reaksie agv neute ontwikkel, sal selfs die kleinste spikkel van ‘n neut jou in ‘n toestand van anafilaktiese skok instuur.  So dan ook as jy ‘n intoleransie vir onsekerheid het. En alle mense, het ‘n mate van so ‘n reaksie teenoor onsekerheid – party bekommer hulle, ander kry angsaanvalle. 

My eie ontdekking – soos die muskiete bitter lief is vir my bloed en my leeg suig in ‘n aand – net om my die volgende oggend met reuse, jeukende karbonkels te los. So my liewe vriende, kom ek toe agter ek het effens van ‘n aversie vir onsekerheid ook! Ai wat mens nie op jou oudag alles kan leer nie, nè!

En ek besef net weer…kyk bietjie rond! Kyk hoeveel mense in die slegste van slegste verhoudings sit, in werke wat hulle siel uit hulle suig ~ selfs emosionele en fisiese mishandeling sal verduur. Net omdat die sekerheid wat dit bied, meer werd is as hulle eie geluk. Kyk maar mooi na jou eie situasie, voor jy ‘n klip optel en gooi, of dink jy is een van daai “gee-nie-‘n-dooie-duit-om-nie” soort ~ waar kies jy sekerheid bo jou gesonde verstand?

#uncertaintyundercontrol 

So dus, wat nou? 

Goed pragtig, ons weet dus nou sonder enige twyfel dat ons nie van onsekerheid hou nie. Vir jare der jare, het ons daai gogga wat vir baba bly bangmaak, mooi bemeester. Want natuurlik om dit bitter suksesvol te vermy is om in beheer te wees! #uncertaintyundercontrol 

As ons voel ons het beheer oor ‘n situasie, kan ons die waters van onsekerheid met ‘n bietjie meer durf aanpak. As daar ‘n plan is, ‘n einddoel en al wat ons moet doen is die tussen-in bemeerster, dan verloor onsekerheid so ‘n bietjie van sy bangmaak krag. 

Ons weet mos ook nou al dat Control Issues eintlik kop uitsteek, omdat ons ‘n vrees vir kwesbaarheid het. ‘n Vrees dat ons uitgelewer gaan wees en soos ‘n drenkeling net heen-en-weer geslinger word in die stormsee. 

Al het hierdie BEHEER ding my tot dusver nogal ver in die lewe gebring, my staande gehou en klipharde gat, het dit ook ‘n aardige skadukant. 

  • Dit het ‘n geneigdheid om mens eintlik meer uit te stres en te bekommer as enige iets anders. Jy is pal aan die dink, aan die planne maak en 4-uur in die oggend wakker word om die oplossings te vind. Dank die Here is ek darem een van daardie wat nie my polse moet afkou as iets nie volgens plan verloop nie. Ek is gelukkig veerkragtig en vat vinnig weer beheer😝! Ek is ‘n planmaker, maar ja as ek dalk makliker gods water oor gods akker laat loop het, dan kon ek meer slaap kry!
  • In baie gevalle skep dit ‘n What Is the Illusion of Control ~ ons dink dat ons byvoorbeeld te blameer is vir dinge soos verslawing,  of ons vang allerhande waaghalsige stront aan, want ons glo ons is in beheer van ons eie lot. En natuurlik is ons tot ‘n mate, maar ons kan nie alles beheer nie. Op die ou end spandeer ons soveel energie aan die beheer en die herkouery wanneer iets nie uitwerk nie, dat ons nie regtig die lewe net kan geniet in al sy glorie nie.
  • Dit maak ons meer en meer krities. Teenoor onsself, teenoor ander. Want as dinge nie uitwerk soos wat óns dit wil hê nie, of as mense ons raad ignoreer ~ dan skiet ons sommer vinnig die ander persoon af. Of ons kasty onsself vir dae, maande en selfs jare. 

Laat dit net gaan

Hier gaat ek weer! Eintlik preek ek mos nou myself hier, maar dalk het ek dit nog nodig om ‘n paar keer dieselfde storie te hoor. Dalk moet ek The Surrender Experiment in my Kers kous versoek!! 🤪

Die antwoord tot my vrees vir onsekerheid, lê natuurlik op verskeie plekke. Maar aangesien ek vir jare, der jare al die pleister van beheer daaroor plak, is dit dalk tyd om die sweer oop te maak en te kyk hoe ek dit vir ewig kan toewerk. #uncertaintyundercontrol 

Julle raai reg, die antwoord lê natuurlik in die Vol 109: Laat Los Of Los Laat? Kyk nou hoe slim was ek toe al!🤣 Dis duidelik net die toepassing wat nie so lekker werk nie.

Want as ons net kan laat gaan, as ons net vertrou dat daar is ‘n vangnet daar onder is en ons sal nie ons spreekwoordelike skedels kraak nie. Dan mag ons dalk soos ‘n sweefstok arties veel hoër en verder kan vlieg.

Ek ervaar daardie lekker salige gevoel elke Maandag op my joga mat. So 10 minute in, begin al die gedagtes wegvlieg. Al waarop ek fokus, of sal ons sê kán fokus is die instruktrise se stem en my asemhaling. Want as ek dit nie doen nie val ek dalk op my gesig! Maar daardie gevoel van solied op moederaarde staan met ‘n doodse stilte in jou kop, is net eenvoudig onbeskryflik lekker. En goed. So reken net hoe gaan dit wees as ek my lewe so kan lei!

Die uitdaging waarvoor ek nou staan, is ontworteling. Omdat ek nie van die idee hou nie, het ek sommer al klaar besluit hoe ek gaan sukkel om aan te pas. Hoe eensaam en alleen my lewe gaan wees. Daar is tog ‘n kleine stemmetjie wat sê, maar daar is hoop, daar is nuwe dinge te ontdek. En dan slaat daai beheer vraat hom oor die kop en die onsekerheid-spook wurg die laaste bietjie lug uit die HOOP uit! So partykeer reken ek moet ons dalk nie so seker wees van ons saak nie, dalk moet ons die lewe oorlaat aan moontlikhede. Of hoe?

Nog ‘n massiewe ontdekking in die laaste paar dae, is toe dit ~ as ek minder krities van myself is, minder druk opsit, minder vooropgestelde idees het ~ dan werk my verbintenis met die nader aan my ook beter uit. Niemand voel bedreig nie, niemand neem hulle swaarde op en begin hulle gebied verdedig nie. Daar is ‘n beter kans vir oop gesprekke, vir saam planne maak en ook vir verstaan. 

Skielik was ek vry!

My magtag mense, so slaan dit my soos ‘n paal tussen die oë! As ek gelukkig en vry wil wees, as ek regte, egte verhoudings wil kweek en nie hier op my eie missie voort donner nie, dan moet ek net laat gaan! #uncertaintyundercontrol 

Uit die aard van die saak kan ek nie nou net ‘n hippie raak en begin boom rook nie. Maar wat ek wel kan doen is om te besluit wat in die lewe is belangrik vir my om te beheer. 

Mindfulnes ~ bly nou maar net die ding! Dit gun my dalk net die tyd, buite die kryt, om te besluit wat belangrik is om te beheer en wat nie. Waar daar planne gemaak moet word en waar ek net die oomblik ten volle moet geniet. Wat die verskil tussen roekelose gedrag en ontspanne gedrag is. Want ai tog, ek kan maar baie up tight ook wees as ek wil!

Daar is darem ook ‘n silwer randjie dan nie?

Alle onsekerheid is sonder twyfel nie sleg nie. Dink maar aan die geskenke wat onder die Kersboom besig is om te vergader – of jy nou al oud en getroud is en regtig NIKS MEER nodig het nie, selfs nie eers meer geskenke nie. Selfs dan sal ‘n verrassing onder die boom darem nie te versmaai wees nie. 

Sal dit nie lekker wees as ons onsekerheid ‘n nuwe baadjie kan aantrek nie? Dit sien as die ding wat ons aanspoor tot hoër hoogtes en vaarwel kan toewuif en weet alles sal ok wees. 

Mag jy vandag onsekerheid bloots ry!

Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *