Vol 116: Ons is hard geslaan

Nou ja as jy deur die laaste twee jaar gekom het en nog net dieselfde lewe lei as tevore, is jy of donners gelukkig gewees of net dom astrant. #andsoweliveandlearn

Ons het gereken 2020 was woes, maar toe kom wys 2021 ons ‘n ding! Eintlik herinner dit my aan daai jare toe ons nog net knie hoogte was en Desember afgesit het see toe. Met groot entoesiasme is ons branders in, net om omgedop te word, sand te vreet. En dan nes jy weer op jou voete kom, dan slaan nog een jou gô sommer heeltemal uit! Wel dis nou presies hoe ek 2021 ervaar het.

#andsoweliveandlearn

En mensig het ek ‘n paar lesse geleer! Was effe hardegat oor sommiges en soos ‘n kind met ‘n vloermoer vasgeskop, maar op die ou einde moes ek bres gee. Ek moes maar handdoek ingooi, die kryt uit of weer probeer. #andsoweliveandlearn


Brander nommer een: Perfeksionisme gaan jou laat ploeg

As jy al ‘n paar van my skrywes gelees het, sal jy weet ek is ‘n groot aanhanger van Huffpost. Sy het as’t ware my oë hier gedurende 2020 en 2021 kom oopmaak. Sy het onder andere my laat besef, dat al dink ek, ek is hierdie mak dier wat nie enige strepe van perfeksionisme in my het nie(sien ek is nie netjies nie, ek is nie presieserig nie,) ek maar dêm perfeksionisties is. 

Gelukkig vir my het ek moontlik ‘n groter streep van “strewe na uitmuntendheid” in my, maar daar is ook ‘n bitter fyn lyn hier. Ek moes voor die altaar van perfeksionisme gaan buig en erken, ek aanbid hierdie afgod so ‘n bietjie te veel. Want sien, perfeksionisme  is ‘n denkpatroon en ‘n gevoel van…as ek perfek lyk, perfek lewe, die perfekte werk lewer, dan kan ek dalk skande, blaam en oordeel vryspring. 

Maar soos sy in haar onderhoud met Oprah Winfrey Overcoming Perfectionism: Brene Brown Talks Perfection And Authenticity With Oprah tereg gesê het, die geheim van ‘n vervulde lewe is om as jou eie, outentieke self op te daag. 

Ek moes leer dat al werk ek hoe hard, al probeer ek hoe hard, al doen ek hoe baie, al daag ek hoeveel keer by die gym op, al doen ek alles “reg,” êrens sal ek altyd myself voor stok kry. Ek sal altyd êrens iets vind om myself oor te kasty. #andsoweliveandlearn

Om op te daag vir die lewe, in die lewe te tree as net jouself, te glo jy is goed genoeg en sodoende ook jou mees kwesbare self te wees, dit is die uitdaging. Groot lesse geleer oor Vulnerability: The Key to Better Relationships ~ en hoe ek alleenlik deur my kwesbare self te wees, myself kan oopstel vir ander en sodoende ook minder van ‘n bedreiging of kritikus van die lewe en mense te wees. 

#andsoweliveandlearn

Brander nommer twee: Forseer hom en jy breek hom af

Ek het sink, vitamien C  en vitamien D3 gesluk asof my lewe daarvan afhang. Ek het gesond geëet, ses dae ‘n week geoefen en gehoop en bid die eerste inenting sal die ding doen. Maar toe bring die student mos daai vieslike virussie in die huis in! Mnr G het al twee inentings gehad en het sommer vinnig hasepad gekies plaas toe. Ek was die gedienstige verpleegster. 

Maar soos met die Spanish flu het Delta sommer vinnig sy pad na my liggaam ook gekry. Dank die sterre ek het ‘n inenting gehad, want die eerste vyf dae was nie juis so erg nie. Net ‘n erge tipe sinus gedoente. Dr bel om te sê ~ onthou om Vadersnaam om dit rustig te vat vir so ses weke.  #andsoweliveandlearn

NOU, as julle my enigsins ken, is die “vat dit rustig” deel nou nie eintlik my ding nie. Ek vat niks rustig nie…alles gaan teen ‘n spoed. Ek praat teen ‘n spoed, ek ry teen ‘n spoed, ek klim pens en pootjies in enige ding in. 

Maar Delta, hy was ‘n ander kalant. Hy het my ‘n ding of twee kom wys oor geduld. Ek het daagliks gewonder Who Said “Patience Is a Virtue”? Dit gaan heeltemal teen ‘n mens se instink om geduld aan die dag te lê. Vir my veral voel dit of ek agteruit boer!

2021 se les was dus, dat sommige goed, soos ‘n mens se gesondheid, jy nie “reg” kan dokter altyd nie. Ek moes ook bystand en berading doen in ‘n jaar waar die mense naaste aan my hard geslaan is deur die swart hond. En as jy so naby is, kry jy van die skrapnel, glo my vry. Dis ‘n lang pad, dit maak ‘n mens moedeloos. Maar jy weet as jy van enige waarde wil wees, as jy die skouers is om op te leun…dan moet jy geduldig wees. 

My grootste les het seker in hierdie aanhaling gelê…

Ek moet ruiterlik erken, ek het menige maal gefaal. Maar ek het darem iets geleer en gaan in 2022 harder probeer! Of sal ons sê, meer bewus wees!

Brander nommer drie: Vrygewig beteken nie gewillig nie

Aitsa, dit klink effe riskant en belowend ter selfde tyd! Hokaai nou, glad nie 50 skakerings van grys waarop ons nou afpyl nie. 😜

Dié brander het my goed kom neergooi. Sand gevreet soos min! Ek het aanklank gevind by hierdie artikel, I HAVE HARD TIME SETTING BOUNDARIES; WHERE DO I BEGIN? Ek het ‘n goeie mengsel van grense wat óf heeltemal té rigied is, of heeltemal te slap ~ so effe soos ‘n noordelike buurland se grenspos. Loop sommer oor!

Ek besef net meer en meer, dat persoonlike grense natuurlik oneindig belangrik is om ‘n ordentlik verhouding met enige iemand te hê. Of dit nou ‘n huweliksmaat is, of jou kinders, jou kollegas of selfs jou vriende. Want sien, sonder ordentlik, gebalanseerde grense…eindig ons op in plekke van Resentment, bloot omdat ons voel ons trek altyd aan die korste end. Of dit laat ons magteloos en woedend. En daardie onbuigsame enes, wel hulle is net daar om ons veilig te probeer hou. Veilig omdat ons lelike wonde van ons kinderdae nog rou en oop is. Healing the Wounds of Your Ancestors is maar ‘n plek om te begin.  #andsoweliveandlearn

Ek moes leer, nie almal kort my raad en hulp nie. As hulle dit wou gehad het, sou hulle vra. Ek het nie nodig om ontsteld te raak omdat ander nie dieselfde energie in my belê as ek in hulle nie. Wie op aarde probeer ek in elk geval tevrede hou. Daar is nie ‘n ding soos ‘n “goeie” mens nie, klomp stront wat die samelewing ingeprent het by my. Ek het ook nie nodig om my mond te hou, net om die vrede te bewaar nie. As ek iets wil hê, behoeftes het, MAG EK DIT SÊ! En vroeër is beter as later…anders kom dit bitsig uit, ek raak aanvallende en verdedigend. Ek maak geen sin nie en begin soos ‘n redelose tiener klink!

#andsoweliveandlearn

In 2022 gaan ons saam ‘n bietjie kyk hoe ons op ‘n gesonde, ordentlike manier ons grense kan stel en daarby hou. Nou nie ‘n muur so ondeurdringbaar en belaglik soos wat daai oranje-haar mannetjie in Amerika wou bou nie, maar darem iets wat die slegte effe weghou en die goeie oornooi vir ‘n drink. 

As jy sommer nou al jou lysie wou begin maak, gaan na 10 Ways to Build and Preserve Better Boundaries vir ‘n bietjie hulp!

Brander nommer vier: Emosies raak ook groot

Mag ek nou sommer hier my eie beuel blaas, wiskunde is nie my ding nie, maar ek roem myself nogal op my emosionele intelligensie. En so slaat brander nommer vier my die afgelope twee jaar poertos moertos…want as jy dié lees … Emotional Maturity: What It Looks Like sal jy gou agterkom, die meeste van ons loop nog in doeke rond! 

Dit sê daar êrens…

In other words, emotional maturity is when someone can manage their emotions no matter their circumstances.

Goeie hemel, as dit die geval is…dan is ek ver van emosioneel volwasse af. Ek is dalk ‘n adolessent, wat nog maar so af en toe, meer male sonder tal, eintlik die pot heel mis sit. Ek is nou nie juis heeldag en aldag in beheer van my emosies nie. Blameer maar die The Wounded Inner Child in my. Daai een wat so bang is iemand los haar agter, dat sy haar “veiligheid” ten alle koste sal beskerm. In ‘n oogwink sal ek myself verdedig, iemand dalk beledig…net om tog nie kwesbaar daar gelaat te word nie. #andsoweliveandlearn

Maar nou ja, desondanks die groei proses waardeur ek nog moet gaan, is een ding seker. Die lig het by my opgegaan. Vir lank probeer ek al dese en gene om my laat “verstaan.” Jy weet emosies, wat agter hulle skuil. Ek snuffel en snuif soos ‘n waghond. Lê nagte wakker om die gedrag van ander, myself te analiseer. Om by die oorsprong van binne gevegte te kom, om reaksies te ontleed en enige onnodige seer en wroeging te vermy. Net om te voel of ek in ‘n muur vasloop met die meeste mense. Dis asof ek net nie deurdring nie…en toe besef ek sommer net die anderdag…daar is ook mense wat ‘n lae emosionele intelligensie het. Nes my wiskunde intelligensie my nie nou uit die kaak van die dood gaan red nie, is daar net ander wat nie ‘n emosionele intelligensie van ‘n dagoud het nie. Hulle sal dit net NOOIT, OOIT verstaan nie. 

En weet jy wat, dis ok!! Want ons almal het ander en verskillende talente. Net soos niemand my nooit in ‘n wiskundige boffin gaan laat ontaard, ongeag hulle aanhoudende verduidelikings nie. Net so gaan ek nie ander emosioneel effens armes aan die ander kant van die draad kry nie. 

2022 ons is amper daar!

Dis nou min dae mense, min dae. Laat ons maar nabetragting hou en ook dink aan die lesse wat ons geleer het. 

Want of jou emosionele intelligensie laer as jou kniekoppe is, dink kan jy darem seker dink en ook so bietjie ‘n nuwe, varser en wyser rigting inslaan?

Watter lesse het jy als geleer? Laat hoor van jou by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *