Vol 117: Die kat kom weer

Sit nou so hier duskant die GROOT eet.

Weet nie of dit al die kos is wat my lamlê of die wete dat daar nou ‘n splinternuwe jaar  hier voor ons opgedaag het nie. En dit beteken net een ding. Orals om ons heen,  is dit net voornemens. Sommige ernstig ambisieus, ander weer duidelik gekies weens hulle molshoop status. #ibelieveinmiracles 

#butibelieveinmiracles

Ek kan darem ook nie met my broek op die knieë gevang word nie. Geneuk is, ek raak so effe melankolies rondom dié tyd van ‘n jaar. Nostalgie van die verlede vang my en die wonder oor ‘n jaar wat voorlê. ‘n Jaar vol potensiaal, ‘n jaar om te LEWE en wat as ek aan die einde staan en NIKS het verander nie. 

So met die hardloop see langs en die geklots van die branders, dink ek en ek dink en dink…wat sal my “tema” vir die 2022 wees. #ibelieveinmiracles


Ja ‘n TEMA, want ek doen lankal nie meer voornemens nie. Ek deel die mening van Kathy Caprino in hierdie artikel The Top 3 Reasons New Year’s Resolutions Fail And How Yours Can Succeed. Die gedoente met die “voornemens” is dat dit meestal eintlik net by die voorneme bly, fokkol aksie. Ons harte is grotendeels i.e.g  nie op die regte plek nie. Boonop het ons hierdie grootse verwagting dat ou gewoontes soos mis voor die son gaan verdwyn, maar ons is nie regtig bereid om te kyk wat skuil agter die floppe van die verlede nie.  Ons verseker ook nie dat ons verantwoording ingebou het nie….as jy nog nie agtergekom het nie ~ ons kan onsself vreeslik vinnig onthef van enige verantwoording! En uiters bleddie vreemd genoeg is ons eintlik bang ons gaan daardie massiewe doel bereik – want wat dan?? Wat as ons suksesvol is? Vreesaanjaende plek daai waaroor ons so maklik kan droom. 

Aldus die TEMA idee. Bietjie minder druk en mens moet ook dink aan What’s so critical about simple, daily practices? Want soos Maxwell sê…

“Small disciplines repeated with consistency every day lead to great achievements gained slowly over time.” 

Tada!!!!

Openingsaand van 2022…die kleedrepetisie is reeds in 2021 afgehandel, nou is dit sulke tyd!! #i believe in miracles

Die tema van dié deel van my pelgrimstog gaan BEWUSTHEID (What is Mindfulness?) wees. Waar daar ‘n strewe na bewustheid is, staan nuuskierigheid (curious) om die hoek. Die twee is soos vinkel en koljander…die een kan DEFINITIEF NIE sonder die ander. 

Ja ek weet, ek weet…dis nou nie juis ‘n nuwe tema nie. Dis iets waaroor elke ghoeroe praat deesdae. Dis soos die smalle weg ….daai een wat lei na ‘n plek met sulke Jesus strale en wat mens net kan glo ‘n lekker plek blyk te wees.

Maar hierdie is my konsert, so ek kan besluit wat ek gaan inoefen en wat ek gaan opvoer. 

Êrens lees ek hierdie raak…bewustheid is om die pas te makeer, soveel so dat jy regtig bewus kan word van dit wat om jou aangaan, of binne jou liggaam gebeur, sonder om onmiddellike afleidings te maak. 

Ek is darem al so entjie in die pad af.  Ek probeer al vir twee jaar om met myself hierdie pelgrimstog aan te pak, om die pas te makeer en om meer nuuskierig te wees. Te ontdek, te grawe en die pad af te vorder met bietjie meer wysheid. 

Maar voor ons nou die viole uitruk en ‘n gepaste nommertjie begin speel…ek besef op ‘n daaglikse basis ~ ek is ‘n groentjie op dié gebied. Ek het nog ‘n pad om te stap. En 2022 is die jaar wat ek die riel gaan trap. #ibelieveinmiracles

#butibelieveinmiracles
😜

Halfpad is nie goed genoeg nie

Die hele TEMA ding is ook maar eintlik ‘n wolf wat in skaapklere opdaag. Want dit bly maar eintlik ‘n voorneme nè? Maar ek dink darem om die ding ‘n ander baadjie aan te trek mag dalk net help. Make Better Resolutions se siening sluit by myne aan, of sal ek sê, dit ondersteun my nuwe aanslag. 

Die eerste vraag om jouself af te vra is natuurlik…HOEKOM WIL JY MEER OF MINDER VAN IETS IN JOU LEWE HÊ? 

Wel ek wil met meer bewustheid lewe, want ek wil nie soos ‘n robot deur die lewe gaan nie. Ek wil nie net elke liewe dag maar weereens dieselfde ou bollie aanvang, of soos ‘n skaap in ‘n trop voort boender nie.  Voor mens jou oë uitvee, slaan ons weer die kersboom op, is daar nog ‘n jaar verby. En dan veroordeel ek myself jaar in en uit vir dieselfde stront. Dit raak nou afgesaag! 

Hoe sê my amper mondige kind nou die dag…”ek wil nie vir 52 weke van die jaar presies dieselfde dinge doen nie, die lewe is té kort. ” Fêkkit!!!  Wat moet ek dan sê? 

Dan natuurlik is die volgende vraag…wat in my omgewing en omstandighede gaan in my pad staan? Wat gaan my verhoed om IN DIE OOMBLIK te bly leef? 

Hier’s dit ding met BEWUSTHEID! Alles hoef nie maanskyn en rose te wees nie. Alle sterre hoef nie in hulle huise te wees of belyn te wees nie. Bewustheid gaan beteken ek moet elke morsel kos waardeer, ek moet elke oomblik…hoe kakkerig ook al waardeer, ek gaan elke emosie moet ervaar, die ding ‘n naam gee en besluit wat ek daarmee gaan maak.  Klink effe tydrowend, MAAR ek reken dis die punt! 

Ek laaik wat die mannetjie voorstel…i.p.v. om hierdie TEMA van my net hier op papier uit te stal en mooi woordjies daaroor kwyt te raak…sal ek hom moet uithaal uit die boksie, ek sal hom moet plant, water gee ELKE LIEWE DAG EN VERKIESLIK bleddie seker maak ek verwaarloos dit nie. 

Ek kry klaar ‘n gevoel hier om die blaas, dit gaan nie so maklik wees nie. #butibelieveinmiracles

Wat as daar meer struikelblokke is as wat ek veronderstel het?

Kyk die tema van BEWUSTHEID gee my sommer so ‘n warm gevoel hier in die borskas, maak my opgewonde. Die geneuk gewoonlik met die tipe opwinding is dat daar ‘n skrale ou moontlikheidjie is dat my ambisie my vermoëns gaan oorskry. Of dat my huidige omstandighede nie eintlik regtig bevorderlik is vir ‘n lewe van volle BEWUSTHEID nie.

Of meer nog dat ek sommer nou al weet, ek gaan faal…want ek gaan te besig wees, of ek gaan bewus wees dat twee Romany Creams nie regtig my pad na “bewustelike eetgewoontes” gaan ondersteun nie…maar dan versuip daai rebel die “bewustelikheidtjie” sommer net daar en dan. Ag wat, môre is nog ‘n dag…TEN MINSTE WAS EK BEWUS! 🤪

Ek sal dus nou nog moet begin opnames maak van dié gewoontes en omstandigheid getuies wat hierdie BEWUSTHEID gaan ondermyn. Ek sal moet seker maak ek ruim tyd in vir ‘n paar goeie praktyke.  Jy weet, soos om ‘n paar keer asem te haal voor ek twee i.p.v. een koekie uit daai pakkie gryp, om te dink VOOR ek reageer…te wonder waar my reaksies vandaan kom en of dit vanuit ‘n suiwer of ‘n donker plek kom. 

Wat wil ek uiteindelik hieruit hê?

Dis soos die nuutste mode, of mees onlangse dieet foefie. As jy sien Susan het kwansuis 1000kg in ‘n oogwink afgeskud, dan wil jy daai dieet met alle mag bekom. Ek het nog altyd ‘n ding vir die lewe van ‘n monnik gehad, of mense wat net onophoudelik hêppie lyk. Lyk so moeiteloos. En moeiteloos is wat ek wil hê😜. Ek wil van daai Cool Aid hê. En as almal sê ‘n lewe meer BEWUSTELIK geleef kan dit bring, dan soek ek ook daarvan. 

Maar hier lê die ding….ek dink my sukses al dan nie, gaan gemeet word aan die kwaliteit wat hierdie groter BEWUSTELIKHEID tot my lewe gaan toevoeg. 

Die kwaliteit van my verhoudings met ander, die kwaliteit van die verhouding met myself en dinge wat my lewe gaan verryk. 

Ek sal maar moet werk aan HOE ‘n kwaliteit verhouding lyk, wie die mense is met wie ek sulke verhoudings wil kweek. 

Ek sal moet gaan stilsit en besluit wat ek meer of minder van moet doen om my lewe te verryk en verbeter. 

En dan sal my verhouding met myself ook hopelik ‘n blink baadjie kry. 

Baba treetjies, baba treetjies

So hier is ‘n wenk…vir die eerste week van die splinternuwe jaar…kies een iets in jou dag waaraan jy nie gewoonlik veel aandag skenk nie. En nou fokus jy daarop, jy maak ‘n punt om alles daarom te ervaar. Om al jou sintuie in te span, om alle gevoelens te ontgun en dan kyk jy hoe jy voel daarna. 

Myne gaan in daardie eerste paar minute wat ek wakker word wees. In plaas van uit die bed spring en met wasige oë die troon probeer vind.  Gaan ek net ‘n paar minute lê…voel hoe my liggaam hom bevind. Ek gaan na die oggendgeluide luister en ek gaan vir myself fluister…

I believe in miracles

Where are you going(from)?

You sexy thing!

😉 (tema liedjie sorted!) You Sexy Thing

#butibelieveinmiracles

Laat hoor van jou by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.

4 thoughts on “Vol 117: Die kat kom weer”

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *