Kyk as daar nou een ding is wat ons almal bemeester het, is dit om vir onsself te lieg. In die meeste gevalle so goed, dat ons selfs die snert wat ons opdis, glo! Dan regverdig ons dit met ons What Is Confirmation Bias want wie wil nou nie goed voel oor hulle lewens of hulle doen en late nie?
Wel, ek reken as mens so aan die begin van ‘n jaar staan en allerhande beloftes aan jouself gemaak het. Julle weet, soos om met meer bewustheid deur die lewe te gaan. Dan moet mens seker ook begin kyk na al die wit leuens wat mens aan jouself vertel!
Ek gaan so ‘n paar uitgooi in julle rigting, dan laat weet julle my weet of julle ook al aan die aas gebyt het!
As sus of so net kan gebeur
Alla😜, die een is aan die bo-punt van die gewildheidsleer so aan die begin van die jaar. Top of the charts as jy my vra met allerhande Nuwejaar voornemens.#thelieswetellourselves
Waar sal ons begin…
As ek eers 10kg afgeskud het, dan sal ek darem gelukkig wees.
As ek net eers daai kar kan koop, dan sal ek darem tevrede wees.
As ek net eers my kop kan skoonkry, dan sal ek ‘n goeie lewe kan lei.
Ek kan my kop op ‘n blok sit, dat een van die bogenoemde of ‘n soortegelyke “as sus of so eers net gebeur, dan…” êrens hier aan die begin van die jaar al ‘n draai kom maak het in jou kop.
Natuurlik is julle nie dom onnosel genoeg om te dink, as een aspek van jou lewe uitgesorteer is, sal alles anders sommer net so in plek val nie. Want as jy die aarde al langer as jou tienerdom bewandel, dan weet jy, eintlik kan jy maar Stop Trying to Be Happy. Maar sien al WEET ons dit, sal ons nogsteeds in hierdie wip gevang word.
Ons het ‘n paar geweldige bevoorregte jong mense in ons familie, wat met vreeslike “ernstige” eerste wêreld waarhede sukkel op die oomblik. Daai soort van jou eie huis koop, van besef mens moet nou kies tussen ‘n vakansie en jou geleerdheid. Julle weet, daai goed wat mens moet begin doen as jy nou as ‘n grootmens geklassifiseer word. In plaas van die tog geniet, die ontdekkingsreis van die lewe…wil hulle graag alles NOU reeds hê. Nie oor hulle aanspraak wil maak en in die afgrond in bederf is nie, nee, die lot verstaan alles mooi. Dis net…die grootmens lewe is maar kakkerig. En dit lyk nogal na ‘n klomp middelmatige tye wat voorlê!
Maar ek moet mos voor my eie deur vee…bewustheid het my gemaak besef, ek lieg lekker vir myself as ek nie erken dat die nuutste neiging om gewig te verloor nie aanloklik lyk nie. Of die idee van nóg ‘n kliënt, of dalk ‘n te-duur-vakansie in die bosveld. En so vergeet ek om IN DIE OOMBLIK te leef. Die alledaagse te geniet.
As ek net meer tyd gehad het
My absolute gunsteling…ek lieg nie meer vir myself oor hierdie een nie, GLAD JARE lank al nie. Maar luister maar goed en mooi, mense is geneig om hierdie bollie aan hulleself te verkondig as hulle byvoorbeeld “graag” ‘n gesonde lyf wil hê. Gym is uit, want “as ek net nie so baie ander verpligtinge gehad het nie.”
“As ek meer tyd gehad het was ek nou al ‘n marathon atleet,” of beter nog, “as ek meer tyd het en nie so vas was by die werk nie, dan sou ek ook elke wedstryd van my kind bygewoon het.”
Hoe klink joune? #The lies we tell ourselves
Die reine waarheid is natuurlik, AS JY REGTIG GRAAG IETS WIL HÊ OF DOEN, sal jy ‘n plan maak! Menige maal hou ons van die IDEE van iets, maar om dit te doen is natuurlik ‘n heel ander storie!!
Ek het al hierdie nonsens vir myself verkoop as die waarheid…maar natuurlik verbreek die deursettingsvermoë soos in toet en taal… en ek kry gou die Top 6 Reasons Most People Can’t Persevere on the Journey to Success.
Ek weet darem nou al dít…as ek passievol oor iets is, dan sal ek dit gedoen kry. Al slaan die weerligstrale en die kondisies lyk nie goed nie, sal ek vasbyt, deurdruk en die tyd vind!!(Soos om hierdie blog te skryf byvoorbeeld😛.)
Ek kan maar vergeet van grootste doelwitte…soos gewig verloor en dies dergelike goeters, want ek skuif sommer gou daai pale. My fêk Marelize!
Oki veel gepla dat ek dalk kan misluk nie, want my selfbeeld is gelukkig goed genoeg en my bek glad.
Dus my mede pelgrim, oornag sukses is uit die aard van die saak NIE ‘N DING nie, so begin maar jou passie soek, moenie belaglik wees met jou doelwitte nie, want anders sal jy maar jou trots moet sluk en sommer boedel oorgee voor jy nog begin het!
Ek moet tog net nie onnosel klink nie
Al ooit gereken jy is moes nou nie dit of dat dalk kwytgeraak het nie? Nagte rond gerol oor daai ding wat jou soos die wêreld se grootste dowwe dolla laat lyk het?
Wel ek het vir jou nuus, die meeste mense gee nie ‘n dooie duit om wat uit jou mond kom nie. Ek meen nou nie as jy iemand met jou vlymskerp bek probeer bykom of net ‘n deurdagte drol is nie. Ek meen nou in geselskap…die soort waar jy darem ook nou jou wyshede wou ten toon stel, of wou inpas. #thelieswetellourselves
Ek onthou tog nog so goed, hoe ek as tiener bekommerd was wat mense van my gaan sê as ek by ‘n vertrek uitgestap het. Of hulle agteraf van my geskinder het, of hulle gedink het ek is dof, of simpel of so iets.
Deesdae gee ek effe heelwat minder om, want ek weet darem teen die tyd al wat my waarde is. Maar daai snert wat mense kwytraak van, “ag ek gee nie om wat ander mense van my dink nie, ek is so gemaak en laat staan.” Dis nou ook ‘n lekker gelieg vir jouself! Want ek is tot vandag toe maar nog lugtig vir sekeres in my kringe…vir donners wat weet niemand nie. Want ek is seker hulle is nog meer bekommerd oor wat ek dalk van hulle dink!!
Eintlik gaan dit GLAD nie hier oor wat ander mense van jou sê of dink nie, dis maar weer die alewige The Psychology Behind Never Feeling Good Enough.
Die goeie nuus is dis nie ‘n waarheid nie, dis net ‘n gedagte. Een wat ons in ons eie koppe opmaak en dan belieg ons onsself, sodat ons tog al in die rondte kan tol vir dae en nagte en weke en maande!
As ek net daai een iemand kan oortuig
Daar is die geykte leuen wat elke liewe vrou(jonk of oud) haarself ook al vertel het so oor die jare heen. As ek net sus of so sou doen, as ek hom net van daardie een punt kan oortuig…dan sal hy vir my lief wees, my regtig verstaan, dan het ek sy liefde gewen en sal ons vir ewig en ewig en ewig gelukkig saamleef. #thelieswetellourselves
En natuurlik het ek al pens en pootjies geval vir daai leuen. En ek vertel hom nog aan myself op ‘n gereelde basis.
Maar wragties nou die dag het ek mos daai oomblik van lig gesien…ek het besef, dit help net mooi niks ek probeer mense van my diepste emosionele sienings oortuig nie. Hulle op die “regte” pad lei en sodoende ons verhoudings met elkaar enes van ongekende vreugde maak nie.
Want hulle is net so imperfek as wat ek is. As ek hulle lief het, waardeer of verdra vir PRESIES WIE HULLE IS, sal daar minder van ‘n innerlike struweling by my wees. En sal ek minder van my tyd, asem en kosbare woorde vermors.
Waar ek aan die nonsens gekom het dat ek my man, kinders,(aangelas of eie) en familie almal in my kamp moet injaag, WEET DIE NUGTER ALLEEN! Ek blameer Mills&Boon! Want wie weet, as hulle MY verstaan dan sal my lewe fantasties wees. Blê-die-Blê né!
Glo my vry, daar is nogsteeds VOLWASSE mense wat glo in onvoorwaardelike liefde. There’s No Such Thing as Unconditional Love. You Either Love Someone or You Don’t – lees en word wys as jy een van hulle is! Aarde mense, ons verwagtinge versmoor ons kanse op ‘n sweempie van geluk. #thelieswetellourselves
Hoekom is ek so vreemd
Al ooit gevoel jy pas net nie heeltemal so lekker in die samelewing in nie. So ‘n knaende gevoel dat daar ‘n hele samelewing daarbuite is wat almal pasmaat is, oor die weg kom en selfs blom. Maar jy is maar so effe hier op die rante, altyd bietjie van die buite kring een.
Geneuk is ons word almal in ‘n samelewing groot met ‘n sekere kultuur en stel reëls. Selfs as ons groot is, kan ons nie net Our ‘Kumbaya’ Moment, ons moet inpas, aanpas en ‘n bydrae lewer. So ons
How Our Environment Influences Our Life hoe ons lewe.
Maar net daar lê ‘n slaggat (#thelieswetellourselves)
), want êrens gaan ons voel ons “pas nie lekker in nie.” En foeitog dan oortuig ons onsself ons is die enigste mense wat so vreemd is. Buitestaanders as’t ware!
Party van ons laaik ‘n bietjie die buitestaander status, maar wys my die mens wat hulleself nie vergelyk met ander in hulle omgewing nie. The culture of social comparison stel dit so mooi, ons het sosiale vergelyking nodig, anders sal ons nie in spesifieke sosiale omstandighede kon oorleef nie. Want dis ‘n komplekse storie, die lewe van ons. Maar ons weet ook teen die tyd dat vergelyking meestal in ons eie koppe ronddans en die ironie van die saak is, ek vergelyk my met jou en jy doen weer dieselfde met my. En die uitkoms..ons voel beide ons skiet te kort!
Maar daar lê ‘n dieper ding agter dit alles reken ek. Al erken ons dit nie graag aan onsself nie. Dis nogal lekker om te voel of jy “spesiaal” is. So bietjie anders as die res van die klomp skape. 🤣. Mê!
Basies, maar waar
Agter al hierdie skuld daar een waarheid! Alles is presies soos jy dit “sien!” As jy kies dat alles in die wêreld donker, neerslagtig of traumaties en melodramaties moet wees…dan daag dit so op!
As jy kies dat alles in die lewe net deur getinte glase aanskou moet word, dan is dit seker so, maar jy lieg ook maar lekker vir jouself.
Die lewe is wat dit is, daar is klomp gemors wat niemand ooit wil erken in hulle binnekamers aangaan nie. Daar is oomblikke wat mens die lewe sommer net kan geniet, sonder te analiseer, sonder te kritiseer, sonder om te wil “verbeter.”
Aanvaar dinge NES hulle is. En dis dit.
Laat hoor van jy dink by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.
Pingback: #findingyourpurpose | Vol 120: Jou Laaste Dag