Nou hier is die ding – daar is ‘n paar goeters wat ons tog so graag as “ongesond” of “nie goed” vir ons etiketteer. Die memes is legio, sosiale media loop daarvan oor. Mense maak geld uit hierdie goed.
Glo my vry, spreek ‘n woord, soek iets op en viola…die algoritmes tel dit op en kort voor lank is elke selfhelp mens wat ‘n besigheidjie begin het se blad vir jou gevoer! #everythingisnotasitseems
Die selfhelp industrie is uit die aard van die saak ‘n reuse een. Amper soos die baba en troeteldier mark, mense raak besete as dit by die laasgenoemde twee kom. The $10 Billion Self-Improvement Market Adjusts to a New Generation wil beweer die bedryf gaan ‘n $13 biljoen storie wees in Amerika, in hierdie einste jaar wat ons onsself in bevind.
Samuel Smith was die eerste man wat die “selfhelp” konsep uitgedink het en ‘n boek gepubliseer het, genaamd Self Help; with illustrations of Conduct and Perseverance. Als doer ver in 1859 al en niks het nog juis verander nie…sy siening was:
“Heaven helps those who help themselves.”
Ek dwaal af! Die ding is dit, deur die eeue heen was daar genoeg katastrofes, peste en plae om die mens na ‘n tipe uitkoms, verandering of verbetering van die self te laat hunker. Want dank die Here is daar ‘n diepe begeerte by die meeste mense om beter mense te wees, om vorentoe te gaan of sommer net oor die algemeen ‘n meer skaflike lewe te lei.
Vir eeue het “self help” beteken om of die SELF te verbeter, maar dalk is hierdie nuwe tydperk waar “self help” beteken om jouself “te help” tot by ‘n plek van selfaanvaarding.
Wat my terugbring na my oorspronklike punt…dalk is daar goeters wat ons so deur al die “selfhelp” as die absolute waarheid aanvaar het en dalk moet ons nou begin vrae vra. Begin dink aan aanvaarding! #everythingisnotasitseems
Kom ons trek weg!
Goedkeuring van ander
Daar is ‘n opinie wat die rondtes doen dat die soeke na eksterne goedkeuring van jou ‘n swakkeling maak. Iemand met ‘n selfbeeld wat grens aan die van ‘n slak. #everythingisnotasitseems
Om goedkeuring of selfs insette van ons medemens te kry is so alledaags soos om te kou. Ons doen dit op ‘n daaglikse basis, sonder om veel aandag daaraan te skenk. As jy dalk bevoorreg genoeg is om met ‘n vriendin of suster op ‘n rokke jag vir ‘n funksie te wees, sal jy natuurlik haar opinie vra. Soms hol ek by my kind se kamer in met twee verskillende skoene aan, net om sy goedkeuring en advies oor my skoen keuse te kry.(Mnr G sê weer hy het geen idee hoekom ek hom ooit sy opinie op die mode front vra nie, want ek besluit gewoonlik op presies die teenoorgestelde van sy aanbeveling! 😜)
So weet ek byvoorbeeld ek kan altyd my suster bel en afgaan soos ‘n besetene oor almal en alles in my lewe wat my irriteer. Want soort soek soort mos darem. Sy sal ALTYD met my saamstem, want ons is in moederskoot aanmekaar geweef. Ons deel ‘n wêreld en soortgelyke opinies oor die wêreld. Of haar opinie nou goed vir my is, of sleg..maak nie saak nie, dit laat my beter voel.
En dit, net daar is alles goedkeuring wat ons van ander benodig. Daar skuil natuurlik baie agter The psychology behind seeking validation (and Why YOU need it die groot behoefte wat ons het vir ander se goedkeuring. Kyk maar hoe sosiale media werk – hele besighede omtrent rondom die “like” gebou.
Natuurlik doen jy jouself geen gunste as die ander se opinie van jou meer tel as jou opinie van jouself nie. Stop Seeking Validation from Others deel ‘n paar behulpsame notas uit, om seker te maak jy verval nie in die soort goedkeuring wat jou eintlik meer skade as goed doen nie.
Maar as jy net erkenning en aanvaarding vir jou idees wil kry van andere wat dalk al die pad voor jou bewandel het, of wie se opinie jy dink ‘n waardevolle bydrae tot jou lewe kan maak. Gaan voluit daarvoor – jy is mens. En as mense het ons dit nodig en dit is goed!
Moet tog nie so impulsief wees nie
Ek is een van daardie mense wat alles goed deurdink, logika met ‘n skeut realiteit aan die dag lê om besluite te neem. Nou nie een van daai wat dae, maande en jare vat en alles tot op die been oopkloof voor ek ‘n besluit nie. Maar van impulsiewe gedrag kan jy my skaamtelik beskuldig! Behalwe as dit by klere koop kom, dan kan ek binne sekondes ‘n klerekas vir jou vul! (Dank vader is meeste van hierdie aankope darem in die kol!)
Dis dood normaal om jou soms soos ‘n tweejarige te gedra, om die klits heeltemal kwyt te raak. Om in die oomblik ‘n effe ligte vloermoer te gooi, of in trane uit te bars voor ‘n klomp vreemdelinge omdat iets jou aan jou oorlede ouma herinner. Of om sommer net gou ‘n groot pak Lays in jou mond in te prop. Want ons is net mens! #everythingisnotasitseems
Sekerlik is daar ‘n paar van julle wat wonder hoekom julle so in die oomblik heeltemal alle selfbeheer verloor! 5 Reasons We Act Impulsively is so gaaf om vir ons ‘n paar leidrade te gee. En dis in die leidrade wat die geheim lê – niemand kan net altyd so eentonig en reguit en reg leef nie. (of trek New Zealand toe😜) Dis onmoontlik! So i.p.v soms heeltemal van die pad af te gaan, aanvaar jy is net mens. MAAR DAN, moet jy ook bewus raak van die hoekoms.
Dis dan nou hier, in die einste oomblik wat jy moet bewus wees. What Is Mindfulness toepas. In die oomblik gaan sit en mooi uitwerk wat jou so impulsief laat optree het. En of die gedrag die lewe wat jy graag wil hê ondersteun of ondermyn.
Ps. dis nou natuurlik as jou impulsiewe gedrag jou vriende en familie verjaag en jou in self haat dompel!
Alweer stront aangevang
Wie op hierdie aarde het nog nie iets gedoen wat hulle bitterlik of minder bitterlik hulleself oor verwyt het nie? Daai spyt kom altyd te laat!
Dink nou maar aan al die kos wat mens oor die Kersvakansie verorber. Daardie ekstra bakkie poeding, die roomys by die see. Al die harde werk by die gym poer in sy moer en die skaal word met ‘n vrees betree. Want hoekom o hoekom kan jy jouself net nie beheer nie. Vir wat moet alles voor die voet gevreet word???
Daar is ook die oomblikke wat jy op die ingewing iets kwyt raak wat jy soos dit by jou mond uitborrel wens jy kon weer terug ryg! Maar wat uit is, is uit en die skade is reeds gedoen.
Ons spandeer soooooooooooveeeeeeeeel energie en tyd om te dink aan, praat oor en sleg te voel oor die kere wat ons net eenvoudig onsself nie kon beheer nie.
Wat van ons doen ‘n slag wat hierdie artikel voorstel? Give Yourself a Break: The Power of Self-Compassion – en ons benader onsself net met so ‘n klein bietjie meer deernis. ‘n Poging om te verstaan hoekom ons die handdoek ingooi voor ons moet, of soms ons bekke groter rek as wat nodig is. #everythingisnotasitseems
Dan kan ons dalk aan beweeg en fokus op dit wat ons van die begin as die enigste aansporing gesien het!
Dalk kan ons dan van die ekstra bagasie ontslae raak en dapper wees in ons eie vel. Ons eie kwesbaarheid! Eerlik en opreg wees oor wie en wat ons is!
Altyd ou gedienstige Martha
Ons weet Martha was op die ou einde die suur ene, wat net gekla het. In my kindergeestesoog was Maria hierdie ligvoetige, snaakse en sommer net pure pret nimf. Martha was sekerlik die vaal ou gesiggie van die twee. (Duidelik reeds ‘n wilde verbeelding gehad 😝! En ek blameer Aspoestertjie, sy het die Bybel heel deurmekaar vir my kom gooi!) #everythingisnotasitseems
Mense sê tog so graag iemand moet nie altyd die dienende Martha wees nie. So asof dit ‘n swakheid is. Om mense te help is ‘n wonderlike persoonlikheid eienskap en merkwaardig! Die probleem is eintlik soos Martha Beck met Oprah bespreek in,
Why It’s Harder to Receive Than to Give.
Want ons het hierdie innerlike gestoei, wat wonder hoe ons ooit soortegelyke gunste kan uitdeel, of ons glo nie ons verdien dit nie, of wat as die persoon dit nie regtig vir ons wou gee nie? In kort, baie “gewers” is nie sulke goeie ontvangers nie!
So bly help as dit jou ding is, maar wees ook bereid om te ontvang. Want as jy nie kan nie, is die kanse dat daar tekens van wrokkigheid gaan insluip goed. Gaan soek maar by Signs of Resentment – ek dink jy sal dit vind onder “voel nie gewaardeerd nie.”
So as jy maklik gee, maak ook maklik jou hande oop en ontvang in oorvloed!
Hulp is om die draai
So of jy jouself of jou medemens wil help op hierdie pelgrimstog, onthou moet net elke meme of storietjie wat in ‘n mooi prentjie vasgevang is versprei of glo nie.
Onthou ons het almal maar ons ou geitjies. Dit gaan meer oor hoe ons aanvaarding van onsself en ander lyk!
Dit dra my goedkeuring weg!
Laat hoor van jou by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.
Ek hou van jou notas.. Identifiseer met dit.. Veral die oordink van foute of verkeerde keuses in my lewe.. Dienende Martha terwyl ek ook eerder ‘n Maria wil wees.. Sien uit om nog te lees.. 👍🤗
Hallo Lettie, sien hier gaat ek alweer. Jou epos gemis en nou dink ek: “ai tog, wat sê dit van jou? Kon jy nie vinniger antwoord op so ‘n lifelike mededeling nie?”
Maar ek probeer nou my beste om nie die Lotte in my kop so baie spreekbeurte te gee nie!
Dankie, dankie, dankie! En ek dink vandag se blog gaan jy ewe veel van hou!