Net so ‘n paar dae gelede het ek ‘n Sondag herroep, ‘n dag van afskeid neem van ‘n vriend en hoe so ‘n gedenkdag aan ‘n lewe uitspeel.
Dit was nie ‘n naby vriend nie, een wat ek leer ken het deur my huwelik met Mnr G. Dus was daar vele stories gedeel op die dag, wat ek nie saam met almal beleef het nie. Geen verwysingsraamwerk oor gehad het nie. Maar een ding was baie duidelik uit die vertellinge ~ dat daar ‘n besonderse belangrike, gebeurtenisvolle en opwindende tydperk eens in hulle almal se verlede was. Een wat 20 jaar later, hulle almal, by ‘n gedenkdiens van een van hulle, weer kon saamsnoer en nostalgies laat terugkyk. #the stories of our lives
So ‘n tikkie Nostalgia. Was nog altyd vir my so ‘n mooi woord. Seker maar omdat ek so ‘n bietjie van ‘n dromer is.
Wat is dit met die verlede?
Mense se lewens bestaan uit stories. Sonder stories het ons geen konteks nie, is ons niks. #thestoriesofourlives
Dit het ek agtergekom toe my ma, wat reeds vir 2 jaar teen daardie tyd dimensie gehad het, na my pa se dood, na ‘n wildvreemde oord moes verskuif. Sy het geen stories meer gehad om te vertel nie. Sy het geen stories met die mense rondom haar gedeel nie en dus kon hulle nie met haar ‘n aanknopingspunt vind nie. Sy was verlore en haar lewe was leeg.
Wat ek veral die naweek(waar ek maar ‘n bietjie soos my ma was, “afgesny” van stories uit die verlede,) opgelet het, is dat daardie einste groepie mense dieselfde storielyn oor-en-oor beleef. En dis as’t ware in baie gevalle die One Direction – Story of My Life (Lyrics).
Ons kry ‘n storielyn vroeg in ons lewens en dis wat ons lewensverhale in baie opsigte definieer. Ons las wel nuwe karakters by, ons skryf ‘n paar draaie en krulle in ~ maar alles word deur daardie eerste storielyn aan die gang gesit.
‘n Pragtige stukkie skryfwerk vind ek in hierdie artikel, oor hoe ons kinderdae ons storielyn beïnvloed ~ 4 Key Ways Your Childhood Shapes You
So bitter waar dat ons begin gevul is met herinneringe aan hoe dinge in ons ouerhuis daarna uitgesien het, hoe konflik hanteer is, hoe emosie en liefde gewys is, hoe daar oor ander mense gepraat is. Ek kan net tot vandag toe my sterre dank dat die meetsnoere vir my wyd geval het toe daar ouers uitgedeel is. Genade onbeskryflik groot. Maar selfs in my “goeie” huis, was daar ook dinge wat my verhoudings beïnvloed het, wat my manier van doen beïnvloed het ~ en dit het nie altyd so goed vir my uitgewerk nie. Maar gelukkig leer ek uit my foute!#thestoriesofourlives
Dis goed soms
Aangesien my tema vir die jaar “bewustheid” is, beteken dit mos eintlik maar in gewone taal om “in die oomblik” te probeer leef. So nostalgie en hierdie vasgevang in die verlede storie, rym nie so lekker nie. Boonop ondersteun allerhande oulike aanhalings soos hierdie een hieronder natuurlik die neiging om te glo, mens moet vorentoe beweeg en nie vashaak in die verlede nie.
Maar hoekom voel nostalgie dan so lekker? Hoekom is dit dan so belangrik vir ons om foto’s wat oomblikke verewig vasvang te hê? Hoekom kan ons nie ons toekoms skryf sonder die stories van ons verlede nie?
Why Nostalgia? The Amazing Power of Reminiscing gee ons so ‘n paar idees om aan te herkou.
Nostalgie is natuurlik ‘n verlange na die “self” van ‘n tyd in jou verlede. Ek kyk met soveel opwinding na al die foto’s van graad eentjies wat skool toe gaan vandag. Ek herinner myself aan daardie opwinding. Ek kan dit voel. Die eerste rokkie, die bruin skool tassie, die klaskamer, die reuk van bordkryt. En ek mis daai dogtertjie, ek onthou haar so goed. Gelukkig, geborge en sommer net ‘n kind. Was ook die draaipunt van ‘n tyd wat ‘n massiewe impak op my gehad het. ‘n Tyd toe ek begin twyfel het aan my “genoeg” wees, aan liefde en hoe ver dit kan strek.
Iets wat ek geweldig interessant gevind het in die lees van hierdie artikel, is dat navorsing bewys het dat ons in oomblikke van stres, of wanneer ons alleen voel, outomaties na nostalgiese oomblikke sal teruggryp. Is dit nie SOOOOOO waar nie? Hoeveel aande in my enkellopend-enkelma dae toe ek vir naweke stoksielalleen in my meenthuis gesit het, was nostalgie my kameraad? Met ‘n glas wyn in die hand, na Sarah McLachlan – Angel [Official Music Video] geluister. En dan het ek darem lekker snot en trane gesit en tjank…wag vir daardie tweede kans! Terug in my tiener dae toe daar nog hoop en drome in musiek gelê het.
Ons deel dan iets
Covid het ons mooi kom wys wat The risks of social isolation aan ons kan doen. Het ons nie soos mal mense saam met ons geliefdes aan die ander kant van ‘n skerm gesit en drink en eet, net om kontak te hê? Of selfs in die straat op sypaadjies oorkant mekaar sit en braai nie?
Het ek nie die naweek weer gesien hoe mense se gedeelde stories van die verlede hulle minder alleen laat voel. Hulle herinner aan ‘n tyd toe hulle in die fleur van hulle lewens was en hoe hulle hulleself nogsteeds sien nie?
Dink aan skool reünies! Buiten dat almal soontoe gaan om of te gaan spog met hulle suksesse of sexy vrouens . Dalk gaan kyk wie dikker is, wie nog hulle eie tande het en so aan. As die eerste geskinner en sugte van dankbaarheid dat jy toe nie so kak uitgedraai het nie eers verby is, dan begin almal hunker na die goeie ou dae. Die tyd toe almal sorgvry en (sommige) gewild was. Maar vreemd genoeg vind ons almal die goeie van daardie tyd. Ons het ‘n konneksie …al het ons wêrelde uit mekaar gegroei. Ons soek die gemene delers en hou daaraan vas. Want dit anker ons en ons storie. #thestoriesofourlives
Voorwaarts mars
So goed en mooi en lekker dit ook al mag wees om in die verlede te gaan ronddans. Weet ons darem ook dat If You Dwell in the Past, You’ll Get Left Behind.
Ek is natuurlik een GROOT voorstander van vorentoe beweeg. Die verlede in die verlede los en dan fokus op wat kan verander, waar daar ‘n plan te maak is. Laat ek ook maar weereens bieg, EK KRY DIT NET MOOI, GLAD EN GEHEEL EN AL NIE 100% VAN DIE TYD REG NIE. Laaik ook maar om myself jammer te kry of dinge van die verlede by te sleep!
Maar nou ja, ek het darem ten minste die intensie om vorentoe te gaan. 🤪 En ook die goeie geluk dat my verlede meestal nie my strot afruk nie.
Ek het soveel goeie geluk in my lewe gehad. Die goeie herinneringe, die goeie dele van my storie is ver, ver beter en meer as die kakkerige dele. Maar dalk was dit ook ‘n keuse? Ek glo altyd mens het so ‘n skeut geluk aan jou kant, of dalk is dit geluk wat jy vir jouself skep. Deur hard te werk, positief te bly en dankbaar. Ek weet nie??
Maar ek het ook uit die kakkerige tye geleer. Sommige lesse beter as ander of sal ons sê dit het my langer geneem om by ‘n antwoord uit te kom. Of verandering in myself te weeg te bring.
Hoe sê hulle, dis nou volbring. #thestoriesofourlives
Nee hel, ek is nog oppad. Ek gaan nog baie dinge doen en ek gaan herinneringe skep, sodat my storie kinkels en kabels het. Sodat daar romanse in is, moontlik ‘n lieg of twee en dalkies iets hygerig ook. Ek gaan berge uit, nuwe mense ontmoet.
Hou my dop🤣! Hoop ek loop jou ook raak êrens!
Wat van jy skryf vir my ‘n kortverhaal van jou lewe en stuur dit aan vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.