Ek weet nie of ek vanoggend net plein jaloers is of sommer net ongeduldig, gefrustreerd en geïrriteerd nie.
Jaloers op daai tipe mens wat lyk of NIKS op gods aarde hulle pla nie. Ongeduldig omdat al hierdie “selfondersoek” en “verbeterings” werk wat ek aan my self probeer doen net te flippen stadig vorder. Gefrustreerd seker maar omdat ek voel ek gee 5 treë vorentoe, net om 10 terug te gee. En geïrriteerd omdat ek net nie “kan laat los nie!” #cognitivedissonancewon’tletgo
Ek het al voorheen hieroor geskryf(vandaar die frustrasie, want hel ek moes mos darem al vordering gemaak het!!!!!) Ek lei aan kroniese cognitive dissonance.
Dis daai toestand waar ‘n mens ‘n donnerse hele politiese span in jou kop huisves. Of dalk nog beter, verskillende faksies van dieselfde party ~ almal besig om vir hulle eie gewin op te tree. Elkeen met sy eie waarde stelsel, maar niemand groots genoeg om juis as ‘n Mandela of Tutu uit die stryd te tree nie. Nee, elke donner vir homself! #cognitivedissonancewon’tletgo
Waaroor baklei hulle so?
Wel ons weet nou reeds dat die mens se denke is maar so bietjie soos water. Path of Least Resistance is wat ons altyd sal vat. Ons laaik ongemak net mooi fokkol, so as ons nie “om” dit kan gaan nie, sal ons eerder die rotse van ongemak uit die pad stoot, as om die lang pad om te vat.
Nou in kort, as jy nie tyd of lus gehad het om die skakel oop te maak nie, is hierdie kognitiewe verskille wat so kop uitsteek, wanneer ons houdings teenoor dinge kop stap met ons persepsies van daardie einste goed. #cognitivedissonancewon’tletgo
Goed, so wat de hel is die verkil tussen ‘n houding en persepsie en word die goed nie met mekaar verbind of het hulle nie maar hulle oorsprong op dieselfde plek nie? Al wat ek kan byvoeg is dit: dis maar presies soos ‘n politieke party…almal behoort aan dieselfde party, en koop is dieselfde ideologie in, maar die interpretasies is so effe verskillend.
In die sielkunde, is ‘n Attitudes and Behavior in Psychology iets wat meestal in jou kinderdae posgevat het en toe so langs die pad vas gemessel is deur jou ondervindinge. So byvoorbeeld as jou ma gedink het mense met ‘n onnet huis het geen selfrespek nie…dan sal jy vir die res van jou lewe daai ou stemmetjie met jou saamdra.
Persepsies aan die ander kant, is hoe ons die wêreld om ons ervaar. Daarvoor het ons al ons sintuie nodig…in ‘n oogwink, met ‘n snuf in die neus, oordeel in ‘n stemtoon kan ons baie vinnig die wêreld om ons opsom.
Met al hierdie definisies in pag, en ‘n nadere ondersoek, wonder ek toe HOE DE DONNER, vra ek julle met ‘n traan in die oog, kan my houding en my sintuie tog so met mekaar baklei. Kloutjie kon glad nie by die oor gebring word nie. Tot ek afkom op Cognitive dissonance: What to know.
En daar gaan die lig op….NATUURLIK!!!
Ek het hierdie bakleiery in my kop, want my siening van mense en myself, en die indrukke wat ek het baklei met mekaar. My sintuie wil ook net pret hê, maar daai donnerse diepgesetelde idees oor wat goed en kwaad en bewonderenswaardig en veragtend is, hulle is ‘n klomp hardegatte. Nie een wil bres gee nie.#cognitivedissonancewon’tletgo
So wie gee nou regtig om?
Lang gesanik, so wat moet julle met al hierdie inligting maak? Ek weet ek is nie enig in my soort nie. 😜 Daar moet nog van julle daarbuite wees…want hier in my eie huis is die mans duidelik vrygeskeld van hierdie party politiek!! Of dalk nie heeltemal nie, dalk is hulle net beter met die ignoreer deel. Of verplaas hulle vinniger skuld, of kan hulle hulle self beter BS.
Maar ek is nou siek en sat, gatvol verby en soek ook daai “so what!”
Kom ek skryf so ‘n paar van die “argumente” in kop neer en dan kyk julle of daar iets resoneer. Of dalk is een van julle dapper genoeg om vir my nog ‘n paar voorbeelde van uit julle “raadsale” te stuur.
Die eerste een kan ek terugroep na my dae toe die wynvlieg en sy trawante soms heeltemal hand uit geruk het. Fokkit mense, buiten natuurlik vir die gesondheidsrisiko’s en die kak gevoel wat daarmee saamgaan om te veel van Bacchus se voggies te geniet..kon daar darem ‘n behoorlike geredekawel in my kop wees voor daardie eerste glas. Duidelik is my geloof rondom die kwessie van drank, dat mens beheer verloor en dat beheer verloor een van die swakkeling eienskappe van die mensdom is. Dit terwyl my vriende alte lekker kan kuier, hulle name gatter-as-gat maak, net om die volgende dag genotvol te vertel hoe ‘n lekker tyd hulle gehad het. En ek??? Wel ek sou ure spandeer om myself te kasty oor ek so beheer kan verloor, dat ek so ‘n swakkeling is en boonop diep bekommerd oor wat mense van my dink.
Dit terwyl my persepsie(of sal ons sê ervaring van die wonder van wyn) een van absolute genot is. Dis iets wat ek begeer om te kan doen, binne perke natuurlik…want soos ‘n wynmaker wat ek ken altyd sê: Drink beter nie meer nie.
Ps wil tog net byvoeg dat ek dank die Here nooit klinies verslaaf was nie, dis meer hierdie kognitiewe kak in my kop wat my laat halt roep het. Daar is baie mense vir wie hierdie ‘n lewenstryd is.
Tweede een het ek al meer vordering mee gemaak…dit was die “oefen om te mag eet” bakleiery. I kid you not! Ek sou in die oggende gaan draf en terwyl ek draf…en so effe baie hyg, sou ek die spreekwoordelike wortel voor die neus kon hou…”dink net aan al die lekker goed wat jy nou verdien om te verorber!” Soos genoem, hier is darem al veel groter stappe in die regte rigting gemaak. Nou oefen ek vir die blote lekkerte daarvan. Die wete dat ek nou hierdie liggaam moet bewaar vir my oudag. Vryheid, maar soms, net soms kom daai bliksemse ander faksie weer na vore. Word darem nou al so bietjie soos ‘n sekere lid van ‘n sekere party hier in ons einste land…vinniger stil gemaak deur die res!
Nog ‘n ene is wanneer iemand dalk iets negatiefs sê oor my vaardighede, soos byvoorbeeld hierdie blog. Kyk mense as iemand my werk bevraagteken of ek het ‘n fout begaan, dan moet julle hierdie spul in my kop hoor. Die een faksie baklei hulle malle moer af om my te laat verstaan, dis net een iemand anders se opinie..die wêreld gaan nie vergaan nie en so ook nie wêreld vrede nie. Terwyl die ander kant my ure, der ure sal besighou met ‘n vermaning dat ek beter my werk moet nagaan. Dat iemand wat die moeite werd is om goed in publieke forums te waag uitstal, nie mense se tyd so moet mors nie. Want sien laasgenoemde ignoreer al die positiewe, goeie opmerkings wat vele van julle maak.
Dis nog nie die lot nie, maar ek weet julle het ook beperkte tyd!!! #cognitivedissonancewon’tletgo
Perfek is al wat tel!
O hemele help my!! Does perfectionism lead to cognitive dissonance daar lê die antwoord alweer! Ag nee man, kyk nou net weer hier!
- Aspirasies om ‘n foutlose lewe te lei. (Wel nou nie heeltemal nie, maar as ek nou eerlik moet wees…hmmmm meestal.) ‘n Blote spelfout het die vermoë om my kop soos ‘n tor sin te laat spin. HOE OP AARDE kan ek so dom onnosel wees. Is mos darem beter opgevoed!
- Ongelooflik krities op myself en dan natuurlik op die koop toe teenoor ander. Maar eintlik meer teenoor myself as ander. (Dalk sal die seunskind nie saamstem nie🤪)
- Hogere verwagtinge van myself. Nou ja, as jy wil middelmatig wees, wat is die punt nè? 🙈
Ek weet nie hoe mens amper 50 jaar van glo aan hierdie snert van ontslae raak nie. En laat ons nou maar ook doodeerlik wees, BAIE van hierdie eienskappe het my gebring tot waar ek vandag is. Dien ‘n bitter goeie doel. Want om net rond te hang en te maak of die wêreld jou alles skuld en jy maar net jou goeie ou, lui self kan wees, is ook bok bollie!
Ek moet nou net begin besluit watter faksie, wanneer die sê moet hê. Dalk is ek nie altyd so seker hoekom die geredekawel in my kop aangaan nie. Want hoekom steek dit nie orals kop uit nie?
Ek het ‘n plan
Ha, ha!!! Nog ‘n ding van die uwe, as ongemak sy kop uitsteek, in plaas van met hom sit vir ure, moet daar plan gemaak word!
Ek reken dalk moet ek net van die staanspoor af na die “agenda” kyk. Waaroor gaan die bakleiery nou eintlik? #cognitivedissonancewon’tletgo
- As die een faksie wil baklei oor gesondheid, of naam gatmaak, dalk moet ek net ‘n paar wyse mense inroep wat glo…”mens lewe net een keer.” 🤪 Julle weet, amper soos diegene wat rook, ongeag die duidelike bewyse dat kanker heel moontlik in die toekoms vir jou kan wink, doen hulle dit voort, want dis al “genot wat hulle het.” So ek neem aan, wat weeg die swaarste?
- Dalk kan ek die goed teenoor die kwaad opweeg. Ek leef mos darem 99% van die tyd gesond, is nie ‘n Sloths nie. Daar sal verseker nie mos op my groei omdat ek te lui is om te beweeg nie. So watter verskil sal dit nou maak as ek hier en daar ‘n sondetjie oor die lippe laat gaan, of ‘n oefen sessie mis. Alles in matigheid nè! (Of kies om soos te ‘n stoof lokomotief te blaas, want op die ouderdom blyk dit is “gereeldheid ”die antwoord! Op verskeie vlakke🤪)
- Dalk moet ek net my oortuigings oor sekere dinge verander? Wel ja, dit klink makliker gesê as gedoen. Maar dalk is hierdie blog ‘n goeie plek te begin. Want ek hoop tog van harte almal lees dit maar met die wete ek is nie ‘n joernalis nie, ek probeer nie pryse wen nie en definitief nie ‘n plek oopskryf in een of ander joernaal nie.
Die plan is in plek, en wat nou?? 🤣 Ek gaan my beste probeer…nee wag, daai klink weer soos perfeksionisme. Ek is geskroef!
Sterkte mense, dis rof daarbinne in ons koppe!
Skryf ‘n slag vir my by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.