Vol 123:  Aanstap Rooies die pad is lank en swaar

Die week is amper op sy rug en ek het die self uitgedinkte strategie van Vol 122: Die Ewige Geredekawel begin toepas. Hemele hoor my, dis toe effe makliker gesê as gedaan.

As een van julle al ooit probeer het om ‘n slegte gewoonte af te leer, dan sal julle weet dit vat nogal heeeeelwat doelgerigtheid, deursettingsvermoë en ‘n gekners op die tande. Dis glad nie ‘n lekker episode nie en meer male vaal ons liederlik! Dan val ons maar weer terug na die fokkit emmertjie toe en omarm daai ou gewoontes, soos die lang verlore seun. Ek het so bietjie goeie nuus ~ dis jou magtige brein wat hierdie hele komplot teen jou smee…arme jy is maar effe soos ‘n slaaf.

Reward pathway in the brain het ‘n mooi stap-vir-stap verduideliking waarom ons breine net die beloning in die oog hou – soos ‘n eie geregtigde, bedorwe ryk man se kind. Dis biologies, ons is so aanmekaar gesit. #avoidanceisanexperiment

En dis waar hierdie hele komitee, wat daagliks in ons koppe so praat-praat-praat en mekaar aanvat, vandaan kom. Maggies, geweet die ding is magtig, maar sjoe. 

Weet net dit – die brein bestaan uit ongeveer 85 biljoen neurons ~ so veel soos die sterre in ons hemelruim. As jy my nie so lekker glo nie, gaan kyk die greep Intriguing Facts About the Human Brain en staan in verwondering oor wat daar in jou skedel aangaan. Dalk het jy nou meer simpatie – dink partykeer is my brein te slim vir my😝, mos nie tegnies aangelê nie!


#avoidanceisanexperiment
#avoidanceisanexperiment

Sit om die tafel en praat hom uit

Ek is maar een met ‘n verbeelding, van kleins af het ek so in my afgesonderheid mos “vriende” gemaak met Heidi daar in die Alpe. Lekker lang uitgerekte gesprekke met haar gehad. Daai gewoonte hang maar rond by enkel of alleen kinders – jy bly praat met die mense wat nie bestaan nie! 🤭😁 #avoidanceisanexperiment 

Alle grappies op ‘n stokkie, ek sit toe daai spul in my kop ~ die komitee noem ons hulle ~ neer om die tafel en ons begin. Die onderwerp van bespreking is ‘n epos van ‘n kliënt wat in die inboks beland het. Die einste epos se trant is nou nie heeltemal wat jy graag op ‘n Vrydagoggend mee wil opgeskeep sit nie, effe af. Aan die een kant van die tafel sit komiteelid nommer een, wat brand om te antwoord, kry dit agter die rug, sit die vent op sy plek. Aan die ander kant van die “tafel” skop die ander komitee lid vas, nee wag net nog ‘n rukkie, netnou sê jy iets wat jy nie moet nie, dis te moeilik, vermy eerder, môre is nog ‘n dag. Gaan maak eerder ‘n koppie koffie! #avoidanceisanexperiment

Ongelukkig, soos ons al vasgestel het is dit dood normaal vir ons breine, met al die tonnels en neurons en chemikalieë wat daar rondskommel, om verskillende “stemme en opinies” te hê. Dat myne nog nie soos 2021 Cumbre Vieja volcanic eruption ontplof en goeters die hele wêreld vol laat spat het nie, is ‘n gods wonderwerk!

Ok, maar hoe nou gemaak

Ons is darem mos aan die stuur van sake hier, is mos nie robotte of slawe van ons eie breine nie. Moet mos darem soos ‘n sirkus ring meester die klomp kan tem en op hulle plekke hou. Of hoe dan nou?

Besluit toe, ek gaan soos ‘n waffers antropoloog die klompie bestudeer. As jy soveel ure soos ek in die verlede om ‘n korporatiewe raadsaal spandeer het, leer jy ‘n ding of twee van die mens. Dis ‘n hele spel daai! Soos Survivor South Africa: Immunity Island

Luister baie mooi hoe hierdie stemme met jou praat. Party is behulpsaam en dra net jou beste belange op die hart. Hulle wil hê jy moet floreer, vorentoe gaan en groei. Die ander is skytbang en wil jou so vinnig as moontlik uit die pad van die kort termyn “moeilikheid” stamp. En die laasgenoemde lot, kry baie maal die oorhand. Want hulle kan net nie verstaan dat wat hulle in die kort termyn jou oortuig van, nie in die langer termyn vir jou goed is, of gaan vrugte afwerp nie. Die gevaar is nou!

Maar wat jy wel, soos ‘n ou wyse leermeester kan doen, is om met die grootste deernis na hulle te luister. So voor jy luister gee aan hulle opdragte om uit te stel, af te stel of iets bitsig kwyt te raak. Dus, wees bewus. Moenie soos ‘n slaaf net doen of reageer nie. 

Wat my alweer terugbring by my tema van die jaar… Mindfulness

“ Mindfulness encompasses two key ingredients: awareness and acceptance. Awareness is the knowledge and ability to focus attention on one’s inner processes and experiences, such as the experience of the present moment. Acceptance is the ability to observe and accept—rather than judge or avoid—those streams of thought.” 

Skeut koue water in die gesig!! Ek is so gefokus op stap een ~ om bewus te wees…en dan haak ek vas. Want wat nou, nou weet ek dit, ek sien die spul, ek hoor die geredekawel..maar wat maak ek nou met hulle? AANVAARDING is toe die stukkie van die legkaart wat verlê is! 

Ek het al opgelet

Soms as ek verveeld is, of iets eentonig of uitdagend agter my rekenaar moet doen…iets wat tyd of bietjie breinkrag gaan verg, is my eerste gedagte om net gou op te staan en nog ‘n koppie koffie te gaan maak. Nog minute gemors, nog koffie wat my liggaam verseker nie nodig gehad het nie. Maar ek probeer UITSTEL. #avoidanceisanexperiment

Gewoonte drinkers kom in die aand deur daai voordeur, en na ‘n lang, stresvolle dag moet hulle reguit yskas toe om ‘n koue glas alkoholiese verversing te skink en af te sluk in een teug. ‘n Beloning na ‘n stresvolle dag ~ voor die kosmaak, of die kinders of die huiswerk aangepak kan word. Wat weliswaar daarna moet geskied, dan in ‘n waas en met ‘n ligte dowwigheid in die kop. 

Mens noem hierdie Experiential avoidance. Al weet ons op die lange duur kom daar afstel van uitstel, of dat daardie twee glase wyn môre jou hele dag gaan opfoeter…in die oomblik, kies ons om die onmiddellik ongemak van ontslae te raak. 

Wie neem notule? 

Met my antropoloog hoed op die kop, maak ek nou notas. Dit help nogal om goed op papier te kry. Ek skryf albei partye se argumente(ja klink simpel ek weet, nie net praat ek met myself nie, maar dokumenteer ek dit ook nog😝,) op papier neer. Die papier kan toiletpapier, koerant papier of selfs sommer op jou foon wees. 

Dan maak ek ‘n lys van al die voordele en nadele van elkeen se voorstel. Byvoorbeeld, wat sal al die voordele wees van uitstel en dan wat die nadele. En jou wrintie waar na die paar dae kon ek al ‘n patroon sien. En breine hou van patrone en voetpaadjies en goed wat maklik vloei. 

Die ding is ook dit, ek het besluit daar is ‘n paar ononderhandelbares in my lewe. Ek gaan nie enige iets doen om herinneringe uit te wis nie. Ek wil goed onthou. Vandaar wil ek nie permanent met ‘n glas in die hand sit, of niks van ‘n vorige aand onthou nie. Ek wil elke deel van elke gesprek kan onthou. Die lewe is te kort om dit in ‘n waas deur te bring. Ons sê so graag ons lewens is te kort, maar dan doen ons goed wat al ons herinneringe uitwis. Dit strook net nie. 

Ek wil ook vry wees. Ek wil nie ‘n slaaf wees van my gewoontes of my vrese nie. Want so baie dinge in die lewe gaan by ons verby omdat ons bang is ons pas nie in nie, ons gaan uit mis op al die pret, of ons gaan nie goed genoeg in ander se oë wees nie. Nie maer genoeg, slim genoeg, mooi genoeg, fiks genoeg, ryk genoeg nie…noem dit op!

En dan die een waaraan ek werk, om enige rede tot ‘n tweespalt in my gemoed uit te wis. Ek wil myself nie in situasies bevind waar ek die hele tyd verwyte het nie.  Nie net dinge kan aanvaar vir wat dit is nie. Ek wil nie keuses maak wat teen my beginsels ingaan en waaroor ek 2 uur in die oggend moet wakker lê nie. 

Omarm al jou dele

Almal van ons het geraamtes in die kas. Almal van ons se gedrag strook nie altyd met wie en wat ons streef om te wees nie. Maar om daardie “swartskaap” van ons eie wese weg te jaag of in ‘n put te gooi, gaan nie werk nie. #avoidanceisanexperiment

Elyn Saks is ‘n professor, aan die universiteit van Stanford en hoog aangeskrewe kenner van die mens se psige. Sy is ook ‘n skisofreen. Haar stemme is duidelik meer vreesaanjaende en werklik as dié wat meeste van ons daagliks moet aanhoor. Sy het egter deur die jare geleer om elke oggend met hierdie “mense” wat opdaag en dreig om haar te laat ontspoor, sagkens om te gaan. Sy “groet” hulle wanneer hulle opdaag, reflekteer hulle kommer en angs en verseker hulle dan dat sy al in die verlede mooi na hulle gekyk het en weer so sal maak. Sy stel hulle dus gerus en dan “verdwyn” hulle weer. 

Daar is geen bewyse nog gevind dat daar een “voorsitter” in jou brein is wat die hele komitee op koers kan hou nie. Maar as jy werklik na almal van hulle begin luister, en bewus is wie uit vrees optree ~ dan sal jy stadig maar seker dinge kan kalmeer reken ek. 

Ek dink my ononderhandelbares behoort my effe op koers te hou. Wat is joune? 

#avoidanceisanexperiment

Skryf vir my en laat my weet, die adres is vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *