Verlede jaar was dit ‘n gesukkel met die verandering in identiteit wat my in die gesig gestaar het ~ nuwe blyplek op die horison ~ ‘n verplaaste as’t ware. Net toe ek daarmee vrede maak, bekruip ‘n ander gedoente my weer.
2022 met al sy belofte van dinge wat weer kan terugkeer na die normaal, vóór die “nuwe-normaal, ” was veronderstel om opwinding te bring. Dinge weer bietjie meer in plek te laat val. Maar ek weet nie so mooi nie, die jaar sukkel ek om spoed te kry. Ek hou van ‘n nuwe begin, van dinge afskop en uitsorteer ~ by die begin streep staan en daai eindstreep met genoegdoening in die oog hou.
Dis net asof, asof my hele liggaam protesteer hier in 2022. Eers slaan die vel(genade mense op amper 50) uit, voel soos in my tienerjare. Toe kry ek ‘n karkatjie, daarna ‘n toonnael wat ingroei. Boonop is die knaende hak pyn toe eintlik die ouderdom wat toeslaan, diagnose gemaak ~ kalsifikasie van die enkel.
Een keer al van die perd afgeval en een keer amper weer my gat gesien toe sy sommer aan de weghol gaan met my.
Boonop besluit my geliefde Apple maatskappy om ‘n nuwe wonder opgradering te doen en “poef” weg is my eposse. Dis dae soos daardie wat ek die groot korporatiewe joppie mis hoor; die een met die IT ouens aan die anderkant van die lyn. Sukkel my malle moer af, Google my dood, roep hulp van vriende in, maar helaas nog steeds dieselfde gemors. Dit vat my dus nou omtrent 4 keer langer my werk te doen as gewoonlik. En ek voel hoe die paniek my begin pak ~ slaan doodmoeg op die bank neer en dink IETS MOET VERANDER!!! #strikingabalance
Mnr G wil weet wat pla? Sukkel jy nog met die trek en die verandering. NEE, nee, nee….ek besef ek probeer twee verskillende lewens(style) in een inprop.
Hoe dan so?
Party mense sal sê ek het die beste van twee wêrelde. Ek kan my eie ritme bepaal. My Work-life balance kan tog net ideaal wees. Ek kan my eie dagboek bestuur, geen kind of kraai weet mos wanneer ek besig is met my eie vs. werk dinge nie.
Wat dit ook al mag beteken en as een van julle dit al reggekry het, laat weet hoor! #strikingabalance
Al wat ek weet, is dit:
Lewe een ~ die van ‘n werkende konsultant. Laat ek julle net vertel die konsultasie storie beteken jy moet D.E.L.I.V.E.R. Dis nou als goed en wel om jou eie dagboek te bepaal, maar elkeen wil ook maar sy pond vleis eis. En reg ook so, hulle betaal mens natuurlik daarvoor. Na hierdie hele pandemie gemors(ja ek sê NA, want ek nou gatvol,) knyp die mense ook maar beursies toe. Almal soek bietjie meer, vir bietjie minder…want dit gaan swaar met alle besighede en mens moet dankbaar wees jy het nog kliënte.
So werkende konsultant moet die ure in die dag vind om al haar werk te doen. En as daai ure nie in die dag is nie, is hulle in die aand.
Lewe twee ~ die van ‘n “afgetrede” man se vrou en ook een wat na kinder verantwoordelikhede van meer as 20 jaar, nou tyd vir haarself wil inruim. (Ns..afgetrede is in aanhalingstekens, want dis ‘n aktiewe aftrede en ‘n vroeë een, so kwalifiseer nog nie as volle een nie☺️.) Kind verantwoordelikheid het ek op die twee skouers gedra, was as’t ware ‘n “enkel ouer “ van toeka tot nou.
Dus, hierdie ander lewe soek tyd vir myself deur die dag. Soek tydjies vir middagete eet, vir erns gaan lê by ‘n spa of net ‘n koffie met ‘n vriendin.
Maar die geneuk is, Feel like you never have enough time? Try these 5 ways to cope with the anxiety.
Ek het dus, blyk dit my Do You Have Productivity Shame? en dan om dit net mooi af te rond Feel Like Time’s Always Running Out? It Might Be “Time Anxiety”.
Of dalk het ek net eenvoudig te veel hooi op my vurk! #strikingabalance
Ek is net nooit op datum nie!
Al ooit die gevoel gekry dat al werk jy tot watter ure in die nag, al staan jy voor almal op om die kosblikke te pak, al probeer jy duisend balle in die lug hou om net met jou geliefde êrens daai uurtjie af te knip ~ kom jy net nooit voor nie? Selfs al is jy veronderstel om die naweek af te vat, maal en maal daai sperdatums, die kinders se sport skedule en, en, en deur jou kop.
Dis asof die afgelope twee jaar hierdie idee van “doen meer, met minder tot jou beskikking” besig is om heeltemal hand uit te ruk! En om dood eerlik te wees, ek glo nie dis moontlik nie. Ek dink ons stuur op ‘n ramp af.
Mnr G raak storm bedonnerd vir my omdat ek permanent besig is op my foon. Sien hy dink ek is besig om net klomp spookasem te kyk; maar ek weet daar is ‘n epos wat daar êrens skuil. As ek daai einste epos NOU antwoord, is dit mos afgehandel. 🤭 Dankbaar dat ek “tyd” in die toekoms gekoop het. #strikingabalance
Heil die keiser!
Ek is mos soos ‘n dissipel vir Brené Brown. Een van haar wonderwerk boeke is Daring Greatly: How the Courage to Be Vulnerable Transforms the Way We Live, Love, Parent, and Lead Hardcover – September 11, 2012 en daarin bekyk sy so wrintie waar hierdie kwessie.
Lees: Sy sug van verligting, want nie alleen in hierdie gesukkel nie.
Aangesien ek nie juis ‘n hele span mense meer het wat aan my rapporteer nie, moet ek nou maar my eie “baas” en “klaas” rolle vertolk. Ek vat haar raad so:
1. Dalk moet ek net ‘n slag aan die einde van ‘n dag STOP en myself ERKENNING GEE vir dit wat ek wel daardie dag kon regkry. Die take wat afgehandel is. Die feit dat ek ‘n komplekse lewe na die beste van my vermoë kon hanteer. Môre is hopelik nog ‘n dag nè?
2. Ek moet my grense beter stel. Ja en dit geld vir beide Lewe Een en Lewe Twee. Ek dink ek voel net bloot skuldig as ek deur die dag(wat mos darem vir WERK gemaak is, deeltjies afknyp om Lewe Twee ook in te pas.) Of dalk probeer ek té veel inprop? Maar ek is grootgemaak, om altyd te wys ek is ‘n harde werker ~ op te daag en betroubaar te wees. En Lewe Twee sal ek dalk moet kies wat ek regtig kan inpas alles.
3. ‘n Groot een vir my, dalkies, net dalkies is ek bang ek verloor my relevansie. Wat as mense my nie meer nodig het nie. Wat as ek nie daardie een persoon is wat my man se lewe ook met geluk en goeie herinneringe vul nie. Wat as ek nie daardie beloofde middagete met ‘n “sterwend-van-die-honger” student kan maak nie? Wat beteken ek dan vir die mensdom?
4. Ek weet ek het al voorheen my kommer uitgespreek dat ek moontlik ‘n goeie skeut van perfeksionisme in my ronddra. Maar na ek hierdie boek weer gelees het, dink ek dis ‘n baie ligte klappie wat ek daarvan weg het. Ek dink ek het eerder ‘n ongelooflik stewe daarna om my beste te doen ~ hoë standaarde vir myself. Ook maar mens, moet ek net altyd daarteen waak dat dit nie gaan oor “wat ander mense” van my dink nie. Maar eerder ek van myself. WANT dis daai ander mense wat die perfeksionis sy kop laat uitsteek.
Die uiteinde van dit alles
Ek wil nie hê my lewe moet hierdie een groot aanhoudende gejaag wees nie. Dit moet nie soos ‘n stofwolk agter my lê terwyl ek voortstorm nie. #strikingabalance
Ek dink dis wat my pla. Dat ek niks wil vergeet nie, want môre is nie vir ons belowe nie. Dat ek nie meer kan skuldig voel oor ek nie by alles uitkom nie. Dat ek nie meer ‘n “vrees” in my moet ronddra dat ek nie genoeg is nie.
Ek dink ek verdien om te “rus,” om MY tenk en net MY tenk te vul met dit wat vir my lekker is. Ek hoef nie verdomp altyd te dink ek moet in diens van ander mense staan nie.
Want al wat ek het is hierdie tyd wat ek nou het. Mag julle ‘n week van “genoeg tyd” hê!
Dra jy ook dalk aan hierdie las? Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.
Ek dra ook die wonder woman cape van perfeksionisme. Love die uitdrukkings wat jy gebruik. Dis nommerpas!
Perfesionisme se gat – ek is moeg vir daai cape. Kom ons lê hom neer en lees Vrydag se blog asb en laat my weet wat jy daarvan dink. Dalk is dit ons oplossing?