Dieselfde ou tematjie het soos verlede week, dié week , meedoënloos bly uitspeel. Soos een van daai langspeelplate wat bly hak-hak.
Maar die keer het hy ‘n ander geurtjie bygekry. ‘n Reukie van mislukking. Laaik nogal die woord, som dinge mooi op met die “mis” voorvoegsel🤪. #failingspectacularlyisgood
Die gevoel dat ek net nie by alles uitkom en enige iets ordentlik doen nie, kry ek net nie afgeskud nie. Klou soos snot aan ‘n wolkombers, want EK DOEN NIE DINGE HALF NIE! Bly rondhol soos ‘n afkop hoender wat net hier en daar grondvat. En i.p.v. om ekstra tyd voor die rekenaar in te sit, verorber ek heelmiddag spookasem kykgenot op Netflix. Klassieke tekens! En jou wrintie waar, daar raak die een karakter ‘n ding kwyt wat my so bietjie tot stilstand ruk. (Dat mens nou so baie uit spookasem kan kry!) Iets soos…as ons sukkel om vorentoe te beweeg, is daar baie keer iets in ons pad wat ons vrees. (Ja ek weet, as mens dit neerskryf dan lyk dit nou ook nie meer soos iets wat die wêreld se probleme kan oplos nie en moet mens wonder ~ Inc.Africa)
Mooi opgedress
As die vrees vir mislukking ‘n mooi kleedjie aanhet, daag dit by die bal op as vermyding, angs, magteloosheid, hulpeloosheid, besluiteloosheid of net ‘n gevoel van beheer verloor.
My vrees vir mislukking laat my nie hulpeloos of besluiteloos nie, ook gelukkig nie so angstig dat en nie kan vorentoe nie. Nee dit laat my magteloos en buite beheer. En as die bal eers aan die rol is, dan is dit klein simpel goedjies wat my laat voel of ek ontspoor. #failingspectacularlyisgood
Vat nou maar verlede week – die debakel van die vermiste eposse het voortgeduur. Nou ek is NIE ‘N BOFFIN met enige rekenaar nie. Ek koop die ding vir sy mooigeit en hoe lekker dit tik en so aan. Ek het hard probeer om kalm te bly en alles noukeurig te doen wat die mannetjies aan die anderkant van die foon vir my probeer “leer” het. Maar op ‘n stadium was ek so magteloos dat ek net wou tjank!
Dan was dit weer ek en die ewige donnerse skaal.(Ingegee, klim alweer op die ding!) 2kg af, 3kg op. Ek lus om net daar op die badkamer vloer te loop sit en huil. Want hoekom op aaaaaaaaarde kan ek nie soos ‘n gewone mens net my kos geniet, nie altyd myself stenig oor die vorige dag en dalk net in die oomblik lewe nie? Vir wat kan ek nie ook net gesonde keuses maak nie, dis nie asof ek ‘n emosionele eter is of nie van beter weet nie? Verdomp, hoe moeilik kan dit wees. As dit my so ongemaklik laat voel, kan ek sekerlik ‘n plan maak!?
Scenario drie. Ek het mos die afgelope paar weke eers my gat gesien van die perde kind se rug af, en toe hol sy amper met my weg. Vrydagoggend vroeg, ná ‘n aanlyn kursus oor hoe mens jou sit moet sit, sit ek toe met groot afwagting en opwinding soontoe af. Ons twee was in die arena en ek gereed. Net om soos ‘n rubberbal in daai saal rond te bons en glad en geheel en al nie enige van die wenke wat ek so mooi aangeleer het, te kon toepas nie. #failingspectacularlyisgood
En net daar dink ek aan die sêding…get back on the horse Want sien die lewe is vol van bokspringende perde… Life is just one long string of failures. Growth is the improvement of our failures over previous failures. Success is a failure that we have decided we are satisfied with. (comfort in our failures allows us to act without fear, to engage without judgement, to love without conditions)
Hoe lyk afgeval, opgeklim en weer gery?
Ek hou van die konsep wat in hierdie artikel voorgehou word, make mistakes and learn from failure. Dat ‘n mate van vrees, veral vir mislukking, beteken ons is besig om in nuwe rigtings te beweeg. Dat ons nog onsself uitdaag elke liewe dag.
Want natuurlik om elke liewe dag op te daag en te vrees jy gaan nie dinge 100% regkry nie, beteken jy is een van die dapperes. Dat ondanks daai vieslike perfeksionis, of kritikus wat in jou kop ronddans soos ‘n kat op ‘n warm dakplaat, jy nogsteeds elke dag jou ding doen.
Om dinge te doen wat nuut en buite ons gemaksone is, learning new things – the benefits het soveel voordele. Behalwe my vasberadenheid om die Huisgenoot se blokraaisel te tem, loop elke naweek op ‘n gekrap van ‘n ander aard uit. Dan gaan ek maar na die “woordsoek” afdeling. Doen darem seker ook die ding??
Maar so ook is die vrees dat ons gaan misluk met dit wat ons veronderstel is om goed in te wees. Om al daai stemme in ons koppe elke dag te trotseer ~ dis dapperheid van ‘n ander aard. Dit mag dalk klein en alledaags lyk, maar die groot, bangmaak gedagtes wat in my kop rondmaal, hulle is die jakkalse. #failingspectacularlyisgood
“Ek is een reuse flop, ek laat my kliënte in die steek.”
“Hoe gaan mense my vertrou as ek nie eers by alles kan uitkom nie.”
“Wat gaan hulle dink as ek nie onmiddellik my eposse beantwoord nie. Watter tipe konsultant doen dit?”
“Ek is so nutteloos met hierdie perdry ding, my grootste droom en nou kry ek dit nie eers reg nie. Hoeveel jare kan dit nou eintlik vat?”
“Ek het ook geen selfdissipline nie, ek gaan vir die res van my lewe so jo-jo met my gewig. Dis belaglik, vir wat kan almal anders dit regkry, net nie ek nie?”
Ek hoop julle kan óf julle koppe instemmend knik, óf ‘n traan saam met my pik of nog iets byvoeg. Hemele hoor my, ek hoop nie julle hol nou vir die naaste ESC/ALT/DELETE nie. #failingspectacularlyisgood
Waar sal my hulp vandaan kom?
Ek weet daar is baie mense wat blinde geloof het en sal sê ek moet net my oë hemelwaarts rig. Goeie plan en voorstel, maar ek het ook ‘n bietjie van die Calvinistiese klap weg, so ek probeer maar soms so bietjie weg kom van die skande en skaamte af.
Want sien, Courage Over Comfort: Rumbling With Shame, Accountability, and Failure at Work, herinner my net weer. Dat die klip wat in my pad staan, daardie gevoel is van myself skaam vir dit wat nie perfek gedoen is nie. ‘n Minderwaardigheid wat ek met alle mag probeer vermy.
Want sien daar is ‘n ligte verskil tussen…ek is ‘n mislukking en dalk was ek nie vandag so suksesvol nie. #failingspectacularlyisgood
Hoe meer en meer ek na die lewe kyk…elke liewe dag se besluite en dinge wat ons doen of sê…sien ek net die pad bestrooi met dinge wat ons nie so suksesvol aanpak nie. Dit is dalk net die manier waarop ons ‘n moeilike gesprek met ons maat aanpak. Of die manier wat ons ‘n “moeilike” tiener se vloermoer hanteer. Ons faal meer as wat ons regtig iets “reg” doen, maar is dit nie die punt nie?
As ons net die tyd vat
Dalk as ons elke sogenaamde mislukking so bietjie uit ‘n ander hoek bekyk, kan ons die lesse daarin sien. En ek praat nie net van daardie tipe mislukkings wat ‘n hele rotsstorting veroorsaak nie, ek praat sommer van alledaagse dinge. #failingspectacularlyisgood
Myne is dalk om te besef ek het te veel hooi op my vurk. Dalk is dit dat kliënte maar kan wag ook. Wie weet.
Dalk is die afval en opklim op daai klein merrie om my te leer ek kan nie alles beheer nie.
Dalk is dit om regtig te luister en te hoor wat Mnr G probeer sê. Dat hy besorg is en wil hê ek moet kwesbaar staan voor hom en eerlik kan wees oor my magteloosheid. Want mens het ook nie altyd nodig om die pad alleen te stap nie. Maar op die ou einde is hierdie natuurlik jou pad en net joune. En jy(of ek dan) moet besluit hoe hierdie pad lyk. Wat ‘n mens lamlê en wat ‘n mens gaan laat slaap in die nag.
Op daardie hoë noot
Nie lekker seker of ek nou eintlik enige iets van waarde hier kwytgeraak het nie. Dalk het ek maar net vandag nodig gehad om dit alles swart op wit te kry. #failingspectacularlyisgood
Dalk probeer ek myself so bietjie kwytskeld. Dalk soek ek so ‘n bietjie van ‘n padkaart. Dalk wil ek net môre met nuwe moed begin.
Dalk kry ek dit reg die komende week! Wie weet😜?! En mag ek onthou 👇🏼
Hoe gaan dit met jou mislukkings? Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.
Jy praat so mooi, dit pas in my hart soos n legkaart stukkie
Ah Petro, baie dankie! My hart soek maar mense soos jy, met ‘n hart soos myne.